Op Woes.co.za onder Gedigte

KLAAGLIED - KOP VOL WATER

JER 9

Wat gister en eeue terug relevant was is vandag nog steeds relevant, of wat dink julle?

sing ‘n klaaglied sonder hoop
dat trane uit oë loop

my kop is vol water
oë ‘n fontein van trane
ek huil oor onse land se mense
wil sommer Namib woestyn toe trek

sing ‘n klaaglied sonder hoop
dat trane uit oë loop

mense is ontrou lieg en bedrieg
skrou woorde wat tref soos pyle
mens se bedrog het oorhand
in onse pragtige land
dit gaan van kwaad tot erger

sing ‘n klaaglied sonder hoop
dat trane uit oë loop

kan nie vriende vertrou
hulle is kwaadstokers
broers is onderkruipers
praat met mekaar asof niks is verkeerd
maar beplan mekaar se ondergang

sing ‘n klaaglied sonder hoop
dat trane uit oë loop

ons woonplekke word plat geveeg
om plek te maak vir jakkalse
ons sal wildeals kou
gif water drink
lyke sal val soos gerwe
soos hopies mis bly lê

sing ‘n klaaglied sonder hoop
dat trane uit oë loop

dood sal by vensters inklim
in ons mooi huise inkom
ons kinders uitroei op strate
jongmense op pleine

God sit ons deur ‘n smeltkroes

Sing ‘n klaaglied ons is sonder hoop
dat trane uit oë loop

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/klaaglied-kop-vol-water
schatz

Ek is 'n 1948 model, getroud (jonk van gees) wat hoofsaaklik vir plesier, my vrou , kinders en vriende skryf.  Ek was in Paarl  ( HJS - Galpil) op skool en daarna vir 2 jaar Hermanus Hoërskool. Ek het op 50 jarige ouderdom, om gesondheidsredes, besluit om 'n beroep in die munisipale wese te verruil vir 'n landbou gedrewe beroep en bedryf 'n vrugte droog maatskappy in die Klein Karoo.  Op 60 jarige ouderdom is ek na vele  verkeerde diagnoses positief gediagnoseer as een van omtrent 156 mense in die land met MG (myasthenia Gravis)  Dit het my beweging aansienlik ingekort en ek het begin skryf en skilder as tydverdryf.  Ek kon nie meer voortgaan met die vrugte droog nie en ons bestuur tans 'n fabriek wat vrugtelekkers vervaardig. Ek skryf hoofsaaklik oor persoonlike lewenservarings en ondervindings.  Baie van die skryfwerkies het 'n Christelike boodskap en verskeie mense het reeds versoek om dit te lees.  Ek skryf hoofsaaklik  in gewone "plat"  praat Afrikaans maar het ook 'n paar Engelse stukkies geskryf.  My styl is ondervang in "Digresep".
Ek verwelkom eerlike kommentaar en  kopiereg  voorbehou.
Wat is schatz  ?  Kom ek stel dit so "It takes two to tango" en schatz beteken liefling of skattebol in Duits.  Ek is schatz vir my vrou en my vrou is schats vir my ! Sy is duitsmagtig.  Ek skryf en lewer kommentaar. Sy doen die "e-posse" en checking.  Ek is afrikaans en sy is engels, maar ons huistaal is Afrikaans.  Dus is dit boertjie en rooinek wat hier saamwerk.  Goeie genugtig nê ! Kan jy dit glo ?  Ons kom nogal goed oor die weg.  Waarom skryf ek ? En waarom soek ek kommentaar ?  Kom ek verduidelik dit so : 
Skryf is soos my koffie en tee.
Die suiker en melk is wat julle gee.
Koffie en tee sonder suiker is bitter.
Melk maak die tee skoner en witter.
Die lewe is klaar swart en bitter.
Kommentaar maak harte skoner en witter.
Suiker neem weg lewens bitter.
Lekker man, dis lekker, ek dink.
Om soet, wit koffie en tee te drink.
So hou aan met skink
Dit hou die lewe lekker blink.
Aitsa ! - Hoe klink dit ?
 



Totale stukke publiseer: 213
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 638