Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

In die eerste twee kapittels het ons die hoofveroorsakers of beïnvloeders beskou wat – soos ek dit sien – ons as mense, oor die hele wêreld, gaan aandryf of ons ontwikkeling terughou. Natuurlik is daar ander invloede wat op ons inwerk. 'n Paar het ek aangedui, en ons kan miskien as enkeling ook leer om daarmee om te gaan. Die meeste van die invloede kan ons glad nie sien nie, en ons merk dit eers 'n tydlank nadat dit reeds van krag is.

Wat gaan nou eindelik uit die kinders word?

Daar is niemand wat hom of haar na ’n plan of skema ontwikkel nie. Daar is niemand wat dit kán doen nie, en daar is niemand wat so 'n plan kan skryf nie. Dus skyn die volgende tiperings taamlik oordrewe, en op die ou end gaan waarskynlik allerhand mengsels en tussenvorms ontstaan:

°   ÓF: Ons gesinne is klein, met gemiddeld minder as twee kinders, wat tuis nie die moontlikheid het om „hul horinkies teen die ander kalwers te vryf” nie; hulle moet in die kindertuin of skool sosiale omgang met ander kinders leer. By die huis het hulle grotendeels geleer dat hulle met die grootmense gelyk is, dat hulle kan bepaal, en die ouers is hulle bediendes. Die onderwysers is oral op aarde deur wetgewing geboei; so bring hulle baie tyd met burokratiese rompslomp deur in plaas van onderrig. Nog die ouers, nog die onderwysers, nog die kinders is gemotiveer, en die resultate aan die einde van die jaar bewys dit. (Natuurlik is daar uitsonderings, ook streeksgewys en van kultuur- of volksgroep tot volksgroep verskillend.)

°  ÓF: Ons gesinne is te groot, dus arm, én die ouers het 'n ander kulturele agtergrond as wat die skole wil versprei. Die kulture „praat aan mekaar verby”, of dit nou 'n veelvolke­staat soos Suid-Afrika, of 'n multi-kulti metropool soos Berlyn is. Ouers is hulpeloos en weet nie waarheen om te draai nie, die kinders in geeneen van die kulture rêrig tuis nie.

° ÓF:  In ’n ander scenario kry die kinders 'n behoorlike opleiding tuis(!) wat daarop afstuur om selfstandige, volwaardige mense uit hulle te maak. Nie „burgers” of lede van die een of ander klub of organisasie nie, maar mense wat hulle natuurlike talente en vaardighede op- en uitgebou het. Hulle gaan op daardie „onbekende toekoms” voorberei wees en gaan die beste kanse geniet om te oorleef in 'n wêreld waar „oorleef van die fiksstes” gaan geld. Natuurlik sal die een of ander die paal nie haal nie, maar die kans dat hy deurkom, is groter.

Die Mooie, die Goeie en die Ware

Mense, wie se kindheid deur sedelike en estetiese waardes en waaragtigheid beïnvloed is, gaan waarskynlik later hierdie waardes saamdra en uitleef. Kinders met 'n deeglike opleiding in die bekwaamhede wat lewe op die aarde moontlik maak, gaan ook waarskynlik beter kanse hê om vooraan te kom. Daar ís geen vaste reëls daarvoor nie.
[ In een van die handboeke uit my verlede word die verhaal vertel van tweelinge wat saam in 'n „gevaarlike” buurt in 'n grootstad grootgeword het. Toe een van hulle as moordenaar in die dodessel op die voltrekking van sy vonnis wag, kom die ander as leraar om sy laaste bieg aan te hoor.  Daar ís geen vaste reëls nie! Ook nie vir kinders uit ander voorstede nie. ]
   Ons sê dat iemand „karakter” besit. Ek ken min mense wie se karakter so sterk is dat hulle as voorbeeld vir die jeug kan dien. Maar ek ken 'n hele paar mense wie se pogings om hulle eie swakhede te oorwin om so meer as voorbeeld werksaam is. Niemand is perfek nie, en hy wat probeer om homself te verbeter eers reg nie. Maar die kind sien alles en weet of dit rêrig eg of kamma gespeel is. Dit het pedagogiese krag en waarde bo meniges wat in die handboeke geskryf staan. Die onderwyser word nie gemeet aan die aantal A’s in sy vak in sy klas in een of ander eksamen nie; hy word gemeet aan die aantal volwassenes wat dertig jare later(!) hul man (of vrou) kan staan, wat hul taak volbring, hul plig vervul. Wat kan lag. En wat ander mense geesdriftig kan aanspoor om beter te doen.

