Op Woes.co.za onder Artikels

Wat is 'n huis sonder 'n moeder?

“ Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder” is woorde wat destyds oral in huise op mure en kassies gepryk het. Sommige was op ‘n lappie geborduur, ander in pragtige sierskrif geskryf. Dan was dit ook op hout uitgekerf en aan mense verkoop. Dit omdat iemand heelmoontlik iewers op ‘n dag die waarde van ‘n moeder besef het. Vandag is daar talle liedjies, gedigte, stories en toneelstukke rondom die rol en waarde van ‘n moeder.
Moeder. Ma. Geboortegewer. Laasgenoemde maak tog n verskil aan vrouwees, want jy kan volkome vrou wees, maar dit maak nie van jou ‘n moeder nie. Of máák dit ‘n verskil? Want wie sê die vrou wat nie ‘n kind of kraai het, het nie ‘n moederhart nie? Ek ken so ‘n vrou wat voor haar troue reeds besluit het( om gesondheidsredes) dat sy nie eendag kinders wil hê nie. Haar man het ingestem en hulle is hierdie jaar neëntien jaar getroud. Ja, daar was toe wel nie kinders van hul eie nie, maar glo my hulle het seker naastenby tien kinders ( en die meeste van hulle is vandag al hubare jongmans en –vroue.) Sy sal hulle altyd voorstel as “een van my kinners”. Tog, met Moedersdag veral is daar altyd ‘n klein tikkie weemoed. Alhoewel sy vir sommige van hulle elke jaar tot op skooluniforms gekoop het graad een tot in matriek!), en vir ander net bloot omgee, dink hulle op Moedersdag eenvoudig nie eens daaraan om vir haar ‘n blommetjie of klein geskenkie te gee of stuur nie.
‘n Ander vriendin sê sy is elke Moedersdag geirriteerd met mense wat vir elke vrou , “Happy Mothers’ day!” sê. “Ek haat Mothersday, want mense asume net jy’s ‘n ma en dit maak seer..” sê sy altyd. Sy en haar man probeer al vir die afgelope tien jaar om ‘n baba te hê. Sy wil so graag ‘n mammie wees, maar dit was tot op vandag nie vir haar beskore nie. ‘n Mens dink dan onwillekeurig aan meisies en vroue wat hul ongebore babas aborteer of hul pasgebore babas weggooi. Mens wonder hoe hulle dit regkry om die baba of fetus in ‘n drom te gooi, of in die toiletpot af te trek. Of voor iemand se deur gaan los. Ek wonder hoe so ‘n persoon op Moedersdag voel. Wat gaan deur haar gedagtes. Ek vermoed so ‘n vrou gaan deur ‘n gedurige worsetelstryd, veral asy sy nog nie by die punt gekom het om haarself te vergewe nie..
Daarteenstaande kry jy die moeder wat absoluut net ma is. Wat onvoorwaardelik liefhet en omgee. Of die kind nou soet of stout is, klein of groot is. ‘n Skrywersvriendin in Vredendal, Florence Filton het die gedig, “Gebed van ‘n Namavrou” geskryf. Daarin skryf sy van haar seun, Barend en sy vra dat die Jirre hom moet vasvat. Die laaste paar versreëls lui:
“Slaat hom soos Jy die Israeliete geslaatit.
Mitte sterk hand vol liefde
Want hy bly mos maar...
Oestwee se hanstjint.”
En ek besef net weer: ‘n ma bly ‘n ma.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/artikel/wat-is-n-huis-sonder-n-moeder
gryskop

Hi!!! Ek is Petro L M  Gordon, Ek woon in die Bolandse dorp, Paarl.
Ek skryf al van kleinsaf, en sal verseker altyd skryf. My skryfsels is dus my hart in ink. Ek droom van 'n houthuis, tussen bosse en bome met 'n waterval of rivier naby, waar ek net kan skryf. En skryf. Ek hoop jy geniet my pogings!



Totale stukke publiseer: 81
Totaal kere gelees: 61,775
Totaal kommentaar: 107