Op Woes.co.za onder Jeugverhale

Saphira in die Donker Woud

Die stilte van die woud omvou die swart-en-bruin Feetjie Hond. Die baie geraas wat die Feë en mense in Castle Campbell maak gaan haar nog mal dryf.
Sy kan die mos en varings ruik onder die dennenaalde wat soos fyn reën van die hoë bome af sif. Sy weet dit beteken dat die wind hoog deur die bome waai en elke naald wat effens los is laat val na die grond.
Dis donker waar sy staan so diep in die woud. Dis min dat sonlig ooit die woudvloer raak, tog groei varings welig hier. Saphira kan die toorkrag deur die woud voel vloei. Nuuskierig, probeer sy die oorsprong daarvan vind. Dit kan lank vat, maar dis nie asof enigiemand haar nodig het nie.
Eolande is veilig saam met haar man. Tussen hom en die ander krygers en al die Feë wat nou in Eolande se kasteel woon, is die jong vrou miskien veiliger as wat sy ooit onder Saphira se beskerming was.
Sy sug hartseer. Sy’s bly dat Eolande liefde gevind het. Sy wens net dat sy nie so nutteloos gevoel het nie.
Saphira se hare rys en sy kom tot stilstand. Iets is verkeerd in die woud. Dis té stil. Die toorkrag wat sy soek, bewe onbedreigend deur die grond. Die Feetjie Hond kyk op na die bome.
Gladde, grys-bruin stamme het merke op asof iemand die bome met sambokke bygedam het en die bas soos mens-vel gereageer het. Die growwe, donkerbruin stamme het dieselfde merke, net nie so opvallend nie.
Saphira voel koue woede in haar. Net toorkrag wat deur Feë geoefen word kon dit veroorsaak het.
Dit kon iemand van Castle Campbell gewees het. Sy kan nie die moontlikheid uitsluit nie, maar sy twyfel. Daar’s geen rede vir enige van daardie Feë om hul toorkrag sterker te maak nie. Nee, wie-ook-al hierdie skade verrig het is nog in die woud.
Saphira assesseer die skade. Elkeen van die massiewe bome het net een beseerde plek. Asof dit ‘n toets was… Met dié besef, snuif sy die lug. Boomsap is orals, maar net één boom ruik asof dit uitbloei. Sy hardloop so vinnig soos net ‘n Feetjie Hond kan.
‘n Boomnimf, bleek groen selfs in die donkerte van die woud, kniel voor ‘n boom in pyn. Die groot sparreboom se naalde bewe soos pyn deur dit skiet. Sap loop in stadige strome uit die growwe donkerbruin bas. Van die takke hang pap, asof dit te veel energie verg om hulle in posisie te hou.
Saphira loop versigtig nader aan die boomnimf.
‘Wie het dit aan jou gedoen?’ vra sy sag.
‘Donker Feë,’ prewel die nimf.
Saphira knik en lek die boom waar meeste van die beserings is totdat dit nat van haar spoeg is.
Die nimf haal skerp asem.
Die Feetjie Hond se spoeg blink silwer in die halflig en versprei na al die kleiner beserings. Saphira kyk hoe haar wonderlike spoeg die boom genees.
‘Aits, dis goed om ek te wees!’ dink sy met ‘n selfvondane glimlag.
Die boom kry sy driehoek vorm terug en die nimf staan en kyk met verbasing na haar boom en dan na Saphira.
‘Dankie, magtige Feetjie Hond,’ sê sy opreg.
‘Plesier. Weet jy wie hierdie donker Feë is en wat hul planne is?’
‘My oë was toe van die pyn, maar ek weet hulle is van plan om ‘n kasteel vol ander Feë binne te gaan teen sononder en dan almal dood te maak soos die volmaan sy toppunt bereik.’
‘Pas jouself en die ander bome op,’ sê Saphira voordat sy loop. Sy’t nodig om te weet presies watter Feë sy mee te doen het.
Op haar eie in die stil woud, luister sy na die bome. Hulle weet presies waar die Feë is wat sy soek. Hulle fluister kwaad oor die boosheid wat hul woud binne gekom het.
Stil soos ‘n spook hardloop sy tot waar die bome haar vertel het om te gaan.
Klein mannetjies met bloedrooi baadjies en regterpalms net so rooi, maak swaarde en messe skerp met rotse wat gemaak is vir die doel. Sy sien hoe hulle die rotse in boomsap week voordat hulle verder die swaarde skerp maak.
Saphira sidder. Die rooi vlekke op hul hande is die bloed van hul vyande wat hulle in gevegte laat sneuwel het. Sy’t nog nooit van die ly ergs gehou nie. En hulle is nie alleen nie.
Ander wesens wat nie veel groter as die ly ergs is nie, politoer wapens wat ru lyk: knotse met en sonder skerp stukkies wat bo uitsteek; byle wat vlymskerp skitter; spiese wat skerp is al lyk dit nie of dit reguit gegooi kan word nie. Sy weet dat hulle die boomnimf se boomsap gebruik as politoer.
Selfs in die donkerte kan sy hulle bruin vel en geel oë sien. Haar maag draai. Van hulle het krokodil gesigte met dun sterte wat eindig met ‘n pylkop. Ander het voël bekke en pote. Meeste het horings en punterige ore.
‘Goblins,’ dink sy grimmig. Die grootste boewe in Feërie is van plan om háár huis aan te val. So stil soos sy daar aangekom het, verlaat sy hulle en sommer die hele woud.
Terug op die heide, kyk sy op na die son. Dis al na middagete. Op haar vinnigste hardloop sy na die kasteel wat half in die berg is. Sy weet presies wat om te doen om al haar mense en Feë veilig te hou.

‘Almal moet uit die kasteel uit. Dadelik!’ bulder Saphira toe sy amper by die hek is.
Niemand stry met haar nie. Hulle haas om te doen wat sy sê.
‘Wat’s fout, Saphira?’ vra Eolande toe almal buite die hek staan.
‘Is almal uit?’ vra die Feetjie Hond.
‘Ja,’ sê Angus. Almal knik hul koppe.
‘Gevaar. Bly net hier. Ek gaan die kasteel se verdedigingswerke sterker maak.’
Sy vat aan die poort se steunpilaar, haar swart naels krappend in die steen, en maak haar oë toe. Daar’s nie ‘n towerspreuk wat kan doen wat sy wil hê nie. Maar elke steen, elke korreltjie sand en die lug wat deur die oorspronklike towerkrag van die kasteel vloei kan wéét wat sy verlang as sy genoeg toorkrag deurstuur saam met haar denke.
Sy tree terug. Sy kan sommer voel hoe die nuwe beskerming toorkrag brom deur die lug.
‘Dis gedoen,’ sê sy tevrede.
‘Wat is gedoen?’ vra Eolande terwyl sy met vernoude oë na die kasteel staar.
‘Slegs as jy of Angus – Laird Campbell – iemand die kasteel binne nooi kan hulle in gaan.’
‘Sonder ‘n uitnodiging?’ vra Angus nuuskierig.
‘Nie seker nie. Ek dínk verassing, maar dit kan verplasing ook wees,’ sê Saphira met ‘n skewe glimlag.
‘Nooi ek hulle een vir een in?’ vra Angus.
‘Ja. Gaan staan julle twee in die poort, dan stuur ek die goegekeurdes deur.’ Angus knik. Saphira weet hy verstaan dat sy dink iemand het hulle verraai.
Hamish, sy vrou Maudé en hul babaseun is voor in die ry. Saphira luister diep na elkeen se hart – selfs die baba s’n. Sy knik en laat hulle verby.
‘Ek, Laird Campbell, nooi jou – Hamish – in Castle Campbell in,’ hoor sy Angus sê. Sy’s bly sy hoef nie verder te praat nie. Om na ander se harte te luister soos Cian haar geleer het, vat baie konsentrasie.

Teen die tyd wat skemer lang skadu’s oor die heide en selfs die kasteel maak, het Saphira na elkeen van Castle Campbell se bewoners se hart geluister. Almal is ingenooi – sy ook. Sy’s bly daar’s nie ‘n verraaier nie.
‘Wat nou?’ vra Angus langs haar. Sy’t hom nie op die kasteeldak verwag nie.
‘Nou wag ons. Hulle gaan nou probeer in kom.’
‘En wat is hulle plan?’
‘Moordparty by maanlig.’
‘Gelukkig het ons jou.’
‘Jy sal versigtig moet wees wie jy innooi – jy kan hulle nie ongenooi maak nie.’
‘Ek sal hierdie geskenk van jou nie versmaai nie.’
Saphira knik. Sy kan beweging sien buite die woud.
Die goblins en ly ergs skarrel oor die heide na Castle Campbell. Toe die Feetjie Hond seker is dat almal van hulle daar is, vang sy hulle met ‘n towernet. Hulle probeer los kom, maar hulle is hulpeloos soos enige prooi in ‘n vangnet.
Saphira konsentreer hard op hulle. Oomblikke later verdwyn hulle.
‘Waarheen het jy hulle gestuur?’ vra Angus verbaas.
‘Na die Feë Koning. Hy hanteer die boewe van Feërie. Danksy die nota wat saam met hulle in sy troonkamer gaan verskyn, gaan ons nie sommer weer probleme van daardie kant van Feërie hê nie.’ Sy glimlag selfvondaan.
‘Aits, dis goed om ek te wees!’ dink sy terwyl die donkerte voor die eerste sterre van die nag die berglande insluk.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kinderverhaal/saphira-in-die-donker-woud-projek-bome-2015-08-05-tot-2015-08-18
Ronel Janse van Vuuren

Ek skryf graag oor die Feë – veral oor die avonture van Saphira die Feetjie Hond. Meesal in die vorm van kortverhale en kort kortverhale (vonkfiksie), alhoewel die digter binne my ook maar kop uitsteek so nou en dan. Partymaal raak ek ernstig en skryf ‘n rubriek oor iets wat ons almal raak. Ander kere deel ek ‘n bietjie nuus oor myself met my Woes-familie in ‘n gorrelstukkie.

Ek verwelkom altyd kommentaar op my skryfwerk. Ek deel ook vrylik advies uit oor skryf – ek probeer help waar ek kan met goedbedoelde advies wat ek ook al telkemale by ander gekry het.

Lekker lees.


Ek kan gevolg word op twitter:
@miladyronel

En ek het ook 'n blog:
http://ronelthemythmaker.wordpress.com

'n Woord op kopiereg:
Die oomblik wat jy iets neerskryf is dit dadelik onderhewig aan kopiereg. In enige medium. Dus is al my werke onderhewig aan kopiereg omdat ek dit geskryf het.
Dus geen duplisering van enige van my werk sonder my skriftelike toestemming nie, asseblief.



Totale stukke publiseer: 67
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 179