Op Woes.co.za onder Gedigte

Gat: Jou gat, my skat!

As ek nou deur Woes se sleutelgat moet loer
en moet skinder, wetend dat ek my gat kan sien

sien ek party hulle werkies plaas – so windgat
en sonder skroom “dink hulle is kat se gat”

ander konformeer slapgat
en word napraters van strontgat

daar is alewig ‘n skuiwergat
op kommentaar deur suurgat

en o jinne die dupliek van klagat…
as hy nie sy sin kry nie word hy martelgat

ons kan duidelik sien wie’s hardegat
en moontlik ook wie’s ougat en bakgat.

maar hoe sal ons ooit weet wie’s ingat,
lunsgat, rykgat, armgat, suipgat of dronkgat?

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/gat-jou-gat-my-skat-gat
Gedagtedief

Ek is gelukkig getroud, het 6 kinders (3 biologies en 3 aangetroud) en 3 kleinkinders. Ek is trots op hulle en hulle gee my baie plesier.

Wat ‘n voorreg is dit nie om al my sintuie te kan gebruik nie! Al vyf van hulle. Gewoonlik is hoor en sien die voorbokke. Dis veral dié duet wat my siel gesond hou. As ek mag kies: Sien wil ek sien en hoor wil ek hoor. Altyd. Nie net omdat ek nuuskierig is nie, maar om te ervaar. Kleur, gelukkige gesigte, die skeppingsmooi, ingespande woorde…en musiek, hetsy die van die natuur of deur mens geskep, want dís wat my in ‘n ritme kry om te lag of nostalgies te raak. Ek wil soveel as moontlik lag – lekker diep uit my maag, dat die trane loop, maar ruim ook tyd in om te filosofeer en kan nostalgies raak. Dis veral die hoor-en-sien-tweeling wat my verander in ‘n gedagtedief, om my eie gedagtes te steel en uit te lap met ‘n voorbarige wysvinger op my laptop. Nie altyd om met ander te deel nie, maar tóg, want anders kon dit mos net sowel gebly het waar dit vandaan kom. Natuurlik lap ek ook soms ander se gedagtes uit, of jok by.

Nou waarom sal ek dit dan met ander wil deel? Seker maar omdat geen mens 'n eiland is nie, én omdat ek myself as ‘n leek beskou wat taal en skryf betref. Dis waarom ek elke stukkie kritiek sal waardeer, wetende dat dit jou eerlike opinie is. Wees seker dat ek jou nie daarvoor sal verkwalik nie. Gee kritiek en raad waar jy kan, oor elke stukkie van my wat in WOES verskyn. Met jou raad en kritiek sal ek sekerlik op my poginkies kan verbeter. Natuurlik lees en geniet ek wat en hoe julle dinge in WOES skryf – en leer baie daaruit. Dankie daarvoor.

Ek sal nog op 'n stadium 'n foto plaas, want dis nie my idee om gesigloos te wees nie.

Ek behou kopiereg op elke stukkie skryfwerk wat ek instuur vir woes.



Totale stukke publiseer: 67
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 239