Op Woes.co.za onder Jeugverhale

MONDSTORIES (34): PALJAS EN 'N AANGENAME UITSTAPPIE

(Oupa Wynand Breytenbach het graag aan sy kleinseuns van ondevindings vertel wat hy as klein seuntjie saam met die transportryer, oom Piet Swanepoel, wat by hulle ingewoon het, opgedoen het.)

Oom Piet Swanepoel, ‘n transportryer, was besig om mis in ‘n skaapkraal daar ver in die veld in streepsakke te gooi om vervoer te word na die wingerde toe, toe Bolandse winterreëns vir ‘n week lank uitsak. Die deurweekte mis het so ‘n pappery geword, dat hy die werk gestaak het. Tot tyd en wyl die mis weer bewerkbaar sou wees, het hy op ons plaas kom werk. Dit sou weke duur. Sy wa en donkies het in die veld agtergebly.

Een Saterdag het ek en Oom sy donkies in die veld gaan opsoek om vas te stel of dit nog goed met hulle gaan. Ons het ‘n wynbottel vol drinkwater en ‘n bietjie rosyntjies in ‘n bladsak, gemaak van vel, saamgedra. Die hingsel van die sak is oor die linkerskouer gehaak en die sak het onder die regter-kieliebak gehang.

So teen twaalfuur het ons by die oom se wa aangekom. Hy het sy kosbaarste besittings, onder andere erfstukke van sy ouers, geld en klere, in die wakis toegesluit gehad. Toe ek hom vra of hy nie bang vir inbrake was nie, was sy antwoord dat die wakis se inhoud teen diefstal en brand besweer is. Hy wys my toe in die wakis ‘n kakiekleurige sakkie so groot soos ‘n hempsak, waarvan die bek toegewerk is met garing. Hy het dit in sy Hollandse Gesangboek versteek gehad. Die inhoud was paljas, ‘n toormiddel. Wat dit was, het hyself nie geweet nie. Hy het dit by ‘n Slamaaier op Worcester gekoop. Indien iemand dit sou waag om aan die inhoud binne-in die wakis te raak, sou sy vingers kromtrek.

Op my vraag of hy al ‘n inbraak gehad het, het hy bevestigend geantwoord. Hy het een dag sy wa en donkies net buitekant Worcester onbewaak gelaat terwyl hy in die dorp inkopies gaan doen het. By sy terugkeer sien hy dat die kis opgebreek was. Net ‘n pakkie tabak was weg. Hy was oortuig daarvan dat die paljas effektief gewerk het, want anders sou die inbreker mos meer artikels gesteel het.

Die toormiddel het geen uitwerking op Oom gehad nie, want hy was daarteen besweer. Hy mog net nooit die sakkie oopmaak nie.

Ek het gewonder of hy nie dalk al met die sakkie gepeuter het nie, want wanneer hy iets met sy regterhand gedoen het, het die linkerhand se vingers sommer so in die lug dieselfde bewegings as dié van die regterhand uitgevoer. Dit het nogal komieklik gelyk. Ons kinders het hom graag agter sy rug nageaap en dit natuurlik oordryf om dit meer te geniet. Ek het gewonder of sy linkerhand nie dalk getoor was nie. Sy verklaring was dat ‘n horingman-adder hom op dertienjarige ouderdom aan die linker wysvinger gebyt het. Sedertdien het hy aan dubbele vingeraksies gely.


OOM se beddegoed, bestaande uit gebreide skaapvelle met lang wol, lakens, ‘n wolkussing en ‘n skaapvelkaros was in ‘n waterdigte seil toegerol. Slapenstyd het hy ‘n paar langwol-velle in die buik van die wa op mekaar oopgegooi en dit het as matras gedien.

Hy het ‘n vuurtjie gemaak en van boermeel vir ons heerlike vetkoeke, stormjaers genoem, in ‘n platboompotjie gaargemaak wat ons saam met ‘n beker swart koffie geniet het.

Die middag op pad huis toe het ons op ‘n klip-wolwehok afgekom. Dit was teen die agterste wand van ‘n oorhangkrans gebou. Skaapwagters het glo vroeër lastige hiënas daarin gevang. Party van die klippe het al verskuif, maar die hele konstruksie kon met ‘n bietjie moeite herstel word. Skielik het ek vreemde geluide gehoor. Dit was afkomstig van kransduiwe, ook bosduiwe genoem, wat bo-op die krans te kere gegaan het. Dit was die eerste keer dat ek dié voëls gesien en gehoor het. Deesdae kom hulle selfs en dorpe en stede voor.

Vir my, as tienjarige, was dit ‘n baie aangename uitstappie.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kinderverhaal/mondstories-34-paljas-en-n-aangename-uitstappie
Elise Breytenbach

HEEL EERSTE WIL EK GRAAG NOEM DAT EK KOPIEREG OP AL MY WERK BEHOU.

Na 14 vreugdevolle jare in Engeland, is ek en Wederhelf terug in ons aftreehuis op Melkbosstrand.

Ek vrek oor 'n lekker storie.

Drie van my leuses (sekerlik debatteerbaar!) is: 1. Volg die mees effektiewe weg van minste weerstand (dit werk vir my) en 2. Liewers laat as vrot (veral wat sperdatums aan betref). 3. Leef jou teenstanders dood.

Ek is diep dankbaar vir die Here, my skepper en verlosser, se genade in my lewe.



Totale stukke publiseer: 92
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 759