Op Woes.co.za onder Kortverhale

As dit spook-spook gaan-2

Doef!

Ek skrik wakker met een groot slag. My slaapbeneuwelde verstand kan nog nie fokus op wat so pas gebeur het nie. Het ek gedroom? Wat was dit wat my wakker gemaak het? Stadig maar seker begin my brein fokus en ek kom tot verhaal. My oë, nog dik van die slaap, sukkel om oop te gaan. Dit is ‘n groot stryd tussen my lyf en my kop om te sê ek moet net weer wegraak in daardie salige rus. DOEF!

Ek voel veilig hier waar ek en Kietsie ons self kom tuis maak het en ‘n snoesige plek vir ons ingerig het. Iewers deur die nie-diggetrekte gordyne, speel die straatlig se lig teen ‘n gedeelte van my kamer muur. Ek vryf die slaap uit my oë en maak hul oop. My oë begin gewoond raak aan die omgewing, maar ek lê nog doodstil. Iets of iemand is hier saam met my in my woonstelletjie! Ek draai stadig om en bespied die kamer, maar sien niks ongewoons nie. Alles lyk nog net soos ek dit die aand gelos het voor ek gaan slaap het. Maar wat was daardie geluid?? DOEF DOEF!

Stadig swaai ek die duvet van my af en gooi my bene oor die rand van die bed. Ek staan so sag as moontlik op en loop na my japon toe en trek dit aan. Ek gaan beslis nie die vyand bibberend aanpak nie! Ek kyk rond wat ek in my kamer het en sien my skool hokkiestok, waar ek dit gegooi het gisteraand toe ek my kas probeer reg pak het. Dankie tog ek het die ding nog gehou, dink ek by myself. Ek klou die stok verbete vas en begin kat-voet beweeg na die deur.

In die gangetjie gaan staan ek eers stil. Die geluid kom van iewers voorentoe. Soos ‘n wafferse pro, hou ek my hokkiestok, gereed om wat ookal voorkom te verslaan. Ek trippe trappe trone op die bal van my voete vorentoe…verby die toilet en badkamer. Die kombuis is volgende en ek voel hoe my asem begin jaag en my hart sommer woes in my keel klop. Nou hou ek daai hokkie stok slag gereed. My neus kom eerste om die draai en dan die res van my. Ek bekyk elke dingetjie in die klein kombuisie, maar sien alles is nog in orde en netjies soos ek hou van my kombuis. DOEF! Nee, die geluid kom uit die eetkamer.

Ek beweeg nou sag, maar hou die stok reg… Jou simpel vroumens, as dit ‘n spook is, sal die ding mos nie werk nie!, dink ek amper hardop. Maar sê nou dis ‘n inbreker, redeneer ek met myself, dan kan ek mos hard slaan en hoop ek tref die vabond goed!

Ek beweeg nou in “stealthmode” tot op die hoek van die gangetjie. Ek druk my lyf teen die muur vas, haal ‘n slag diep asem om my hartklop te laat bedaar, wat nou woes klop asof ek en die hele wêreld daar buite dit kan hoor. Dis nou of nooit nie, sê ek vir myself in my gedagtes. Jy moet regmaak en hard slaan, maan ek myself. Een.. twee… drie! DOEF kom die geluid amper reg langs my.. so asof iemand klop om in of uit die kas te kom….ek klou daai stok nou so styf vas, my hande brand eintlik. Elke spier snaarstyf gespan en reg vir aksie. Ek beweeg met ‘n spoed om die hoek en gee een onaardse ninja gil en wil net slaan … maar daar is niemand voor my nie! Met die stok half in mid-air, staan ek verbaas. Dan laat sak ek die stok stadig en kyk in ongeloof voor my.

Kietsie het homself in ‘n ander bloedgroep ingeskrik. Sy ogies staar my stokstyf aan, hare pen orent en die bekkie so halfpad oop. Kompleet soos daardie advertensies waar iemand op ‘n kragdraad trap en alles vlieg op en jy sien net rook en sparks. Ek skrik so groot, want ek dog Kietsie het ‘n hartaanval gehad of dalk ‘n beroerte gekry met die dat ek hom so laat skrik het. Van pure skok hol ek na die kat en wil net CPR op hom begin toepas, toe die lewe weer deur die katliggaampie sypel. Ek sak net daar langs Kietsie neer en begin giggel van die skok. Na ons albei bedaar het van die skok, was dit nou my taak om vas te stel wat die geuild, wat eweskielik opgehou het, veroorsaak het.

Ek probeer in die half donker soek na iets wat ek nie weet wat om na te soek nie, toe ek weer DOEF hoor. Ek draai om, net om Kietsie te sien ‘n rubberballetjie met sy poot haak en dan die ding gehop te probeer kry, toe dit hard teen die kas vasrol en terug rol na hom toe. Hy kap-kap met sy een pootjie en daar hop die balletjie reg teen die kas vas. Die speletjie het hom natuurlik geamuseer en hy het ‘n hele ruk lank so gespeel.Van pure moedeloosheid, tel ek Kietsie op en vat hom saam kamer toe. Jou vabond, jy het my so groot laat skrik!, vermaan ek hom. In sy eie bedjie sit ek hom en klim terug in my bed. Kort voor lank, was ons albei droomland toe.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/as-dit-spook-spook-gaan-2
Jellytot

Hallo daar Woes-mensies
Ek is JELLYTOT

Ek is gebore in Kimberley, maar woon tans in NKZN - nee ek is ver van die see af :(.
My liefde vir skryf het begin toe ek nog op skool was. Moes 'n gedig in Engels skryf en ek doen sowaar die beste in my klas! En daar het die gogga my gebyt. Seker ook maar omdat ek 'n KREEF is. Sê mos die kunste is in ons bloed. Ek lief skryf

Toe ek begin werk het, het die gogga weer gebyt, maar was te besig en die skryftalent het dormant gaan lê. Eendag soek ek gedigte en land op WOES en nou kan ek nie genoeg kry nie. Jul werk inspireer my baie. Daar is baie van julle wie se gedigte ek in regte lewe sou kon gebruik om situasies te kon vertolk... Baie dankie aan elk een wat daartoe bygedra het dat ek vandag op WOES kan dig. En Rudi.. ek leer baie by jou. Dankie vir elke woord van wie dit ook al kom, elke kritiek. Dit help om rigting te vind. Ek try maar om die beste te maak... ek skryf uit my hart uit... nie altyd waar dinge nie...maar soos dit by my opkom.... of ek pas werklikheid aan om bietjie meer "volume" te gee... soms rym dit, soms nie, dus wat jul ook al kry, is wat jul kry.. of jul daarvan hou of nie....

Alles is oorspronklike werk en ek behou die kopiereg van dit.

Groetnis
JT


JELLYTOT



Totale stukke publiseer: 58
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 166