Op Woes.co.za onder Kortverhale

Die dobbelsteen val.

VOORWOORD

'n Boek is die beste wyse van kommunikasie - of dit nou 'n intelligente produk van intensiewe navorsing is wat daarop gemik is om die algemene peil van beskawing of lesers se selfbeeld te verbeter en of dit maar net 'n produk is van herinnering - soos hierdie.

Die voordeel vir die skrywer lê daarin dat jy die gesigsuitdrukking; die vooroordeel; die hand-in-die-lug, wag nou, laat-ek-eers-vertel - van die leser, die alter-ego aan die ander kant, misloop.

Jy vertel jou storie en die res sorg vir homself.

MYMERING

Sy staar onsiende na die toneel daarbuite: Die weerkaatsing van die hadidas in die stil poele water wat op die grasperk gevorm het, rustig soekend na happies in die deurweekte grond; bosduiwe, tortelduiwe, ewig-romantiese rooiborsduiwe, lysters ... almal trek voordeel uit die poele water.

Die trane wel op in haar oë. Dit laat haar verbysterd.

“Wanneer laas het ek gehuil ... werklik gelag, daai lag wat jou maagspiere laat kramp?”

Maar selfs in die oomblik gee sy haarself nie oor aan selfbejammering nie want sy weet sy is bevry, sy is vry - sy het 'n goeie lewe.

Die mense wat weet (of so reken) verkondig mos dat elke mens sy eie destiny kan vorm. Dit wat jy wens, dit manifesteer. Dit wat jy diep uit jou siel uit wens ... wel ...

TWINTIG JAAR GELEDE

Sy sit in die gras op die familieplaas. Sy is alleen, soos maar altyd. Rou snikke skeur uit haar bors, haar siel. Sy bid. (In daardie tyd het sy nog geglo aan 'n god - een of ander Wese wat Omgee). “Ag Here”, snik sy, “waarom is dit tog so? Die here weet, ek bedoel alles so opreg, maar dit is asof my bedoelings teen mure vasslinger - doelloos, misverstaan of verbygegaan.”

Sy het weer getrou. Die derde keer.

Toe sy daar voor die kamptafeltjie gestaan het wat as 'kansel' diens gedoen het, het sy haarself belowe: ek skei wragtig nooit weer nie.

Nou - hier op die familieplaas waarheen sy gevlug het - fantaseer sy 'n nuwe lewe. Hier op die plaas het sy vir haar 'n huisie gebou waar net sy en haar twee honde woon. Tussen die gras en die wild. Alleen.

Sy fantaseer 'n nuwe lewe want die huidige een het ondraaglik geword.

Daar waar sy sit in die gras is sy nie gesond nie. Sy ly aan 'n chroniese, lewensbedreigende en misterieuse infeksie.

In hierdie twintigste eeu van Mediese Vooruitgang en Oorwinning oor Siektes kan die dokters en die masjiene (daar is baie deur wie se hande, en breine, sy gegaan het) nie vir haar sê wat die fout is nie. Haar buik voel of dit 'n skop gekry het. Sy loop vooroor - so asof sy probeer om die pyn te beskerm. Sy is altyd koorsig met koorspieke. Dodelik moeg. Soggens is sy letterlik lam - kan nie haar kop lig nie. Dan kom die akute fases waar die koors gevaarlik hoog klim en waar sy geen ander keuse het as om weer hulp te soek nie. Dit laat haar in die hospitaal beland onder 'n drip - antibiotika. Twee jaar gelede is sy onder hoësorg geplaas. Dit was so koud - haar hande en voete ... en haar siel. Sy het nie opgehou braak nie. Haar maagwand was bloederig van te veel braak, haar vel sensitief, so asof sy met kookwater gebrand is. Kouekoors. Die naarheid was 'n mengsel van infeksie en medisyne-newe-effekte, want, sy is besig met die laaste linie. Die ultimatum is gestel: “Janet, ek behandel jou nou met die laaste linie antibioka - dit is geweldig giftig, vandaar jou naarheid. Jou niere het absesse en ons sal nou moet drasties plan maak. Jy is besig om te sterf.”

Die dokter simpatiek, vee 'n haarlok uit haar regteroog. (“Hoekom is dit nie my man wat uitreik nie?”)

Die infeksies het begin met die eerste sarsie seks tussen haar en Roelf. Toe was dit net lastig, maar mettertyd het dit erger geword. 'n Ritme het ontstaan; 'n tydperk van vrot voel wat eindig in behandeling - gewoonlik intraveneuse antibiotika - en dan 'n tydjie van beter wees wat weer insak in siek wees. En so het dit aangegaan - vir jare.

Die 'drasties plan maak' was toe 'n histero-oövarektomie (sny alles uit; baarmoeder, buise en sny dan sommer ook die ureters wat aan die baarmoeder vasgegroei het los en sorteer die gemors wat algemeen bekend staan as 'n 'kraainesbekken' uit).

Na die operasies (vier was nodig) het sy bietjie beter gevoel, maar die infeksies het nie verdwyn nie ... en die estrogeen krisis het sy slangkop uitgesteek.

Dokters reken hulle weet van hormone, maar die werklikheid lyk anders. Perdepiepie en beeskliere kan nie menslike estrogeen vervang nie, punt. Sy is dit gevoer, jare lank. Op 'n stadium is dit selfs vervang met rou testosteroon. Dit was 'n dawerende disaster.

En toe beland sy weer in die hospitaal - met die klouerige, klewerige infeksie.

Roelf het lank gelede onttrek. Daar is 'n gesegde 'die pad na 'n man se hart is deur sy maag'. