Op Woes.co.za onder Gorrel

Durban

Vanoggend vroeg lui my foon. "Oom jan, jy moet asb. kom want jy moet Durban toe ry." "Het ek reg gehoor, Durban? Daar is mos nie myne nie, en ons ry elke geval nie daarheen nie???" "Ja oom Jan, jy moet iets by ons SANDVIK-kantore daar gaan aflaai. Wel, dis nie in Durban self nie, maar sowat 10 km voor Durban."
Soos blits spring ek in my werksklere en laat wiel na ons stoor. Dis redelik ver, maar net die gedagte aan 'n ander pad as die gewone afgesaagde een na ZAC of KANGRA is al klaar 'n bonus.
Omdat ek nie tolpadgelde kry nie moet ek oor Graytown ry. Die pad self is op sommige plekke nou nie juis iets om oor huistoe te skryf nie. Slaggate is vir kilometers aan die orde van die dag. Ek is deur twee uiters gevaarlike passe waar daar skaars plek vir een voertuig is. Wat nog van twee wat by mekaar moet verby uit verskillende rigtings. Aan die afgrond se kant is geen versperrings nie en jy moet maar meet en pas om by mekaar te verby. Een misrekening en jy is die afgrond af.
Mense, die natuurskoon maak egter op vir al die stress. So asemrowend mooi het ek lanklaas gesien. Duiselingwekkende afgronde aan die een kant. Berge, heuwels en koppies aan die anderkant. Hoogtes vanwaar jy kilometers ver in die toekoms kan sien. Bome en plantegroei wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Die pragtigste blomme, bossies en struike. Genoeg om jou asem weg te slaan. Plek plek nog asvaal en swart na die winter, en dan onverwags, die lowergroen velde wat voor jou uitstrek.
Pomeroy en Tugela sal ek bitter graag weer op my eie tyd, besoek.
Hulle laat my aan 'n tweeling dink. Finkel en koljander. die een soos die ander.
Deur hierdie dorpies kan jy nie haastig ry nie. Daar is nie 'n manier nie. Verkeer kom feitlik tot 'n stilstand. Beeste, bokke, skape en hoenders wei rustig in die strate en vreet hulself dik aan die miljuisende oopgeskeurde swartsakke vol afval koolblare en wat nog alles daar uitpeul.
Gee jy pad vir een van die diere moet jy baaaaie versigtig wees om nie 'n stalletjie, wat sommer in die middel van die straat opgeslaan is, plat te ry nie! Dan is daar natuurlik ook nog die ewige taxi's wat ry soos hulle wil.
Stopstrate, of dan geen verkeersreels, bestaan in hierdie dorpies nie. Elkeen ry soos hy wil. Tussen hierdie deurmekaar mal spul moet jy ook jou oog uitgooi vir voetgangers. Die pad behoort aan hulle.
Dan skielik is jy deur hierdie gekkespul en die oop pad wag vir jou. Haha! Jy dink die bees of bok staan 'n km ver in die veld. Op die een of ander onverklaarbare rede staan hy skielik in die middel van die pad. Paar maal het ek sommer die toeter geblaas om te kyk of hulle skrik. Sal nie weer nie. Daai dier kyk jou aan asof hy dink jy is mal. Jy moet mos weet die pad behoort aan hom!
Doen jouself die guns, vir 'n onvergeetlike ondervinding, en gaan ryy bietjie daai roete. Ongelukkig het ek net my werk se vervoer, anders het ek een naweek weer hierdie pad gaan ry. Dis absoluut 'n onvergeetlike ondervinding en regtig die moeite werd.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gorrelstuk/durban-1442866090
Jan v.d. Merwe

Ek is Jan v.d. Merwe. Ek noem myself ook 'n "Boelandse Capy" omdat ek in die Paarl groot geword en skool gegaan het. Is al die afgelope 34 in Gauteng, waarvan ek en my vrou die laaste 24 jaar in Springs woon.Ek het twee seuns en 'n dogter en is die trotse oupa van 7 eie en'n pasella tweeling kleinkinders!
Ek doen koerierwerk vir 'n bekende firma in Delmas. Dis wanneer ek soms ver paaie, soms naby ry, dat die Here met my praat en waar HY ook male sonder tal, my op die heel laaste oomblik van 'n gewisse dood gered het.
Ek is geen digter of skrywer nie. Ek vertel maar net soos ek dinge ervaar.



Totale stukke publiseer: 748
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 3,424