Humor

'n Man wou 'n boek oor humor skryf maar ten slotte het hy oor grappies geskryf; humor laat hom nie vang nie. Dit „gebeur”. Maar dit gebeur waar mense ontvanklik is: Oral waar mense is, of diep ondergrond, onder water, in 'n stowwerige kantoor, by die huis of ver in die wêreld... Ontvanklik is iemand wat geleer het om te lag. Oor homself en sy eie skete, maar nie oor ander nie, liewer mét hulle, om deel te neem aan hulle vreugde.
   Ek is jammer dat hierdie relaas so min humor toon, maar die impak van my tema het my 'n bietjie oorweldig. Miskien skryf ek (of iemand anders) in 'n jaar of so heeltemal anders.

(Voorlopige) Slot

Hierdie artikelreeks bou voort op my TAAL-en-VOLK-artikels waarin die rede van Stomme Wete en Kollektiewe Herinnering onder die lede van ’n volk was, asook die yskoue nie-kind-geregte opvoeding waaronder huidige kinders moet ly. (Om hulle voor te berei op die  – gewenste? beplande? – uitroeiing van die oortollige wêreldbevolking?)
   Yoko Ono het onlangs gesê, „Ons lewe in 'n wêreld waar ons 'n duistere uitkyk nie kan bekostig nie.” Ons kinders moet veral met lewensvreugde gevul word, met die wil om te waag, sonder vrees vir onbekende mense of idees, met lus om te dans en vermoë om te sing. Geesdriftig.
   Wat my aangaan, ek is optimisties want ek meen dat sommige mense gaan bly staan en die voortgang van die mensdom waarborg. Ek is van mening dat iets gaan gebeur wat ons – baie van ons – die lewensgrondlae onder die voete gaan wegneem. Dat dit nié deur vry mense veroorsaak gaan word nie, eerder deur mense wat deur veel nederiger, duisterer magte aangedryf word as wat ons kan voorstel. Die stryd tussen goed en boos, skyn my, loop op 'n spits punt toe wat in die naby toekoms gaan veroorsaak dat heelwat verander word. Radikaal. Daarom is ek besorgd, maar, soos ek sê, nie pessimisties nie.
   Hoe ook al hierdie „kataklisme”*4) gaan plaasvind – oftenot – ons kinders moet in 'n wêreld tereg vind wat volkome anders is as alles wat ons tot nou toe beleef het. Dit gaan noodwendig wees dat hulle hulself kan staande hou in die stormbranding van 'n wild geworde wêreldpolitiek. Nie te vergeet dat dit dieselfde stoflike wêreld bly met sy fisiese, chemiese, biologiese, ens. wette is nie.
   Derhalwe my wens dat ons kinders voorberei word dat hulle op alles moontlike wat kan voorkom, graag ingaan en nie vertwyfel nie, dat hulle soveel humor en lewensvreugde gaan opbring om dit te oorwin.
   Derhalwe my wens dat ons kinders (regtydig) leer om hulle hoëre Ek, hul regte Eie-Ek, in te span: Nie ek nie maar Christus in my.

*4)   kataklisme: wêreldwye (globale) katastrofe of ramp

_______________

[Soos altyd nooi ek lesers uit om positiewe of negatiewe kommentaar hieroor te lewer. Ook 'n lang tyd na die verskyning hiervan.]

©.2013._________________________.ËëëÏïïïï„„„„„„.________________________________.tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Lepeltjie
WW: - Die voerlepeltjie word steeds uitgeruil aan 'n al hoe grotere saam met die groter wordende mond wat dit moet voer.
Na hóógstens agtien jare kry die kind 'n messer in die hand om 'n eie lepel uit te sny wat in sy mond pas.
Tot dan moet ons hom die houtsnykuns bybring.
Tot dan het hy ook geleer wat vir 'n hap te groot is, wat lekker en wat bitter is, wat giftig en wat gesond.
- Om by jou beeld te bly. Dankie vir die terugvoer/saampraat.
GvT
6 jaar 2 weke 14 ure oud


--
Wat duidelik (vir my) na vore kom in hierdie artikel van jou is dat ons kinders nie met 'n lepeltjie gevoer moet word nie.. dat hulle kreatief moet wees.. dinge vir hulle (self) moet ontdek.. (self) moet uitvind wat is goed en wat is sleg sodat hulle kan verstaan waaroor die woord 'onderskeiding' gaan wat na my mening tot gevolg sal hê dat hulle goeie besluite sal neem [Iets soos stewige fondasie lê vir die toekoms]
6 jaar 2 weke 3 dae 17 ure oud



Vader, vergeef

deur http://www.woes.co.za/

'n Geestelike digbundel met 46 Gedigte wat begin by sosiale kommentaar oor die euwels in ons samelewing en dan oorgaan na storiegedigte gebaseer op ware verhale van gebedsverhoring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar