Op Woes.co.za onder Gedigte

Gesoek: 'n Mentor


Liewe Juffrou Piet Magriet,
ons twee ken mos van verdriet.
Nou voor ek dalk my gawe
onder diepsand gaan begrawe,
neem ek die vrymoedigheid
(of is dit pure ydelheid?)
jou te vra, om my te dra?

Woord en Wonder van Grové
het al my twyfel platgevee.
Met hierdie mooi bruin boek
hoef ek niks verder meer te soek.
Nóóit kon ek my dit verbeel:
woord-gespeel maak mense heel …

My geskrifte - pas gedaan -
het ek sorgvuldig nagegaan.
Hier verskuif en daar vervang,
toe word ek vir myself weer bang -
my werk alreeds miskien te lank,
tog hoor ek al meer verse klank!

In hierdie veld voel ek bra wees -
niemand om my werk te lees.
Die groot heer Breytenbach
sal seker dink en lekker lag:
Niks anders as ‘n rymelary!
(wat ek graag sou wou vermy)

Wees dus nou gaaf en merk my werk
met koele rede – swaard uit skede !
Met pen of griffel op skaal van tien,
sê my eerlik wat jy smaak en sien
in die ‘wonder’ (?) van my woord –
my gedigte-toevlugsoord …

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/gesoek-n-mentor
Aná Niem


Hy het vir my gesê:  Skryf !

En nou staan daar nie altyd wat daar staan nie. .

My pyn is maar soos joune, ook my verlies, my verwerping en my seer. So skryf ek dan my hart uit want my werk is vir my Heer, Jesus Christus, Redder en Verlosser - die Koning,
voor wie elke knie
sal buig . . .

Met die baie mooi en ryk woorde van die Afrikaanse Taal, skryf ek graag verhalende "proësie" - 'n kruising tussen Prosa en Poësie... My gunsteling digters is Dawid en Asaf. Ook N.P.v.w.Louw, Opperman en Watermeyer.

Jou besoek aan my werfie word opreg waardeer. Kommentaar sal vir my wees soos die laafnis wat koel water bied; of anders, die uitwysing van slaggate in die pad van skryf . . . Ek hoor dus graag van jou! Lees en geniet, maar Kopiereg word voorbehou op al my werk.   

Aná Niem

 

 



Totale stukke publiseer: 158
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,002