Op Woes.co.za onder Kortverhale

'n Ope brief

Geagte _______


Ek wil jou vertel van iets uit my kleintyd…


Wagters het kom sê van ‘n dier in ‘n strik
en ek het saam met my pa veld toe gery.
Ons het hulle, na ‘n kort rukkie se gesoek
in die boonste kamp, redelik maklik gekry:
‘n koedoekoeitjie en haar eerste kalf.

Sy was gevang in die strik, ‘n wurgdraad om haar nek,
(ek ril as ek dink aan die droë skuim aan haar bek)
en die reuk van bloed en pyn en bang
het ‘n onsigbare mantel om en oor haar gehang.

Die kalf het by haar bene gelê, reeds gewond, een of ander roofdier het haar raakgebyt en net so gelos (die woede van ‘n ma is nie iets om mee te speel nie).

Sy was moeg gespartel: die draad het diep in haar nek ingebyt en haar laat hyg en snak na asem.

My pa het nadergeloop en geswets. Ons, nee, hy, kon niks vir hulle doen nie.
Hy het die R4 teen sy skouer ingeruk, die skoot het teen die berg opgedonder.
Die kalf…

Die koeitjie het net haar oë gerol, en sy het die reuk van nuwe bloed
en die nuwe reuk van dood in gesperde neusvleuels ingetrek.
Toe hang sy haar kop.
Sy het toegelaat dat my pa die draad van haar nek afknip terwyl rimpels mekaar oor die gladde vel op haar rug gejaag het.
Sy het haar kop laat sak tot by die kalf, geruiksnuif en toe gelek.
Die skoot het haar sag langs haar kalf laat neersyg.

My pa het gebulder en die magasyn met opeenvolgende vloeke in die lug in leeggemaak.
Hy het agter op die bakkie gaan sit, ek moes huistoe ry.

Ek het ‘n eed geneem om hierdie mense (en ek rek die definisie tot brekens toe) te jag omdat hulle my pa so gebreek het. (Ek het hom, voor toe, nog nooit so magteloos sien huil nie.)

Wat het dit met jou te doen?

Jy is ook soos ‘n bliksemse wilddief.
Jy het haar ook in jou strik gevang, saam met haar kalfie, en jy het hulle gemartel en gefolter en verkrag en verniel.

En toe raak jy moeg en skiet hulle soos diere.

Sy was twaalf, jou fokker! TWAALF! Jy het jou die reg tot haar liggaam en haar kindwees en haar lewe toegeien…
En toe skiet jy haar.

En nou kom jou teef van ‘n ma en sê
(sy wat jou kleintyd al dood moes lê
en die wêreld ‘n moerse guns sou doen)
dat sy asseblieftoggies wil hê
dat ons jou saam met hulle moet begrawe!

Askies? ASKIES? A-FOKKEN-SKIES?!

Haar moer, man!
Hoekom moet ons die Aarde beledig deur te verwag dat sy jou weer moet opneem en koester? Sy sal walg, dalk braak; daar waar jy lê sal NIKS ooit weer wil groei nie…
Jy moet verbrand word, man, iewers op ‘n hoop, saam met ander rommel.
Dit wat oorbly kan iemand iewers in ‘n naamlose garagekakhuis gaan wegspoel…

Jy het gemaak dat ‘n ma vandag haar dogter moet begrawe, ‘n oupa sy sterretjie.
Jy het gemaak dat my kind vandag langs ‘n oop graf moet staan en my vra hoekom, terwyl ek nie vir haar ‘n antwoord het nie.

My ma het my geleer dat mens nie moet swets nie, en NOOIT iemand vervloek nie… (Sorry, Ma, maar ek het reeds “fok” geskryf, so om vir hierdie sleg bliksem te sê dat ek hoop hy vrot in die diepste putte van die hel gaan seker nie erger wees nie.)

Vriendelike groete

________________

NS – jy moet bly wees jy is ook dood; as jy nie was nie, sou ek, met graagte, jou wou leer hoe om met pyn te vrek. Mense soos jy het my geleer wat diere is, en ek is nie bang om jou die dier in my te wys nie.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/162796-n-ope-brief-letsels
Ettienne J

Die foto van die dag:

Mauritanië: 51 grade in die skaduwee. Die is die laaste foto wat die kamera gennem het voor die lens gebrand het.


*********

My muse is 'n streng meesteres wat haar pond vleis oor en oor, tot sy tevrede is, eis.

Digkuns is vir my belangrik. Ek verpes spel-, skryf- en taalfoute, vandaar die onderstaande:

Non arse poeticae

Askies ek skryf nie bloot
prosa met tipografie nie
sou ek wou, kan ek ook
lang sinne met lomp woorde
en half gevorseerde rym akoorde
aanmekaarflans
en op weird
plekke afbreek.

Want ek had 'n HAT
en ander boeke
(oor Zen).

***
Askies as ek op tone trap.

En nog groter "Jammer" as jy wil hê ek moet die opsetlike foute hierbo regmaak.

***
My paspoort ('n dubbeldik een) raak nou regtig vol. Bly net weg van die wanindruk dat ek gaan vakansie hou of rus; Afrika, op haar rouste, is waar ek werk. So vergewe my asseblief as ek nie onmiddellik antwoord nie. Whaaifaai is vrek duur en - skaars in die bos.



Totale stukke publiseer: 29
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 98