Op Woes.co.za onder Gedigte

AS



hier sit ons nou

jy kyk vir my
ek kyk vir jou

deur skerms propvol woorde
hunker ons na oorde
na plekke
waar ons eens tesame was

wat gesê is, is gesê
dit wat gedaan is
het geen keer
en hoe klein is ons verweer
wanneer harte sommer net wil bloei

(oor elke wond sal rowe groei
met tyd sal letsels ook vervaag)

vir oulaas kom ons woorde tot 'n vuur
maar die uur voorspel die lot
van elke vlam wat is
en ooit hier was
die reeds bepaalde pad wat alles loop
en met hande, half onwillig
vee ons die laaste assies op 'n hoop

hier sit ons nou

jy kyk vir my
ek kyk vir jou.



© C. Shaw
12 Februarie 2016

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/as-1455302189
Viooltjie

Vir 'n baie lang tyd het ek gevoel dat ek gedigte wil skryf, maar niks daaromtrent gedoen nie. Ek het nie gedink dat ek iets sal skryf en die moed sal hê om dit vir enige iemand anders te wys nie. Dus het ek 'n klompie jare gelede begin om soms vir my kinders rympies te skryf oor die die wilde diere in ons land...en hulle het dit darem baie geniet.

My heel eerste twee gedigte hier op Woes is ook die heel eerste gedigte wat ek geskryf het. Dit het baie moed geverg om dit te plaas, maar dit is ook een van die beste dinge wat ek ooit vir myself kon doen. Ek geniet dit regtig en hoop dat ek nog lank hiermee besig sal wees.

My naam is Carma. Ek is getroud en ons het twee dogters en 'n brakkie. Die brakkie, Cleo, is die baas in die huis. Ek is die eienares van 'n klein kwekery in Brackenfell. Ek is dol oor kleurvolle plante en geniet my besigheid terdeë. As julle wil, kan julle Country Craft Kwekery op Facebook gaan opsoek.

Ek doen my bes om 'n wye verskeidenheid gedigte te plaas en hoop dat ek daarin slaag. Ek weet dat ek nog heelwat kan leer...dus is opbouende kommentaar altyd welkom. My wens is dat elkeen wat my werk lees, iets sal vind waarvan hulle hou...so....LEKKER LEES :-)



Totale stukke publiseer: 595
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 5,713