Op Woes.co.za onder Artikels

Huwelik

Die hedendaagse huwelikseremonie is een van die Heidense rituele wat steeds voortleef, ten spyte van kerstening. J Jochens, skryf in “Woman in Old Norse Society” dat die Heidense huweliksritueel in die middel van die 13de eeu in Ysland nog onveranderd Heidens was en dit selfs nadat die eiland al vir 250 jaar ‘n Christelike land was. Eers hierna is begin om ‘n Christelike erediens te koppel aan die huweliksritueel. Die Christendom kon die huweliksritueel egter nooit werklik kersten nie. In die hedendaagse ‘Christelike huweliksritueel’ word slegs ’n stukkie Christelike erediens ingelas in die andersins volkome Heidense huwelikseremonie. Die ou Heidense gelofte-aflegging word behou, maar omgebuig na ’n Christelik gelofte-aflegging. Ook word tydens die ‘Christelike huwelikseremonie’ swaar klem gelê op die ‘feit’ dat die huwelik ’n ‘instelling van God’ is.
Janssen skryf dat die huwelikseremonie (ook die bruilofsdans) lank deur die kerk beskou as ‘n nie-kerklike fees waarby so weinig moontlik deur die kerk ingemeng is. Alle onderdele van die huwelikseremonie stam uit ‘n verre voor-christelike verlede. Die woord bruilof (bruid-loop) dui daarop dat die bruid verwerf is deur ‘n wedstryd. Vroeër moes ‘n aanstaande bruidegom hom op talle maniere eers ‘bewys’ deur ‘n aantal wedstryde en proewe te slaag voordat hy die bruid kon op eis. Die woord bruidloop hou egter ook verband met bruidroof. ‘n Jongman moes die bruid van haar ouers roof. Hy en sy vlug en hulle word agternagesit deur die vader en haar broers. Word hulle gevang, gaan die bruilof nie deur nie. Dit hou dan in dat die kandidaat bruidegom afgekeur word. Word die ‘loop’ goedgekeur, sit die vader en broers van die bruid die agtervolging nie in nie. By talle huwelikseremonies is dit nog gebruiklik dat die bruid laat opdaag. Vandag word die gaste hiermee geterg, maar vroeër was dit ‘n reële gevaar dat die bruid deur ‘n ander jongman geroof is. Bruidroof was egter ook onder die Jode bekend. Sien Rigters 21: 21-23.
21. En let op, en kyk, as die dogters van Silo uittrek om hulle koordanse uit te voer, dan moet julle uit die wingerde uitkom, en julle moet vir julle, elkeen sy vrou, uit die dogters van Silo vang en na die land Benjamin gaan.
22. En as hulle vaders of hulle broers kom om by ons ’n saak te maak, sal ons vir hulle sê: Skenk hulle aan óns, want ons het nie vir elkeen ’n vrou in die oorlog geneem nie. Julle self het hulle mos nie aan hulle gegee nie; in dié geval alleen sou julle skuldig gewees het.
23. Die kinders van Benjamin het toe so gedoen: hulle het vroue volgens hulle getal weggedra uit die danseresse wat hulle geroof het; en hulle het weggegaan en teruggekeer na hul erfdeel toe, en hulle het die stede opgebou en daarin gewoon.
Baie bruide dra vandag nog steeds ‘n kousband. Die bruid dra hierdie kousband hoog op aan haar bobeen; in die buurt van haar geheimsinnige maagdelike Heiligdom. Voorheen was in die kousband amulette bewaar; dus geheime kruie of selfs ‘n towerteks. Dit moes haar vrugbaarheid verseker of aanhelp, maar ook die van haar bruidegom. Ander jongmans het daarvan gedroom om hierdie kousband te bekom. Die kousband is vroeër nie alleen op die huweliksdag gedra nie, maar elke dag. Meisies wat gehoop het om binne ‘n jaar ‘n man te kon vind, het hulle kousbande onder andere in ‘n boom by kasteel Gaasbeek opgehang.
In die hele huwelikseremonie staan die bruid sentraal in die feesvieringe en dit stam uit die tyd van die Godinverering. Die moderne fotograaf neem immers slegs enkele foto’s van die bruidegom, maar tientalle van die bruid. Selfs die woord ‘bruid’ dui daarop dat die vrou sentraal staan in die huwelikseremonie. Die woord bruidegom (afgelei van bruid) staan in die tweede rang. Tot enkele eeue gelede sou die benoeming van die egpaar andersom plaas gevind het. Die man sou dan eers benoem gewees het en die benoeming van die vrou sou dan afgelei gewees het van die naam van die man. ‘n Verdere aanduiding van die belang van die bruid is dat die woord ‘bruid’ vernoem is na die Keltiese Godin Brigit. Die man sou ook vernoem kon gewees het na ‘n manlike Godheid, wat die egpaar op ‘n gelyke vlak sou gebring het, maar dit het nie gebeur nie.
Voorts word die bruid oorlaai met blomme. Blomme [Flora was die Romeinse Godin van die blomme] staan nie alleen simbool vir vroulikheid, lente en vrugbaarheid nie, maar word die vrou self (ook die vroulike geslagsdeel) ook as ‘n vrugbare blom beskou. Dikwels dra sy ‘n lelie of lelies in die hand, want lelies staan simbool vir maagdelikheid en reinheid. Die verbintenis tussen die vrou en die blom stam uit die tyd van die Godinverering.
Die bruid word ook altyd in ‘n kar na die huwelikseremonie vervoer. Sy loop nooit! Al is haar woning enkele meters van die terrein waar die huwelik voltrek word. Dit is in ooreenstemming met die ou Godinne wat op karre vervoer was. Soms is die bruidskar ook nog gevolg deur ‘n bruidskoei. Die huwelikskar was aanvanklik met blomme, groen takke en haarlokke versier, om vrugbaarheid te simboliseer, maar in modern tye met ballonne en linte. Ook is die huis van die bruidspaar versier met blomme en groen takke. Reeds vanaf die verlowing van die meisie word haar woonplek met groen takke en blomme versier. Die ou Germane het ook ‘n huwelikswaard geken. In die huwelik stoet loop ‘n man voor in die stoet met die kaal swaard, sonder skede. Hy hou die swaard voor hom uit. Soms het drie mans voor die bruid geloop met regopstaande swaarde en soms meer mans. Daar het selfs rusie ontstaan oor wie ‘n swaard mag dra in die huwelik stoet, want in 1327 bepaal die gereg in Appingedam dat slegs een persoon, die naaste bloedverwant van die bruid, die huwelikstoet mag lei met ‘n kaal getrokke swaard. Die huwelikswaard moes na die voltrekking van die huwelik, ook sonder skede in die huweliksbed neergelê word. Hierdie huwelikswaard het simbool gestaan vir die manlike geslagsdeel. By die Romeine was dit gebruiklik dat ‘n lans gedra word deur die stoetleier en dat die bruid ‘n miniatuur lansie (haarspeld) in haar haarkapsel dra.
Ook die rok van die bruid stam uit die tyd van die Godinne verering. Die bruid dra nie alleen ‘n wit rok nie, wat simbool staan vir reinheid en suiwerheid, maar ook dra sy ‘n ‘n wye rok. Hierdeur word sy immers simbool van die rots/berg of heuwel. Die ou Godinne het in berge en heuwels gewoon. In hierdie trourok ‘woon’ die bruid steeds in die rots/berg.
Op elke troue moes ook wyn vloei, ook was daar ander drank aanwesig. Van ouds is wyn beskou as ‘n geskenk van die vrou, daarom is ook die woorde Venus verwant aan Wyn. Slingerplante soos die druiweplant is as vroulike plante beskou. Met die opkoms van manlike Gode word Wyn as manlik beskou en kom daar selfs manlike Wyngode (Bacchus en Dionysus).
Ook speel skoene ‘n rol in die huwelikseremonie. Die bruidegom moet ‘n slukkie wyn neem uit die skoen van sy bruid, want die bruid is die skenker van wyn. In Duitsland was dit ook gebruiklik dat die bruidegom ‘n skoen aan die bruid gee, wat sy dan aantrek. Hierdeur staan sy in die skoene van die bruidegom en geniet sy volgens die ou Duitse reg dieselfde mag as hy. In Duitsland was dit tot onlangs toe nog gebruiklik dat ‘n jongman ‘n skoen waarmee hy op die kermis gedans het aan ‘n meisie stuur wat hy in die oog het in die hoop dat sy dit sou aantrek. In ‘n moderne huwelikseremonie word die ou skoene nog aan die voertuig van die egpaar vasgebind as ‘n herinnering aan ‘n ouer ritueel.
