Weergawe: 1
Aantal woorde: 318
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 17 Apr 2012
“Rook of nie-rook?”
“Ietsie om te drink?”
“Kan ek Oom se biertjie oopmaak en Tannie se koeldrankie inskink?”
“Oom kan kies tussen tjippies of ‘n gebakte aartappeltjie en wil tannie ‘n sousie hê saam met die vleis?”
Die diens is puik, die kos smaak lekker. Kindertjies hardloop op en af tussen besige kelners wat soos miere heen en weer skarrel met borde kos. Dat een van die kleingoed nie omgeloop word nie, is ‘n wonderwerk. Pappa en Mamma sit by die rokers-area en die kleingoed sal nou-nou by hulle aansluit om saam te eet. Net soos hulle later in die kar weer gaan terugry huis toe, terwyl Pappa en Mamma sit en rook in die kar.
Toe die kelner ons borde wegneem, vra hy of ons ‘n nagereggie sal eet. Ons wonder of ons regtig plek het en besluit om ‘n ‘kiddies’ roomys te eet.
“Jammer Oom en Tannie, ek mag ongelukkig nie dat julle van die kiddies menu af bestel nie. Julle kan wel ‘n nagereggie deel, ek sal twee bordjies bring”
Nou hoe dan nou, wonder ek. Die hele aand word ons dan soos kinders hanteer!
Nee, maar dan volstaan ons met die ete, ons sal niks meer neem nie, dankie.
“Kan ek maar die rekeningkie vir Oom bring?”
Toe die “rekeningkie” kom, is Oom se bril skielik wasig of hy ly skielik aan disleksie, want hy kan nie glo wat hy voor hom sien nie. Tannie haal haar bril ook uit en kyk.
“Nee ou man, dis reg, jy’s nie ingedoen nie. Alles is soos dit moet wees. Kyk hy het vir ons ekstra lekkertjies gebring om bietjie te troos”
Nou ja, Oom gaan swipe sy kredietkaartjie en sit sy “pin-nommertjie” in vir die vriendelike seun.
Totsiens Boetman, jou tippie gaan aansienlik kleiner wees. Ons het ietsie afgeknyp vir die motor-wag. Hy sê altyd so mooi ‘Meneer”!
Lees ander artikels deur Ansie Brunkhorst
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
deur Robelle
Verse oor liefde in blom, in krisis, verlore ... verwerkte grappies in digvorm