Op Woes.co.za onder Gorrel

... 'n Gevoel soos liefde. (Doop)

Doop.

06/12/2015.

So is my lief-kinders gedoop. Ignathius op ses en Danel op twee en ’n half. Vir my, ’n eer maar ’n baie swaar- emosionele stryd. Ek het grootgeword in die Hervormend-kerk. Gedoop en getrou in Gereformeerd. Na my egskeiding het dinge vir my nie juis voorspoedig gegaan nie. Lang storie kort, ek het twee kinders maar was nooit met hulle pa getroud nie.

Hulle pa het ook nooit kerk toe gegaan nie. Hy’t altyd gespot en gesê hy sal aan die brandslaan die dag as hy ’n kerk instap. Ek moes dit seker ernstig opgeneem het, maar ek het gedink hy maak ’n grap. Gedink ek sal hom tog eendag kan oorreed om saam met my kerk toe te gaan.

Nog ’n lang storie kort, ’n jaar en ’n half na ons nie meer saam is nie is ek aangeneem in die Evangelie-Gereformeerde kerk en het die dominee met liefde my kinders vir my gedoop.
(Die dopper-kerk-dominee het geweier. Hy het gesê ek MOET trou, met die kinders se pa, voor hy die kinders sal doop. Toe ek weier, toe skop hy my uit die kerk uit. – en aan hom het ek die redes hoekom ek nie met ’n draak wil trou nie, in verduidelik.)

So toe staan ek voor in die kerk Sondag, alleen, met Danel op my heup en ou Igie se hand stewig in myne. Danel sien blykbaar nie die kerk vol mense raak nie. Igie staan styf teen my. My hart swel van trots, ter selfde tyd wat ek eintlik skaam is. Emosies onbeskryflik. Daar is hartseer ... aangesien hulle pa weereens nie in die kerk is nie. Daar is vrees ... want hierdie is darem ’n groot belofte om alleen aan te pak ... daar is hoop ... want met liefde is daar mos altyd hoop ...

Ignathius staan mooi stil. Hy’t gehoor wat mamma vooraf verduidelik het. Die dominee doop hom in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Baie watertjies word op sy kop besprinkel en wanneer die dominee se hand op sy kop sak sluk ek aan my eerste trane. Wat ’n groot eer is hierdie ? ? ? ?

Danel het mooi gesien wat oom dominee gemaak het. Sy begin sommer klaar huil. Maar die dominee sprinkel die water en sê weer daai kosbare woorde en sy hand sak op haar kom en my oë brand ...

Hy bid ... ek sluk. Ek wil net huil, maar mammas is mos sterk. Ek kyk net in dominee se oë, ek sien nie die ander mense raak nie. Hy glimlag en help my mooi met elkeen se Bybel. (Pragtige Bybels, die mooistes wat ek nog ooit gesien het ! ! ! !) ... elkeen se doop sertifikaat veilig binne gebêre. Net mamma en pappa se handtekeninge moet op dan is dit geldig.

My liefies. So kosbaar en onskuldig. Groot voorreg. Ek is uitgeput maar my doel vir 2015 is bereik. Dankbaarheid is nie die regte woord nie. Dis deel van daai gevoel wat jy voel binne jou wat woorde nooit sal kan beskryf nie.

Jy sal ’n duisend gedigte daaroor kan skryf, maar steeds dit nie ten volle beskryf nie.

Daai gevoel ... soos liefde.


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/gorrelstuk/n-gevoel-soos-liefde-doop-kosbaar
Anria

Die lewe is nie maklik nie. Party het dit harder as ander, maar ... dit is elke mens se keuse hoe dit hanteer gaan word. Jy kan in jou donker hoek bly staan, of jy kan die eerste tree in die son in gee. Dis jou keuse.

Dis nie maklik nie, maar dit is jou keuse. Niemand kan dit vir jou doen nie.

Niemand gaan jou kom red nie. Wees jou eie held en red jouself !

******

My eerste digbundel, Volg net die Skoenlappers, is nou beskikbaar.

Onthou, daar is altyd Hoop!

******

FB: Anriasestories



Totale stukke publiseer: 953
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 5,754