Op Woes.co.za onder Jeugverhale

Geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie

Hoofstuk 1
Briana maak haar oë stadig oop. Die lig syfer deur haar gordyne. Sy skrik toe sy sien hoe laat dit is. Sy spring vinnig op en is in ‘n rekordtyd klaar. Haar heuningbruin hare is in ‘n hoë poniestert saamgevat en haar sjokolade bruin oë is nog nie heeltemal wakker nie. Haar skooluniform was vuil. Gelukkig het sy ‘n skoon een in die kas gehad. Sy moet regtig leer om haar klere in die wasmandjie te gooi en nie op haar vloer nie. Sy draf die trappe twee-twee af en gryp ‘n appel op die kombuistafel. Hulle bly skaars twee blokke van die skool af en sy stap meestal skool toe behalwe wanneer dit Winter is en te koud is om te stap. Haar ma is ‘n laerskool onderwyseres en moet haar vroeg by die skool gaan aflaai sodat sy betyds kan wees vir werk. Haar pa is ‘n geoktrooieerde rekenmeester-en onlangs van haar ma geskei. Hy het weggetrek en nou sien sy hom net elke tweede of derde naweek. Indien so baie. Sy is skaars by die skoohek toe die klok lui. In die verbygaan groet sy vinnig ‘n paar mense en kies koers na haar register klas toe. Die registerperiode voel vir haar langer as gewoonlik. Hul register onderwyser, ‘n bloedjong mnr. Hattingh, beter bekend as mnr. Dreamy onder die meisies open met gebed en laat hulle daarna in vrede. Briana bestudeer hom. Met sy breë skouers, aantreklike glimlag, donker hare en inkblou oë is hy inderwaarheid dreamy. Sy wonder of hy ‘n meisie het. Sy is nie die tipe om ‘n skoolmeisie crush op ‘n onderwyser te ontwikkel nie, maar mooi was nog nooit lelik nie. Die skril gelui van die klok ruk haar uit haar gedagtegang. Briana kry koers na die Wiskunde klas waar ’n beloofde klastoets op hulle wag. Kimmy, een van haar beste vriendinne, val langs haar in. Met haar lenige lyf, blonde hare en porselein vel is sy die bynaam Barbie toegeken. Soos gewoonlik is haar maskara baie ooglopend en Briana weet hulle gaan weer vir Kimmy uithaal omdat sy soveel grimering skool toe dra. Nie dat Kimmy haar enigsins daaraan steur nie. “So Bri, is jy reg vir die toets?” Briana sug en antwoord: “Ek hoop so. Ek het nie veel geleer nie.” “Ek weet in elk geval nie hoekom stres jy nie. Jy blink uit in Wiskunde en om daardie rede is jy mnr. Buys se witbroodjie. Briana glimlag net maar voel nie so selfversekerd nie. Sy mag uitblink in Wiskunde maar dit beteken nie sy hoef nie te werk vir haar goeie punte nie. As sy eerlik moet wees teenoor haarself weet sy dat sy die afgelope tyd laat slap lê het. Nie net in Wiskunde nie, maar in al haar vakke. “ Weet jy Kim, jy behoort ook goed te doen in Wiskunde. Jy is eintlik baie slim, maar jou groot probleem is jy het net twee belangstellings. Drama en Pierre o en het ek genoem drama?” Kimmy lag haar klokhelder lag en antwoord: “Wel jy moet erken Pierre is super hot en drama, wel, dis soos asemhaal. Ek is ‘n gebore ster.” Briana lag vir haar vriendin wat nie eers ‘n normale gesprek kan voer sonder om dramaties te wees nie. Sy en Kimmy kom al van laerskooldae af en het mekaar nog altyd perfek aangevul as vriendinne. Hulle neem hul plekke agter in die klas in. Die seuns word nie toegelaat agter in die klas nie omdat mnr. Buys reken hulle kan te veel droogmaak daar. Sy verstaan heeltemal hoe Kimmy oor drama voel. Daar is ‘n tyd nie so lank gelede nie wat musiek haar suurstof was. Maar dis nou deel van die verlede. Sy het haarself belowe dat sy nooit weer aan ‘n instrument sal raak nie en nog minder sal sy ooit weer sing. Waar dit altyd haar toevlug was het dit nou net vir haar ‘n herinnering geword gevul met pyn en smart. Sy skud haar kop asof sy die troebel gedagtes kan wegskud. Sy lees die vraestel deur en sug. Na ‘n halfuur is sy klaar. Sy kontroleer haar antwoorde en gebruik die res van die tyd wat oor is om die klaskamer te bestudeer. Dis ‘n tipiese Wiskunde klas, gevul met plakkate oor maal, deel, algebra en ‘n paar ander dinge wat Briana nie seker is wat dit is nie. Die klas is ‘n lelike blou geverf wat al plek-plek afdop. Snaaks hoe ‘n klas jou gemoedstoestand kan beïnvloed dink sy by haarself. Die laaste tien minute voel soos ‘n ewigheid en Briana is baie dankbaar toe hulle uiteindelik kan loop. Die toets was eintlik heel maklik gewees en sy voel baie versekerd dat sy redelik goed behoort te vaar. Sy het nog Fisies en dan is dit uiteindelik pouse. Haar ouers het daarop aangedring dat sy vakke soos Fisiese Wetenskappe en Wiskunde vat om haar toekomspaadjie vir haar te verbreed. Dis nie eintlik haar belangstellings nie, maar sy doen goed daarin en haar ouers is gelukkig. Pouse sit sy, Kimmy, Amelia en Ju-Ané in die kafeteria. Amelia en Ju-Ané het by Briana hulle aangelsluit aan die einde van graad 8 en sedertdien is hulle vier ‘n hegte groepie. ‘n Vreemde, uiteenlopende groepie, maar onafskeidbaar. Amelia is die slim rooikop en hoof van al wat ‘n komitee is, Ju-Ané beywer haarself om ‘n kombinasie van moeder Theresa en Florence Nightingale te wees. Hulle is glad nie so kunssinnig soos Briana en Kimmy nie en dis juis wat die balans handhaaf. Julle, ek kan nie glo dis alweer tyd vir die talentkompetisie nie. Die jaar het behoorlik gevlieg.” sê Amelia. Ju-Ané se gesig helder op en sy sê: “Ja. Dis altyd groot sports. Gaan jy deelneem, Bri?” “Um, nee, ek dink nie so nie.” “Maar Bri, jy het die kompetisie al twee maal gewen. Jy moét deelneem.” “Ek moet niks. Buitendien Jua, hier is genoeg ander mense wat van die kompetisie ‘n sukses kan maak.” “Ja, maar die ander mense is nie jy nie.” Kimmy sien dat Briana en Ju-Ané afstuur op ‘n rusie en verander vinnig die onderwerp. Gou het almal van die talentkompetisie vergeet en bespreek hulle die opkomende sokkie. Die res van die dag sleep verby en Briana is verlig toe sy uiteindelik kan huis toe gaan. Toe sy hulle tuinhekkie oopstoot vang haar oog vir Ruan-haar buurman-wat ook pas by die huis gekom het. Die de Witts is hulle bure al vir die afgelope tien jaar en sy en Ruan was van die begin af beste vriende gewees. Dit is totdat dinge ‘n paar maande gelede begin uitmekaarval het. Vandat haar pa weg is het sy haarself al hoe meer eenkant gehou. Haar en Ruan se geselsies het stelselmatig opgedroog, die kuiers het al hoe minder geword en uiteindelik het hulle bloot kennisse geword. Briana weet dis haar eie skuld. Ruan het hard probeer om hul vriendskap te behou maar uiteindelik het hy die stryd gewonne gegee. Hy groet haar vriendelik maar doen nie enigsins moeite om ‘n geselsie aan te knoop nie. Sy verruil haar skooluniform vir ‘n koraalkleurige sonrokkie en sy laat haar hare los oor haar skouers hang. Sy loop kaalvoet deur die huis en gaan maak vir haar ‘n ham en kaas toebroodjie. Haar ma is ‘n laerskool onderwyseres en aangesien hulle vanaand hulle skoolkonsert opvoer sal sy eers laat by die huis kom. Briana sou eers gaan help het om die kinders te grimeer maar haar ma het haar laat weet daar is genoeg ouers wat aangebied het om te help. Toe sy klaar geëet het sit sy haar bord in die skottelgoedwasser en ruim vinnig die kombuis op. Sy drentel weer die trappe op om haar huiswerk te doen. Sy is nie baie lus daarvoor nie, maar kan nie nog debietpunte teen haar bekostig nie. Sy het die afgelope tyd haar grense oorkskry en is op dun ys by amper al die onderwysers. Sy het taamlik baie huiswerk en dit is al halfses toe sy uiteindelik klaarkry. Sy loer vinnig of sy iets op facebook sien, maar daar is niks