Op Woes.co.za onder Gedigte

Die man wat ek liefhet (herplasing)



die man wat my liefhet
slingerpad
deur veld en gras
en die fynbostakkies
– wat net gister nog
sonder blomme was –
bloem welig in 'n welkomsgroet

en in die fluitsang van suikerbekkies
klink 'n blye weersiensroep
oral
waar hy ou bekende paadjies loop
wyl hy – met sy hande –
ryp sade van graspluime stroop

die man wat my liefhet
is sterk en sonder skeet
hy klim oor klip en rant
tot dáár
waar hy kan sien
hoe die witrûe dans
op strome in die lug
hy ken elke voël van die hemel,
die aarde en die bos
se vleuels in hul vlug
en hy wis waar aasvoëls
bedags hul kuikens los
in neste
teen 'n krans

die man wat my liefhet
loop al langs die vlei
by rietpolle, biesies
en wit lelies verby
wyl swerms wilde gans
– kol-kol –
op die water lê en rus
duikers sprei hul vlerke
waar hul op geboë stompe staan
en draai rugkant na die son
wyl hy sy blik
oor vlei en voël
laat gaan

*

en hy pluk 'n bossie blomme
hy maak 'n ruiker in die veld
van erika en riet
en bloeisels (soos kussinkies gespeld)
voor hy terug huis toe kom

want hy weet
ek is die vrou wat hom lief het
en ék
ek wag alreeds
vir hom




C. Shaw
26 Julie 2014
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/die-man-wat-ek-liefhet-herplasing-projek-liefde-2015-12-09-tot-2016-01-05
Viooltjie

Vir 'n baie lang tyd het ek gevoel dat ek gedigte wil skryf, maar niks daaromtrent gedoen nie. Ek het nie gedink dat ek iets sal skryf en die moed sal hê om dit vir enige iemand anders te wys nie. Dus het ek 'n klompie jare gelede begin om soms vir my kinders rympies te skryf oor die die wilde diere in ons land...en hulle het dit darem baie geniet.

My heel eerste twee gedigte hier op Woes is ook die heel eerste gedigte wat ek geskryf het. Dit het baie moed geverg om dit te plaas, maar dit is ook een van die beste dinge wat ek ooit vir myself kon doen. Ek geniet dit regtig en hoop dat ek nog lank hiermee besig sal wees.

My naam is Carma. Ek is getroud en ons het twee dogters en 'n brakkie. Die brakkie, Cleo, is die baas in die huis. Ek is die eienares van 'n klein kwekery in Brackenfell. Ek is dol oor kleurvolle plante en geniet my besigheid terdeë. As julle wil, kan julle Country Craft Kwekery op Facebook gaan opsoek.

Ek doen my bes om 'n wye verskeidenheid gedigte te plaas en hoop dat ek daarin slaag. Ek weet dat ek nog heelwat kan leer...dus is opbouende kommentaar altyd welkom. My wens is dat elkeen wat my werk lees, iets sal vind waarvan hulle hou...so....LEKKER LEES :-)



Totale stukke publiseer: 595
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 5,713