Artikels

Titel: Zoya
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Baie toevallig het ek die afgelope maand die boek RUSSIA’S HEROES 1941-1945, deur Albert Axell, onder hande gehad. Die boek beskryf die heldedade van Russiese soldate tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar dit verwys ook na die heldedade van doodgewone mense gedurende daardie dieselfde tydperk.

Vir die wat nie weet nie, die volgende stukkie agtergrondinligting.

In opdrag van Adolf Hitler, as deel van sy droom om die sogenaamde barbaarse Slawiese hordes uit te wis, val die Duitse weermag en sy bondgenote vir die Sowjet Unie op die 22e Junie 1941, om drie-uur die oggend binne. Die invalsmag bestaan uit ongeveer 4 miljoen Duitse soldate ondersteun deur 3580 tenks, 7184 kanonne, 1830 vliegtuie en 750,000 perde. Die inval is in drie groepe verdeel en strek oor ‘n front van byna 2,900 kilometer. Die intensiteit en omvang van die aanval vang die Russe totaal onkant en na sewentien dae is daar reeds 300,000 Russiese soldate gevange geneem asook 2,500 tenks, 1,400 kanonne en 250 vliegtuie óf verwoes of op beslag gelê. Die Russiese verdedigingsmag, gebrekkig aan leiers, toerusting en opleiding, was op die punt om ineen te stort met die voorpunt van die Duitse invalsmag binne 60 kilometer vanaf Moskou.

In Axell se boek is daar een spesifieke foto wat my so diep getref het, dat ek baie graag die verhaaltjie daaragter met u wil deel. Dit weerspieël die innerlike krag en deursettingsvermoë van ‘n volk wat, vir alle praktiese doeleindes, gekonfronteer was met uitwissing.

Maar ek wil my vertelling met ‘n ander verhaaltjie begin, komende uit dieselfde tydperk, ook in Rusland.

Gedurende die beleg van Stalingrad (deesdae Volgograd) vanaf 13 Julie 1942 tot 2 Februarie 1943, was daar op ‘n stadium Duitse troepe in die oorblyfsels van die geboue aan die een kant van ‘n straat ingegrawe met Russiese troepe in die oorblyfsels van geboue aan die teenoorgestelde kant van dieselfde straat. Van tyd tot tyd sou hulle mekaar met geweervuur of mortiere bestook sonder enige noemenswaardige verandering in die situasie. Aan die Russiese kant van die straat was ‘n mangat wat toegang verleen het tot ‘n afvoerpyp onder die straat. Op ‘n betonplatform onder in die afvoerpyp het ‘n ouerige tante (baboesjka) gebly. Dit was winter met dagtemperature van laer as -30ºC. Aan Russiese kant was die kosvoorrade omtrent uitgeput omdat dit byna onmoontlik was om kos tussen die Duitse stellings deur te smokkel na die beleërde inwoners van die stad. Perde wat tydens die aanval doodgeskiet is, was reeds lankal opgeëet. Selfs rondloperhonde, katte en rotte is gevang en geëet. Die moraal van die soldate sou op ‘n laagtepunt gewees het, as dit nie vir die ou tante was nie.

Elke aand, as dit stil en donker was, het sy by die mangat uitgeklim, tussen die rommel deur die gebou aan Russiese kant binnegegaan en skoon, droë sokkies vir die soldate geneem. Daarna het sy hulle stukkende klere gevat om te gaan regmaak en al die klam en vuil sokkies gekollekteer om te gaan was.

Op ‘n dag het sy êrens ‘n koolkop en aartappels in die hande gekry waarvan sy sop op ‘n klein parafienstofie in haar woonplek onder die straat gekook het. Daardie aand, toe dit stil was, het sy soos gewoonlik by die mangat uitgeklim, heel klere en droë sokkies in die een hand en ‘n emmer vol kokende-warm sop in die ander. Skielik bars daar ‘n paar sarsies geweervuur van Duitse kant af los, maar die ou tante stap doelgerig voort, asof sy nie ‘n druppel sop wil mors nie. Sy klim oor die rommel en op met die trappe tot by die afdeling Russiese soldate waar sy inmekaargesak het in ‘n plas bloed. Sy’t nooit haar bewussyn herwin nie.

Die tweede verhaaltjie is dié van Zoya Kosmodemyanskaya. Sy was gebore in die jaar 1923, die tweede-oudste kind van dood-gemiddelde ouers (haar ma was ‘n onderwyseres en haar pa ‘n bibliotekaris). Zoya se gunstelingvak op skool was letterkunde en haar opstelle het (volgens haar onderwyser/s) van ‘n goeie verbeelding getuig. Sy was mal oor lees - baie meer as wat die leerplan voorgeskryf het. Onder die lys van skrywers wie se boeke sy gelees het, was Leo Tolstoy, Pushkin, Karamzin, Byron, Moliére, Cervantes, Charles Dickens, Goethe en Shakespeare. Zoya het ‘n notaboek gehad waarin sy haar gedagtes neergepen het na aanleiding van die boeke wat sy gelees het. Onder andere skryf sy: “In Shakespeare se tragedies gaan die dood van die held altyd hand aan hand met ‘n triomf vir die een of ander verhewe morele saak.”

Sy was lief vir Beethoven se opera, Egmont en het graag Klärchen se lied “Die Trommel gerühret” daaruit geneurie of gesing. Haar gunsteling musiekstuk was Tchaikovsky se 5e simfonie.

Haar hoë ideale het partykeer misverstande tussen haar en haar skoolmaats veroorsaak. Op die vooraand van 1939 het haar skoolmaats nuwejaarswense uitgeruil. Een meisie skryf: “Zoya, moenie ander so streng beoordeel nie. Meeste mense is van nature egoisties, vleiers, onopreg en jy kan nie altyd op hulle staatmaak nie. Moet jou tog nie altyd aan hulle woorde steur nie.” Nadat Zoya die boodskappie gelees het skryf sy terug: “As ons soos daardie oor ons medemens moet dink, is die lewe nie baie positief nie”.

In 1938 sluit sy by die Komsomol (die Kommunistiese Party se jeugliga) aan. In 1941 breek die oorlog uit.

Op 17 November 1941, met die Duitse troepe slegs 60 kilometer van Moskou af, reik Joseph Stalin (die Russiese leier) ‘n dringende geheime bevel uit. Hierdie bevel voorsien vir die stigting van groepe partisane (bestaande uit jongmense) om ondermynende operasies uit te voer in die Russiese dorpies wat op daardie stadium onder Duitse beheer was. Slegs betroubare, fisies fiks en gesonde jongmense was toegelaat om aan te sluit. Zoya, op daardie stadium ‘n hoërskoolstudent in Moskou en nog nie eers agtien jaar oud nie, sluit feitlik onmiddelik by een van die eenhede aan. Haar ma is sterk gekant teen haar besluit, waarop sy antwoord: “Wat kan ek anders doen met die vyand so naby aan ons? As hulle hier moet oorneem sal ek mos nie kan aanhou leef nie.”

Sy word toegesê aan Eenheid 9903 en elkeen ontvang ‘n pistool, drie bottels bensien en vyf dae se rantsoen. Uit die meer as ‘n duisend jongmense wat in 1941 aangesluit het, het minder as die helfte die oorlog oorleef.

Zoya en haar groep glip een aand ongesiens oor die Duitse front, naby ‘n dorpie met die naam van Obukhovo. Die dagtemperature is selde hoër as -25º celcius en dit sneeu feitlik onafgebroke. Hulle eerste taak is om landmyne op die paaie te plant en om kommunikasielyne te knip. Omdat die Duitsers egter hulle observasieposte vermeerder en meer patrollies in die veld gehad het, is daar na vier dae slegs agt van die oorspronklike 20 lede van die groepie oor. Die ander was óf doodgeskiet of het van die koue omgekom.

Op 27 November ontvang Zoya en drie van haar makkers die opdrag om die dorpie Petrischevo, waar ‘n Duitse kavallerie-regiment gestasioneer was, aan die brand te gaan steek. Hulle verdeel en sy kry dit reg om die perdestalle en ook drie huise aan die brand te steek. Sy bring die res van daardie aand en die volgende dag in die digte bosse deur en keer die volgende aand terug om haar taak af te handel. Na die vorige nag se gebeure, is die inwoners egter aangesê om op die uitkyk te wees vir die saboteurs. Sy was net besig om die dorpie binne te sluip toe een van die inwoners haar gewaar en die owerhede laat weet. Baie gou het hulle haar vasgekeer, gevange geneem en na die huis toe gebring waar die offisier in bevel gewoon het.

Dit wat daarna gevolg het, was, om die minste daarvan te sê, barbaars. Een van die ou inwoners het onthou hoe hulle die jong meisie se jas van haar afgeruk het en haar daarna geklap, met hulle leergordels geslaan en verneder het. Hulle het haar allerhande vrae gevra en geslaan of met sigarette gebrand as sy nie die antwoorde gegee het wat hulle wou hê nie. Dit was so erg dat die eienaar van die huis hulle later gesmeek het om, ter wille van die kinders in die huis, daarmee op te hou. Van die jonger offisiere het selfs uit die huis uit gestap. Sy’t slegs een keer vir hulle gesê om maar op te hou met die geslanery want sy’t niks gehad om hulle te vertel nie, en al het sy gehad, sou sy hulle in elkgeval niks vertel het nie. Sy’t op geen stadium om genade gesmeek nie en elkeen van haar ondervraers deurentyd reguit in die oë gekyk. Hier teen twee-uur daardie oggend het een van die SS-offisiere haar aan die arm gegryp en buitentoe gesleep. Met net ‘n dun bloesie saam met haar langbroek aan die lyf het hy met haar buite rongestap totdat hy self later te koud gekry het en teruggegaan het huis toe. Die hele tyd het sy nie een keer gekla nie.

Die volgende oggend het hulle ‘n plakaat om haar nek gehang met die woorde “BRANDSTIGTER” in Russies en Duits daarop geskryf (hiervan is ‘n foto geneem wat ek deel gemaak het van hierdie artikel). Hulle het ‘n galg van hout opgerig en die hele dorp verplig om haar teregstelling by te woon.

Met die tou om haar nek en haar voete op ‘n petroldrom het sy met die inwoners wat rondom gestaan het gepraat. “Kamerade, waarom so bedruk? Ek is nie bang om vir my land te sterf nie. Hulle kan my miskien nou hang, maar hulle kan nie die hele Russiese volk hang nie.” Daardie tyd skop hulle die petroldrom onder haar voete uit.

Party bronne sê dat hulle haar liggaam daar gelos het om te hang vir ‘n week, ander sê weer vir ‘n maand. Maar, hoe dit ookal sy, terwyl sy daar gehang het, het verbygaande Duitse soldate die lyk met bajonette gesteek en verder geskend. Die laaste foto wat van Zoya Kosmodemyanskaya geneem was, wys haar lyk in die sneeu nadat dit van die galg afgesny is. Die oë, in ‘n amper seunsgesiggie met deurmekaar hare, is toe. Daar is duidelike kneusplekke aan haar gesig. Verder is haar lyf half-ontbloot met bajonetwonde in die bolyf. Die tou was steeds om haar nek.

Die nuus van Zoya se teregstelling was een van die grootste bydraende faktore in die versterking van die moraal van ‘n volk wat op die rand van die graf omgedraai het. Ten spyte van die feit dat daar gemiddeld 19,000 Russe daagliks (van 1941 tot 1945) gesneuwel het, slaag hulle nogtans daarin om die magtige Duitse oorlogmasjien tot stilstand te dwing en uiteindelik vernietigend te verslaan.

 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Zoya
Dankie. Dit was die foto wat my die artikel laat skryf het. En, al het die Russe agterna 'n bergpiek en 'n planeet na haar vernoem asook oral standbeelde van haar laat oprig, was dit steeds die moeite werd om die storie te vertel.
8 jaar 2 weke 8 ure oud


Aangrypend!
Dankie vir hierdie stukkie geskiedenis. Boeiend oorvertel.
8 jaar 2 weke 1 dag 10 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

The Road to Eden

deur Rachelle du Bois

Once rich and still beautiful, Eve Vermont’s life was in tatters. She found a job as house manager with the wealthy and powerful Blythe family. She soon realised that the compelling Adam Blythe was determined to uncover the painful secret of her past. She was forced to accept that he wasn’t going to stop until he knew what brought her to Oak Manor but was she prepared to open up and allow him to know her as he intended? Or would she keep hiding from Adam and the world? Adam Blythe found a stylish, beautiful and mysterious woman in his home. As house manager. She was totally unsuitable for the job, and he felt compelled to find out more about her. And as he uncovered the layers of this incredible woman, his love for her grew and he knew he had to keep her at Oak Manor at all costs. But would she stay?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar