Op Woes.co.za onder Jeugverhale

'n Verrassing

“Jy kan nie wegkruip nie. Jy kan nie weghardloop nie.” Die woorde is uittartend en haar hart klop in haar keel. Daar is geen wegkomkans nie. Sy is vas. Haar asem kom hortend oor haar lippe en sy draai stadig om....
Dit het alles begin toe Jenny die Desember vakansie by haar ouma in Rietdal gaan kuier het. Rietdal is ‘n klein, plattelandse dorpie waar selfs die hoenders verveeld raak. Hierdie borrelende donkerkop het natuurlik geprotesteer, want soos sy dit gestel het, Rietdal is nie juis haar “scene” nie. Sy het egter die stryd teen die Bester-vrouens a.k.a haar ma en haar ouma verloor. Behalwe vir die feit dat daar op Rietdal niks vir hierdie sosiale vlinder is om te doen nie, is haar ouma boonop effens...eksentriek. Ouma Jane is nie jou gewone deursnee ouma wat koekies bak en lekkers uitdeel nie. O nee, sy kleur haar hare pers, het ‘n facebook-profiel en asof dit nie erg genoeg is nie volg sy haar gunsteling filmsterre op twitter. Jenny is egter met geen keuse gelaat nie en het met swaar tasse en ‘n ewe swaar gemoed gedwee in die kar geklim. Sy het haar Ipod se oorfone in haar ore gedruk en dit nie weer uitgehaal voordat hulle in Rietdal aangekom het nie. Haar ouma het hulle voor die huis ingewag met haar hare net so pers soos altyd en kleredrag wat ‘n kabouter sal laat bloos. Na almal mekaar heen en weer gegroet het en haar ma en pa klaar koffie gedrink het val hulle weer in die pad. Jenny loop deur die huis met haar selfoon on te kyk waar kry sy die beste sein. “Ag nee man! Jennica-Marie, is jy vasgegom aan die foon?” “Ouma! Niemand noem my meer Jennica-Marie nie.” “Vir wat nogals nie? Dis ‘n pragtige naam.” “Ai ouma. Wat moet ek hier doen as ek nie met my foon mag werk nie?” “Doen iets konstruktiefs soos om ‘n boek te lees.” “Jammer ouma die enigste boeke wat ek lees is Twilight en ek het al die boeke al klaar gelees.” “Nou goed kom ek gaan maak dan vir ons iets om te drink.” Jenny druk haar foon in haar denim se sak en stap agter haar ouma aan. Sy het nogals lanklaas vir haar ouma kom kuier en verstom haar aan haar ouma se nuwe kombuis dekor. Die lemmetjiegroen en wit kleurskema is soveel anders as hulle eie konserwatiewe roomkleurige skakering wat hul kombuis geverf is. Sy maak vir hulle Rooibos tee. Dis een van die min normale dinge waarvan haar ouma hou. Elkeen sit met hulle eie gedagtes en die res van die dag verloop rustig. Dis egter die aand wat die moeilikheid begin het. Jenny het vroeg gaan slaap. Dit was egter nie lank nie of sy skrik wakker. Sy is seker sy het iemand gehoor praat. Sy luister mooi. Die woorde is sag, maar uittartend. “Jy kan nie wegkruip nie. Jy kan nie weghardloop nie.” Sy spits haar ore. Dit moet die televisie wees besluit sy en maak haar oë toe. Dis egter nie lank nie of sy hoor weer die koggelende woorde, die keer klink dit harder. “Ouma?” vra sy benoud, maar daar is geen antwoord nie. Dit moet dus haar verbeelding wees besluit sy en draai om. Die volgende oggend vertel sy haar ouma van haar vreemde ervaring. Haar ouma lag en sê: “Miskien het jy ‘n besoek gekry van die spook van Rietdal.” “Ag, ouma daar is tog nie rêrig ‘n spook nie.” Haar ouma lag net geheimsinnig en verdwyn uit die kombuis uit. Sy voel effens gekwets dat haar ouma dink dis ‘n grap en besluit om die aand self ondersoek in te stel. As haar ouma haar nie wil help nie sal sy self die spook van Rietdal vastrek. Die aand het egter gekom en gegaan sonder dat daar weer iets gebeur het. Dit was egter die volgende aand dat die moles weer begin het. Jenny het net aan die slaap gehoor toe die woorde haar weer begin koggel: “Jy kan nie wegkruip nie. Jy kan nie weghardloop nie.” Sy het saggies opgestaan en die donker gang afgesluip. Dit het geklink of die woorde van die kombuis af kom. Jenny staan ‘n oomblik stil in die donker kombuis. Daar is egter niks nie en vas oortuig dat als haar verbeelding is skakel sy die lig aan en stap sy na die kraan om vir haar water in te gooi. Skielik word sy yskoud toe daar ‘n hand op haar skouer is. “Jy kan nie wegkruip nie. Jy kan nie weghardloop nie.” Die woorde is uittartend en haar hart klop in haar keel. Daar is geen wegkomkans nie. Sy is vas. Haar asem kom hortend oor haar lippe en sy draai stadig om. Sy verwag half om ‘n verskriklike figuur met rooi oë en ‘n bose gesigsuitdrukking te sien, maar wat sy sien is veel erger. ‘n Figuur in ‘n blou kleed wat onbeheersd giggel. “Ouma!” “Dink jy nog steeds Rietdal is vervelig?” “Miskien Rietdal, maar defnitief nie ouma nie!” Jenny wil eers kwaad raak omdat haar ouma haar so om die bos gelei het, maar sy lyk so komieklik dat Jenny net kan lag. Ai, haar ouma darem!

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kinderverhaal/n-verrassing
Marthie-Lize Thomas

Lees asseblief my bydraes en lewer gerus kommentaar-positief of negatief-op die ou einde is dit hoe ons leer. Skrywers moet voortdurend daarna streef om hul talent te slyp en hulle skryfstukke te verbeter. NS-Ek behou kopiereg op al my skryfstukke



Totale stukke publiseer: 40
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 44