Op Woes.co.za onder Jeugverhale

Saphira en die Biblioteek onder die Berg

Cian het besluit om by hulle te bly na die hele eenhoring-en-dwerg-ding. Eolande, natuurlik, is baie opgewonde daaroor. Jade, soos katte maar is, is ongeërg. Saphira daarenteen voel omgekrap. Sy weet daar’s nog baie wat hy haar moet leer oor hoe ander Feë hul towerkragte gebruik, maar dit voel amper asof hy haar oppas na die hele kabaal met haar ongehore hoofpyn en die dwerge wat haar nie meer vrees nie.
Sy het nie soveel verander nie. Haar hondetrop het haar wel uitgeskop nadat sy ‘n Feëtjie Kat as ‘n mentor verwelkom het, maar sy is steeds ‘n magtige Feëtjie Hond.
Tog het die dwerge vir haar gelag.
Sy kyk op na die ander wat besig is in die biblioteek. Die huiskabouters maak skoon; Jade lê uitgestrek voor die vuurherd; Cian en Eolande gaan deur die nuutste boeke, boekrolle en tapisserieë wat hy daardie week aangeskaf het. Saphira loop weg, dieper die biblioteek in waar dit net een vlak is wat ver in die berg in strek.
Dis nie so helder verlig soos die drie verdieping deel waar die ander besig is nie, maar dis privaat en stil. Perfek vir haar om oor als wat verloop het te dink.
Die leë hout-en-steen rakke lyk hartseer-verlate. Saphira weet dat hulle nog nooit gevul was nie, maar hulle lyk steeds asof hulle leemtes gevul moet word.
Sy skud haar kop en loop verder.
Met haar draai terug, sien sy iets wat sy seker is nie vroeër daar was nie.
‘n Skildery van jong Feëtjie Honde, meeste nog nie eens ‘n jaar oud nie, wat speel op ‘n oranje-bruin veld met vlamrooi bome agter hulle.
Nostalgie klem haar hart. Die skildery laat haar aan haar eie kinderjare dink saam met haar tweeling sussie. Dit was verskriklik lank gelede… Tog, op daardie oomblik voel dit asof dit net gister was.
‘Als okay?’ vra Cian skielik agter haar.
‘Het jy dit gebring?’ vra sy sonder om om te kyk.
‘Nee.’ Hy klink verbaas.
‘Dit was nie vroeër hier nie,’ sê Saphira.
‘Hoe het dit dan hier gekom?’ vra Eolande.
Jade kom nader gestap en bestudeer die skildery.
‘Dalk die huiskabouters?’ sê Cian onseker.
Saphira kyk skerp na hom. Hy was ‘n Fee wat nooit onseker oor enigiets is nie.
‘Nee. Dis ‘n poort na Feërie,’ sê Jade met sekerheid.
‘Wat?’
‘Hoe?’
‘Óf watookal effekte in die grond agter gebly het na wat die dwerge gedoen het, het hierdie poort en skildery gevorm. Óf dis die werk van ‘n ander Fee.’
‘Soos my pa?’ vra Eolande in ‘n klein stemmetjie.
Saphira voel lus om te grom. Behalwe vir die een middag na haar ma se dood amper ‘n jaar terug, het Eolande se pa nie weer moeite gedoen om kontak met haar te maak of haar te kom sien nie. Die Feëtjie Hond weet hoe dit haar beskermling pla.
‘Wie weet? Ons sal moet ondersoek instel,’ sê Cian diplomaties.
‘Kan ek saam kom?’ vra Eolande.
Saphira kners op haar tande. Sy sal liewers nie vir Eolande wil saam vat die onbekende in nie, maar as sy nee sê dan is sy weer die boef. Veral met Cian wat nie reguit gesê het dat net ‘n baie sterk Fee – wat Eolande se pa nie is nie – so ‘n poort kan skep nie.
‘Net as Cian en Jade albei ook gaan,’ sê Saphira.
‘Waarvoor wag ons?’ vra Eolande opgewonde.
‘Vir jou om ‘n mantel aan te trek. Jy weet nie wat aan die ander kant wag nie,’ sê Saphira.
Eolande hardloop weg na haar kamer wat amper aan die ander kant van die groot kasteel is.
‘Jy kon altyd net vir haar een opgetower het,’ sê Cian.
‘En jy kon altyd net eerlik met haar gewees het,’ kap Saphira terug.
‘Genoeg, julle twee,’ sê Jade ernstig.
‘n Gesuis laat Saphira na die skildery kyk. Dit laat haar sidder.
‘Eolande kan nie alleen gelos word nie. Maar sy kan ook nie deur hierdie poort gaan nie,’ sê Jade.
Saphira stem saam.
‘Iemand moet hierdie ding bestudeer,’ sê Cian.
‘Nie alleen nie,’ sê Jade.
‘Wel ek en jy kan nie saam dit doen nie,’ sê Saphira vir die kat.
‘Ek stem saam. Cian en jy moet gaan.’
‘Wat? Ek weet dan niks hiervan af nie,’ sê Saphira en beduie na die skildery.
‘Presies. Dit sal goeie ervaring vir jou wees,’ sê Cian.
‘Gaan jy okay op jou eie met Eolande wees? Sy gaan omtrent ‘n aanval kry wanneer jy haar vertel sy kan nie gaan nie,’ sê Saphira bekommerd.
‘Gaan. Ek kan een half-Fee meisie op my eie hanteer. En sy sal veilig wees. Kyk na mekaar,’ sê Jade ernstig.
‘Hoe maak hierdie poort oop?’ vra Saphira vir Cian.
‘Siem-sa-la-biem.’
Iets aan die towerspreuk voel nie reg vir Saphira nie, maar die skildery skuif oop en ‘n lang tonnel wat diep onder die berg ingaan word geopenbaar.
‘Geen vuur,’ sê Saphira terwyl sy die donker tonnel betrag.
‘Geen vuur,’ stem Cian saam.
Hulle albei weet dat vuur net aandag sal trek van goed wat hulle liefs wil vermy.
Saphira asem diep in voordat sy haar eerste tree gee. Sy hoop dat alles goed sal verloop in haar afwesigheid.

Die tonnel was lank en donker en koud. Saphira kan voel dat die tonnel met towerkrag gemaak is. En met wat op die skildery voor dit geverf was, het sy ‘n goeie idee waarheen die tonnel lei. Wat sy nie kan uitwerk nie, is hoekom dit gemaak is. Hopelik lê die antwoord aan die einde van die tonnel.
Met haar honde-visie kan sy sien dat die tonnelmure van verskillende lae gemaak is. Hoe dieper hulle die berg ingaan, hoe meer kleur-strepe meng in met die wit kalk en swart steenkool en ander bruin kilp.
As dit nie was dat hulle op ‘n misie na die onbekende was en nog moet uitwerk hoe dit gebeur het nie, sou sy langer gevat het en meer aandag aan die tonnel deur die berg gegee het.
Die helder lig laat Saphira haar oë vernou. Sy raak gewoond aan die lig hoe nader hulle aan dit beweeg.
Saphira is nie juis verbaas om haar vorige blyplek aan die ander kant van die tonnel te sien nie. Wat haar wel verbaas is dat daar nie alreeds wagte daar gestel is nie.
Stil knik sy en Cian vir mekaar en beweeg deur die groen bosse na waar die koningin van die Feëtjie Honde se kasteel is.
Amber het ‘n paar veranderinge teweeg gebring sedert Saphira laas daar was. Maar dit was nie genoeg om die plek onherkenbaar te maak nie.
Hulle wag in Amber se kamer vir haar. As haar sussie nog dieselfde is, sal sy nie enigiemand in haar kamer toelaat nie.
Saphira en Cian wag nie lank nie. En haar sussie stel haar nie teleur nie: sy’s alleen.
‘Julle twee kan maar uit kom,’ sê Amber rustig.
‘Hoe’t jy geweet?’ vra Saphira verbaas.
‘Net een Feëtjie Hond sal met hóm in my kamer wegkruip. Buitendien, ek kon nog altyd voel as jy naby is, suster.’
‘Jy’s nie kwaad nie?’ vra Saphira versigtig.
‘Nee. Ek verstaan hoekom jy doen wat jy doen. En solank niemand anders ons sien nie, kan jy bly so lank soos wat jy wil.’
‘Het jy die nuwe poort gesien?’ vra Saphira haar sussie.
‘Ja. Dit het my onrustig. Maar voordat ek ondersoek kon instel, toe voel ek dat julle oppad is.’
‘Hoekom was daar geen wagte?’ vra Cian.
‘Sodat julle ongesiens kon deurkom. Al my onderdane is verbied om naby dit te kom.’
‘Weet jy hoe dit gevorm het?’
‘Nee. Maar ek kan uitvind. Wag hier.’
Dit lyk asof Cian mediteer. Saphira sit en wag rustig – sy wil nie beweeg en dalk iemand agterdogtig maak nie. Vir wat soos ‘n ewigheid voel, bly hulle in die koningin van die Feëtjie Honde se slaapkamer.
Die deur gaan oop en toe.
‘Ek weet wat gebeur het,’ sê Amber met ‘n uitdrukking wat wissel tussen opwinding en walging.
Cian maak sy oë oop en Saphira weet hy luister aandagtig.
‘Ek het twee van die oudste Feëtjie Honde ontbied om die tonnel te ondersoek. Hulle mag nie ingegaan het nie. En hulle het nie nodig gehad om in te gaan nie.’
‘Wat het hulle gevind?’
‘Dat die dood van ‘n eenhoring in ‘n berg in die mense-wêreld baie towerkrag vrygelaat het. Die poort is ‘n resultaat daarvan.’
‘Dit was hartseer, ja.’
‘Wat my wel opgewonde het, is dat die poort nie enige newe-effekte het nie.’
‘So dit kan bly?’
‘En ons twee kan mekaar in die geheim ontmoet,’ sê Amber met oë wat blink.
‘Die poort kan misbruik word,’ sê Cian.
‘Daarom het ek klaar my onderdane beveel om nie ‘n woord te rep oor die poort of dit te gebruik nie.’
‘En ek is nie meer jou onderdaan nie,’ sê Saphira hartseer.
‘Jy was nooit nie. Jy was – en is en sal altyd wees – my suster.’
Hulle groet mekaar en Saphira en Cian keer terug na die biblioteek in die mense-wêreld.

Met die intrapslag weet Saphira dat iets verkeerd is. Die biblioteek is gevul met ‘n koue blou lig. ‘n Huiskabouter probeer verby hulle hardloop en word skielik met ‘n deursigtige tou teruggetrek.
Verbaas en op hul hoede, beweeg die twee Feë deur die biblioteek.
Verbasing is nie ‘n sterk genoeg woord om te beskryf wat Saphira voel toe sy sien wat die rede vir die onheil is nie.
Eolande. Haar hare staan wild en donker om haar kop soos ‘n onheilspellende stralekrans. Daar’s selfs blou strepe in haar hare. Sy dra ‘n donker blou en swart rok wat Saphira laat dink aan ‘n gevaarlike, mooi heks.
‘Sy’s nie oorgeneem nie,’ sê Cian sag.
Saphira glo hom; hy’t ‘n manier om deur alle skanse direk in enige mens, Fee of dier se siel te kyk. Dis iets wat sy bittergraag wil leer.
Hulle tree terug in die skaduwees. Saphria druk haar pote styf teenaan die biblioteek vloer en ‘n muur. Sy kan die towerkrag voel vloei deur die steen. Sy maak haar oë verbaas oop. Buiten die nuwe poort, het die vrygestelde towerkrag nog een verrassing vir hulle: die biblioteek – en meeste van die berg – is gevul met dit. Wat beteken die biblioteek kan wondere doen. Soos om Eolande se slapende towerkragte wakker te maak en haar baie sterker te maak as wat sy ooit op haar eie sou wees.
‘Haar donkerte voed haar towerkragte,’ sê Saphira verbaas.
‘Sjuut! Nie so hard nie,’ fluister Cian.
Die Feëtjie Hond kan nie glo dat sy so dig was dat sy nie besef het dat Eolande skuldgevoelens oor haar ma se dood koester nie.
‘Wat’s die plan?’ vra Jade sag. Sy het saggies op hulle opgesluip.
‘Ons moet haar uit die biblioteek en onder die berg uit kry,’ fluister Saphira.
Cian gebruik handgebare om hulle te wys waar om te gaan. Die hond en die kat rol hul oë.
Vinnig takel hulle Eolande en sleep en stoot haar al skreeuend by die biblioteek uit.
Eers toe hulle ver in die gang af is en nie meer onder die berg nie, verlaat die wildheid haar oë. Haar rok keer terug na sy oorspronklike snit en lila kleur. Selfs haar hare lyk weer normaal.
‘Wat het gebeur?’ vra sy bang.
‘Nie veel nie,’ sê Jade, ‘behalwe dat jy opgetree het soos ‘n wafferse bose heks.’
‘Wat?’ vra Eolande ontstoke.
‘Dis die berg. En die biblioteek. Volbloed Feë word nie geaffekteer nie. Maar jy…’ Saphira skud haar kop. ‘Jy kan nie weer onder die berg of in die biblioteek gaan nie.’
Huiskabouters skarrel bang by hulle verby. Eolande kyk hulle bekommerd agterna.
‘Dalk kan ons ‘n nuwe biblioteek bou? ‘n Kleiner een in die kasteelmuur wat in volle sonlig is?’ vra sy bibberend.
Saphira voel nog die koue van Eolande se towerkrag en kan haarself net indink hoe haar beskermling moet voel. Sy sug verlig dat die half-Fee meisie ingegee het.
‘Natuurlik kan ons. Cian sal met die dwergies reël.’
Hy knik gelate. Jade lag asof sy nog nooit iets snaakser gehoor het nie.
‘Ons sal seker die biblioteek afgesluit moet hou van die res van die kasteel?’ vra Eolande ernstig.
‘Asook die vertrekke wat in die berg is,’ sê Cian.
‘Praat van gevolge dra vir ander se aksies,’ sê Eolande grimmig.
‘As jy ‘n kat was, het jy nou na jou wraak uitgesien,’ sê Jade met ‘n glimlag waar al haar skerp tande wys.
‘Genoeg,’ sê Saphira. ‘Kom ons gaan kyk of ons nog huiskabouters het. Anders kan jy altyd leer hoe om kos te maak, Jade.’

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kinderverhaal/saphira-en-die-biblioteek-onder-die-berg-projek-berge-2015-07-22-tot-2015-08-04
Ronel Janse van Vuuren

Ek skryf graag oor die Feë – veral oor die avonture van Saphira die Feetjie Hond. Meesal in die vorm van kortverhale en kort kortverhale (vonkfiksie), alhoewel die digter binne my ook maar kop uitsteek so nou en dan. Partymaal raak ek ernstig en skryf ‘n rubriek oor iets wat ons almal raak. Ander kere deel ek ‘n bietjie nuus oor myself met my Woes-familie in ‘n gorrelstukkie.

Ek verwelkom altyd kommentaar op my skryfwerk. Ek deel ook vrylik advies uit oor skryf – ek probeer help waar ek kan met goedbedoelde advies wat ek ook al telkemale by ander gekry het.

Lekker lees.


Ek kan gevolg word op twitter:
@miladyronel

En ek het ook 'n blog:
http://ronelthemythmaker.wordpress.com

'n Woord op kopiereg:
Die oomblik wat jy iets neerskryf is dit dadelik onderhewig aan kopiereg. In enige medium. Dus is al my werke onderhewig aan kopiereg omdat ek dit geskryf het.
Dus geen duplisering van enige van my werk sonder my skriftelike toestemming nie, asseblief.



Totale stukke publiseer: 67
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 179