Op Woes.co.za onder Gorrel

My Eerste Tattoo

Ek is nie ‘n oggendmens nie. Enigiets voor nege uur is vir my te vroeg. En niks help nie. Nie koffie nie, nie Red Bull nie, nie ‘n klap in die gesig nie, niks. Dit is dus vreeslike buite karakter vir my om half ses in die oggend al te ontwaak. Maar hierdie spesifieke dag is dit die moeite werd. Hoekom? Ek gaan vandag my eerste tattoo kry, dis hoekom.

En ek kry nie sommer enige tattoo nie, myne gaan spesiaal wees. Hier in Thailand noem hulle dit “Sak Yant”.

Ek drentel in die straat af na die kruising voor die Tesco (Thailand se weergawe van ‘n Pick n’ Pay). Facebook laat weet my met ‘n ge-”ping” dat ek ‘n boodskap ontvang het. Dis die Amerikaner. Die hele storie was haar idee. “I’m on my way, give me 2 minutes” lui die boodskap.

Tien minute later sien ek haar aankom. Sy hanteer die gevroegopstaanery beter as ek. Sy wens my ‘n vrolike goeie more en ek mompel iets terug. So vat ons pad na die bushalte.
Ons kom so tien voor ses by die bushalte aan. In ‘n poging om wakker te word stap ek na die Seven Eleven langsaan om vir my iets te kry om te eet. Ek koop vir my ‘n klein boksie Coco Pops en ‘n boksie melk. Bus is veronderstel om ses uur daar te wees, maar ek weet nou al Thai-tyd is nog so uur agter Afrika-tyd. So sit ek maar en eet. ‘n Hap Coco pops en ‘n slukkie melk. Kou kou kou. ‘n Hap Coco pops en ‘n slukkie melk. Kou kou kou.

Uiteindelik kom die bussie aan. “Nakhom Pathom?” vra ek die drywer. Hy knik sy kop en beduie ons in. Nakhom Pathom is so sewentig kilos weg van waar ons bly, Samut Songkhram. Vyftig van Bangkok af. Dit is een van die redes hoekom ons so vroeg moes opstaan. Ons wag so rukkie vir die bussie om vol te word en trek weg.

‘n Uur en ‘n half later kom ons in Nakhom Pathom aan. Nou om die tempel te kry. Die bussie stop langs ‘n markie en almal klim af. Net ek en die Amerikaner bly oor op die bussie. “Wat Bang Phra?” vra ek weer die drywer. Hy het geen idee waarvan ek praat nie. O, donner. Nou wat nou? Ek Google gou weer die plek op my foon en wys die drywer. “AH! Wat Bang Phra!” Dis mos wat ek ge-flippen-sê het… Hy verduidelik toe vir my – in Thai – dat ek die naam verkeerd uitgespreek het. Thai is soos Chinees. As jy ‘n woord op die verkeerde manier uitspreek kom daar iet’s verskriklik uit. Ek onthou die eerste keer wat ek ‘n omelette in Thai probeer bestel het en die kelner my uitgelag het. Later uitgevind ek het ‘n kind se penis pleks van ‘n omelette bestel. True’s Bob.

Die bussie se drywer laai ons by ‘n klomp motorfietstaxis af. Ja, Thailand het motorfietstaxis, want hier is helmets net vir mooi lyk. So jy kan enigeplek kom agter op n bike met die wind in jou hare vir 20 Baht. Die bussiedrywer praat toe met die motorfietsdrywer en vertel hom waar ons wil wees. Die motorfietsdrywer knik sy kop en beduie ons om op te klim. Ons. Een, twee. Ons.

Oraait. Die motorfietsdrywer ry so Vuka-agtige ding. Meeste mense hier doen. Die goed het darm groot sitplekke. So die drywer sit toe voor op die punt van die sitplek, ek sit agter hom, in die middel. Die Amerikaner, omdat sy ‘n rok aanhet, moes toe “sidesaddle” agter my sit. So trek ons weg, drie op die motorfiets. Amerikaner klou vir lewe en dood aan my skouer en ek het ‘n been beet sodat sy net nie afvoeter nie. Die trippie was eintlik nie te onaangenaam nie. Thailand is onmenslik warm so die briesie wat ons agter op die bike gevang het was hemels.

Die motorfiets laai ons toe by nog ‘n bushalte af. Wat de hel? Hierdie is mos nie die tempel nie. Hy verduidelik toe dat ons moet wag, daar kom blykbaar nog ‘n bus. En toe verlaat hy ons. Ek voel so bietjie bekommerd. Ek is nou nog nie heeltemal wakker nie en die skepsel het ons nou net hier gelos. Gelukkig was daar nog ‘n paar ander Thai mense byderhand en ek kon toe bevestig dat daar wel nog ‘n bus is wat ons moet vat, want die tempel is blykbaar ‘n entjie buitekant die dorp. So toe wag ons nou maar. Gelukkig was dit net vyf minute toe stop die bus. Ons klim op en vertrek uiteindelik tempel toe.

Nog 'n uur later stop ons. Ja man, dié is die plek. Ons stap deur die hekke en word gegroet deur ‘n twee meter hoë standbeeld van 'n tier en majestieuse wit en goue tempelgeboue. Ons dwaal vir ‘n rukkie rond en gaap alles aan. By die ingang is daar 'n massiewe afdak waar mense besig is op hulle stalletjies op te slaan vir die dag se markie. Dieper in sien ons 'n yslike standbeeld van een of ander Buddhiste-monnik van ouds, 'n handjievol Thais knielend voor dit met wierook in die hand. Ons word benader deur ‘n ou, verwaarloosde Thai man. Ons dog eers hy is ‘n boemelaar. “Falang, you want Sak Yant?” vra hy. Falang is die woord vir witmense hier rond. “Yes, please!” roep die Amerikanertjie uit. Hy begin stap en ons agtervolg hom tot by een van die tempelgeboue. Voor die deur is daar ‘n tafeltjie met bondels, elk met ‘n blom, ‘n kers en n pak sigarette. So bondel kos 75 Baht, oftewel omtrent R30. Ons moet so bondel koop en vir die monnik as ‘n offerande bied vir die Sak Yant. Die offerande bied dan as betaling vir die tattoo wat die monnik vir ons gee. Ons elkeen koop toe ‘n bondeltjie. Ons volg weer die ou Thai in die gebou in.

Aan die binnekant sien ons ‘n horde Thai mense knielend voor ‘n monnik sit. Hulle is seker besig met een of ander seremonie. Wierook walms swem tussen die kaal bolywe deur en die murmur van gebed is hipnoties. Ons stap verby hulle en op met ‘n stel trappe.

Hier is dit nou. Ons stap by die deur in en sien ‘n handvol mense op die vloer sit. Eenkant in die hoekie sien ons die monnik in sy tradisionele oranje gewaad. Reg voor hom sit drie Thai mans. Een wat besig is om sy Sak Yant te kry, en een aan elke kant wat sy vel styf trek vir die tattoo. Ons sit ons offerandes in die skinkbordjie voor die monnik en gaan sit agter in die kamer. Dit was ‘n opregte solder. Agter ons was ‘n klomp stowwerige Buddha standbeelde, figuurtjies van ou hoofmonnike en stoele. Selfs die spinnerakke wat hulle oortrek is al verlate. ‘n Enkele dak waaier swaai ritmies om die Thai hitte te verlig. Dis tjoepstil. Die enigste geluid is die gedruis van die tattoo masjien in die monnik se hande. Hier en daar lê ‘n kat. Een van die katte kom na my toe. Ek streel hom om my senuwees te probeer bedaar. Ek hoor dis seer om ‘n tattoo te kry. My vrees vir naalde het ook nie die saak aangehelp nie.


Uiteindelik na nog 'n uur se gewag is dit ons beurt. Die Amerikaner gaan eerste. Sy kniel voor die monnik en “wai” hom terwyl sy haar hoof drie keer buig. "Wai" is wanneer jy jou hande voor jou bors teenmekaar sit. Lyk amper of sy hom aanbid. Mense doen dit om respek te toon vir die monnik. Sy draai met haar rug na hom toe. Die toppie wat sy aanhet se rug is oop om dit makliker vir die monnik te maak. Hy sit ‘n lappie op haar rug neer om sy hand op te rus. Dit is verbode vir ‘n monnik om in direkte kontak met ‘n vroumens te kom. Die stilte word weereens gebreek deur die gedruis van die tattoo geweer.

