Artikels

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek sit voor my skoon skerm met so baie wat deur my gedagtes hardloop en tog het ek nie ‘n idée hoe om hierdie stuk te benader nie. Daar is so baie wat ek wil sê, so baie wat eintlik moet gesê word.. Wonder soms of die lewe nie makliker sou wees, indien jy met die grootword slag ook ‘n handleiding oor verhoudings kon kry wat jy kan swot nie. Dit, my liewe mens sou handig inkom. Die moets, die moenies, wat om te verwag, wat om te doen, en waarnatoe jy draai as dinge nie reg loop nie.

Hoe baie van ons het getrou omdat trou trou is, omdat die lewe so werk? Jy ontmoet, jy kys, jy raak verloof en dan trou jy..want dis hoe dit werk. In die onsigbare prosedures handleiding van jou lewe, is dit nog altyd hoe dinge sou verloop… nie? Tot jy eendag wakker word, en voorraad opname doen van waarmee jy besig is, en besef dat indien jy nie vinnig ‘n metodiese reddingsveldtog loods nie, jy hierdie ding gaan flop. En ons draai in onsself en kry onsself jammer, en gee die leisels oor aan die verloop van prosedures en wat die samelewing bestempel as die stappe wat gevolg moet word.

Hoekom gee ons so maklik die leisels af? Ek verstaan dat God wil hê ons moet die stuurwiel van ons lewens aan Hom gee; daarmee het ek nie ‘n probleem nie. Dis die leisels se afgee aan die samelewing waarmee ek ‘n kolosale probleem het. Want ons, ek en jy, is deel van die samelewing, en klaarblyklik ook nie instaat daartoe om die ding reg te beman nie. So ons gooi ons probleme daar buite, en wag vir ‘n antwoord wat soos ‘n groot maagwerk ons gaan nader. Maar intussen gooi ons ‘n tantrum as vreemdes vir ons ‘n Please call me of Misscall gee, want dis is nie rerig waarna ons gesoek het nie. Is dit nie maar presies wat ons nounet gedoen het nie? Hierdie groot swaar probleem op ons harte het ons gelos en gehoop dat ‘n vreemde persoon of situasie dit gaan regmaak, die beste moontlike antwoord verskaf… Teenoor iemand wat jou nie ken nie? Wat maak ons!

Verhoudings is ‘n baie ingewikkelde ding as hy nie reg loop nie, en tog, so moeiteloos as hy wel gesond is. Ja, alles is nie altyd maanskyn en rose nie, maar tog is daar die wete dat die persoon wat jy gekies het om jou lewe mee te deel, JOU keuse was. Dus is jy in beheer van wat jy dink en doen in daardie verhouding vandat jy wakker word in die oggende tot wanneer jy jou oë toemaak in die nag. Jy bepaal hoeveel lewe jy daarin blaas, hoeveel tyd jy daaraan spandeer, en hoeveel onderskragings en opbouing plaasvind. Mens is geneig om baie gou te kla as dinge nie reg loop nie, maar hou dit vir jouself as dinge wel goed gaan. Hoekom? Waarom wag ons totdat dinge reeds verkeerd is, voordat ons bereid is om dit raak te sien? Ek besef dat dit nie werklik ‘n geval van ignorering is nie, maar ons is geneig om in koerante net die slegte nuus te lees, by ‘n ongeluk verby te ry en tog maar te wil kyk wat ons nie wou sien nie, ‘n skinderstorie te wil aanhoor al weet ons vir ‘n feit dat daar geen waarheid in steek nie. En aan die ander kant, snel ons verby die mooi goed en aanvaar dit as deel van die balans, is selfs diep in ons harte bly oor die geluk wat ons daar sien, maar bly stil daaroor. Hoekom skryf ons nie ‘n slag vir ‘n maatskappy om dankie te sê vir hoe lekker hul produk is nie, i.p.v. gou-gou ‘n kla-brief skryf? Hoekom? Want ons het gewoond daaraan geraak om iets as vanselfsprekend te sien.. party mense is nou maar net gelukkig, of suksesvol.. Dalk is ons effe heimlik teleurgesteld dat die nie ons is wat in daardie situasie is nie.? So jy beweeg weg, want daar is baie negatiewe dinge wat jou aandag verg.

As ons net kon leer om daardie geleenthede aan te gryp. Die verhaal is dat die man na die storm op sy huis se dak gesit het, en een na die ander reddingsgeleentheid van die hand gewys het met die woorde: “Nee, dankie, ek sal maar hier op die dak bly sit. Moenie worry nie, ek sal gered word. God het belowe!” So is die reddingsbote weg, die helikopters het ophou sirkel oor sy huis en die televisiestasie het aangeskuif na beeldmateriaal van ander mense wat wel gered was. En die man het verdrink. Bo in die Hemel aangekom, wou Gabriel toe weet by hom waarom hy dan so jonk al daar is, en die man het in totale geskoktheid vertel dat hy heeltyd gesit en wag het vir God om hom te red, maar God het nie gekom nie. En Gabriel het sy hand op die man se skouer gesit, en gevra of hy nie miskien gewonder het wie die reddingsbote en helikopters gestuur het nie…

Ons is intelligente mense. Hy het nie vir ons al die tegnologiese vooruitgang daargestel sodat ons dit moes ignoreer nie. Maar ons kan vir onsself soms so dom hou, en weier om die groter prentjie te sien. Ons kyk onsself blind aan die water wat styg om die huis, en ervaar ‘n absolute verlatenheid, daar heel alleen, versake. Sit en vertrou dat God sal raaksien hoe erg ons situasie is, en dan sal ingryp want Hy sal nie wil sien ons kry so swaar nie. Hey boet, word wakker. God het jou mooi slim gemaak en vir jou baie geleentheid in die lewe gegee om jou vinger uit te trek en iets te doen. Lig jou lyf en neem die redding aan wat Hy sonder ophou vir jou bied. Maar JY moet die werk doen. ‘n Engeltjie gaan nie uit die hemel kom en jou wonderbaarlik ophys en uit daardie vloed van hartseer red nie. Jy moet jou gat lig en in die helikopter inklim. Die Engelse spreekwoord is “God helps those who help themselves.”

As jy beheer oor jou huwelik of jou verhouding afgee aan jou maat en hoop dat die aandag wat dit verg van haar of hom gaan kom, moet iemand jou asseblief wakker klap. Of as dit die geval is, klap sommer nou jouself! Dit het niks te doen met wie die broek dra of wie die geld het nie. Dit is aan die einde van die dag, JOU werk om ten alle tye jou 110% persent te gee, want anders, kan ek vir jou ‘n briefie gee, gaan jy dit nie maak nie. Ons gee beheer moeilik af op meeste gebiede van ons lewens. Hoekom gee jy dan die beheer oor jul verhouding af? En hoe werk dit vir jou – indien enigsins. Saam het jul ‘n patroon wat gevolg word, en wat hopenlik openhartig deur albei partye bespreek is of onderhandel word. Wie gaan vandag kook, wie pas die kinders op, wie bring die geld in, wie koop die klere, wie was die karre, wie was die wasgoed, wie was die skottelgoed, wie maak die dak reg…. Dit alles is takies wat julle deel, hopenlik, maar daar is sekere dinge wat ek beter as jy kan vermag, al is dit net omdat ek dit al vantevore probeer het. As jy lus het, sal ek vir jou wys hoe om dit te doen, dan doen ons dit dalk volgende keer saam, of deel hierdie werkie beurtelings. Maar asseblief, moenie vir my kwaad word omdat ek dit alweer self doen nie. Ek sou eintlik as ek kon kies, dit nie wou doen nie, en eerder die tyd saam met jou wou spandeer. Ons sou kon gaan loop by die see of ‘n lekker steak iewers eet, of sommer net lê in mekaar se arms en ‘n fliek kyk. Maar die neukspul is, die ding moet gedoen word, so ek doen dit gou-gou klaar, en dan kan ons aangaan met die res van ons dag. As jy dit met my kon deel, sou dit vir my hierdie werkie baie lekkerder maak….

Toe jul jonk was, of selfs toe jul skelm gevry het, argumentshalwe, was dinge baie meer eenvoudig. Die dag was beplan om hoeveel kere jul met mekaar kon kontak maak. En dan het elke oomblik getel. Heel moontlik het jou werk agter geraak en is die stoeplig wat twee maande gelede geblaas het, nooit vervang nie, want al jou tyd is in hierdie verhouding ingeblaas. Elke kans wat jul gekry het, kon jul aan niks anders dink as om mekaar asem te haal nie, naby hou, diep intrek, meer en meer, om die oomblik wanneer jul weg is van mekaar, ‘n reserwe van geur, van passie, van haar asem te kan ervaar. Niks anders het sin gemaak of was enigsins belangrik nie. Jy het haar halfpad ontmoet met enigiets wat sy voorgestel, gedink, gedoen, of beplan het. Haar godsdiens, haar gewoontes, haar politiek, haar voorkeure, haar werk, haar stokperdjies… alles het jy gedeel, met net een vereiste. Die voorwaarde was voor-die-hand-liggend..bly net by my..laat my deel wees van jou lewe.

“Careful what you wish for, you might just get it”

En skielik het jy jou wens.. en die lewe kom in die pad. Jul raak besig met elkeen se eie stoepligte vervang en rekeninge betaal, en vergeet dat jul tyd kosbaar is. Wat voorheen vanself gekom het, kos nou ‘n bietjie meer werk. Elke oggend as jy wakker word, is sy nie meer die een wat jy na verlang nie, want sy lê langs jou. Hier is waar dit tricky raak, my ou. Hier is waar jou kognetiewe brein ‘n daadwerklike besluit maak om haar halfpad te ontmoet. Om te verstaan dat sy die presiese ondervinding het, presies dieselfde kommer dra, en presies net so ontnugter is. Maar jy glo ook met alles wat jy het, dat sy nogsteeds, ondanks alles wat nou bygekom het, daar by jou wil wees. Jul fokus moet nou net aangepas word. Skelm of gesteelde tydjies is nou verby. Jul het nou ‘n leeftyd van heeldag. En die beheer is in jou hande of dit ‘n slegte ding gaan wees of nie. Jy het hierdie persoon jou hart gegee en het met alles wat jy is hierdie wens laat waar word. Nou is jou kans om dit te geniet, met alles wat jy het. Om jou verwagtinge met die realiteit te vermeng.

Julle is twee afsonderlike mense met ten minste een ding in gemeen. Jul het mekaar lief en wou hier wees. Dit het nie gemaak dat jul sieninge of passie oor dinge verander het nie. Sy gaan nou nie skielik verander in ‘n rugby-entoesias as sy dit nie voorheen was nie (jy was vir haar lief netso) en hy het sowaar nie verander in ‘n sepiekyker nie (jy was vir hom lief netso). Wat jul nou wel bygekry het, saam met die sepiekyk en die rugbykyk van jul eie, is die goed wat jul nou saam kan geniet, en boonop al die pelle wat jul nou jul totale kykgenot mee kan deel. Niks hoef te verander nie, dinge kom net by. Jou verantwoordelikheid egter is om seker te maak dat julle dit soos ‘n legkaart inmekaar pas. As dit oorvleuel, pas die plan aan. Praat daaroor. Wat ookal jul doen.. moet nooit ophou praat nie. (en so terloops, ‘n sms is nie praat nie)

Moet nooit aanneem sy weet hoe jy voel of sal kan onthou dat jy lief is vir haar nie. Sy wil dit hoor. Oggend. Middag. Aand. Sy wil hoor dat jy bly is dat jy haar liefhet. Sy wil weet dat jy vir altyd so wil voel. Praat met haar.

Ek hoop dat jy deur al my woorde, my intense begeerte lees dat jy moet verstaan dat ‘vir ewig’ nie perdekoop is nie, dat dit harde werk is..maar die moeite werd. Jy mag nie die leisels vir een oomblik afgee nie, maar ek verstout my om te sê, kry vir jul daardie soort leisels wat albei ‘n hoek moes vashou anders werk die ding nie. Hierdie perdekar kan nie loop met net een bestuurder nie, albei van julle moet gelyk die leisels vashou… en wil vashou. God hou Sy hand oor jul perdekarretjie en maak seker dat jul nie een oomblik uit Sy sig uitdraf nie. Maar as jy vir ‘n oomblik dink dat die karretjie vanself gaan loop en die perdjie nooit gaan honger of dors word nie, maak jy ‘n fout. God het vir jou ‘n verstand gegee om sekere verantwoordelikhede na te kom. Soos die ou op die dak van sy huis, moet jy sekere dinge doen om jul veiligheid te verseker. En as sy nie sterk genoeg is om die wa nader te sleep nie, gaan doen jy daardie deel, en laat haar die perdjie vashou. Dan, my liewe vriend, werk jul saam. En God glimlag.

Beheer oor jul verhouding? Ek dink dit is meer ‘n kwessie van beheer oor jouself en jou verantwoordelikheid, sodat jy die beste moontlike ek na die tafel bring. Een wat wil deel, werk, groei, en liefhê die mensie wat jy gekies het as jou maat. ‘n Spreekwoord wat my altyd sal bybly: It’s not that I can’t live without you, because I can. It’s that I don’t want to..” ‘n Goeie danser in ‘n danspaartjie is nie die ou wat die sprong doen nie, maar die een wat die vangwerk doen. As jy dit in jouself kan beheer en verstaan dat die eintlike fokus op die ander persoon is, is jou kop deur. Dan, my ou, is jy ‘n gelukkig man. Jy is rerig geregtig om gelukkig te wees soos in die flieks. Jy is dit werd. Dolgelukkig. En as jy dit nie is nie, gaan koop ‘n leisel met twee bande. Gaan op jou knieë vir die GPS.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

GPS
Die kamvuur vertel sy eie storie. Die geur van koffie beaam dit stilswyend. Ware woorde mens, ware woorde. So maklik verloor ons rigting. Die gevolge is 'n ramp, gevul met selfverwyt, verwyte en pyn. Eerlike kommunikasie is 'n pluspunt en kan baie van die pyn vemy. Ongelukkig koppel elkeen sy/haar eie waarde aan die woord "Eerlik"

Jy vertel 'n verhaal wat ek ken en verstaan. Dis waar, dis hartseer maar ook pragtig. Kan seer pragtig wees? Dink daaroor. Ek hoor vanwaar jy bel. Dis van baie ver, maar tog duidelik genoeg om te hoor. Jy tower met woorde en menswees. Dis gaaf en goed en word goed bedoel. Ek sal verder lees.
Grootpoot groete, met 'n koffiegeur en die reuk van die kampvuur.
11 jaar 4 maande 1 week 22 ure oud


Baie goed verwoord. Ons eerste fokus en ons leiding in die huwelik, moet ons by God kry en dan binne sy Woord bly. En dan moet mens natuurlik op jou eggenoot fokus, op sy/haar behoeftes en emosies. As jy dit kan doen gaan dieselfde aan jou gedoen word en dit is mos wat ons wil he.
11 jaar 6 maande 3 weke 3 dae 8 ure oud


n grootse werk.
ek doop dit>DIE ELFDE GEBOD.
11 jaar 6 maande 3 weke 4 dae 9 ure oud


GPS
ek dink hierdie artikel van jou moet as huweliksberading gebruik word - dit is nie net treffend en op die man (of vrou) af nie, dis insiggewend en waar. as ons nie ons alles in 'n verhouding insit nie, sal ons nie die maksimum daaruit kan haal nie. jou huweliksmaat is jou maat, nie die familie s'n of selfs jou vriende sin nie, en die persoon wat jy lief het, is soms onder daardie hardekwas. my pa het my altyd geleer - those who pray together, stay together. dankie hiervoor, ek gaan merk dit nou dadelik as 'n gunteling.
11 jaar 6 maande 3 weke 5 dae 7 ure oud


GPS
Uitstekende werk Danie, baie dankie. Goed deurdink en opsommend van 'n verhouding en ons menswees. Ja almal se fokus punt of te wel GPS behoort die leiding van die Heilige Gees te wees dan sal ons volgens die woord optree en mekaar liefhe en waardeer en sal die liefde elke dag nuut en wonderlik wees. Weereens Dankie
11 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 19 ure oud


GPS
Maggies, Danie toe ek begin lees dog ek jy is 'n vrou. Ek hoop daar is baie meer mans soos jy. Jy slaan die spreekwoordelike spyker op die kop. Soms maak mens die fout om te dink net jy dink wat jy dink en dan kry jy mense soos jy - presies - reg- regte vrae- regte antwoorde. Nie dat ek dink ek is spesiaal nie -inteendeel dit(huwelik) is harde werk. Maar glo my, ek is baie lank getroud en dit raak net beter. "Stay with me the best is yet to be". Ek glo dat as jy dinge volgens God se wil doen jy eenvoudig, ongelooflike seëninge ontvang al wat 'n mens moet doen is om dit raak te sien en te geniet. Dankie, ek stem saam.
11 jaar 6 maande 4 weke 23 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    KIEKIES

    deur Kiekies

    'n Potpourri van aardse en menslike insidente, wat wissel van skreeusnaakse humor tot hartroerende tragedie.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar