Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

11                               Hoe praat die Here

Ons leer uit die Bybel en ou Testament dat God kan met ons op verskeie maniere en deur die natuur kan praat. In Num.22:28 praat die Here deur ‘n donkie. In 1 Kon19:12 lees ons byvoorbeeld dat die Here nie in die rukwind, aardbewing of vuur was nie maar in die geluid van ‘n sagte fluistering. Die Here praat ook deur mense in die Nuwe testament. Ek glo hy doen dit vandag nog, want Hy is ‘n lewende God wat tred hou met die alledaagse lewe. Miskien praat hy ook deur ons moderne tegnologie met ons deur Christelike artikels wat ons op die internet kan gaan naslaan of deur ons selfoon boodskappie wat ‘n kennis stuur. Hy praat tog ook elke Sondag met ons vanaf die preekstoel of miskien deur jou buurman wat met jou gesels. Ons moet Christelik wakker wees en ons ore oophou vir God se praat.
Die Bybel vertel ons dat Moses voortvlugtig was vir die Faro omdat hy ‘n Egiptiese wag doodgeslaan het wat ‘n Israeliet geslaan het en dat die faro daarvan te hore gekom het. Op sy vlugtog ontmoet hy ‘n vrou en trou met haar. Ons lees dat hy die kleinvee van sy skoonpa opgepas het en diep in die woestyn ingeneem het tot by die berg van God. Ek wonder wat hy daar wou gaan doen. Gaan bid miskien? Die Engel van die Here verskyn toe aan Moses binne in ‘n doringbos. Moses sien toe die doringbos brand en aanhou brand sonder om uit te brand. Hy gaan toe nader om te kyk hoekom die bos nie uitbrand nie.
As jy vandag seker so iets sien of oorkom sal jy seker vir iemand vertel en sê ‘n VVV (Vreemde vlieënde voorwerp) uit die buitenste ruim het geland en met my gepraat. Met ons kleingelowigheid sal ons mos nie glo dat God met ons kan praat uit ‘n brandende bos nie. Nee, nooit, ongehoord van! Wie gaan jou in elk geval glo. Moses het seker ook dieselfde gedink.

Kom ons lees in die Bybel wat daar gebeur het. Eks 3: 4 –8.10 –11 Toe die Here sien dat hy naderkom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos”Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek”. Die Here sê toe vir hom: “Moenie nog nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond”. Verder se Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakop” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. Daarna sê die Here: Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. 10 - 11“Daarom stuur ek jou na die faro toe dat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” Toe sê Moses aan God: ”Wie is ek dat ek dit by die faro sou waag en dat ek die Israeliete uit Egipte sal bevry?”

As ons verder lees sien ons dat Moses skepties is dat die faro hulle sal laat gaan en die volk hom gaan glo en vra God wat moet ek sê wat is Sy naam wat my gestuur het en God antwoord. “Ek is wat ek is. Jy moet vir hulle sê: ‘Ek is’ het julle na my toe gestuur.” Nadat God alles aan Moses verduidelik het, van hoe Hy die Egiptenare sal teister met plae totdat die faro hulle sal laat gaan, was Moses steeds skepties en God gee toe vir hom ‘n teken. Die staf wat Moses by hom gehad het verander in ‘n slang as Moses dit op die grond gooi en weer ‘n staf as hy dit aan die stert optel.

Ai, ou Moses was ook maar baie skepties net soos ons sou gewees het, want ons moet onthou hy was ‘n voortvlugtige en dus bang om dit naby die faro te waag. Die Israeliete sal hom ook nie sommer glo nie, want hy het dan in die faro se huis grootword, die aangenome Hebreuse seun van die faro se dogter. Hulle kon hom dalk beskou het as ‘n verraaier. Hy was dus in ‘n baie moeilike posisie. Soos hulle sal sê: “Tussen die duiwel en die diep blou see.” Wat sou ons gedoen het as ons in Moses se skoene gestaan het? Sou ons na God geluister het?

Kom ons kommunikeer met die Here: Dankie Hemel Vader dat U ‘n God is wat omgee vir mense en sien as hulle swaarkry soos die Isrealiete swaar gekry het onder die Egiptenare. Ons weet nou dat U ‘n God is van liefde en gevoel, wat kan afkom na die mensdom in nood. Here ons bid vir ons land, die leiers en ons mense van hierdie land. Hou U bewarende hand oor ons. Amen.
12                        Paasfees instelling

Nouja, ons weet nou dat God vir Moses opdrag gegee het om die Israeliete uit Egipte te lei. Moses was nou nie wat ons vandag sal beskou as ‘n leier nie, want ‘n leier in vandag se tyd moet eintlik ‘n gladde bek hê en dalk ‘n paar beloftes kan maak wat nie nagekom word nie asook hy moet dalk ook so bietjie korrup wees om ‘n ware eier in vandag se tyd te wees. Of omkoopbaar. Moses het ‘n spraak probleem gehad. Seker maar gehakkel. Hy het egter een baie, baie goeie punt gehad, hy het God 110% aan sy kant gehad. Hy het die gawe gehad om met God te kommunikeer. As mens net alles lees in die Bybel wat God alles vir hom verduidelik het.
Wel, aanvanklik was die Iraeliete ook baie kwaad vir hom want die faro het hulle net harder laat werk na Moses se versoeke aan die faro om hulle te laat gaan bid by die berg van God, op dowe ore geval het. God het toe tien plae gestuur en na elk van die nege plae was die storie dieselfde. Die faro beloof om hulle te laat gaan as Moses die plaag wegneem, maar God verhard dan weer die faro se hart en weier dan weer dat hulle gaan as die plaag weg is. God doen dit om die Egiptenare te straf en te wys hoe magtig die God van die Iraeliete is. Ja daar was allerhande lelike goed. Water wat bloed word, (stel jou voor jy draai vandag jou kraan oop en daar kom net bloed uit) paddas, muggies, steekvlieë, pes onder die vee, swere, hael, sprinkane en drie dae donker. Wel, vanaf die derde van die nege plae klink dit so half bekend saam met Eskom se probleme, Voëlgriep onder volstruise en die peste en plae onder die beeste. Miskien is ons dalk ook tans besig om in die Egipte van ouds te verander. Ja ons lees die paddas was oral tot in en om die bed op die mense en in die bakoonde. Dit was dus nie sommer net gewone boere parras soos ons ken nie, nee hulle was astrante “paddas”. Na Moses die plaag be-iendig het dit nog verskriklik gestink van die hope paddas wat gedood het. God het die tiende plaag vir laaste gehou. Dit was ‘n verskriklike plaag. Al die eersgeborenes in elke gesin en selfs diere sal sterf.
Kom ons lees nou verder. Eks. 12 1-3 en 6- In Egipte het die Here vir Moses en Aaron gesê: “Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand ‘n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een.”
6-7“Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van die maand; en dan moet die hele gemeente van Israel teen laatmiddag slag. Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en bokante van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet.
11- Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die Paasfees van die Here. Daardie selfde nag sal ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier te tref. Met al die Egiptiese Gode sal Ek afreken. Ek is die Here. Die bloed aan die huise waarin julle is sal ‘n teken wees; waar Ek die bloed sien sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek die Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie. Hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees. Julle moet dit as ‘n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ‘n vaste instelling wees wat hulle moet vier.

Ja, ek weet ek het nou groot gedeeltes uitgelaat van presies hoe die lam gaargemaak en ge-eet moet word, asook van die ongesuurde brode ens. Maar nou weet ons hoekom Jesus en sy disippels in die nuwe testament die Paasfees gevier het en waar die oorsprong van die Paasfees en nagmaal wat Jesus ingestel het soos ons as Christene dit vandag ken vandaan kom.

Die belangrike ding wat ons uit die verhaal leer is dat God gewone mense gebruik, mense soos ek en jy om sy werk te doen. Ja eintlik swakkelinge. Moses was ‘n voortvlugtige voor die faro omdat hy ‘n Egiptiese slawedrywer doodgeslaan het en nog gehakkel het ook. Hy moes vir Aaron gebruik om sy boodskappe oor te dra aan die faro en sy volk. Hy was half Egiptenaar omdat hy deur die faro se dogter aangeneem was en was ‘n Hebrier se kind.

Kom ons bid: Dankie Hemel Vader en God dat U gewone mense soos ons en ook swakkelinge soos Moses gebruik het om U werk hier op aarde te doen. As U dit met hulle gedoen het kan U dit met ons vandag ook nog doen, ongeag hoe swak ons is. Dankie dat ons kan weet niks is vir U onmoontlik as die magtige faro van Egipte en al sy gode nie teen U opgewasse nie.
13                   Die Here oorwinnaar oor Klipkoppe (Ongelowiges)

Ons weet nou die faro wou nie maklik kopgee nie, nee hy was ‘n regte ou klipkop, want die Here het hom so gemaak sodat God sy almag oor hom kon bewys. Ja ek ken ook ‘n hele paar ou klipkoppe en het ‘n hele paar van hulle persoonlik ontmoet en mee te doen gehad in my lewe. Somtyds was ek ook maar ‘n ou kilpkop en moes ook my kop ‘n paar keer hard stamp, voordat ek geleer het. Ek weet jy ook. Ja nie maklike mense om mee oor die weg te kom die klipkoppe nie. Kom ons kyk wat met kipkoppe gebeur as hulle met die Here of een of meer van sy volgelinge bots en te doen kry.

Ons weet die faro wou die Iraeliete nie laat trek nie en dat hy uiteindelik ingegee het nadat die tiende plaag wat God oor die Egiptenare gebring het en al die eersgeborenes van mens en dier ge-eis en laat sterf het. Die Israeliete het met ‘n ompad deur die woestyn getrek. Maar weereens het God die faro se hart hard gemaak nadat die Israeliete georganiseerd uitgetrek het uit Egipte. Wie gaan nou die arbeid doen het die faro en sy amptenare gevra. Die faro het sy strydwa laat inspan en met ses honderd van sy beste strydwaens elk met ‘n bemanning van drie plus ook ander Egiptiese strydwaens die Israeliete agternagesit saam met sy magtige leer.

Ons lees nou verder in Eks 14:10 - Toe die faro nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep. Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter as om hier in die woestyn om te kom. Maar Moses het vir die volk geantwoord: ”Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

Kom ons vervang die woord “Egiptenare” met die woord “Klipkoppe teen God” in die bogenoemde vet letter gedeelte dan sien jy wat God met hulle doen, naamlik “soos jy hulle nou daar sien sal jy hulle nooit weer sien. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg”.

Eerstens wat my dadelik opval uit die gedeelte is eerstens Moses se onwrikbare geloof in die Here sy God. Ek bedoel, hey, as jy daardie magtige Egiptiese weermag op jou sien aanstorm het sou jou bene nie ook begin bewe het nie, al was jy die leier van jou volk en weet God is aan jou kant. Sou jy nie die hasepad wou kies nie. Hier moet hy sy volk kalmeer en gerusstel in ‘n oop woestyn met ‘n see aan die een kant. Geen wegkruipplek. Arme man, in die oomblik van vrees van sy opstandige volk aan die een kant en die Egiptenare aan die ander kant, maar kyk die boodskap wat hy vir jou en my gee.

Dink jy vir een oomblik God sal jou verlaat as Hy aan jou kant is en jy kom te staan teen ‘n klipkop situasie en almal rondom jou kom in opstand teen jou. Nee, net soos hy nie vir Moses teleur gestel het nie sal hy ook nie vir jou teleur stel nie, want die dag het God sy krag en mag gebruik om die Egiptenare uit te wis en sal hy ook nou jou vyande uitwis. Bly net kalm. Die Here sal vir jou veg.

Ons bid: Here ons vra dat as ons U aanneem as ons enigste saligmaker en Here U ook vir ons sal veg soos wat U vir die Iraeliete geveg het toe die Egiptenare op hulle afgestorm het. Help ons dat ons nie sal bang word as lewensomstandighede vir ons so hopeloos lyk en dit lyk asof daar geen uitkoms is nie. Ons weet dat by U is daar altyd uitkoms as U aan ons kant is. Dat U vir ons sal veg. Amen



14                               Van Vrees

Ons lees in Eks. 14 :15 – 17 Toe het die Here vir Moses gesê waarom roep julle so benoud na my? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. En jy lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond deurgaan. Ek sal die Egiptenaars so koppig maak dat hulle die Israeliete sal agtervolg. So sal ek my mag laat geld teenoor die faro. Sy hele leer: strydwaens en hul bemanning. 27 Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur. Eks 15:20 Miriam die profetes, suster van Aaron, het ‘n tamboryn gevat en al die vrouens het met tamboryne agetrnageloop en gedans.
Aan die een kant van die see was die Israeliete nog vreesbevange en gevrees vir hulle lewe toe die Egiptenare op hulle afstorm, maar nadat God die see oopgemaak het vir die Israeliete en na hulle droogvoet deurgetrek het weer toegemaak het oor die Egiptenare en hulle almal laat verdrink het, het die Israeliete gejubel, gedans en God geprys van vreugde. Hulle het dus gegaan van vrees na vrede.
Kom ons vertrek saam met die Iraeliete van die een kant van die see waar daar net vrees was na die ander kant van die see se oewer waar daar net vrede, vreugde, veesviering en ‘n gejubel en lofprysing vir God was.
Om in vrees te lewe kan ‘n dag of ‘n nag baie lank uitrek. Ja veral die nag as jy nie kan slaap nie. “ Worrying does not take away tomorrow’s troubles, it takes away today’s peace”, het iemand gesê. Ons het ‘n keuse in die lewe. Ons kan in konstante vrees lewe of ons kan met innerlike Goddelike vrede lewe. Ef. 2:17 “Toe Christus gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir die wat naby was.”

Somtyds staan die woordjie vrees met groot vet swart letters oor ons lewe gedruk dat almal dit kan lees en vind ons dit moeilik om ‘n normale lewe te ly want ons hele bestaan en denke word oorheers deur die een woordjie “VREES”. Vrees laat ons onsself van ander afsluit en verdedigend en selfsugtig lewe. Somtyds is ons bang vir ons medemense en mense in die samelewing rondom ons. Ons vrees hulle, want ons is bang hulle sal ons verbaal afknou of seermaak met iets wat hulle teen ons hou of uitspreek. Dit gebeur ook dat mense jou slegmaak met leuens in ‘n geselskap sonder dat jy teenwoordig is om jouself te verdedig. Hulle besef dan nie dat op een of ander manier dit wat hulle agter jou rug van jou gesê het wel met ‘n draai by jou uitkom. Ons hoef net Ps 4:4 te lees om te besef dat dit ’n eeue ou probleem van die mensdom is, want Dawid het dit ook in sy tyd ondervind en ons kan by hom gaan leer hoe hy dit toe hanteer het. (Lees dit met die 4 verskillende brille.)
Die verskil tussen vrees en vrede in onsself is die Here. Somtyds is ons vreesbevange vir die een of ander situasie wat vir ons voorlê en ons weet nie hoe om dit te hanteer nie. ‘n Vrees wat ons verlam om te leef en ons doof en blind maak en as hierdie vrees soos ‘n berg voor ons kom staan voel ons magteloos. Luk. 19:42 “As jy tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.” Wat gaan gebeur as ek terminaal siek word, as ek my werk verloor, as dit finansieel met my sleg gaan, ek ‘n misoes het, as dit sleg gaan vir een of ander rede met my kinders, of as dit of dat met my gebeur. Ek glo Dawid het ook somtyds hierdie vrese ondervind en hom tot die Here gewend in sy Psalms. Hoekom sal hy in Ps 23 vers 4 sê:- “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.” Hy moes sekerlik ook hierdie vrese ondervind voordat hy die Here aangeroep het. Jesus was ook mens en het ook daardie vrees ondervind in die tuin van Getsemane toe hy tot God gebid het voor sy kruisiging. Mat 26:39 “My Vader, as dit moontlik is laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.” Hy het geweet wat op hom wag. Die enigste manier hoe Hy sy vrees kon verwerk en daarby berus vir dit wat vir Hom voorgelê het was om tot Sy Vader te bid vir Sy Vader se wil en vir krag. Hy het vrede gemaak in homself met Sy Vader se wil anders sou Hy nie soos ‘n lam ter slagting gely kon word om vir ons sondes te sterf nie.
Ons Bid: Here, soos die Israeliete wat agtervolg was deur die Egiptenare, het ek ook vrese in my lewe en vra dat U hierdie vrese by my sal wegneem sodat ek in vrede kan lewe. Amen

15                         Na Goddelike Vrede

Ons het gelees hoe die Israeliete byna doodgegaan het van vrees en God aangeroep het toe die Egiptenare op hulle afgestorm het met hulle strydwaens. Ons het ook gelees hoe hulle fees gevier en God geloof het toe God hulle gered het. Hoe kan ons dit doen, ons vrees verruil vir vrede?

1 Joh 4:18 “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees.” Gal 5:22-23 “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, VREDE, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Num. 6:26 “Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.”
As ons Hom vra kan Hy ons denke verander. Verander sodat ons gedagtes van vrees verander na een van geloof, hoop en liefde en vrede. Dit verg groot moed om in vandag se lewe en uitdagings as gelowige ‘n alternatiewe lewe van intimiteit met die Here, van geloof, van vertroue, van liefdediens te voer. Kyk na die vrese in jou lewe en die invloed wat dit op jou lewe en die mense naby en rondom jou het en vra die Here om dit te vervang met Bybelse gedagtes, lesse en voorbeelde om jou geloof te versterk en die vrees uit jou lewe weg te neem. Intimiteit met die Here neem vrese weg en help ons om nie meer deur mense of omstandighede bedreig te word nie. Dit help ons om ‘n vol lewe te ly in diens van die Here en ons diensbaar te maak ook vir ons medemens en die mense om ons. ‘n Bevreesde mens het min blydskap, want vrees vreet vreugde en blydskap. Die vreugde waarvan die Bybel praat is ‘n innerlike toestand wat die Here vir ons gee ongeag die omstandighede waarin ons is of waarin ons verkeer. Ons kan dit nie self genereer nie, maar ons kan dit bevorder wanneer ons vreugde – lewerende dinge doen.

Hoe verdien ons vrede? Deur te bid en die Woord te bestudeer en na te volg.
Ps102:18 “Die Here luister na die gebed van die wat alles verloor het. Hy sal hulle gebed nie verag nie.” Wel, duideliker as dit kan ek dit self nie stel nie.

Iemand het gesê:- “Often when we lose hope and think it is the end God smiles from above and says, relax sweetheart, it’s just a bend, not the end”.
As jy jou probleme en vrese na die Here neem sal hy dit sekerlik nie verag nie, want Sy woord sê self so, maar dan moet jy ook glo dat die saak nou by die Here berus en dat jy nou geen meer vrees het oor die saak nie. Al is die lewe besig om die lewe uit jou te wurg. Jak 1:6 “’n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word .”
Nie altyd so maklik vir ons gewone mense nie, maar dit is wat God van ons verwag. Hy sal niks oor ons pad bring wat Hy weet ons is nie by magte om te hanteer nie.

Onthou as jy vir iemand anders bid dan seën God die persoon vir wie jy bid en as dit met jou goed gaan is daar iemand anders wat vir jou bid. Bid is ‘n baie belangrike deel van ons kommunikasie met en intimiteit met God en ek kom agter uit die skrifgedeeltes in die bybel van die boek Eksodus dat Moses ‘n direkte gebedslyn met God gehad het. Hy het intimiteit met God gehad.

Dit het vir my duidelik geword uit die Israeliete se omswerwinge in die woestyn dat God hulle wou bewus maak van sy teenwoordigheid en krag en dat Hy hulle op die manier wou suiwer en vrede gee wanneer hulle die beloofde land ingaan.

As jy swaarkry en dit gaan moeilik met jou, jy voel jy is in ‘n woestyn van swaarkry, hou moed dit is God se manier om sy krag vir jou te wys en jou gereed te maak en te suiwer vir die dag as jy Sy beloofde land, die hemel, moet betree. As Hy dit met die Israeliete kon doen, hoekom kan Hy dit nie met jou ook doen nie? Is jy dan nie ook een van Sy uitverkorenes nie?

Kom ons bid: Here ons wil vra dat U my U Goddelike vrede sal gee en dat ek nie sal twyfe in U liefde nie.

16                               Positiewe denke

Eks. 14:31 Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.
Ek glo Moses het ook periodes van geestelike droogtes bereik omdat die Israeliete hom nie wou glo dat God hulle sal red nie. Daar was tye dat die volk hom wou stenig so opstandig het hulle geword. Hy het egter elke keer na sy God teruggekeer en gevra vir hulp.
Somtyds voel jy dat jy ‘n geestelike droogte bereik het, jy neerslagtig is en dit vir jou moeilik is om te bid. Dit voel vir jou of God jou verlaat het, want hoekom gebeur dit of dat nou skielik net met jou. Nie met ander nie, maar met jou. Almal en alles is skielik teen jou. Die Psalm skrywer het dit ook ondervind toe hy geskryf het in Ps. 10 : 1-11 “Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U, U terug in tye van nood?”.
Dit is dood normaal om somtyds so te voel. Die Psalm skrywer het ook so gevoel. Dit is juis dan wanneer ons geroep word deur die Vader om in ‘n dieper verhouding met Hom te tree en God Homself net tydelik van jou verberg het, sodat jy Hom moet opsoek in jou benoudheid. Jer 23:23 “Ek is nie ‘n God wat net naby is nie, sê die Here, ek is ook ‘n God wat ver weg is.
Hy is nie ons besitting nie, ons is sy besitting. God se liefde bly altyd dieselfde en Hy sal jou bystaan, jou hand vashou en deur hierdie donker tyd in jou lewe dra, as jy tot Hom bid en daarvoor vra. Jy moet dink soos iemand wat werklik glo dat God is in beheer van jou lewe. Maar hou ook die volgende woorde in gedagte wat baie waar is, want as jy iets aan die Here opgedra het beteken dit nie dat jy kan nou maar gaan agteroor sit en niks doen nie, die Here is mos nou in beheer en sal dit gou, gou vir jou oplos en doen. Nee dit werk nie so nie.
Iemand het die waarheid gesê:- “When God solves your problems, you have faith in His abilities; When God doesn’t solve your problems He has faith in your abilities”.
Jy moet steeds self die probleem oplos met behulp van God, waarvoor jy Hom in gebed moet nader en vra om Sy leiding.
Hoe verander ek my denke? Spreuke 27:19 “Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.”
Spreuke sê hier baie duidelik ons is, is wat ons dink. As my gedagtes sleg is, word ek sleg, as my gedagtes negatief is, word ek ‘n mens wat in alles later negatief is, as my gedagtes vol vrees is oor wat kan skeefloop, gaan vrees naderhand my denke en hele lewe oorheers.
Om vrees dus te oorwin moet ons gedagtes vervang word met gedagtes wat positief en hoopvol is.
Rom 7 :18-19 “Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek”.
Ja, dit is maar ons almal se stryd deur die eue tussen goed en sleg. My gedagtes en denke moet rekening hou met oplossings wat God van my verwag. Met ander woorde, gedagtes van vrees en wanhoop word vervang met gedagtes van hoop, geloof en liefde.
Hoe kry ek die vrees gedagtes uit my kop? Jy doen dit amper soos jy jou rekenaar se hardeskyf skoonmaak, jy druk die delete knoppie en skuif dit na die “recycle bin van die Here” en later verwyder Hy dit ook daaruit. Nog ‘n beter voorbeeld is, “jy moet soms jou kop stofsuig”. Dit is egter nie so maklik nie en ons kry dit nie sommer self reg nie. Om dit te kan doen het ons God se hulp nodig en verg dat jy stil word voor die Here en fokus op Hom en vra dat hy hierdie vrese van jou af wegneem en jou verstand vul met nuwe gedagtes wat jou vrese oorheers met positiewe gedagtes van hoop, geloof en liefde. Wie weet waarmee God jou toevertrou om te doen as jy vir Hom vra wat Hy wil hê jy vir Hom moet doen. As jy werklik die wil het om iets te doen sal jy ‘n manier vind om te doen dit wat jy graag begeer om te doen, maak nie saak wat daardie wil is, of daardie begeerte is nie. Ons moet bly en vrolik wees soos Ps 9:2-3 beskryf “ Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van U magtige reddingsdade vertel. Oor U wil ek my verbly en vrolik wees, U naam wil ek besing, o Allerhoogste.”

Kom ons bid: Here help my om positiewe denke te openbaar. Neem U besit van my negatiewe denke en verwyder dit uit my siel. Gee my nuwe hoop, geloof, liefde en vrede. Amen.

17                               Bitter Water

Ja die lewe is ook somtyds soos bitter water maar dit is nie waaroor die stukkie handel nie. In die tyd toe ek vir ses jaar in Swakopmund en Okahandja in Namibia gewerk het, het ek en ‘n paar vriende gereeld naweke in die Namib woestyn deurgebring. Die belangrikste wat ons altyd in oorvloed saamgeneem het was water, want as jy in die woestyn teëspoed opgetel het met jou voertuig en jy was gestrand kon jy redelik lank oorleef totdat redding opdaag, solank jy genoeg water by jou het. Baie mense het al in die woestyn omgekom sonder water. Die woestyn is ‘n wonderlike plek, maar ook ‘n onverbiddelike plek vir die wat dit nie respekteer nie. In ‘n woestyn is die stilte so stil dis oorverdowend stil. Oorverdowend want ek glo dat die stilte in ‘n woestyn is soos dit wat ‘n dowe persoon sonder gehoor ervaar.

God het met Moses as leier die Israeliete in die woestyn ingelei en veertig jaar daar rondgeswerf. Weg van die Egiptenare, slawerny en hulle gode, weg van ander nasies, weg van alles. Daar waar God vir hulle kon beproef en wys hoe afhanklik hulle van Hom is vir alles. Water, vleis en brood. God het hulle uitgelei van slawerny, van vrees na vrede, stilte en daardie diepe afhanklikheid en vertroue in Hom.

Ek glo God se doel daarvan was om die volk te kon suiwer. Die woestyn het ‘n wonderlike suiwerings effek op ‘n mens en hoe langer jy daar vertoef hoe sterker word daardie suiwering van jou gees, gemoed en die woestyn se aantrekkingskrag. Dis ‘n wonderlike ervaring om iewers net doodstil en in stilte alleen te gaan sit in die woestyn en net te kyk vir die son opkoms of ondergang en die wonder van God se skepping te aanskou en alleen met God te verkeer. Jesus het ook sy absolute stiltetyd met God in die woestyn gaan soek.

Ons lees in Eks 15: 23-25 Toe hulle by Mara aankom, kon hulle nie die water drink nie, omdat dit bitter was. Daarom het hulle die plek Mara genoem. Die volk het by Moses gekla: “Wat moet ons drink.” Moses het die Here aangeroep, en die Here het hom ‘n stuk hout gewys. Hy het dit toe in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die Here die volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle ‘n vaste reël neergelê.

Dis ‘n verskriklike ding as jy in ‘n woestyn is en jy smag na water soos die Israeliete oorgekom het en die water is brak of bitter. Die Iraeliete het drie dae woestyn ingetrek toe hulle by Mara aangekom het en sekerlik ook uitgeput met klein kinders wat huilerig en moeg was. Ons weet die spreekwoord sê; “’n moë bul stoot gou”. As ek of jy nou Moses was en die klomp Israeliete kom toi toi nou hier voor ons, wat sou ons gemaak het? Seker ons hande in die lug gegooi het en die klomp teruggejaag het met die woorde: “Nee wat mense, gaan soek julle dan self maar beter water. Kan ek nou daarvoor help dat die water bitter is?”. Ek bedoel, hallo, wat kan ek en jy nou maak aan die brak water. Maar nee, wat doen Moses toe die Israeliete begin kla? Hy roep die Here aan. My vraag is: Sou ek of jy ook daardie vertroue in die Here gehad het? Die volk het sekerlik toe nog nie daardie vertroue in hulle God gehad nie, nee. Hy was nog besig om hulle op die proef te stel, maar Moses het volle vertroue in sy Skepper gehad. Vertroue waar ons in die hedendaagse lewe nog somtyds mee vêr tekortskiet en ontbreek.

Moet dit nie wonderlik wees om so ‘n intieme verhouding, vertroue en kommunikasie vermoë met God te kan hê soos wat Moses gehad het nie? Ons kan as ons daarna streef en begeer om God eerste te stel in ons alledaagse lewe.

Kom ons bid: My geloof is net so klein soos die Israeliete se ongeloof wat na al die wonders wat U voor hulle oë gedoen het, nog nie die geloof van Moses gehad het nie.
Here en Hemel Vader gee my die vertroue in U soos wat Moses gehad het. Maak my geloof sterk soos wat Moses se geloof in U was. Dit is my hart se begeerte. Dankie dat daar ‘n mens soos Moses was by wie ons kan leer om absoluut op U te vertrou vir al ons behoeftes, hoe gering ookal. Amen.

18                              Vlieg soos ‘n arend     

Die arend is seker die koning van die voëls. Dis so ‘n grasieuse en statige voël. Seker die enigste ander voël wat die naaste aan sy statigheid kom is die sekretaris voël, maar hy het nie die vlieg en sweef vermoë van die arend nie. Ek het ‘n plaas teen die Touwsberg gehad en het menigmaal die arende dopgehou as hulle die lugstrome inspan en hulle sier vlugte uitvoer in die lug op soek na ‘n dassie wat ‘n bietjie onverskillig geraak het. Dit word gesê dat as ‘n arend afduik op ‘n springbok dit sy rug breek met die trefslag, so geweldig is die spoed en impak van die aanval. Somtyds kon jy die wind deur hulle vlerke en vere hoor as hulle die klowe fynkam op soek na prooi. As die mannetjie ‘n lewensmaat kies dan is dit letterlik vir so lank as hulle lewe. Sekerlik meer as wat ons van party van ons mede menslike aardbewoners kan sê, want waar ek hoor is daar maar iemand besig om te skei, of is reeds klaar geskei.     
Arende maak gewoonlik een kuiken groot. Die sterkste kuiken maak altyd die swakker een dood sodat hy al een is wat die kos wat sy ouerpaar aandra nes toe kan verorber en hy dan gou groot en sterk kan word. As hy sterk genoeg is en sy ouers sien dat sy vlerke genoegsaam ontwikkel het stoot hulle hom uit die nes wat gewoonlik op ‘n hoë krans gebou is. Dit is seker waar die spreekwoord vandaan kom as ons kinders oud genoeg is om die huis te verlaat en self te gaan werk dat ons sê: “Ons het hulle uit die nes geskop”. Maar kom ons lees wat die Bybel sê oor arende.
God vergelyk homself amper met ‘n arend in Eks. 19:4-6 “Julle het gesien wat ek aan Egipte gedoen het, en hoe ek julle soos op arends vlerke veilig gedra en na my toe gebring het. As julle my gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees.....”
Deut 32:11 Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ‘n ander god by Hom nie.

God verduidelik eintlik in die skrif gedeeltes dat Hy alleen en geen ander God, die Israeliete uit Egipte uitgeskop het net soos wat ‘n arend sy kuiken uit die nes skop en hulle toe veilig op die ouer arend se vlerke gevang het en na Hom toe gedra het om Sy eiendom te wees. God het dit self gesê en is dit nie ‘n pragtige voorbeeld nie.

As ons, ons harte en siel aan God gee en Sy gebooie onderhou dan sal Hy dieselfde met ons doen en ons Sy eiendom maak. Dit is sy belofte wat Hy hier maak en ons kan dit maar glo. God maak nie beloftes om dit te verbreek nie.

As hy ons uit die nes uitskop en ons val sonder om te kan vlieg sal Hy ons op Sy rug vang en telkens weer terugneem nes toe en telkens weer uitskop totdat ons die kuns bemeester het om te vlieg soos Hy sodat Hy ons kan saamneem op sy vlug van die lewe as Sy eiendom. Dit is God se manier om ons te vertel hoe Hy wil hê dat ons geestelik moet groei en nie stagneer nie. God gee nie maklik touop as Hy met jou besig is nie. Hy het die Israeliete 40 jaar lank in die woestyn laat ronddwaal om hulle geestelik en in geloof te laat groei en te suiwer en na Hom toe te bring.

As jy vandag uit die nes van die lewe val is God daar en sal hy sorg dat jy nie jouself te pletter val op die kloof se bodem nie, nee Hy sal jou betyds op sy vlerke vang en jou telkemale weer laat oefen totdat jy kan vlieg soos Hy. Gaan vandag tegemoet en vlieg soos ‘n arend, God verwag dit van jou, sodat jy Sy eiendom kan word. Styg hoog bo die kloof van die lewe uit.

Ons Gebed vir vandag is: My enigste Hemel Vader vang my op U vlerke as U my uit die nes skop en leer my om te vlieg soos wat U van my verwag, maak my geloofs vlerke sterk dat ek in geloof so hoog sal vlieg, dat ek hoog bo die kloof sal uitstyg wat my vasvang. Help my dat ek sal vlieg soos volwaardige geloofsvervulde arend. Amen.


19                               Die Here se seën

Ons wil almal graag geseën word, maar wat is dit om geseënd te wees en lewe? Dit is dat alles net met jou goed gaan en niks verkeerd loop nie, nie met jou familie, vriende jou besigheid, bedryf of boerdery en met die land waarin jy bly nie. Die perfekte wêreld. Is dit moontlik? Ja dit is sommer ‘n mondvol seëninge wat ons hier van praat. Om geseënd te kan wees by God moet ons dit eers verdien. Nie net ek en jy nie, maar die hele land en sy mense. Daar is dus nog baie werk vir ons as gelowiges voor om te doen.
Nou hoe verdien ons dit? As ek die ou testament se Bybel boeke bestudeer vanaf Eksodus tot Numeri, amper 90 bladsye merk ek op dat dit die meeste handel oor die wette wat God destyds opgestel het en waarin opdrag gegee word aan die Israeliete hoe om te lewe, hoe om te offer en te aanbid, hoe om jou naaste te behandel en hoe straf uitgedeel moet word aan die wat ongehoorsaam is en nie volgens God se voorskrifte handel nie. Straf vir die oortredings was in die meeste gevalle die dood. Somtyds deur die persoon wat skuldig bevind word te stenig.
Jesus het die wette vir ons kom vereenvoudig en saamgevat in ‘n paar kort woorde. Mat. 22 :37 “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede wat hiermee gelykstaan , is: “ Jy moet jou naaste net soos jouself”. Hy het ook vir ons kom leer dat Hy vir ons sondes gesterf het en en na drie dae weer opgestaan het en dat daar daarom vergifnis van sonde is as ons dit voor Hom bely en om vergifnis vra. Hy het ook by geleentheid toe die mense iemand wou stenig gesê. Laat die een wat geen sonde het nie die eerste klip gooi.

Elke Sondag by afsluiting van die erediens word die seën oor die gemeente uitgespreek deur die prediker. Ons aanvaar somtyds die seën as ‘n gewoonte sonder om te besef dat dit eintlik ‘n opdrag van God is.
Ons lees in Numeri 6:24-26 Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! Die Here het die opdrag aan Moses gegee dat die priesters hierdie seëngroet oor die Iraeliete moet uitspreek en die Here het dan beloof om hulle te seën en vrede te gee. Is dit nie ‘n wonderlike gedagte dat die Here beloof om ons gebede te verhoor en aan ons vrede te gee nie. Al wat God van ons in ruil verwag is dat ons volgens Sy voorskrifte leef en nie sondig nie. Nou is dit dan nou so moeilik?
Lees ook wat Jesus vir ons sê in Luk 6 : 20 – 26 Jesus het vir sy dissipels aangekyk en gesê: Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koningkryk van God. Geseënd is julle wat honger het, want.........” Die Here seën die dissipels ook in Luk 24 : 50 voor sy hemelvaart.

Die vraag is nou, wat het ek en jy vandag al gedoen om iemand anders van die Here se seën, beskermde genade en vrede te vertel? Het ons al vandag iemand geseën deur ‘n gebed vir iemand anders of ons land, sy regering en leiers te doen?
Iemand het die volgende gesê: “As jy bid vir ander sal God na jou luister en hulle seën. Somtyds wanneer jy veilig en in God se vrede lewe, onthou dat ander vir jou gebid het.” Is dit nie pragtig nie.
Daar is baie mense in ons land wat nog nie op die Here se weë wandel nie en nie Sy voorskrifte volg nie. Dit is ons as gelowiges se plig om dit aan hulle bekend te maak en vir hulle te bid. Die Here sal ons daarmee help, ons moet Hom net vra vir leiding. Dit help niks ons beweer ons is nie sterk genoeg om dit te doen nie. Nee, die Here gebruik juis die swakkelinge om sy werk te doen. Moses was ‘n ou man van oor die 80 jaar met ‘n spraak probleem, maar God het hom gebruik om die Iraeliete uit Egipte uit te lei na die beloofde land. God kan dit met my en jou ook doen, as ons hom vra om ons te seën met die gawe om dit te doen.

Kom ons vra die Here se Seën: Hemel vader en God ek vra dat U tot my redding kom en my die genadegawe sal gee om vir ander en ons land te kan bid. Dat ek die vrymoedigheid sal hê om dit openlik te kan doen, so veel as moontlik en so gereeld as moontlik, elke dag. Dankie Here vir ander gelowiges wat vir my bid en seën hulle met U seën en gee hulle U goddelike vrede. Amen.

20                               Verskillende tipe liefdes

Ons het seker almal ‘n ander begrip van wat liefde is. Baie mense het al probeer om liefde te definieer. As dit kom by die besluit op ‘n lewensmaat sê party mense dis so ‘n gevoel wat jy kry wat jy nog nooit gevoel het nie. Nouja, ons ken almal daardie gevoel
Kom ons kyk watter definisie Jakop van die Bybel se tyd gebruik om sy liefde vir sy aanstaande bruid te verklaar. Ons lees in Genesis 29:20 Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Rachel, en dit was vir hom soos ‘n paar dae, want hy het haar liefgehad. Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou, die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.
As ons die stukkie verder lees sien ons dat Jakop gedink het Laban het hom bedrieg , want hy sien toe in die môre dat hy met Lea die oudste dogter getrou het. Laban verduidelik toe aan Jakop dat by hulle dit die gebruik is dat die oudste dogter eerste moet trou, maar belowe dat as hy ‘n week wag kan hy met die jongste dogter op wie hy verlief is, naamlik Rachel, ook trou as hy bereid is om nog sewe jaar vir hom te werk. Jakop het ingestem en nog sewe jaar vir Laban gewerk.

Ons sien dus dat Jakop so lief was vir Rachel dat hy uiteindelik 20 jaar vir sy skoonpa gewerk het om haar te kry. Wat ons nie weet nie is of die laaste aantal jare vir hom ook soos ‘n paar dae was. Wat ons wel weet is dat daar gesê word dat hy vir Rachel baie liewer was as vir Lea.

Ons lees ook in die Bybel dat jy jou vyand moet liefhê, en waarom: Mat 5: 43 – “Julle het gehoor dat daar gesê is dat: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat’. Maar ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die Hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en oor goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen. As julle net die liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag.”

Goddelike liefde vir die Here is ‘n ander tipe liefde en om intimiteit met God te verkry beteken dat jy in ‘n gebeds ketting met Hom betrokke moet raak en bly. Jesus verduidelik dit soos volg:
Joh 15: 9 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos ek die opdragte uitvoer van my Vader uitvoer en in Sy liefde bly.
Met ander woorde, ons liefde vir die Here moet wees soos tussen ‘n vader en sy seun, waar die seun gehoorsaam is en die opdragte van die Vader stiptelik uitvoer en waar ons in die geval die seun verteenwoordig.
Die Bybel sê vir ons dat die liefde ‘n gawe is en as jy dit nie het nie is jy niks. 1Kor.13:2 “Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken al die geheimenisse en besit ek al die kennis en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks”.

Die Bybel gee ons ‘n baie goeie definisie van wat liefde is in Gal 5:22 “Die vrug van die Gees... is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Al die komponente waaruit liefde saamgestel is.
Ons moet eers God se liefde verstaan voordat ons opreg kan liefhê sê 1 Kor 13:1 Ek kan nie opreg liefhê tensy ek iets van God se liefde vir my verstaan nie. Want Hy is liefde. “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword”.
Salomo het in Spreuke 15:17 die volgende wysheid kweit geraak. “Liewer ‘n bietjie groente en liefde daarby, as ‘n vetgemaakte os en haat daarby”. En in Hoogl 8:7 Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie. Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daaroor uitgelag word”.
Kom ons bid vir liefde: Hemel Vader gee my die gawe van ware liefde met al sy komponente, vir U, vir my familie, my naaste en my vyande, want dit is wat U van my verwag as Christen. Amen
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Susanna Maria Magdalena

deur Lorelei

Die lewensverhaal van n jongvrou wat gedryf word deur Stemme in haarself. Haar soeke na haarself en God asook n stryd tussen Lig en Duisternis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar