Op Woes.co.za onder Gedigte

S t o o m t r e i n



die trein se fluit laat ore tuit

dit stoom 'n wolk en gee 'n blaf

die mense wuif by vensters uit –

klik-klik draf hy die myle kaf


*


mylpale op die lewenspoor ...

by één het ek my jeug verloor



Vic Viviers 8 Junie 2014

Na aanleiding van Neels Claasen se nostalgiese herinneringe van die stoomtrein era.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/s-t-o-o-m-t-r-e-i-n-jeug
Vic Viviers

Jacobus PJ [Vic] Viviers

Gebore [10 April 1934] en grootgeword in die verre Noord-Transvaalse bosveld gedurende die groot depressie en moeilike jare van die tweede wêreldoorlog.

Laerskool: Unitas skoolplaas te Swartwater. Hoërskool: Piet Potgieter te Potgietersrus. Tersiêr: Tukkies en Unisa.

Hy en sy wederhelf kruip tans weg in Wildernis se wildernis tussen Knysnaloeries en ‘n verstommende verskeidenheid voëllewe, waar blouape tussen die pers blomme van die bosklimop, soms bietjie lastig raak. Dit alles met ‘n panoramiese uitsig oor die Langvleimeer, die roep van jakkalsvoëls en visarende en die Indiese Oseaan se veraf druising.

Volgens Vic is hy ‘n professionele syferman met ‘n onderdrukte kunstalent en skeppingsdrang. Hy het hom al besig gehou met ewigdurende beweging [te vergeefs], motorontwerp ;-), skilder en beeldhou, maar deesdae meestal met koperwerk en fotografie. Ouderdom is besig om Vic se verslawing aan ski en backpacking ‘n stadige knou toe te dien…

Hy ondervind van tyd tot tyd ‘n drang om ‘n gedig neer te pen – nie poëtiese diep goed nie, maar eerder iets oor die oomblik – heelwat hiervan by of van sy braaivuurtjie en soms maar sommer lekker nonsies, “maar die goed is vir my soos foto’s – dit laat my terugdink aan 'n besondere oomblik”.

Vic hou daarvan om sy gedigte – noem dit maar versies of rympies – kompak te hou, met versvoet en rym uit die oude doos. In 'Digter' som hy dit netjies op:

ek pen die helder oomblik neer
geprik deur digtersdrang
met insig en emosie skerp
in woorde vasgevang

September 2011

Bywerking: April 2014

Volgens Vic het sy skrywershorison baie verbreed sedert hy in 2011 by die Woes-familie aangesluit het.  Met inspirasie en aanmoediging van vriende hier, was daar die uitdaging om by die vuurtjie verby te kyk, maar steeds die wonders van die natuur, waarin hy hom bevind het, raak te sien. 

Mettertyd het daar by hom ook 'n besef gekom dat daar in 'n oomblik ook 'n gedagte mag skuil wat groter as die oomblik self is.  Die kuns het daarin gelê om daardie gedagte te ontgin en vas te skryf – “maar met my syferman agtergrond en gebrek aan uitgebreide woordeskat en filosofiese denke het dit my dikwels ontwyk, maar ek probeer my bes...”.

Terwyl die drang om te skryf [en te skep in die algemeen] van jongs af saamkom, hou hy steeds daarvan om sy gedagtes te reduseer tot die kern in die minimum woorde.  Kwatryn bly nog sy gunsteling genre, maar hy eksperimenteer ook graag met ander vorms, soos haiku en soos sy onlangse woordsonnet, ‘Simfonie van die lewe’, wys:

jy
hoor
net
die
simfonie
as
jy
wegkom
uit
die
aGTeRGRoNDLaWaai
van
die
lewe

“En daardie agtergrondlawaai – stres, spanning, bekommernis, wroeging, angs, vrees en dies meer – is die moeilikste om vanaf weg te kom”.

Maar op tagtig gryp hy een van sy vele bekfluitjies, en met daardie kleintydse sin vir humor, rol die woorde van sy 'Oudwordlied’:

“Oudword is 'n bliksem wat jou skelm bekruip
jy kom mos nie agter as die ding nader sluip
jy kan nie meer dít nie en jy kan nie meer dát
en vóór jy nog mooi weet, het díng jou gevat...”

http://www.woes.co.za/bydrae/liriek/oud-word-lied

April 2014

[Alle regte op my werk voorbehou]



Totale stukke publiseer: 347
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 3,316