Op Woes.co.za onder Jeugverhale

MONDSTORIES (33): DIE SKRYWER (1937)

(‘n Waar verhaal uit oupa Wynand Breytenbach se kinderdae)

Dit was ‘n windstil dag in die hartjie van die somer op ons plaas Scherpenheuvel in Worcester se distrik toe die volgende voorgeval het:

Toe ons die huis na middagete verlaat om in die wingerd te gaan werk, sien ons ‘n blanke man padlangs aangestap kom. Hy het dadelik baie aandag getrek. Alhoewel hy niks ouer as vyftig jaar was nie, was sy hare spierwit grys. Boonop was hy gekleed in ‘n wit safari-pak – klere wat in daardie dae in ons kontrei onbekend was. In sy regterhand (sy linkerarm was af), het hy ‘n kleinerige koffertjie, wat met ‘n yslike slot toegesluit was, gedra. Na ‘n oor en weer groetery het hy homself bekend gestel.

Hy was ‘n vermoënde veeboer van iewers in die Oostelike Provinsie (name het my al ontgaan). Hy het vertel dat hy een dag met sy haelgeweer veld toe gestap het om ‘n wildsbok te gaan skiet. Hy het ‘n paar rooiribbokke gewaar, maar moes deur ‘n draadheining kruip om hulle onder skoot te kry. Hy het eers die gelaaide geweer teen die heining staangemaak, deurgeklim en daarna die geweer aan die loop beetgekry en dit na hom toe getrek tussen die drade deur. In die proses het die geweer se haan aan een van die drade gehaak en toe dit losglip gaan ‘n skoot af. Die bokhael het sy linker elmboog vergruis.

Toe hy sy huis bereik, het ‘n koma hom oorval as gevolg van bloedverlies en pyn. Hy was lank in die hospitaal waar sy arm geamputeer was. Die skok van alles was so erg dat hy oornag grys geword en sy stem verloor het.

Hy het so hees-hees gefluister; ‘n geluid wat my aan ‘n makou laat dink het

Hy was so depressief dat hy nie langer wou lewe nie en het selfmoord oorweeg. Sy dokter het hom aangeraai om vir ten minste ses maande weg te gaan. Hy kon dit bekostig. Aangesien hy in murg en been ‘n boer was en nog altyd in verskillende soorte boerdery geïnteresseerd was, het hy besluit om ‘n staptog deur die Boland te onderneem en ‘n studie van al die boerderymetodes te maak met die oog op die publikasie van ‘n boek.

Hy was vir ‘n maand op ‘n plaas in McGregor se distrik waar hy baie inligting oor druiweverbouing ingewin het. Toe hy ons plaas van die pad af sien, het hy dadelik besef dat dit die beste plaas sou wees om gemengde boerdery te bestudeer. Hy het dus huisvesting vir ‘n maand gesoek op voorwaarde dat hy weekliks daarvoor sou betaal, en sodra die boek gedruk was, sou Vader ‘n kopié daarvan kry. Gratis natuurlik.

Aangesien hy nie inbreuk op ons gesin se privaatheid wou maak nie en self ook ongesteurd wou skryf, is daar vir hom op die waenhuis se solder ‘n tydelike werk- en slaapplek ingerig met al die nodige fasiliteite. Daar was baie ruimte, aangesien daar net ‘n stuk of vyftien sakke koring, twee lang houtbalke en spaar onderdele van implemente, soos ploegskare, gestoor was.

Voormiddae het die skrywer met papier en potlood op die plaas rondgestap en aantekeninge gemaak en namiddae het hy sy informasie verwerk. So het hy gesê. Ek het ‘n paar middae vir hom koffie solder toe geneem waar ek hom elke keer vas aan die slaap op sy bed aangetref het.

Na twee weke het hy verskoning gemaak dat hy nog nie betaal het nie omdat sy tjekboek se blaadjies opgebruik was. Daar is toe gereël dat hy die volgende dag saam met Vader dorp toe sou gaan om sake reg te stel. Die volgende dag kon hy egter weens maagprobleme nie saamgaan nie. Miskien was dit goed dat hy tuis sou bly, want dan kon hy sy vyfde oefeningboek oor gemengde boerdery voltooi, het hy gesê.

Nadat my ouers weg was, het Marrie, die wasvrou, gesê dat sy nie die gas vertrou het nie. Hy het haar gevra om sy klere te was en omdat sy weens doofheid nie sy hees gefluister kon volg nie, het hy normaal gepraat.

My oudste broer, Kerneels, wat lankal reeds hond se gedagtes gehad het, wou al ‘n paar keer sy koffertjie oopmaak wanneer hy buitekant doenig was, maar hy het die sleutel waarskynlik orals saamgedra.

Toe ek later vir die oom koffie neem, was hy besig om ‘n sokkie te stop. Die slot het langs die koffertjie gelê. Kerneels het dadelik besef dat die oomblik van waarheid aangebreek het. Vinnig verduidelik hy sy plan van optrede aan my.

Ek gaan terug solder toe en vra hom om my gou te help om een van die lang balke uit te dra. Hy het sy sokkie op die bed neergesit en hand bygesit. Toe ons buite kom, haal ek hom oor om my te help om dit op ‘n wa daar naby te laai. Toe ek en hy weer in sy ‘bo-vertrek’ kom, wag Kerneels hom daar by sy koffertjie in. In inhoud, bestaande uit ‘n tweede safaripak, ‘n paar sokkies en ‘n groot kakiesakdoek, lê op die tafel uitgekeer. Kerneels wou weet waar sy boeke was, waar sy leë tjekboek was en waarom hy normaal met die wasvrou gepraat het.

Eers toe Kerneels hom met Vader dreig, het hy sy blufspel erken en mooi gesoebat dat Kerneels hom moes laat gaan voordat my ouers opdaag van die dorp af.

Binne minute het die padloper koers gekry, weg van die plaas af.

Ek is tot vandag nog spyt dat Kerneels hom nie gevra het waarom sy linkerarm af was nie, want sy storie daaroor was waarskynlik ook ‘n leuen.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kinderverhaal/mondstories-33-die-skrywer-1937
Elise Breytenbach

HEEL EERSTE WIL EK GRAAG NOEM DAT EK KOPIEREG OP AL MY WERK BEHOU.

Na 14 vreugdevolle jare in Engeland, is ek en Wederhelf terug in ons aftreehuis op Melkbosstrand.

Ek vrek oor 'n lekker storie.

Drie van my leuses (sekerlik debatteerbaar!) is: 1. Volg die mees effektiewe weg van minste weerstand (dit werk vir my) en 2. Liewers laat as vrot (veral wat sperdatums aan betref). 3. Leef jou teenstanders dood.

Ek is diep dankbaar vir die Here, my skepper en verlosser, se genade in my lewe.



Totale stukke publiseer: 92
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 759