Budding 1869 wys daarop dat Water en Vuur ‘n baie belangrike rol gespeel het tydens die viering van ou bruilofsfeeste. Op verskillende plekke in die feessaal is water sowel as vuur aangebring. Ook sou die bruidspaar vuur in die een hand en water in die ander hand dra.
Ook die ringe, waarop voorheen ‘n eed gesweer is dat die egpaar mekaar trou sou bly, maak deel uit van die huwelikseremonie. Soms is ook nog ’n tou liggies om die hande van die bruid en bruidegom gebind om aan te dui dat die twee mense nou aanmekaar gebonde was. Soms is ’n heilige doek oor die hande van die bruid en bruidegom gevou terwyl hulle hande vashou. Soms is die huwelikseed by die geloftesteen afgelê, maar soms by die geloftering. Beide die bruid en die bruidegom hou dan aan die ring vas, terwyl hulle die gelofte van ewige trou aan mekaar aflê.
Na die voltrekking van die huwelik is die egpaar met graankorrels (koring, gars, hawer) en neute bestrooi wat moes dui op die oordrag van vrugbaarheid; in moderne tye vervang met confetti. Ook was slierte, haarlokke en linte na die bruidspaar gestrooi, wat ‘n voorstelling was van manlike saad. Ook was dit gebruiklik om die bruid en bruidegom liggies te slaan met takkies van heilige bome om vrugbaarheid op te wek. Dit is in Friesland brudegamslahn genoem, maar daar is net die bruidegom geslaan.
By die huwelikseremonie hoort ook ‘n troukoek, as restant van ‘n ou offerkoek. Hierdie koek is ryk aan graan en vrugte en het simbool gestaan vir die vrugbaarheid in die huwelik. Die genooide gaste neem ook deel aan ‘n uitgebreide feesmaal wat van ouds ‘n offerplegtigheid was. Die bruid sou ‘n stukkie van die troukoek bewaar tot die geboorte van die eerste kind; of soms vir jare omdat dit geluk sou bring. Ook die gaste het stukkies van die troukoek na huis geneem en dit daar bewaar tot ‘n volgende belangrike feesviering. By die huweliksonthaal moes ook ‘n heildronk gedrink word. In die Heidense tyd is drie heildronke gedrink. Die doel hiervan was om voorspoed en heil van die God(in) af te smeek.
In die outyd het die bruidspaar ook voor die voltrekking van die huwelik die grafte van die voorouers besoek. Soms is dit egter net deur die bruid gedoen. Hierdie ritueel was gebruiklik selfs nog tot in die moderne tyd. Moontlik word die bruid tydens haar grafbesoek, vereenselwig met die Moedergodin wat met vrugbaarheid, geboorte, dood en wederopstanding in verband gebring word.
In die outyd is tydens die huwelikseremonie nie alleen gedans nie, maar ook flink gesing. Die egpaar self begin met ‘n eredans. Terwyl die ander gaste ook inval, word daar gesing. Minne-, bruilofs-, drink- en ander ou volksliedere word gesing om die huweliksritueel op te vrolik. Die meeste huwelike in die ou Germaanse tyd was gesluit in die lente en veral in April en Mei.
Dit was dan ook verder gebruiklik dat die bruid oor die drumpel van haar nuwe huis gedra word, deur haar bruidegom. Sy word immers heerseres van ’n nuwe domein en die magiese grens mag sy nie self oorsteek nie. Met hierdie ritueel is voorkom dat sy huisgeeste van haar ouerhuis met haar saambring. Gebruiklik was ook dat die bruid ’n bietjie sout by haar dra tydens die hele huwelikseremonie. Soms het haar moeder of syself sout in haar linkerskoen gegooi voor die aanvang van die huwelikseremonie.
As onderdeel van die huwelikseremonie moes die bruidspaar mekaar ook kus as aanduiding daarvan dat die huwelik voltrek was. Ook is die geslagsdaad beskou as aanduiding van die voltrekking van die huwelik. By die afwesigheid van die kus en/of die geslagsdaad is die huwelik as ongeldig beskou. Is die bruidegom op sy eerste huweliksnag impotent, was sodanige huwelik ongeldig verklaar. As die eerste huweliksnag suksesvol verloop het, ontvang die bruid van haar bruidegom ’n groot geskenk wat bekend gestaan het as die oggendgeskenk, morgengift, morgengifu in Oudengels en morginnjöf in Oudnoors.

Met dank aan dr. Petrus van Eeden
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/artikel/huwelik-1442983680-huwelik
Henkst



Totale stukke publiseer: 100
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 81