Op Woes.co.za onder Gedigte

Marico Droogte

hartseer staar ek hom aan
op sy knieë hande biddend gevou
oor sy gesig val droë grond
trane biggel sandstrepe oor sy wange

droë landerye lê akker vir akker leeg
spilpunte staan stil sonder water
geen oes vir more wat wag
net ‘n sandstorm in die verte wat kom

hitte brand elke greintjie krag uit hom
oud en oorwerk
maar gewillig om trekker en planter
vir oulaas oor dorre lande te laat dreun

agter my lê die magtige Marico rivier
met ‘n droë bodem vol groot krake
opgekrulde slik doppe wat smeek vir water
om aan die natuur lewe te gee

voor my lê die droogste droogte
met ‘n huilende boer in sy land
wat sy Vader steeds vertrou
om sy geliefde aarde te seën met ‘n reënbui

©ANS BOTHA

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/marico-droogte
Ans Botha

Die jare het gekom en gegaan. Baie het gebeur van die eerste dag wat ek op Woes begin skryf het. 

Ek en my familie woon op 'n plaas naby Zeerust in die mampoer vallei soos ek dit noem. Ek het groot geword op 'n plekkie hier naby. Skuinsdrif. Het daar Laerskool gegaan tot in 1975 is toe Zeerust toe en my Matriek daar klaargemaak. Die lewe het eers vir my 'n paar draaie laat loop tot ek en my familie teruggekom het na die plek wat die naaste aan my hart se punt le. 

Van skool af was ek baie lief vir skryf, maar ek moes eers 'n paar paaie loop voor ek dit tog kon regkry om eindelik te kon doen waarvoor ek baie lief is.

Ek het vyf jaar gelede 'n kursus geloop in kortverhaal skryf, maar toe byt die gedigte gogga my ook. 'n Uitgewer het my terloops raakgesien en ek het saam met 'n groep ander digters 'n koffietafel boek uitgegee. My grootste trots wat ek bereik het in die skrywersbedryf.

Vandag hou ek my nogsteeds besig met kort verhale gedigte rubrieke en artikels. Ek bly nie verniet op 'n klein plasdie nie. Die natuur is in my bloed. Ek leef vir die buitelewe om in die veld te kan sit en te luister na die stilte, na die gebrul van die leeus, 'n jakkels se roep, maar die mooiste om te sien hoe 'n koedoe oor 'n draad spring. Die natuur is in my, ek is die natuur, ek leef die natuur. 

Dit is in kort hoe my lewe is en wie en wat ek is.



Totale stukke publiseer: 107
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 538