Op Woes.co.za onder Jeugverhale

Tomie en die Agterstevoorbende Hoofstuk 7 - Heerlike dag

Na ontbyt, die volgende dag. het hulle die strate ingevaar om die omgewing te verken. Dit was wonderlik om al die ware te sien wat in die winkelvensters uitgestal word. Elke winkel verkoop net een soort artikel – nie soos op hul dorpie waar daar net een winkel is wat alles aanhou nie. Daar is klerewinkels, skoenwinkels, meubelwinkels en selfs speelgoedwinkels.

Tomie druk sy neusie plat teen die venster om die speelgoed te bewonder. Hy het nog nooit ‘n winkelspeelding gehad nie. Oupa het vir hom gewys om klei-osse te maak en hoe om hulle voor ‘n visblik in te span – dit was sy speelgoed. Tomie se ma moet hom letterlik aan sy arm sleep om hom van die venster af te kry.

Oom Arno koop die oggendkoerant. Die hoofopskrifte gaan oor die arrestasie van die struikrowers wat al vir jare deur die gereg gesoek word. Daar word weer spottenderwys na hulle as die Agterstevoorbende verwys.

* * *

Die Baas gooi die oggendkoerant met misnoeë op die tafel neer. “Hulle maak ‘n bespotting van ons. Ek sal dit nie duld nie. As hulle so aanhou sal ek nooit weer iemand kry om vir my te werk nie. Ek kan nie begryp hoe Gert-hulle toegelaat het dat hulle gevang word nie. Een van julle moet kyk of hy vir Gert te siene kan kry en hom uitvra oor wat daar gebeur het. Die ander een moet die gesin wat hulle ingebring het, agtervolg en probeer om meer van hulle doen en late tewete te kom. Ons ontmoet weer vanaand.”

“Doors, volg jy hulle, dan gaan kyk ek of ek vir Gert te siene kan kry.”

“Reg so, Dolf.”

“Net voor jul gaan, is julle seker dat al die jokkies vir Saterdag se perdewedren omgekoop is? Ons gaan ‘n groot klomp geld op Semel maak. Sy wedprys is veertig teen een. Hy word geen kans gegun nie – hy is ‘n totale buiteperd!”

* * *

“Ek is nou dors. Kom ons gaan drink iets by daardie kafeetjie op die hoek. Daar is tafels en stoele onder sambrele. Dit sal lekker wees om in die buitelug te sit.” sê Arno en Esmè stem saam.

Arno en Esmè bestel vir hulle tee en vir die kinders elkeen ‘n melkskommel. Dit was Tomie en Katryn se eerste melkskommels en mens kon die genot op hul gesigte sien! As Tomie op daardie oomblik moes kies sou botter en soetpatats ‘n baie swak tweede en derde plek teenoor die melkskommel ingeneem het!

Hulle merk geen onraad as ‘n welgeklede heer onder ‘n sambreel langs hulle plaasneem en hom oënskynlik dadelik in sy koerant verdiep nie.

Kraai het hom stilletjies op ‘n vensterbank oorkant die straat tuisgemaak. Tomie wat op die uitkyk vir Kraai was, het hom dadelik raakgesien. Dis goed om te weet dat hy in die nabyheid is.

* * *

Na middagete is die kinders aangesê om ‘n bietjie te gaan rus. Oom Arno en Tomie se ma wil gaan reëlings tref vir die belegging van ‘n gedeelte van haar geld by ‘n bank wat ‘n baie bekende naam het. Arno is baie seker dat ‘n belegging daar veilig sal wees.

Katryn en Rika het sommer gou aan die slaap geraak, want die oggend se rondloop het hulle heeltemal uitgeput. Tomie het toe die geleentheid benut om met Kraai te praat.

“Ek is bekommerd oor my ma-hulle, Kraai. Daar is al eenmaal ‘n poging aangewend om haar te beroof. Hou hulle asseblief dop.”

Kraai vlieg op, want vanwaar hy sit, het hy hulle nou net om die draai sien verdwyn. Hy is haastig om hulle weer onder oë te kry.












Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kinderverhaal/tomie-en-die-agterstevoorbende-hoofstuk-7-heerlike-dag
Freek struwig

'n Oupa wat 'n rekenaar vir sy verjaardag gekry het en nou deur middel van hierdie medium, met genot, sy neus insteek waar dit nie hoort nie! "Ek hou ook van ritme en baie van rym - van stories gesuig so reg uit my duim - van Goeie Fee se manewales en Toom Towenaar se krag bo alles." "Daar is ook nog ons kindertjies klein - ogies so mooi en hartjies so rein - wat in hul drome avonture beleef, waarvoor ons grotes sal sidder en beef!" "Daarom is hierdie 'n literêre geheim - ek skryf net my stories bloot vir die rym - en hoop dat die kleintjies dit sal geniet, terwyl dit hul moeders ontspanning sal bied!"



Totale stukke publiseer: 216
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 263