Artikels

Titel: Woede?
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hoe kan ‘n mens jou woede hanteer?
In die eerste plek moet die kind weet dat ‘n mens mag kwaad word. Ons word almal kwaad. Ons hanteer dit net nie almal dieselfde nie.

My pa het ‘n bokskryt gebou (sommer met ‘n tou om ‘n paar bome) met twee pare handskoene. Met agt seuns in die huis was dit nie altyd maklik om die vrede te handhaaf nie. Ek moet net verduidelik. My pa het al wat ‘n hawelose was bymekaar gemaak!!
Daar was ‘n permanente slaansak aan een van die bome. Ons het almal geweet, jy kan enige tyd die slaansak gaan bykom as jy gefrustreer of woedend was. Daar was ‘n voorwaarde aan verbonde. As jy klaar geslaan het, en jy het goed afgekoel, dan moes jy kom praat!!

Jy moes die ou wat jou so omgekrap het saam bring na Pa toe. Daar sou Pa dan rustig sit en elkeen se storie aanhoor. Nie ‘n deurmekaar gepratery nie, een-een. Soos ‘n hofsitting het Pa dit hanteer en hy was die regter. Die skuldige een moes dan voorstel wat die straf moes wees. Die onskuldige se opinie omtrent die straf is dan aangehoor. As die saak nie besleg kon word nie, en dit het maar min gebeur, is altwee bokskryt toe. Hulle moes eers ‘n goeie sessie slaansak slaan, totdat hulle tonge amper op die grond gehang het, dan in die kryt klim en mekaar aanvat. Vandag dink ek Pa het dit gedoen om hulle so moeg te maak dat hulle nie nog kans gesien het vir ‘n lang geveg nie, want dit was altyd gou verby. Altwee het dan hande geskud en vrede gemaak. Ek weet egter ook dat dit die beste manier is om van jou frustrasies ontslae te raak.

Ek lag sommer hard as ek dink aan my ma. Ma het gesê “soen mekaar om te wys julle is nie meer kwaad nie”. Ek dink, net die gedagte daaraan, het die vrede in ons huis onder die manne bewaar!!!

‘n Kind moet leer dat hy nie ‘n ander persoon mag te lyf gaan nie. Hy mag nie ‘n ander persoon se eiendom, of sy eie, beskadig nie.
Hy moet sy frustrasies met iemand wat hy vertrou bespreek. Iemand wat vir hom raad en leiding kan gee en help om die probleem op te los.
Baie goeie raat is om jou kind te leer dat jy altyd oop is vir bespreking.

Kyk asseblief na die probleem uit die kind se oogpunt en spreek dit aan met waardigheid. Vind ‘n oplossing vir die probleem.
Ons as ouers is dikwels die oorsaak van ons kinders se frustrasies. Ek sê geensins dat ouers moet toegee aan al die kinders se eise nie. Ons kan wel tot ‘n kompromie kom. As die ouer ‘n toegewing maak, dan moet die kind sy kant bring.
Die ouer leer die kind sodoende om nie rigied te wees nie, maar buigsaam.

Ouers maak nie toegewings of kom tot ‘n kompromie met reëls en regulasies nie. Die reël kan wel aangepas word soos die kind ouer word, maar daar moet ‘n nuwe riglyn gestel word wat nagekom moet word. Onthou altyd dat ‘n kind se sekuriteit in roetine, dissipline en konsekwensie lê. ‘n Kind kan geen vertroue in ‘n ouer hê wat self nie weet wat reg of verkeerd is nie. ‘n Ouer wat vandag iets toelaat en dit more verbied, skep onsekerheid by sy kind. ‘n Ouer is ‘n kind se anker.

Ek hoop hierdie stukkie gee uitkoms vir iemand. As daar iemand is wat nog onsekerheid het, skryf asseblief vir my, ek sal graag wil help waar ek kan.

Liefies
Piet Magriet




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Woede
Ek dink woede is 'n natuurlike emosie wat ons almal het en in die moderne samelewing te veel onderdruk word.

Ek praat nie woede goed wat uitloop op optrede wat nadelig is vir omstanders nie, maar as mens jou woede onderdruk lei dit net na groter probleme. Ons moet kan aanvaar dat dit normaal is om kwaad te word sonder om iemand te lyf te gaan, en soos jou pa moet kan praat oor waarom ons kwaad geword het.

Ciao

12 jaar 4 maande 1 week 4 dae 1 uur oud


Plaas dit gerug
Natuurlik Meraaitjie,
Ek kan natuurlik nie al die eer daarvoor kry nie. 'n Mens leer mos baie by ander en nie net uit eie ervaring nie.
12 jaar 5 maande 1 week 5 ure oud


Wyse ouers!
Sjoe PietMagriet, jy't wyse ouers ... en jy gee goeie raad hier vir ons.

My pa was a boer, maar was ook in die polisie ... ons het maar altyd op die en naby klein plekkies gebly .. en as my twee broers so baklei het, het my pa hulle opgesluit in die sel totdat hulle leer om met mekaar saam te werk .. die sel het nie 'n dak gehad nie.. net vier baie hoe mure .. so as dit reen en koud is, was dit redelik ongemaklik om daar te wees .. ek's net eenkeer saam met hulle daarin gewees ...

my ma en pa het ook altyd hande geneem as hulle kwaad was vir mekaar .. totdat hulle die ding kon uitpraat .. net die dood het hulle kom skei.

ons het ook 'n foto van waar ek en my predikant broer mekaar moes wurg op aandrang van my pa .. maar ons lag so baie .. ons woorde voor die tyd het mekaar amper 6 voet 6 gaan bere en van die dag af het my ouers altyd die foto te voorskyn gebring as ons baklei .. en dan het ons sommer weer gelag :-)

ietsie vir die in die verkeer ... ek het gevind om 'n apple te eet terwyl ek bestuur hou my baie kalm .. probeer dit gerus ...
12 jaar 7 maande 1 week 2 dae 4 ure oud


Woede
Hi Tannie Piet
Voorspoed vir die nuwe jaar , ek is ook weer in die tuig.
Die stukkie oor woed is so waar en laat my dink aanmy eie pa ons moes mekaar boks en as ons nie wil nie gee hy ons n hou en agterna moes ons ook soen en opmaak en ek kan jou dit se ons kinders staan bymekaar niemand sal een te na kom waar n ander by is nie en ons is vandag nog so
Dankie vir jou stukkie ek hoop ander ouers sal ook waarde daaruir put
Groete
"Genie"
12 jaar 9 maande 2 weke 4 dae 12 ure oud


Lees assebkief
Lees asseblief ook Naas se artikel "Help die onnie"
dit is baie insiggewend.
PM
12 jaar 9 maande 3 weke 3 dae 11 ure oud


Lees asseblief
Lees asseblief ook Naas se artikel van die "onnie". Dit is baie insiggewend.
PM
12 jaar 9 maande 3 weke 3 dae 11 ure oud


Woede?
Hierdie artikel is verskriklik nuttig. Ek het gisteraand alreeds een van die beginsels toegepas en...dit werk wondere. Die kinders dink natuurlik ek het oornag sielsiek geword omdat ek hulle episode so kalm en volwasse hanteer het, maar synde die ma van 4 tieners is dit vir my 'n pluimpie as hulle dink ek tree buite die norm op. Ek wil baie graag meer van hierdie soort raad hê en ek is seker ander lesers sal dieselfde voel. Nog asseblief!
12 jaar 9 maande 3 weke 3 dae 11 ure oud


Mooi so
Ons het lankal so-iets nodig.
Kosie
12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 5 ure oud


Skaterlag
Naas, jy het my nou net laat skaterlag, die trane rol!!
My kinders was seker "die een langsaan" want ek het opdrag gegee, die wat nie wil hoor nie moet voel!! Myne het goed geweet, as ek klagtes kry van die onderwyser af, kry hy dit dubbel so erg by my.
Dankie vir jou waardevolle bydrae.
Ek haal my hoed af vir elke onderwyser.
Piet Magriet.
12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 7 ure oud


Dankie Christal
Dankie vir jou kosbare bydrae. Jy het dit baie mooi omskryf in goeie verstaanbare taal. Dit gaan nie hier soseer oor sielkundige-agtergrond nie, maar oor ouers se ervaring. Dit is presies soos jy sê, elke kind is anders en elkeen ervaar en verwerk situasies anders. Baie dankie vir jou deelname.
Hartlike groete
Piet Magriet.
12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 8 ure oud


Kinder-woede
Ek reageer graag op jou briefie om ook kommentaar te lewer op die onderwerp. Dit sluit mooi aan by wat jy hier genoem het. Ek wil net byvoeg dat ek geen sielkundige agtergrond het nie. Ek lewer maar kommentaar volgens wat ek ondervind het in die opvoeding met my eie kinders. Nie twee kinders se geaardheid is dieselfde nie. Elkeen is uniek op sy eie en moet na sy eie behoeftes en geaardheid benader word. Dankie vir die voorreg Piet magriet dat ek deel kon wees in hierdie verband.

Kinder woede moet altyd uit verskillende oogmerke gesien word. Ons as ouers moet die pad stap saam met jou kinders, wat ek daarby bedoel is dat jy saam met jou kind moet groei en deur al die stadiums saam met hulle ʼn pad stap. Jy moet weet presies wat maak jou kind kwaad voordat jy die probleem kan help oplos.
Kommunikasie kom al van geboorte af saam, jy moet met hom praat sodat hy weet hy het iemand wat hy met sy probleme kan vertrou. Iemand wat vir hom raad kan gee. As jy as ouer jou kind se geaardheid leer ken sal jy weet hoe om hierdie kind te help om sy woede te hanteer. Om kinders in ʼn bokskryt met bokshandskoene te plaas, bied nie ʼn oplossing nie. Moet dit asseblief nie eers probeer nie.

Eerstens leer jy die kind met woede, dat hy sy woede op ʼn geweldadige manier kan uitleef. Sodoende maak jy van hom ʼn boelie, dit is verkeerd want as hy groot is kan hy ook miskien ʼn vroueslaner word, omdat hy op die verkeerde manier daarmee deel.
Tweedens maak jy ʼn slaansak van die swakker kind wat nog nie die krag het om teen die sterker een te beklei nie. Hierdie kind kan dan ook minderwaardig begin voel teenoor die sterker kind.

Kinders wat in huise groot word waar streng dissipline is, leer ook gouer wat toelaatbaar is en wat nie toelaatbaar is nie. Ouers moet sterk standpunt inneem en sy woord moet sy eer wees. As jy as ouer vir ʼn kind iets geweier het. Moet jy streng daarby hou, anders sal die kind jou gesag ondermyn en ʼn kans vat om jou telkens te toets om te sien of hulle nie hul sin met jou kan kry nie. Veral die groter kinders probeer dit graag.

Dissipline begin al as jou kind nog baie klein is, hy moet geleer word as hy klaar gespeel het moet die speelgoed opgetel word. Daar moet ʼn spesifieke bêre plek wees vir die speelgoed. Sodoende begin die netheid en dissipline al op ʼn baie jong ouderdom. Speel ook met jou kind, staan op jou knieë sodat jy op hulle ooghoogte is. Deur met hulle te speel kom jy baie klein dingetjies agter, soos wat hom stimuleer as hy speel en wat vir hom ʼn frustrasie is. Leer hom om mededeelsaam te wees, met sy speelgoed. So kan jy die jaloesie al op ʼn jong ouderdom help verminder.
Ek dink dit is hoofsaaklik die rede waaroor kinders kwaad word. Hulle wil nie met ander kinders deel nie.

Jy as ouer word ook kwaad vir kinders se streke. Onthou jy is die een wat koelkop moet bly om die situasie te ontlont. Moet nie ʼn klerehanger gryp en dit stukkend slaan op die kind nie, dit werk ook nie. Ek is seker as my seun hier lees gaan hy breed glimlag. Want hy moes deurloop. Stap liewers weg tot jy beheer oor jouself het voor jy begin dink aan enige straf. Sommige kinders reageer op mooipraat, ander moet jy ignoreer. Dit hang van die geaardheid af. Maar sit eers en bespreek die probleem breedvoerig met hom, probeer dan op hierdie manier oplossings vind vir die probleem, bespreek verskeie opsies en dan word die een gekies wat die probleem die beste oplos. Dit werk gewoonlik die beste. Straf is dan dikwels nie eers nodig nie. Indien jy wel besluit om die kind te straf, doen dit op 'n aanvaarbare manier. Moet dit nie geweldadig doen nie.Neem 'n deel van sy sakgeld weg of iets aanvaarbaar en menslik sodat hy nog sy menswaardigheid kan behou.

As jy regtig nie kan huishou met hierdie kind met buie nie. Raadpleeg ʼn sielkundige. Daar kan miskien 'n rede wees hoekom jy nie kan deurdring tot die kind nie. Hulle gee in baie gevalle ook die ouer raad hoe om die situasie te hanteer.

12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 9 ure oud


Nog 'n stuiwer in die armbeurs
Dit is seker nie vir my nodig om te sê dat 'n mens altyd reg en regverdig moet wees nie. Ons kan nou nie twee kleingoed teen mekaar te staan maak as die ouderdoms-verskil 'n onregverdige voorsprong bied nie.
Baie dankie aan almal wat tot dusver gereageer het. Julle bydrae en raad word baie waardeer dit is van onskatbare waarde.

Groetnis
Piet Magriet.
12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 10 ure oud


Hallo daar! N baie goeie stuk. Woede is soos n stam met soveel vertakkings. Woede is dit nie dalk amper sinoniem met ongeduld. Dis so n slegte gewoonte en tog leer party mense dit aan om vinnig op hul perdjie te wees wat baie ongesond is. Nie net vir jou as persoon maar vir verhoudings met mense rondom jou. In die Bybel staan draai die ander wang, ek se nie ek sal dit regkry nie maar is ons nie veronderstel om alle sake rustiger te nader nie, woede en ongeduld is menslik maar ek dink as jy jou hard genoeg instel kan jy alles meer vreedsaam hanteer. Ek is net so skuldig om soms kwaad te word oor die geringste dingetjie as ek die dag wil maar mens moet probeer.
Ek hou van die stuk mens moet rerig eerder jou furstrasies op iets uithaal as op iemand!
12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 10 ure oud


Nie KINDERS grootmaak
Hi,
Ek hoop ek druk myself goed genoeg uit dat almal verstaan.

Ons moet grootmense groot maak. Dit help nie ons maak kinders groot nie, want dan's hulle groot kinders. Die klein mensies moet soos grootmense hanteer word as ons eendag wil hê hul moet soos grootmense optree.( te tegnies?)

Daar's 'n pragtige handboek vir die grootmaak van mense: Die Bybel. Elke hoofstuk het ten minste een les en sommiges soos Spreuke het sommer tientalle in een hoofstuk.

Nog 'n manier om kinders verantwoordelikheid te leer, is om hul van hul "besittings" te ontneem vir 'n periode. Myne se kamers is oorvol, maar sodra hulle lelik met mekaar is, neem ek 'n selfoon, rekenaar, KS-speler(CD), of so-iets weg. Hul kry dan kans om hulself te bewys en indien ons tevrede is met hul gedrag kry hul dit terug. Hulle kry 'n soort magsbesef, soos grootmense, en dink dan hulle mag enigeen behandel soos hul wil. Die ontneming bring hul terug aarde toe, soos waneer grootmense moet hof toe gaan vir 'n oortreding.

Die enigste verskil in ons huis is dat hulle nie kan omkoop of bedrieg nie.

12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 12 ure oud


Dankie Meraai
Dit is mos wat ek ook sê. Ons kan almal uit ander se foute en raat leer. Dankie vir die mooi bydrae.
Liefies,
Piet Magriet
12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 20 ure oud


Help asseblief
Ek weet daar is baie skrywers op Woes wat 'n daadwerklike bydrae tot hierdie onderwerp kan lewer. Ek doen 'n beroep op julle om daardie bydrae hier te lewer.
Hartlike groete
Piet Magriet
12 jaar 9 maande 3 weke 4 dae 22 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Skat van die Seerower

deur Rachelle du Bois

Dit is die jaar 1845. Twee jong vroue is op 'n belangrike sending per skip van Frankryk af na Engeland op pad. Een het ’n kosbare skat in haar besit wat veilig in Engeland besorg moet word. Dis egter nie so maklik nie, want hul skip, Du Vent, word deur twee Franse edelmanne onderskep in ’n poging om te keer dat die skat in Engeland beland, want dit is die eiendom van die Le Veque-familie. Die mans is vasbeslote om dit terug te neem na Chateau le Veque in Nantes, Frankryk. Sal die pragtige dames die sending suksesvol voltooi ten spyte van ʼn storm op see, ontvoering, misverstande, bedreigings en allerhande ander ontberings en noue ontkomings? Of gaan die twee Fransmanne sorg dat die skat terug besorg word waar dit hoort?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar