Op Woes.co.za onder Kortverhale

Skoonmaak

“Ek is heeltemal opgefok deur daardie spul,” hy huil soos ek nog nooit iemand sien huil het nie.
“Ek ken dit,” lieg ek “daardie gevoel wat jy kry dat die lig op die ou end maar net die duisternis aanbid.”
“Jy dink jy lieg vir my,” hy vee sy neus met ’n sakdoek af “maar jy doen nie.”
Die nag is vreemd koud en ’n abnormale stank vul die vensters van my siel. Kinders met vaal deurweekte uniforms vertrap ou grafte en die mensdom swyg.
“Dit was in die kelder gewees,” hy kyk na my en ek keer na binne in myself “jy weet mos – daardie lang gang waar die mense altyd soos ’n spul verflenterde breinselle in ’n gaskamer giggel.”
“Ja, ek onthou iets daarvan,” ek steek ’n sigaret op. My oog vang vir ’n oomblik die kelnerin se sexy agterstewe.
“Hy het daardie dag weer gewaag om daardie poeslike grynslag op sy vieslike gesig te plak…” sy hande bewe.
Ek neem sy hande in myne. Ek lek die laaste ou krummels van die dood se nageboorte van sy vingerpunte af. Daarna plaas ek sy hande terug op die tafel, sodat dit die Jesus saves slogan wat in tipp-ex geskryf is versteek.
“En toe?” vra ek met ’n sagte glimlag.
“Hy het my soos oudergewoonte rondgestamp en geskree ‘slaan my pisgesig…toe komaan!’”
Ek steek sy sigaret aan en bestel vir hom nog ’n mineraalwater. Hy rook lank in stilte, druk die halfgerookte sigaret dood en vervat dan sy laaste oomblik voor die Groot Val.
“Ek het soos gewoonlik geretireer en aan die bewe gegaan…jy weet mos – daardie gevoel waarvan Koos Prinsloo skryf…daardie jy-raak-geïsoleerd…”
“En-dan-wil-jy-alles-opfok,” voltooi ek die sin.
“Juis, daardie…” hy begin weer hartverskeurend te huil.
“Vat jou tyd” sê ek sag.
“Elk geval,” hy vee weer sy neus af “iets het net binne my gesnap…”
“En toe?”
“Toe skiet ek hom,” sy wilde staar sny deur my siel. Vir ’n oomblik sterf die kinders met die vaal en deurweekte uniforms stuiptrekkend op die grafte en die mensdom sug droewig.
“Ek weet dat jy weet dat die fynere detail opgeteken moet word in my leemtes,” fluister ek “waar het jy hom getref?”
“Dit was een skoot. Net een. Dit het die kant van sy keel getref. Sy regter nekslagaar morsaf,” hy tik met sy vuis op Jesus saves. Die wit tipp-ex letters neem skielik ’n vreemde rooi gelaat aan.
“Hy het sy keel vasgegryp. Die bloed het tussen sy vingers deur gespuit, sulke dun straaltjies. ’n Vreemde diep roggelgeluid het uit sy mond gekom. En toe slaan hy net daar neer.”
“Dead as a doornail,” merk ek droog op en sluk my laaste bietjie bier af.
“Hy het nog so effens geruk-ruk, maar sy vlammetjie het gekwyn…whoops, en weg was hy…”
“Jy het nog nie aan jou windpompsjerrie geraak nie,” ek beduie na die mineraalwater wat soos ’n weeskind op ’n treinstasie staan en wag.
Hy skud net sy kop, staan op en sê “kom ons fokof…”
“Ja,” sug ek terwyl ek ’n spul note in die senuweeagtige kelnerin se hande stop.
Net voor ons by die deur uitstap, roep die kelnerin agter my aan “meneer!”
Ek swaai om.
“Jy het jou selfoon vergeet.”
“Nee,” lag ek “dis my vriend hier s’n.”
“Maar meneer was heel aand alleen hier,” sy kyk my vraend aan.
“O, okay,” ek gryp die selfoon uit haar hande en gooi dit flenters teen die muur.
’n Dronk ou in die een hoek skree “Jesus saves!”.
Toe ek buite kom, loop ek in een van die kinders met die vaal en deurweekte uniforms vas. Hy stop ’n vuil lap en ’n emmer water in my hande en sê: “Maak skoon jou gemors, troep!”


© T. Fourie

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/145135-skoonmaak
Tertius Fourie

"There is in every madman a misunderstood genius whose idea, shining in his head, frightened people, and for whom delirium was the only solution to the strangulation that life had prepared for him". (Antonin Artaud)

Profielfoto: "gebreek" deur Tertius Fourie.

Ek behou kopiereg op al my skryfwerk en foto's.



Totale stukke publiseer: 143
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 329