Op Woes.co.za onder Gedigte

Vreemde bed

Ek lê hier in 'n vreemde stad, in 'n vreemde bed;
'n vreemde lig skyn uit 'n vreemde straat...
Dan skielik ruik ek 'n bekende reuk en weet:
Dit is steeds my wêreld dié!
Dit was seker maar 'n tuinsproeier
(wat per ongeluk aangegaan het),
daar's mos waterbeperkings in dié geweste!
Maar dalk, net dalk, wat dit tóg 'n verdwaalde wolkie wat sy druppels hier laat val het...
Die reuk van klam grond is mos malmaaklekker!
Selfs 'n stofnat bring die nostalgie.
Die plaas se reuk,
die groentetuin,
die land se ploeg...
O stadsgewoel,
jou blinkligwonderwêreld is net skilferdun.
Natuur is selfs in sypaadjies en uitgedorde tuine steeds aktief.
Die aarde leef selfs onder teer en dik beton.
Met reën wat val is selfs die grootste stad
in my gedagtes binnekort net vrye veld...
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/vreemde-bed-finale-projek-op-woes-afskeid-2016-01-06-tot-2016-02-07
Woordverwerker

Ek is lief vir my moedertaal, Afrikaans. Ek is lief vir woorde, hoewel ek nie formele naskoolse taalkundige opleiding het nie.
Ek skryf soos dinge by my opkom, nie noodwendig met 'n vooraf besluit nie. Soms begin ek iets, dan voel dit of die gedig homself sommer skryf.
Die probleem is meestal om dit kort te hou. Ek volg soms 'n pad wat baie draaie loop.

Ek is 'n boer van beroep, sommiges sou sê 'n Boer in murg en been..

Ek geniet die mitologie, raaisels, metafore, geskiedenis, die natuur, tegnologie, ou goed, nuwe dinge..
En soos iemand hier op WOES my geheue verfris het: Surrealisme. ;-)


Ek sal dit waardeer as die lesers hulle opinie uitspreek. As jy nie van iets hou nie, sê dit! Dit is net deur kritiek wat mens kan leer.



Totale stukke publiseer: 351
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 2,350