Op Woes.co.za onder Gedigte

Bekendstelling aan WOES


Ek's hier en ek's versigtig
As'k deur die skrefie loer
My kop weer vinnig terugpluk
Weg ander kant toe, doer

Verskoon my, liewe vriende
As ek vreemd verleë hier staan
Dalk nek weer vinnig intrek
En deur weer toe laat gaan

Ek wag steeds nog hier buite
Om vinnig weer te kyk
Die skrefie word nou groter
Die deur nou skielik wyd

Terwyl my oge wonder
Of dit is wat ek sien
Vertel my hart ’n storie
En voel ek ek verdien

'n Plekkie in jul ruimte
'n Gaatjie net vir my
Vanwaar ons altyd later
’n Kuiertydjie kry
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/bekendstelling-aan-woes
Rachelle du Bois


Ek is 'n onafhanklike skrywer van romantiese fiksie en skryf heeltyds vanaf 2013. Ek het altyd geskryf, wou altyd skryf, want ek het so baie stories om te vertel.
Toe aftrede naderkom, het ek besluit dis nou of nooit en pen ek die beginwoorde van my eerste liefdesverhaal in Augustus 2013 neer. Toe die besef tuiskom dat ek regtig kan, aangedryf deur die wil om te skryf, het ek nie weer opgehou nie. Ek was rustig in die wete dat my tyd my eie is en dat ek teen my eie pas kon werk.

Ek het sopas my elfde boek voltooi en hoop om dit op die webwerwe van al die boekwinkels in Suid-Afrika te sien teen die einde van September 2015, of hopelik nog voor dan.

My onophoudelike skrywery en die gepaardgaande aktiwiteite van boeke self publiseer, bemarking en eie webwerwe skep, het my soms laat bonstpring soos ‘n kat op warm bakstene. Want ek was so haastig om alles betyds klaar te kry, om die klein boompies wat my breinkinders is,te plant en in beide Afrikaans en Engels te sien groei in die boekwinkeltuine.Ja, ek het drie Engelse liefdesromans ook geskryf en myself getoets soos nooit tevore nie.

Ek kan met groot dankbaarheid en verwondering terugkyk op die afgelope twee jaar. Ek het nooit gedink ek sal soveel gedoen kry nie, maar nou kan ek tevrede voel dat dit wat ek vermag het, vir my groot genoegdoening en vreugde verskaf. Ek het baie geleer en ek leer steeds.

Ek sal aanhou skryf, want woorde is ‘n verslawing waaraan ek my gewillig oorgee.
Die behoefte aan ‘n skrywersgemeenskap het my tot by WOES gelei. Hier kan ek my verder uitleef en saam leer en gesels met ander soos ek.

My webtuistes kan besoek word by http://rachelledubois.com of in Engels by http://rachelleduboisenglish14.com



Totale stukke publiseer: 20
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 60