Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

As jy dit oorweeg om n slag oorsee te gaan, maar nie gebind wil wees aan ‘n toergroep nie,is Turkye 'n land wat n mens maklik en relatief goedkoop op jou eie kan besoek. My vrou en ek het redelik onlangs ‘n 5 dag besoek aan die interresante land gebring en hierdie kort joerrnaal kan dalk nuttige inligting bevat vir ander voornemende besoekers.
Turkye is nie eintlik n land wat hoog op die ranglys van is van mense wat n oorsese besoek in gedagte het nie. Daar is is egter n paar goeie redes, in my beskeie opinie en ervaring, waarom Turkye oorweging waardig is.

Hoekom Turkye?
Eerstens het n Suid-Afrikaners nie n visum nodig nie. Die Turkse ambassade sê wel dat jy een moet koop as jy in Turkye land, maar by Attaturk lughawe in Turkye aangekom het niemand daar ‘n visum gevra nie.
Die Turkse lugredery se vliegkaartjies na Istanbul is gewoonlik heelwat goedkoper as kaartjies na die res van Europa. Binnelandse reiskostes is laag en die moderne en skoon openbare vervoerstelsel is goed ontwikkel. Jy kan vlieg, trem ry of die bus vat. Elke groot plek het n sentrale busterminus oftewel Otogar. Treinry is amper verspot goedkoop, veral as jy n senior is. So ook die minibus taksi oftewel die Dolmus soos dit daar bekend staan.
Die hotelle is goedkoop as jy nie omgee om in die minder luukse blyplekke te woon nie.
Laastens is dit veilig. Ons het nooit bedreig of ongemaklik gevoel nie al het ons het uitsluitlik van openbare vervoer gebruik gemaak en ook lang ente gestap. Jou bagasie hoef jy nie met n arendsoog dop te hou nie. In Kusadasi het ek my kamera in n stalletjie op die toonbank vergeet en al n hele ent verder klop die stalletjie eienaar my uitasem op my skouer met my kamera in sy hand.
Die Turke is hoflik en behulpsaam. Meeste Turke praat nie Engels nie, maar daar is genoeg wat dit verstaan en praat sodat jy geredelik oor die weg kan kom.

Reis en Verblyf
Ons reisplan was eenvoudig. Twee dae in Istanbul en daarna twee dae in Kusadasi aan die Ageaanse kus.
Kusadasi is naby antieke Efese en die huis van Moeder Maria.

Istanbul: Na ons die Saterdagoggend by Ataturk lughawe geland het word Suid-Afrikaners om een of ander rede na n aparte paspoort kontrolepunt gestuur. Dit laat n mens ongemaklik voel om so uitgesonder te word maar by die kontrolepunt gekom word ons paspoorte gestempel sonder enige vrae oor visums.

Van die lughawe se internasionale saal stap jy sowat twee honderd meter na metro trein stasie. Die “exchange”op die lughawe ruil nie Suid-Afrikaanse Rand vir Turkse Lire (TL) nie maar jy kan geld trek by die outobank en n koeldrank koop by n stalletjie om kleingeld te kry vir die metro en trem. Die wisselkoers was in Junie 2012 een TL vir omtrent R4,50. In Istanbul kan jy by stalletjies Rande inruil maar die koers is baie wisselvallig en nie gunstig nie. Dis beter om by n outomaat geld te trek.

By die metro stasie koop jy n ronde plastiek bewys teen twee TL by die outomaat, gooi dit in die outomatiese hek en haal die gereelde metro treine na Istanbul. Die Turke gebruik die Westerse alfabet met so paar krulle en draaie by en dit is maklik om oor die weg te kom. Daar is oral roetekaarte en aanduidings. Afkondigings in Engels en ‘n elektroniese skerm in die trein wys ook by watter stasie jy is. Oral op Turkye se openbare vervoer was dit opvallend hoe stil en stemmig die mense is.
Op pad na die “Ou stad” gedeelte van Istanbul wyk die metro sewe stasies later weg van die roete na die ou stad en moet jy afklim en oorloop na die tremstasie langsaan. Die trem kos een TL, maak nie saak hoe ver jy ry nie. Daar is n trem elke paar minute. Die trem is modern en skoon en die tremstoppe word aangedui op n elektroniese skerm. Ons klim af by Cemberlitas wat net anderkant die Grand Bazaar en stap die sowat vier straatblokke na ons hotel. Daar is tientalle hotelle en blyplekke in daardie gedeelte van die stad. Jy kan kies en keur.

Die dubbelkamer bed-en-ontbyt hotel waar ons gebly het was nou nie 5 ster nie maar die kamer en badkamer was netjies en gerieflik en die ontbyt, wat jy op die dak nuttig, nie te onaardig nie. Die dak gee jou n mooi uitsig oor die see van Marmara maar ongelukkig ook van al die ander dakke van geboue wat maar redelik vervalle en vol rommel is. Die twee nagte in die hotel het ons altesaam R1400 gekos wat nie sleg is vir twee persone nie, inagenome dat jy binne loopafstand is van die meese belngrike besienswaardighede. Die hotel bestuurder, Fuhad, was regtig baie behulpsaam en gee ook goeie raad.

In Istanbul het ons binne die twee dae tot ons beskikking die Grand Bazaar met sy doolhof van stalletjies besoek, die indrukwekkende Hagia Sophia wat een van die eerste Christen kerke was, toe n moskee en nou n museum is. Die pragtig versierde Blou moskee, die Topkapi paleis met sy skatkamers en kunswerke wat jou verstom laat staar na die vakmanskap van honderde jare gelede. Ons het ook n veerboot rit op die straat van Bosporus wat Europa van Asië skei ingewerk. Verder jou net loop en verwonder aan die eg Oosterse stad en sy mense. Istanbul het nie wolkekrabbers in die “ou stad” gedeelte nie en alles word oorheers deur die vele moskees. Jy raak gou gewoond aan die gedawer vanuit die moskees soos die Imman wat vyf keer per dag die Moslems oproep tot gebed.
Ons het nerens n groot winkelkompleks (shopping mall) gesien nie.

Istanbul na Kusadasi:
In die oggende (behalwe Dinsdae) seweuur haal jy die veerboot by Yenikapi in Istanbul vir n aansluiting met die trein na Izmer. Die bestemming is Kusadasi en die veerboot neem ons oor die see van Marmara na Bandirma vanwaar ons n trein kry na Izmer en dan verder met n bus na Kusadasi.
Soos Fuhad by die hotel verduidelik het, is dit nie n gewilde toeriste roete nie. On kies egter die roete om te voel hoe ry n “superfast”veerboot, en was niks teleurgestel nie. Dis n yslike veerboot met twee dekke wat 8 rye karre langs mekaar vat onder in die laairuim. Sy twee kragtige diesels laat n kilometer lange skuimspoor oor die water. Binne is dit ruim en gerieflik en almal sit aan vir ontbyt. Ongelukkig begin dit te reën op die see en die uitsig is nie te goed nie. Ons kan wel sien daar is talle eilande en die kuslyn is bergagtig. Die afstand van Istanbul na Bandirma is sowat 90 kilometer en die veerboot bring ons binne twee ure by Bandirma. Die veerboot is die duurste van al die vervoer wat ons gebruik het en die kaartjies vir ons twee saam was sowat vierhonderd Rand. Jy kan plek op die veerboot op die internet bespreek maar klaarblyklik is dit selde dat daar nie plek op die boot sal wees nie.

Die veerboot meer vas reg langs die spoorwegstasie en die aankoms van die boot en vertrek van die trein na Izmer is n uur uit mekaar. Daar is dus nie geleentheid om meer van Bandirma te sien nie. Die trein, wat uit ses passasiers waens en n diesel lokomotief bestaan wag reeds op die stasie. Die kaartjies vir die ses uur lange rit kos R80 per persoon. Dit is nou met n afslag vir seniors maar ek glo die gewone kaartjies vir volwassenes kos seker veel meer nie.
Die trein is redelik leeg en die passasiers is meesal ouerige mense. Daar is nie n eetwa nie maar eetgoed en tee word voorsien deur n verkoper wat gereeld met sy stootkarretjie deur die waens beweeg. Dis n baie ontspannende rit deur n landskap wat nogal aan die groen Natalse middelande herhinner. Op elke beskikbare bewerbare stukkie grond word daar geboer. Die landerye is netjies en jy sien nie plaaswonings tussen die landerye nie wat jou sal help om plase van mekaar te onderskei nie. Vrugte boorde en veral granate is volop. Al die beestewat ons sien is Friese.Dis seker melkboer wereld. Geen donkies of bokke maar wel n paar skape en perde. Jy sien min voëls. In die hele Turkye waar ons was het ek slegs 6 soorte voëls gesien, Tortelduiwe, ringnekke, swaeltjies, mossies, ooievaars en dan natuurlik die seemeeue..
Soos die rit vorder na die kus word die trein voller en ses ure later teen laatmiddag, net toe ons verveeld begin raak, stop ons in Izmer, n relatiewe groot stad met n menigte woonstel geboue ingeryg teen die rante.

By Izmer kry ons n Dolmus regs langs die stasie uitgang wat ons na die busterminus neem. Dit kos 5 TL vir ons albei. Die drywer is ongeduldig en blaas aanmekaar hoeter terwyl ons deur die verkeer vleg op die smal paadjies deur die stad. Die Outogar is vêr van die stasie en omtrent in die middel van die stad. Ons voel half verlig toe die dolmus ons aflaai en die bestuurder beduie na die rye en rye moderne busse wat by die terminus staan. Die bus kaartjies na Kusadasie was sowat tagtig Rand elk, en ‘n luukse bus vertrek elke twee ure en lê die tagtig kilometer op die hoofweg binne n uur af.

