Op Woes.co.za onder Gedigte

bewaker van die nag



’n Dodelike gif – eers word jou
rooibloedselle vernietig,
dan word jou vel blou en dan
versmoor jy
stadig.

Ek het hom met trane in my oë
iewers diep in die woud
gaan begrawe;
sy moordenaar vir weke lank
gesoek.
Maar daar is altyd iets anders wat
in hierdie rigting kom – nog ’n skuldlas
of sonde wat geen perke ken;
moordadigheid en wellus wat die natuur
se stem dood wurg.

Middernag is daar ’n gefluister
tussen die bome.
’n Storm van pyle klief deur die lug
nege rowers sterf ’n vinnige dood
te vinnig na my sin, maar
geregtigheid kom in vele
gedaantes.

Dit is ook op hierdie nag wat
ek diep in die donker onder ’n eikeboom
vir iemand wag – iemand wat na my toe
sou kom.
Iemand wat die pyn ken.
Iemand wat weet waarom my siel
snags in soveel stemme fluister.
Iemand wat weet waarom my hart
se lied om dowe neute saam met
gedagtes in die grond
vertrap word.




© T. Fourie


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/bewaker-van-die-nag
Tertius Fourie

"There is in every madman a misunderstood genius whose idea, shining in his head, frightened people, and for whom delirium was the only solution to the strangulation that life had prepared for him". (Antonin Artaud)

Profielfoto: "gebreek" deur Tertius Fourie.

Ek behou kopiereg op al my skryfwerk en foto's.



Totale stukke publiseer: 143
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 329