Skaars vyf minute later is sy klaar. Dis darm ‘n vinnige proses! Sy kom terug na my toe en vra wat sy gekry het. Met ‘n Sak Yant het jy nie regtig ‘n sê in wat jy kry of waar jy dit kry nie. Die monnik besluit op jou tattoo gebaseer op jou aura. Elke ontwerp het ‘n betekenis en ‘n doel. Meeste van hulle is maar vir geluk en voorspoed en sulke tipe goed. Sy het ‘n Gao Yord op die skof van haar nek gekry. Die Nege Pieke. Dit simboliseer die nege pieke van die mitise Meru berg, wat blykbaar in die middle van die heelal is.

Nou is dit my beurt. Oh genade. My hart klop in my keel. Ek het geen idee wat om te verwag nie. Nee, ek lieg. Ek weet presies wat ek verwag. Pyn. Ek “wai” die monnik en trek my hemp uit. Ek gaan sit toe op die matjie voor hom. Een van sy helpers gee my ‘n kussing om op my skoot te sit sodat ek op dit kan leun. Ek voel hoe hy die stensil vir die tattoo teen my rug plak. Die masjien gaan aan en my senuwees breek af tot daar net 'n enkele een oor is. Daar begin hy.

Nou is ek wakker. Die mense het nie k*k gepraat toe hulle sê dis seer nie. Dit voel asof iemand my met die skerp kant van ‘n afgebreekte tak op ‘n erge sonbrand kol krap. Ek voel elke detail wat hy besig is om te teken. Hy gee my ook ‘n Gao Yord. Ek hoef nie eers te sien nie. Ek kan dit voel. Een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege lyne al langs die skof van my nek af. Daar is hy besig om die blokkies te maak tussen die lyne. Oraait, blokkies is klaar. Nou skryf hy iets aan die binnekant van elke blokkie. Klaar. Bo elke ry blokkies teken hy nou ‘n klein Buddhatjie en bo die Buddhas maak hy nog lyntjies. Klaar. Die masjien word afgesit. Hy vee die ergste ink en bloed van my rug af. Ek klim van die kussing af en Wai hom weer om dankie te sê. Die Amerikanertjie wag vir my by die deur.


Ek gryp my rugsak en ons sstap uit dieselfde pad wat ons ingekom het. Die tattoo is baie gevoelig, maar die seer is nie meer so erg nie. Dit voel nou net soos ‘n sonbrand. Ons gaan soek rond vir bietjie toiletpapier, want die tattoos bloei nog so bietjie. Ons kry ‘n rol by iemand wat hangertjies verkoop voor een van die geboue. Ons maak beurte en vee mekaar se tattoos skoon totdat die ink en bloed ophou lek. Die ou Thai spoor ons op. “Falang, you finish? Listen, no soap, three day. Bus go to Nakhom Pathom at gate. Nakhom pathom, go to Samut Songkhram. Take care yourself! Sawatdee krap.” Hy groet ons met ‘n vriendelike wai en stap weg. Dit is gedoen. Ek het my eerste tattoo gekry. Iets wat ek my hele lewe lank saam my sal ronddra. n Bewys van waar ek was en wat ek met my lewe gedoen het.

En anders as jou nefie se "tribal sleeve" wat hy in Jeffrey’s gekry het, het my tattoo ‘n storie wat ek daaroor kan vertel.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gorrelstuk/my-eerste-tattoo-letsels
Sarel Myburgh

Haai daar.

Ek is Sarel Myburgh. Ek het op skool begin skryf. Almal het vir my gesê ek het heelwat talent, maar het dit nooit regtig ernstig opgeneem nie. So nou plaas ek my stukke hier. Wie weet, dalk hou iemand daarvan.



Totale stukke publiseer: 3
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 5