Op Woes.co.za onder Gedigte

Sing vir oulaas weer Elvis

gee my jou hande
vir die heel laaste keer
kyk, ons albei het letsels
ons albei het seer
wys vir oulaas jou wonde
en ek wys jou myn'
beide geskonde
gevlek en onrein

die lig in jou oë
dit bly my ontwyk
eens was daar sterre
en lag in jou kyk
hoe sag kon jou blik wees
hoe kil is dit nou
gister se warm
tot yskoud verflou

*

en onthou jy September
die son deur my ruit
die kwikstert en mossies
wat fladder en fluit

*

bly net 'n oomblik
vertoef net 'n uur
rus in my stilte
voel weer die vuur
eens tog genote
dit was ek en jy
kom môre, my liefling
is dit vir altyd verby

laat die klank van jou stem
my weer streel soos musiek
en die sang oor jou lippe
weer die liefde liriek
en sing net vir oulaas
weer 'n Elvis verdriet
(are you lonesome tonight)
dis die heel seerste lied

*

maar onthou jy September
en my blomparadys
die duif en die muisvoëls
in die boom langs my huis

*

en netnou, ja netnou
is ons vir altyd verby
so, vertoef net 'n oomblik
vir oulaas by my
'k wil sê dat ek liefhet
dis swaar om te praat
soveel nooit gesê nie
en nou's dit te laat

maar net voor jy omdraai
net voordat jy gaan
hou my net vas, lief
en sê jy verstaan
gee vir oulaas jou hand
en ek gee jou myn'
kyk, ons beide het letsels
geskond' . . . en onrein




C. Shaw
30 Augustus 2015
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/sing-vir-oulaas-weer-elvis-letsels-letsels-letsels
Viooltjie

Vir 'n baie lang tyd het ek gevoel dat ek gedigte wil skryf, maar niks daaromtrent gedoen nie. Ek het nie gedink dat ek iets sal skryf en die moed sal hê om dit vir enige iemand anders te wys nie. Dus het ek 'n klompie jare gelede begin om soms vir my kinders rympies te skryf oor die die wilde diere in ons land...en hulle het dit darem baie geniet.

My heel eerste twee gedigte hier op Woes is ook die heel eerste gedigte wat ek geskryf het. Dit het baie moed geverg om dit te plaas, maar dit is ook een van die beste dinge wat ek ooit vir myself kon doen. Ek geniet dit regtig en hoop dat ek nog lank hiermee besig sal wees.

My naam is Carma. Ek is getroud en ons het twee dogters en 'n brakkie. Die brakkie, Cleo, is die baas in die huis. Ek is die eienares van 'n klein kwekery in Brackenfell. Ek is dol oor kleurvolle plante en geniet my besigheid terdeë. As julle wil, kan julle Country Craft Kwekery op Facebook gaan opsoek.

Ek doen my bes om 'n wye verskeidenheid gedigte te plaas en hoop dat ek daarin slaag. Ek weet dat ek nog heelwat kan leer...dus is opbouende kommentaar altyd welkom. My wens is dat elkeen wat my werk lees, iets sal vind waarvan hulle hou...so....LEKKER LEES :-)



Totale stukke publiseer: 595
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 5,713