Op Woes.co.za onder Artikels

Ek het net gewonder waar gaan matrikulante werk kry

Ek het net gewonder waar gaan al die nuwe matrikulante werk kry met die huidige werkloosheid en resessie wat tans in die land heers? Baie sal seker weer uitwyk na oorsee vir werk? Dan kan ons net met hulle op Face book gesels. Kan ons dan nie hulle kundigheid hier behou nie? Gaan ons een van die dae ‘n land van ou mense word? Die kinders werk almal oorsee. In die ou dae het die seuns darem nog verpligte militêre diens gedoen. Dit het hulle koppe so ‘n bietjie kans gegee om te dink wat hulle graag wil word en eendag wil doen. Al was dit vir party net ‘n sit en niks doen op Universiteit om hul pa se geld te help spandeer. Nou lyk dit asof dit net dokters en verpleegsters is wat verplig word om een jaar vir die staat te werk. Daar is tekorte aan personeel by Onderwys, Polisie, Munisipale wese (Rekenmeesters, Inligting tegnologie, Regs kennis, Ingenieurswese, Elektrisiëns, Kliniek personeel, Bibliotekarisse ens), Regstelsels soos howe, Hospitale, Binnelandse sake (ID dokumentasie), sommer net ‘n paar van die instellings wat ek sonder moeite vinnig aan kon dink. Net gewonder dat as ‘n persoon bv. in die regte wil studeer, waarom kan hy nie ‘n jaar diens doen in sy plaaslike landdros kantoor waar hy ten minste iets kan leer en terselfdertyd sakgeld verdien totdat hy Universiteit toe gaan om te studeer. Die sekuriteits bedryf is tog ‘n groot werk verskaffer en persone wat in die rigting belangstel kan dan ‘n jaar polisie diens by sy plaaslike polisiestasie doen.

Waarom word daar teen verpleeg personeel en dokters gediskrimineer dat net hulle een jaar vir die staat moet werk?

Net gewonder. Kan die staat dan nie dat alle matrikulante een jaar verpligte diens doen by een of ander instelling wat beroep gedrewe iets en tot sy verdere opleiding kan bydra nie. Ons land het dan ‘n kranige tekort aan kundige mense soos Elektrisiëns, Landmeters, Ingenieurs, Onderwysers, ag te veel om op te noem. Kinders wat in die onderwys wil gaan kan dan eers ‘n jaar diens doen by ‘n plaaslike skool en vanuit sy huis werk. Hulle kan tog sekerlik onder toesig van ‘n opgeleide onderwyser sekere takies verrig vir die onderwyser om die oorvol klasse van die onderwysers meer draaglik te maak vir die onderwys en terselfdertyd iets verdien en solank beroep gerigte opleiding in die proses ontvang. Of het ons net dokters en verpleegsters nodig in die land wat as hulle klaar opgelei is ‘n groot gedeelte in elk geval die land verlaat vir beter weivelde oorsee. Wat nog van al die ander beroepe wat ek nie eens opgenoem het nie?. As al die matrikulante deur die bank so gehelp kan word dan is daar mos ook nie ‘n probleem met die ou regstellende aksie storie nie.

Ek het maar net gewonder. As hulle by een of ander staats instelling ‘n jaar diens kan doen kan hulle dalk iets leer, al is dit net om te toi - toi, want dit lyk my daar is nie ‘n staats instelling wat nog nie vanjaar ge Toi – toi het nie. Miskien tel ek net verkeerd of onthou sleg. Miskien sal die groot mense minder toi – toi as die jonger geslag by is, hulle moet mos dan ten minste ‘n ordentlike voorbeeld stel, dan nie.

Miskien wonder ek te veel, ook nie ‘n goeie ding nie.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/artikel/ek-het-net-gewonder-waar-gaan-matrikulante-werk-kry
schatz

Ek is 'n 1948 model, getroud (jonk van gees) wat hoofsaaklik vir plesier, my vrou , kinders en vriende skryf.  Ek was in Paarl  ( HJS - Galpil) op skool en daarna vir 2 jaar Hermanus Hoërskool. Ek het op 50 jarige ouderdom, om gesondheidsredes, besluit om 'n beroep in die munisipale wese te verruil vir 'n landbou gedrewe beroep en bedryf 'n vrugte droog maatskappy in die Klein Karoo.  Op 60 jarige ouderdom is ek na vele  verkeerde diagnoses positief gediagnoseer as een van omtrent 156 mense in die land met MG (myasthenia Gravis)  Dit het my beweging aansienlik ingekort en ek het begin skryf en skilder as tydverdryf.  Ek kon nie meer voortgaan met die vrugte droog nie en ons bestuur tans 'n fabriek wat vrugtelekkers vervaardig. Ek skryf hoofsaaklik oor persoonlike lewenservarings en ondervindings.  Baie van die skryfwerkies het 'n Christelike boodskap en verskeie mense het reeds versoek om dit te lees.  Ek skryf hoofsaaklik  in gewone "plat"  praat Afrikaans maar het ook 'n paar Engelse stukkies geskryf.  My styl is ondervang in "Digresep".
Ek verwelkom eerlike kommentaar en  kopiereg  voorbehou.
Wat is schatz  ?  Kom ek stel dit so "It takes two to tango" en schatz beteken liefling of skattebol in Duits.  Ek is schatz vir my vrou en my vrou is schats vir my ! Sy is duitsmagtig.  Ek skryf en lewer kommentaar. Sy doen die "e-posse" en checking.  Ek is afrikaans en sy is engels, maar ons huistaal is Afrikaans.  Dus is dit boertjie en rooinek wat hier saamwerk.  Goeie genugtig nê ! Kan jy dit glo ?  Ons kom nogal goed oor die weg.  Waarom skryf ek ? En waarom soek ek kommentaar ?  Kom ek verduidelik dit so : 
Skryf is soos my koffie en tee.
Die suiker en melk is wat julle gee.
Koffie en tee sonder suiker is bitter.
Melk maak die tee skoner en witter.
Die lewe is klaar swart en bitter.
Kommentaar maak harte skoner en witter.
Suiker neem weg lewens bitter.
Lekker man, dis lekker, ek dink.
Om soet, wit koffie en tee te drink.
So hou aan met skink
Dit hou die lewe lekker blink.
Aitsa ! - Hoe klink dit ?
 



Totale stukke publiseer: 213
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 638