Op Woes.co.za onder Gedigte

Vel

Jy sê jou vel's jou grootste enkele orgaan...
arme vel, seg jy.
'n Vel kort al die regte kos
om sag en glad en soepel te kan bly:
Groente, vrugte, sulke goed sê jy...

Ek verlang nogal na jou vel,
my vel het al vergeet hoe voel 'n ander vel.
Dis net my brein wat weet,
my brein en bloed en hart en spier en long;
my liggaam smag na vel...

My tong lê laf en wag op ligte sout- en soetigheid,
my neus onthou die sweempie lekkerruik
in hare, nek en elke ander sagte plek.
Jou hande't my gefasineer,
ek wonder of my vel nog joune sal onthou,
so sag en glad en sonder skroom.

Ek wag en kwyn van dors en honger sondervel.
My vel benodig joune om om myne te kan span.
Miskien is vel se enigste behoefte
liefde van 'n ander vel.
Arme uitgehongerde vel!
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/vel-1455090168-finale-projek-op-woes-afskeid-2016-01-06-tot-2016-02-07
Woordverwerker

Ek is lief vir my moedertaal, Afrikaans. Ek is lief vir woorde, hoewel ek nie formele naskoolse taalkundige opleiding het nie.
Ek skryf soos dinge by my opkom, nie noodwendig met 'n vooraf besluit nie. Soms begin ek iets, dan voel dit of die gedig homself sommer skryf.
Die probleem is meestal om dit kort te hou. Ek volg soms 'n pad wat baie draaie loop.

Ek is 'n boer van beroep, sommiges sou sê 'n Boer in murg en been..

Ek geniet die mitologie, raaisels, metafore, geskiedenis, die natuur, tegnologie, ou goed, nuwe dinge..
En soos iemand hier op WOES my geheue verfris het: Surrealisme. ;-)


Ek sal dit waardeer as die lesers hulle opinie uitspreek. As jy nie van iets hou nie, sê dit! Dit is net deur kritiek wat mens kan leer.



Totale stukke publiseer: 351
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 2,350