snaaks nie. Net die gewone liefdesdramas wat skaamteloos op sosiale media uitgebasuin word en hier en daar ‘n selfie. Daar is ook niks snaaks op twitter nie en Briana was vinnig haar hande sodat sy kan begin met die kos. Sy weet al teen die tyd dat wanneer haar ma by die huis kom sy uit sal wees op haar voete. Dis baie harder werk om ‘n onderwyser te wees as wat die meeste mense dink. Briana het nog altyd goed met kinders oor die weg gekom, maar sy het dit nog nooit oorweeg om in haar ma se voetspore te volg nie. Haar droom was nog altyd musiek gewees. Haar ma hoop nogsteeds heimlik dat sy eerder ‘n rekenmeester of prokureur sal word. Enige “regte werk” soos haar ma dit stel. Haar ma het haar nog altyd ondersteun ten opsigte van haar musiek maar sy was nog nooit heeltemal ten gunste van ‘n loopbaan in die vermaakbedryf nie. Dis haar pa wat haar al van kleins af aangepor het. Hy het vir haar haar heel eerste kitaar gekoop en hulle het baie aande saam gesing en net musiek gemaak tot laat in die nag toe. Haar hart trek saam wanneer sy aan haar pa dink. Hy en haar ma is nou al vier maande lank geskei en sedertien sien sy hom bitter min. Hy het werk gekry in ‘n ander dorp en dus kan sy hom nie so gereeld sien nie. Dis vir haar ‘n baie groot aanpassing. Haar gemoed is somber terwyl sy die kos maak. Sy maak sommer spaghetti bolognaise-dis maklik en hulle het al die bestanddele. Sy besluit om maar solank te eet aangesien sy nie weet hoe laat haar ma by die huis gaan kom nie. Sy skep vir haar kos in en gaan sit by die kombuistafel. Die stilte is oordonderend en sy sit die radio aan. Sy kan nie die leë stilte hanteer nie. Sy eet klaar en sit die vuil eetgerei in die skottelgoedwasser. Sy drink ‘n glas melk en bêre vir haar ma kos in die lou oond. Sy blaai lusteloos deur ‘n modetydskrif en sluimer later in. Dis halftien toe sy wakker skrik. Sy hoor iemand in die kombuis en vir ‘n oomblik dink sy dis ‘n inbreker, maar onthou dan dat haar ma by die skoolkonsert was. Sy is nie lus om op te staan nie maar sy weet dit sal baie ongeskik wees om nie haar ma te gaan groet nie. Sy strompel die trappe af en besef dat sy taamlik deur die slaap moet lyk. Hoe was die konsert?” “Pragtig. Die kinders het dit regtig geniet.” “Cool.” “Dankie vir die spaghetti bolognaise. Het jy al geëet?” “Ja, dankie Ma.” Hulle staan ‘n oomblik vir mekaar en kyk, dan sê Briana: “Ma moet lekker slaap.” “Dankie Liefling, jy ook.” “Dankie.” Briana kry weer koers na haar kamer toe. Haar kamer is stylvol gemeubileer in skakerings van rooi en wit. Haar oog vang haar Bybel op die bedkassie en sy voel skuldig. Sy kan nie onthou wanneer sy laas haar Bybel oopgemaak het nie. Maar om Bybel te lees gaan niks aan haar situasie verander nie dink sy effens bitter. Sy kyk na die foto wat reg langs haar Bybel in ‘n goue fotoraam pryk. Dis ‘n foto van hulle gesin, sy in die middel en haar ma en pa weerskante. Haar ma het sjokolade bruin hare en dieselfde skakering oë terwyl haar pa donkerblonde hare het wat al begin grys word het by slape en wakker groen oë. Die foto is geneem ongeveer twee jaar terug toe hulle die Desember vakansie op Mosselbaai spandeer het. Dit was een van die beste vakansies van haar lewe. As sy maar net toe geweet het.
Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kinderverhaal/geloof-so-groot-soos-n-mosterdsaadjie
Marthie-Lize Thomas

Lees asseblief my bydraes en lewer gerus kommentaar-positief of negatief-op die ou einde is dit hoe ons leer. Skrywers moet voortdurend daarna streef om hul talent te slyp en hulle skryfstukke te verbeter. NS-Ek behou kopiereg op al my skryfstukke



Totale stukke publiseer: 40
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 44