Kusadasie is ‘n relatief moderne stad langs langs n amper turkoois kleurige see. Die atmosfeer is baie meer Westers as in Istanbul. Daar is talle hotelle langs die strande. Ons bly in ‘n hotel genaamd Club Caravanserail. Dit is gerieflik sentraal geleë naby die veerboot hawe en tussen baie stalletjies. Hierdie klip hotel lyk soos n fort en dateer uit die sestiende eeu . Toe was dit n kameel karavaan oorstaanplek en n handelspos. Dit het n groot binneplein waarop jy neerkyk van die balkon voor die kamers . Die plein was glo die kamele se staanplek vir die nag . Nou word daar ontbyt bedien en konserte gehou in die plein en dis ook uitstalplek vir pragtige egteTurkse matte. In die een hoek sit n jong vrou en weef n mat van omtrent ‘n meter by n halwe meter. Dit duur glo twee jaar om te voltooi. Sy werk net twee ure n dag aan die mat en so ‘n kleinerige een kos sowat vyftig duisend Rand.

Die ruines van die antieke stad Efese lê sowat twintig minute se ry van Kusadasie af. Om daar te kom neem jy n taksie of dolmus eers na die Outogar en by die terminus neem jy die dolmus Celcuk teen R10 per persoon. Die dolmus laai jou af by die afdraai na Efese. Dis so vyf kilometer voor Celcuk.
Ons stap die entjie van die afdraai tot by Efese se onderse ingang. By die betaal jy toegangsgeld en daar is hordes toeriste en baie toergidse. Koop vir jou n gids van Efese en loop kyk self.
Oor die die antieke stad self sal ek nie uitwei nie, Die leser sal maar self moet gaan kyk. Ek wens ek kon dit twee duisend jaar terug in al sy glorie sien . Toe ons die ou stadion binnestap, staan daar n Japanese groep spontaan en sing ‘Hoe groot is U’ in hulle taal. Dit is beslis n koor want hulle sing pragtig. Ons gaan sit op die eerste ry van die stadion se twintigduisend sitplekke en luister verwonderd. Het die gemeente waarvan Paulus in Efesieërs skryf ook hier gestaan en sing?.
Na sowat twee en n half uur se besigtiging kom ons by die boonste hek van Efese en na n paar koue verversings kry ons ‘n taksie na die huis van Maria. Dit is sowat sewe kilometer verder en hoër op teen die berg. Party mense stap sommer.

Die vertelling lui dat dit die huis is waar Moeder Maria haar laaste dae geslyt het en deur die Apostel Johannes vir haar gebou was. Die nederige klip gebou wat nou daar staan is op die bouvalle van die ou huis gebou. Binne is daar ‘n paar rye sitplekke en n klein standbeeld van Maria. Daar is n atmosfeer aan die rustige plek onder die bome wat jy nie kan beskryf nie.

Hassan, die taksie drywer, praat ons om om ons terug te neem na Kusadasie via die dorp Celcuk en die Tempel van Artemis. Ons stem in, maar is half teleurgesteld toe ons dit sien. Daar is rerig nie veel om hier te sien nie, net n enkel pilaar met n ooievaar nes bo-op en so paar klipblokke wat in n dam rondlê.

In Kusadasie is daar vele opelug stalletjies om te besoek en die naaste strand is binne loopafstand. Dis naby die hawe en gevolglik redelik vuil. Daar was ook konstruksie werk aan die gang van ‘n moderne vakansie of winkel kompleks wat hulle daar bou . Palmbome en al. Verder langs die kus daar mooier strande soos die Ladies Beach maar jy sal n Dolmus moet vat om daar te kom.
Daar is n bus van Kusadasie na Pamukkale se besonderse natuurlike spierwit mineraal baddens sou n mens n dagbesoek aan die baddens wou bring.

Van Kusdadasie op pad terug SA toe neem ons die bus na die Izmer. Die lughawe bus behoort aan n redery en is duurder bus as die openbare busse wat na Izmer se Otogar in die middestad gaan, maar jy mis al die erge Izmer stadsverkeer en die beslommernis van oorklim van bus na bus. Van Izmer is dit n uur se vlug terug na Istanbul en die Atlasjet kaartjies kos ons sowat R400 elk.

Die reis, verblyf en etes vir twee persone was omtrent agtien duisend Rand vir vyf dae.

Gaan en geniet.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar


Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Treë na Innerlike Genesing

deur Leonard John Holmes

Hoe werk mens deur die verlies van ’n geliefde? Hoe hanteer jy die depressie, haat en selfverwyte op ’n jong ouderdom? Hoe vind jy God as jy Hom nog nooit persoonlik geken het nie?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar