Op Woes.co.za onder Artikels

Die Koerant van Duisend Dinge 3 (Oupa se Hande)

My Oupa se Hande

In my geestes oog sien ek hoe ek oupa se hand vashou. Hy is weer siek in die bed. Die kanker wil maar net nie los nie.

Oupa se hande was maar altyd skurf en grof. Nie eers "hands, knees, heals and elbows" wou die ding doen nie, daarvoor het hy te hard en te veel met sy hande gewerk. Wanneer ek so langs die bed op die bedkassie gesit het, het ek altyd sy linkerhand vasgehou en al die eelte en skrape en duike en krake na gevolg. Ek het altyd gewonder waar elkeen van die eelte en skrape vandaan kom. Ek weet ek het baie keer gevra, veral oor die een eelt wat soos 'n knoppie op sy hand gestaan het. Ongelukkig kan ek nie eers daardie storie onthou nie.

Wat ek wel onthou is hoe oupa se hande altyd na een of ander ervaring gelei het. Eenkeer, ek was nog klein, heelwaarskynlik net in graad een of twee, het ons by oupa se werk gaan kuier. Oupa het by Chapelet (die Chappies fabriek) gewerk. Op daardie stadium het die fabriek ook lekkers soos Sugus en sjokolade gemaak. In daardie einste fabriek het my groot liefde vir sjokolade begin, want my oupa het sy vinger in die gesmelte, aangemaakte sjokolade gedruk en my toegelaat om sy vinger af te lek. Heerlik! Geen mens sal verstaan hoe sjokolade so vars kan wees en proe nie.

'n Ander keer het oupa tuis gekom van die einste fabriek en vertel hoe hy en sy kollegas besig is met die ontwikkeling van 'n nuwe geur Sugus. Eers het ek nie verstaan wat die belangrikheid daarvan was nie, maar later het ek besef dat my oupa se hande en een derde van die Sugus resep in sy kop verantwoordelik was vir die lekkerste vrugte-toffies in die wêreld. Sien, daar was een resep vir Sugus. Drie mense het elk een gedeelte van die resep geken. Niemand het die volle resep geken nie. Dit was 'n geheim.

Oupa se hande het ons ook geleer van liefde en teer wees (en soms van kwaad wees, veral as ons stout was). Oupa het met sy rowwe hande altyd ouma se hand vasgehou. Ouma was 'n dame. Sag en liefdevol. So 't ons geleer om met eerbied en liefde die geliefde in jou lewe te eer en aan te raak.

Oupa se eelt-hande het 'n groot rol gespeel in my lewe omdat ek deur net langs hom te kan sit, sy hand vas te hou en die eelte en groewe te volg kon leer van die lewe, van die mooi en die lelik en van nuwe ervarings wat vat en voel kan bring.

© Naomi Smit

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/artikel/die-koerant-van-duisend-dinge-3-oupa-se-hande-projek-hande-2015-09-30-tot-2015-10-13
Naomi Smit

Soos ons almal het ek ook stampplekke, kneus wonde en honderde littekens. Dis wat ons ontwikkel in wie ons op hierdie oomblik is. Skryf is vir my 'n geleentheid om daardie wonde en littekens heel te maak of net bo-oor te lag anders haal dit my in.

Ek is eintlik in my hart eerste 'n kunstenaar/skilder, noem dit wat jy wil en dan 'n skrywer. Ek dink die skilder laat my anders na woorde kyk. Ek sien prentjies eerder as woorde. Dis net so wanneer ek musiek luister, maak nie saak watter tipe musiek nie. Ek sien prentjies. O en kleure, baie baie kleure!

Die gedig oor Maskers het ek geel gesien en'n groot oop groen grasperk. Sien - prentjies en kleure!

Deel van my kunstenaarsdroom is om skilderye te verf wat met mense praat soos wat dit met my praat en te skryf om ander dit te laat belewe wat ek beleef. Andersins, skilder en skryf ek vir my heel wees, my gesond wees en my voorliefde vir dit wat mooi is.

Hoe word daar gesê? "Mooi was nog nooit lelik nie!"



Totale stukke publiseer: 46
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 110