Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

nog 'n slukkie "nuwe wyn"-nuusbriefie

DIE STORIE AGTER DIE STORIE – Deel 9
Waar God werk, hoor ons altyd ook die brullende leeu!

As God onder mense deur Sy Woord en Gees begin werk, moet ons nie verras wees as die hel in al sy woede ook op die toneel verskyn nie!

Maar moet ook nie verras wees as dit soms godsdienstige mense is wat jou baie keer die meeste moeilikheid gaan gee nie! Soos die Ekklesia en sy mense daar in die begin gou-gou agtergekom het.

Tot heel onlangs was die Joodse Sinagoge en sy leiers nog bereid om Jesus, en selfs van Sy volgelinge, onder hulle te akkommodeer. Maar toe dit blyk dat hulle die skare begin trek, het die sisteem dadelik bedreig begin voel en sy naels begin wys.

Hoeveel keer gebeur dit nie! Vandag nog. Selfs in Christelik-godsdienstige kringe en –kerke. Hoeveel keer het profetiese stemme nie deur die eeue in die Christelike kerk-sisteem hulle vasgeloop teen die vyandigheid en skerp naels van mense wat tot onlangs hulle gelowige vriende was nie! Net omdat hulle gewaag het om die normale en aanvaarbare tradisies en leringe te bevraagteken.

’n Mens kan natuurlik maklik die fout maak en dink dat mense jou werklike teëstanders is. Terwyl jou werklike teëstander eintlik die onsigbare een is. Niemand anders is as die één wat maar al die eeue probeer verhoed het dat God se Koninkryk hier op aarde kom - waar hy tot onlangs nog die beheer gehad het. Daarom waarsku Paulus ons juis daar in Ef 6 dat ons worstelstryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die onsigbare magte in die lug.

Dit is presies wat Petrus en Johannes beleef het toe Jesus, deur hulle, daardie kreupelman gesond gemaak en hulle die skare van Jesus begin vertel het. So gou soos nou was hulle gevange geneem en in die tronk gestop deur die leiers van die Joodse sinagoge waar dit alles plaasgevind het.

Die volgende dag is Petrus en Johannes voor die Sanhedrin gebring, met sy 70 lede, wat op daardie stadium die senaat en hoogste hof van die Joodse volk was. Die politiese en godsdienstige setel van mag vir die Jode dus. Met, as voorsitter, die Hoëpriester, wat beskou is as God se stem vir hulle tyd.

Hierdie Sanhedrin vra toe vir Petrus en Johannes, na aanleiding van die wondergenesing van die verlamde man die vorige dag: "Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?" (Hand 4:7).

Waarop Petrus dan, onder leiding van die Heilige Gees in hom, onverskrokke antwoord: “Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie."

Al die eer kom Jesus toe, antwoord Petrus dus. Dieselfde Jesus wat julle gekruisig het twee maande of wat terug! Maar julle moet ook weet, daardie Jesus het opgestaan uit die dood. Hy is die beloofde Messias, Verlosser, Dokter as jy wil. Vir julle en vir elkeen wat verlossing nodig het. En dit is Hy wat hierdie man gesond gemaak het.

Wow! Watter merkwaardige getuienis! En met die dag-oud-geneesde man daar voor hulle oë om te sien, baie moeilik om te ignoreer! G’n wonder die lede van die Sanhedrin het Petrus en Johannes uitgestuur om eers onder mekaar te koukus wat om hulle te antwoord nie!

Dan besluit hulle om maar te maak wat soveel keer in die geskiedenis gebeur het, naamlik om hulle te dreig en te probeer manipuleer om mooi stil te gaan sit in die hoekie en nie weer te praat oor dit wat hulle glo nie. Sodat die status quo tog nie versteur en hulle magsposisie nie dalk in die gedrang kom nie.

Waarop Petrus en Johannes hulle dan antwoord: "Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie."

Natuurlik het die Sanhedrin hulle maar net weer gedreig, maar tog laat gaan, want hulle was tog bang vir die gemeenskap daar buite, wat maar te goed onthou van die genesing die vorige dag deur hierdie manne.

Dan lees ons hoe Petrus en Johannes dadelik terug gegaan het na hulle geestelike familie, die Ekklesia, en teenoor hulle getuig het oor wat gebeur het. Saam het hulle God geloof en gebid: "En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus." (Hand 4:29-31)

En ons lees hoe daardie plek waar hulle bymekaar was, begin skud het, en hoe almal van hulle, weer ‘n keer, vervul is met die Heilige Gees en Sy bonatuurlike krag en gawes. Maar ook met ‘n nuwe vrymoedigheid (“boldness”), om aan te hou praat oor wat in hulle en ander se lewens begin gebeur het sedert hulle Jesus as Verlosser en Here leer ken het.

Ek wil jou net weer herinner aan die vele kere wat Jesus Christus, as Verlosser, Geneesheer, Wonderwerker, genadige Here, jou en ander om jou, se lewens kom aanraak het in die verlede.

En jou uitdaag om Hom te vra om deur Sy Gees, wat in jou lewe woon en werk, jou net weer toe te rus en te vul met die durf en moed van ‘n Staffie. Sodat jy kan doen en sê wat jy moet doen daar op die verhoog waar God vi rjou geestelike outoriteit gegee het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Die Skree van Stilte

deur Alex Fan Moniz

37 spesifieke gedigte gekies uit ‘n versameling van oor 300 wat ek oor die afgelope 25 jare gedig het, wat ek graag met julle wil meedeel, daar is ook ‘n paar nuwe gedigte spesiaal vir die bundle gepen.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar