Op Woes.co.za onder Artikels

Waaragtig daar gebeur dit Brandstigting!

Iewers in die veld skeeu ‘n Kiewiet, seker opsoek na haar verlore of liewer verbrande kinders… Die aarde lê swart voor my en smeul. Vanmôre voel ek moeg, oud, my neus en oë brand en ek is baie bemoerd! Het ek nie net laas week ‘n artikel geskryf oor brandstigting nie! Waaragtig daar gebeur dit gisteraand! Byna brand die hele “Heaven’s Gate” af want, die een of ander swaap het veld aan die brand gesteek!

Die een oomblik lê ek nog rustig in my bed en die volgende oomblik breek my dogter, Corney byna die glasdeur af . Mamma, mamma, die veld agter die lapa is aan die brand! Ek en Wally spring soos een man op, gryp skoene en iets warms. Terwyl ek my japon aantrek, hardloop ek die gang af en gaan maak vir Bouts wakker. Kom help die veld is aan die brand! In ‘n oogwink is al ses van ons in die veld agter die lapa. Daar is geen water naby nie en ons kyk hoe die wind die vuur reguit, na die agterkant van skuur en die boorgat toe aanjaag. Elke keer as die wind in hierdie klowe omdraai hou almal hulle asem op want, aan die anderkant is die lapa. Die vlamme verteer ‘n doringboom in sekondes en die vonke skiet hoog in die lug in op. Verbaas en geskok staan ons almal lam en kyk na die vlamme. Die honde weet nie watter kant toe nie en is al onder ons voete. Adri draai om en sê ergerlik; “Mamma, moes jy nie jou artikel oor brandstigting in al elf tale geskryf het nie? Die mense verstaan blykbaar nie, hulle is regtig ongeletterd!” In my gedagtes sê ek saggies ‘n skiedgebedjie op; “Here bewaar ons vannag en keer asb. dat hierdie vlamme hel nie na die lapa se kant toe kom nie, anders brand die huis vannag af!” Ek hardloop en gaan haal Wally se sellfoon. In die warboel wat ontstaan val ek eers oor ‘n hond en stamp my toon, krippel gee ek die foon vir Wally. Dadelik bel hy die brandbestydings eenheid, gelukkig het hy Lanie se nommer op die sellfoon. Die buurtwag word geroep, nie dat ek hulle tot vanmôre al gesien het nie, “sou much” vir die buurtwag! Gelukkig vir ons waai die wind die vuur die meeste van die tyd weg van die lapa af maar, die vonke wat hoog in die lug opskiet maak my bang. Die brandende hel het homself met tyd vasgedraai by die komposhoop terwyl die brandbestrydings eenheid hulle bes doen om dit te blus. Later met die terug stap huistoe, sien ek hoe dit hoog in die berge aan die ander kant van die dorp ook brand en ek weet presies hoe die mense daardie kant voel, magteloos! Terug in die bed sit ek regop en trek al die wewenaars (klitsgras) uit my klere, ek ruik na rook en weet nie een van ons gaan vannag regtig slaap nie. Ek dank God dat ons almal gespaar is! Ek weet Wally het bitter min geslaap. Hierdie hele nagmerrie het hom herinner, aan sy huis wat tot op die grond afgebrand het, binne 45 minute…… Soos hy sal sê; “It opened a can of worms”….

Vroeg vanmôre loop ek om te gaan kyk na die skade, ek voel die dooie aarde onder my skoene kraak, terwyl dit nog plek plek smeul…. As die wind gedraai het was dit ‘n groot gemors. Ek kyk op en sien die rookkolom teen die berge aan die ander kant van die dorp. En weet, die berge brand nog steeds daar…. Dankie aan almal wat gehelp het om ons vuur te blus. Ek wonder wat het van die swaap geword wat die veld aan die brand gesteek het? Waarom word brandstigters nie toegesluit of hulle hande afgekap nie! Besef hulle nie, ander stel hulle lewens ingevaar om die vuur weer te blus nie? Hoeveel keer moet ek nog vra waarom doen ons mensdom dit? As jy met vuur speel gaan jy jou vingers verbrand, ek wonder net wanneer?


Shalom van ‘n “Open a can of worms”….

A3
26 Julie 2011

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/artikel/waaragtig-daar-gebeur-dit-brandstigting
A3


A3 van Wyk
17 Mei 2011

Ek besef opnuut dat geen geld gesondheid, liefde, geluk en die gevoel van geborgenheid kan koop nie! Wat 'n ongelooflike seën. Ons het dit miskien nie breed op aarde nie, maar ons skatkammers is oorlopens vol!

Skryf is terapie en dit bring onbeskryflike seën vir my!

Shalom

A3 van Wyk.











Totale stukke publiseer: 116
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 105