Op Woes.co.za onder Artikels

'n Vuurdoop Kersfees in India

Die oomblik wat jy vir die eerste keer in 'n Indiese toilet vasloop, is dit asof jou piepie sommer so vanself verdwyn en jy knypspiere ontwikkel wat jy sweer nie andersins sou voorkom nie. As die noot egter begin druk, en jy jou neus teen die ergste stank bestand maak, bevind jy die platsit-en-druk storie toe nie so onaardig nie. Ironies genoeg is die ouer garde in Indië gekant teen die gebruik van 'n westerse toilet. "Oh no. To much germs if your bum have to touch where other person bum touch. Not higienic at all. Better to squat down and góó nicely. Always góó nicély né." Ek leer vinnig, en na my eerste platsit-en-druk manewales vind ek my toiletpapier en wetwipes onontbeerlik. Kom-terug-aarde-toe les nommer een onder die belt.

Toe les nommer twee aan my deur kom klop, was dit net so lekker onverwags. Ek is dan veronderstel om gewoond te wees aan rommel en papiersakke wat straatehoeke vol lê, klein sinkplaathuisies en riviere wat as stortingsterreine dien. Na die eerste week besef ek egter ek is nie so oopkop soos ek gedink het nie. "Ek is reg vir Indië. Bring it on sister!" het ek wyd en suid verklaar aan familie en vriende. "My wêreldreise oor die kontinent heen het my al soveel geleer. Niks kan my meer skok nie. Its tought growing up in Africa honey." Ooops!!

Al is ons tawwe Suid-Afrikaners, sal Indië met sy elektriese atmosfeer, besige straatlewe en sosiale stand van sake jou nogsteeds die eerste paar dae na asem laat snak. Dit besef ek gou met my aankoms in Udaipur, die eerste bestemming waar ek aandoen op aanbeveling van my Indiese vriende.

Met 'n populasie van 451 735 mense en provinsiale Bruto Binnelandse Produk (BBP) van 323 682 Core Rupees, is Udaipur nie een van die groot stede nie, maar wel 'n toeriste bestemming soos min. Udaipur was voorheen die historiese hoofstad van die Mewar Koninkryk; gestig in 1559 deur Maharana Udai Singh II, maar is tans dié toerisme mekka in die provinsie Rajasthan. Anders as Mumbai is Udaipur nie so erg onderwerp aan westerse industrialisasie nie, en leef die meeste mense nog volgens tradisies van ouds.

Die atmosfeer is elektries. Dit voel asof jy op 'n ander planeet is sodra jy leer asemhaal na die aanvanklike kulture skok. Baie Europese toeriste verkies ge-organiseerde toere waar akkommodasie in vier- tot vyfster hotelle vir hul bespreek word, en hul van stad na stad vervoer word in moderne busse of vliegtuie. "So leer mens egter nie die ware Indië ken nie," meen baie.

Ek word in die diep kant ingegooi - my eerste aand spandeer ek in 'n Indiese hotel met 'n platvloer enkel matras, tradisionele platsit toilet en 'n emmer vir was wanneer die water tussen agt- en tienuur die oggend warm is. Toe ek so bietjie klaerig teenoor my toergids raak, herinner die my gou dat die rivier net om die draai is - blykbaar 'n gunsteling bad metode onder die 'villagers.' Net die gedagte aan die rommelbestroeiede, koue rivier laat my met dankbaarheid na die emmertjie gryp. Les nommer drie agter die rug. Om die waarheid te sê, ek besef gou ek het baie om voor dankbaar te wees. Ons voorouers het vir baie jare sonder 'n bad of stort klaargekom, en vandag nog in die platteland in Indië word daar net in die rivier gebad.

Honderde motorfietse, Scooters, verskeie tuk-tuks, motors, koeie, buffels, kinders, honde en 'n variasie ander voetgangers poog elke minuut van elke dag om gelyktydig by 'n kruising oor te gaan. Daar is nie tyd vir stop nie, nog minder bestaan hier werklik enige verkeersreëls. "Beteken die rooi verkeerslig dan iets anders in Indië?" vra ek aan my gids toe hy sonder enige seremonie oor een ry. Dit is 21h30 en ek het sopas aangeland uit Suid-Afrika. 'Dalk beteken rooi hier om te ry,' dink ek. "Oh noo no Madam. It is Stop sign!" lig die man my in met 'n ophaal van die skouer - heel duidelik nie in die minste gepla nie. "Het jul dan nie enige padreëls in Indië nie?" wil ek weet. " Oh noo no Madam, not really."
Dit is nou totdat 'n koei of buffel besluit om sy middagslapie in die middel van die hoofweg te neem, "Oh yees Madam. Cow is only thing Indian people will stop for," beaam my gids later terwyl hy elke tien sekondes die toeter blaas. Ek besef gou almal lê op hul hoeters, dit is 'n algemene praktyk aangsien baie strate hier so nou is ( sommige strate net eenrigtings) met verkeer wat van albei kante kan kom, dat die hoeter elke keer gedruk word sodra jy om 'n draai gaan. Les nommer vier - verwag altyd die onverwagste in Indiese verkeer.

Geboue wat lyk asof hul twee honderd jaar gelede gesloop moes wees, begroet jou so vêr as die oog kan sien; winkeltjies wat enigiets van kos, kruideniers, toiletware, huisware, houtrame, materiaal, klere en selfs elektriese onderdele verkoop, verskyn orals. Om elke straathoek is 'n vrugte-, groente- of koskarretjie met 'n koeie of drie daar naby wat rustig 'n uiltjie knip.

Indiese vroue in kleurvolle sari's volgens hul verskeie tradisies - Hindu's, Badi Badi en selfs Christene en Moslems - verskaf kleur in 'n andersins bruin, room-grys omgewing wanneer jy deur Udaipur ry. In die 'villages' vind jy hul in mielielande werk of aan die dra van water, voer of eetgoed.

Mans in wit toti's en oranje-rooi- of wit tulbande sit rustig langs die pad die verbygaande wêreld en bekyk. Jy sien sommiges beman stalletjies, andere gesels met bure vir ure op keer. Les nommer vyf - tyd word anders bestee in Indië. Behalwe vir die verkeer, vind dinge teen 'n rustiger tempo plaas - dis asof daar nie haas is nie, veral in die platteland. Families maak 'n punt daarvan om by mekaar te kuier en gaan saam op uitstappies.

"Die lewensstandaard hier is anders as die res van die wêreld," vertel Suresh* - een van die inwoners wat al in lande soos Dubai gewerk het, maar oorspronklik van Udaipur is. "Mense van eerstewêreld lande vind die wêreldstandaard hier laag, maar vir diegene soos ons wat al beide wêrelde ervaar het, versinnebeeld Udaipur vryheid. Hier kan ek gaan waar ek wil, wanneer ek wil, teen die laagste koste ter wêreld. Ek besoek kulturele besienswaardighede wat honderde jare terug deur my voorouers gebou is. Ek kan teen tussen 10 tot 50 Rupees (R1,80 - R9,10) 'n smaaklike ete eet. Ek koop vars vrugte en groente elke week wat deur die plattelanders self verbou word, en geen perseveermiddels bevat nie. Internet, foontariewe, vervoer en vermaak is goedkoop."

(Internet kos 1000 Rupees (R182) vir 20GB teen 'n spoed van 64kbps, 6 Rupees per SMS (R1,09) en 199 of 399 Rupees vir 'n BIS maandelikse selfoonpakket (R36-R72).)

Les nommer ses - Treine stop op sekere stasies vir net twee minute, so jy klim soms in die hardloop op omdat almal gelyk by deure uitkom. Daar is nie so ding van "first come, first serve,” of 'n reguit ge-organiseerde ry nie." Jy maak seker jy wurm jou in waar jy kan anders verpas jy verseker jou trein.

Les nommer sewe - Tradisies, religie en argitektuur is van die oudste in die wêreld. Dit voel asof jy terugstap in tyd sodra jy een van die honderde besienswaardighede besoek. Tempels met hul fyn beeldhouwerk, veertiende eeuse forte met imposante torings en paleise laat jou besef hier is 'n nasie wat al deur baie groeifases moes staan. Die impak op my groei as mens is net so groot. Ek kom gou tot die besef hoe hoog Indiërs hul nalatenskap ag. Hul besoek hul eie besienswaardighede by die duisende. Ek het nog nooit soveel mense in 'n museum gewaar soos hier nie. In Suid-Afrika sal museums nie weet wat hul tref as dieselfde belangstelling soos hier getoon word nie. Les nommer agt - Indiese burgers is mal oor rondreis in hul eie land en baie trots op hul erflating.

Hindu tempels was 'n ander fassinerende aspek. Sommige tempels soos die Ranakpur tempel is 'n belewenis. Die argitektuur is fenominaal, die rustige en kalm atmosfeer iets wat ek nie aan enigiemand kan verduidelik nie. Een van die beste meditasie sessies van my lewe vind hier plaas. Les nommer nege - Hindu's is baie gelowig en besoek gereeld plekke van geloof met offerande. Orals sal jy Hindu pelgrims of toegewydes sien wat net die klere aan hul lyf en die kierie in hul hand besit. Dis asof die konsep van minder is meer hul leuse is.

Les nommer tien - dankbaarheid. Baie kere as ek die bebaarde pelgrims langs die stowwerrige grondpad sien loop met net 'n wit toti om hul heupe, het dit my laat dink aan Jesus en hoe hy deur die Israelietiese lande gereis het om die Woord van God na die mensdom te bring. "Die Seun van God het nie 'n rusplek vir sy hoof nie," het Jesus eenkeer gesê toe hy gevra is waarom hy nie rus nie.
Indië, sy mense en pelgrims herinner jou aan die realiteit van die lewe en dit wat belangrik is. 'n Mens leer ken 'n nederigheid en dankbaarheid hier wat jou persepsie van jouself, jou menswees en die wêreld verander.



So kyk ek ook na 'n maand met nuwe oë na Udaipur. Ek vergelyk nie meer die ou vervalle geboue met die van my eie tuisdorp se meer modernes nie, die papiersakke wat die wêreld vol lê besef ek is ook in Suid-Afrika teenwoordig, en die reuk van plaasdiere en mis wat alewig in die stad teenwoordig is en my aan my oupa se plaas in die Vrystaat herinner - word deel van 'n nuwe ervaring. Dit is asof jy deur die elektrisiteit en positiewe gesindheid van Udaipur se mense aangeraak word, en die oogklappe skielik van jou oë afval. So word 'n vuurduup in Indië 'n pelgrimsreis soos min, en verstaan ek nou wat Jesus bedoel het toe hy gesê het: "Die dinge van die wêreld is nie vir ewig nie. Dit gaan tot niet. Maar die dinge van die siel is vir ewig."


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/artikel/n-vuurdoop-kersfees-in-india-kersfees-
A.M.B.E. Steyn

As gister se drome in my hart wil kom rond tok-tok,
staan ek op 'n niemer-eindegende afdraande pad met my ink gedoopte pen
wat al om die rante van 'n geel-wit-stukkie papier die dinge van my hart loop kwyl. 





Totale stukke publiseer: 19
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 52