Op Woes.co.za onder Artikels

Geheue soos 'n olifant

As jou geheue op 80 so goed is soos op 30 is dit 'n groot seën. Ek het by Karel Kerling van De Aar gaan inloer ...



Sommige mense is in staat om sonder inspanning datums van amper ‘n leeftyd gelede te onthou. Karel Kerling van De Aar is so ‘n mens. Vra jy hom uit oor sy lewe ryg hy die een belangrike datum na die ander uit sonder om twee keer daaroor te dink.

Karel Jacobus Kerling is op 2 Maart 1931 in die Potchefstroom-distrik gebore en het aan Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer. Hy het sy vakleerlingskap in Kimberley by die apteek van JW Robinson & Son gedoen waar die huidige Piet Muller apteek vandag is. Hy lag lekker as hy vertel van sy gebalansseerdheid in terme van kinders en kleinkinders. “Twee seuns en twee dogters en twee kleinseuns en twee kleindogters. Een van my kleindogters in Stellenbosch het onlangs aan die wêreldkoorkompetisie deelgeneem en hulle het drie goue medaljes behaal,” gesels ‘n trotse oupa.

Hy het in Julie 1953 as apteker geregistreer nadat hy sy kwalifikasie aan die Universiteit van Potchefstroom behaal het. Daarna het sy lewe ‘n draai gemaak in Carltonville, Pretoria en Middelburg (Kaap). “Op 2 Maart 1957 is ek met Marie Hattingh getroud. Ek is bly dit was op my verjaarsdag, dan sou ek nooit ons troudatum kon vergeet nie,” skerts hy tong-in-die-kies. “Op 29 Julie 1957 het ek een van die drie apteke wat destyds op De Aar was gekoop. Hierdie apteek is in 1904 opgerig. Ek was amptelik by die apteek betrokke tot 28 Februarie 1993.”

Na sy sogenaamde aftrede het hy by die Departement van Gesondheid die pos van eerste streekapteker in die Noord-Kaap (Bo-Karoo streek) gekry. “Dit het behels dat ek al die medisynebestellings gedoen het vir hospitale, distriksapteke en –hospitale, munisipale - en afdelingsraadklinieke. Ek het ook die medisyneregisters by die ouetehuise nagegaan, inspeksies gedoen en begrotings uitgewerk.” Na sy beroep van 10 jaar as streekapteker het hy weer deeltyds by die apteek ingeval vir nog vyf jaar.

Die lekkerste van sy werk was om nuwe mense te ontmoet en te voel hy kon ‘n positiewe bydrae tot die samelewing lewer. “Ek was vir 17 jaar raadslid waarvan ek vir een jaar burgermeester en 7 jaar onder-burgermeester was. Ek was ook vir 16 jaar lid van die polisiereserviste en van die Afrikaanse Sakekamer.”

“My vrou het my baie in die apteek gehelp.” Karel vertel grappenderwys dat hy, as jong apteker, saam met vroulief in die winter onder die komberse in die dubbelbed gesit en so gewerk het aan die maand se rekeninge wat nog per hand gedoen was. “Ek het steeds enkele kliënte wat reeds in 1957 kliënte van die apteek was toe ek dit gekoop het. Maar hulle word elke jaar minder.”

As voorskoolkind het die groot woordeboek onder in sy pa se boekrak hom geweldig fasineer. “Ek het gedurig die woordeboek uitgehaal en die klein prentjies in die boek bekyk.” Dit is waarskynlik waar Karel sy grondslag vir sy goeie geheue vasgelê het. Hy het intussen die reuse boek laat restoureer en dit pryk op sy koffietafel.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/artikel/geheue-soos-n-olifant
Karin Muller

Talent is uitgedeel - nie in teelepels afgemeet nie, maar skopgrawe vol. Elkeen van ons koester iets kosbaar en uniek in ons diepste binneste. Soms is dit so diep weggebêre dat ons iemand anders nodig het om diep in te delf en dit help te voorskyn bring. Die twee wêrelde waarin ek my bevind balanseer ek tussen woorde en syfers. Dit is nie net 'n enorme uitdaging nie, maar ook 'n reuse voorreg.



Totale stukke publiseer: 108
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 305