Op Woes.co.za onder Gorrel

Grootword Musiek

Ek het nie eintlik musiek kennis nie, dag ek, maar hoekom ken ek alles ? Toe ek nou dink daar oor sien ek wragtig ! Ek is gebrain wash. Pa was n Landdros en elke, te gereeld is hy verplaas en dan moes ons trek

Op die verhoog, die enigste haasbek feetjie in die Operette maak ek my buiging met “Daar is feetjies kleine feetjies in my tuintjie, en nou wie van jul kan raai waar hulle woon. Hulle huppel heen en weer op die plantjies sag en teer”...
Ma en Pa luister Radio, dis Opera en Saterdae as al die kinders kar was sing ons hard en jolig saam met Trini Lopez “Oh worry me ! Shame and scandal in the family” en terwyl ons Sirkus-Sirkus in die agterplaas speel en onderstebo aan die wasgoed draad hang en swaai hoor ons Maurice en Monique se Pa na Fado musiek luister. Hy suig diep aan sy sigaret met die lang as en krap sy wollerige maag onder sy gaatjies vest en mens kan sien hy kyk tot in Portugal.

Kimberley bestaan uit skool en naweke op die plaas waar ons soos wilde kindertjies Rubies op die heaps soek en elke Saterdag aand dans ons lang arm sakkie sakkie met boere musiek en ons jive wild op die maat van Meadolands in die voorkamer. Ons leer wan wals en cha-cha-cha.

Bethal is die Voortrekkers en Volkspele en kom dans Klaradyn en my sussie kry ʼn FM pie en ons luister na LM radio onder die komberse in die donker. Unchained Melody en The bright Elusive Butterfly of love en ander bose goed. Naweke fliek ons en ons gaan deur The sound of music, sing vir weke lank “Maria, I just met a girl named Mariaaaa..” na ons West Side Story gesien het . Ook moet ek musiek lesse begin neem maar ek skop vas toe die musiek tannie nie kan verstaan ek stel nie belang in toon lere nie. Al wat ek wil speel is die Blou Danube.. dis al. Dis die mooiste liedjie in die hele wêreld. Toe stuur Ma my maar kuns lesse toe.
Elke Sondag sit ons voor in die kerk en agter in die Sondag skool en gaan deur “Jesus min my salig lot, tot by Jerusalem. Ek sing nou nog “Op berge en in dale en overal is God” as ek alleen kar bestuur. Pa en Ma se klassieke musiek op die bed radio’tjie sus ons aan die slaap. Elke aand. Ons beste vriende is Frans/Vlaams wat uit die Kongo gevlug het met die Mau Mau geweld en tussen die wrede stories deur sing ons “La Vie en Rose’ saam met Edith en dan lag ons lekker en hardop want ons is laf en die Frans is skreeu snaaks.

In Beaufort Wes probeer hulle bos-finishing school op ons meisies. In die Kadet periode word ons geleer van Etiket en goeie maniere en Opera Musiek. Elke liewe Opera in daai boek wat dikker as die Bybel was. Ons neem ballet en hou garage paarties op Saterdae aande met ʼn groen lig op die maat van “ Every time I try to prove, I love you.. One two three red light” terwyl die ouers reg voor die oop garage deur sit ʼn sterre tel en whiskey drink. My Sus trek is nou al amper klaar met haar musiek lesse en die een liedjie wat ek nou nog nie graag luister nie is Fur Elize want ek het dit vir ure en ure elke dag vir maande moes na luister terwyl sy gesit en oefen het vir daai finale eksamen.

Lesotho, koshuis, Vrystaat... wat meer kan ek sê ?” Elke aand langs die groen koring lande.. pêrels en lint, kamma kamma, sy en satyn...” en by die huis in Maseru is dit Patta Patta .. As jy in Rome is doe soos hulle. Ook moes ek in die Vrystaatse Massa koor sing want ek was ʼn alt en die was skaars en koor musiek is hart roerend mooi al het dit in breuk gemaak op my sport tyd, was dit die moeite werd.

Pretoria, was stil. Dis sport en matriek en Koos wat sy ghitaar slaan by skole sport . En ons raak nogsteeds aan die slaap met die radio se klassieke musiek, elke aand.
Universiteit en serenades van “daar’s plek op die vere bed’ en konserte bywoon van bands wat uit die buitenste ruimte ons besoek. Dis die Stones en Black Sabbath noem dit en ons het dit geluister en gesokkie. Byna al die mense wat ek geken het, het een of ander lied of liriek waarmee ek hulle kan op roep. Noem ʼn naam en sy/haar liedjie speel in my kop.

Grootmens lewe was en is ook een lang song, vrolik, verdrietig, vinnig stadig maar sing sing gaan ek deur die lewe. En eendag as ek dooi wil ek so grasieus soos daai swaan in Swan Lake my handjies vou terwyl my wimpers fladder en my kop op my knieë neer vlei. Fluit-Fluit my storie is uit. Don’t cry for me Argentenia.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gorrelstuk/grootword-musiek-musiek
Brandewyntert

Ek het niks te sê nie, daarom skryf ek.



Totale stukke publiseer: 265
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,289