Op Woes.co.za onder Gedigte

Net voordat ek gaan (stuur seblief groete aan Woes)


die nag het skielik leeg geword
waar woes was, is nou niks
ek soek die nuutste werke
ek scroll my epos t'rug

is daar dan niemand wat wil luister
(ek beloof om sag te fluister)
dis bloot maar 'n gedagte
wat ek graag met jou wil deel

en dit mag jou dalk verveel

maar
ek eet waatlemoen
in my blou kombuis
ek hou van coke
en ek braai soms vleis

ek sit op my stoep
as ek koffie drink
daar waar die maan haar lig
oor my uit kan skink

dis appelkooskonfyt
op hierdie dik sny brood
die honger is min
maar die lus so groot

my hond is swart
my brak is wit
hy's die een wat dit lief
om teen my aan te sit

my rug wys suid
my oog kyk noord
al sukkel ek hoe
ek sukkel steeds voort

(ek vind vreugde in my platberg
en in die steenboklam se oor
in die sweefvlerk van 'n arend
en in reënpaddas wat koor)

ek het 'n tafel
ek het 'n boom
dis daar waar ek sit
as ek net wil droom

ek vra te veel
ek wil vir ewig leef
maar mag ek eendag wel
oor my suidland sweef
in 'n helderkleurig lugballon
deur die potblou hemel
. . . onder Afrika son

*

ek lê my woorde voor jou neer
dalk vanaand
vir die laaste keer
hier te midde
van die donker uur
flikker my vlam . . .

maar blus die vuur






C. Shaw
15 Januarie 2015
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/net-voordat-ek-gaan-stuur-seblief-groete-aan-woes-finale-projek-op-woes-afskeid-2016-01-06-tot-2016-02-07-finale-projek-op-woes-afskeid-2016-01-06-tot-2016-02-07
Viooltjie

Vir 'n baie lang tyd het ek gevoel dat ek gedigte wil skryf, maar niks daaromtrent gedoen nie. Ek het nie gedink dat ek iets sal skryf en die moed sal hê om dit vir enige iemand anders te wys nie. Dus het ek 'n klompie jare gelede begin om soms vir my kinders rympies te skryf oor die die wilde diere in ons land...en hulle het dit darem baie geniet.

My heel eerste twee gedigte hier op Woes is ook die heel eerste gedigte wat ek geskryf het. Dit het baie moed geverg om dit te plaas, maar dit is ook een van die beste dinge wat ek ooit vir myself kon doen. Ek geniet dit regtig en hoop dat ek nog lank hiermee besig sal wees.

My naam is Carma. Ek is getroud en ons het twee dogters en 'n brakkie. Die brakkie, Cleo, is die baas in die huis. Ek is die eienares van 'n klein kwekery in Brackenfell. Ek is dol oor kleurvolle plante en geniet my besigheid terdeë. As julle wil, kan julle Country Craft Kwekery op Facebook gaan opsoek.

Ek doen my bes om 'n wye verskeidenheid gedigte te plaas en hoop dat ek daarin slaag. Ek weet dat ek nog heelwat kan leer...dus is opbouende kommentaar altyd welkom. My wens is dat elkeen wat my werk lees, iets sal vind waarvan hulle hou...so....LEKKER LEES :-)



Totale stukke publiseer: 595
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 5,713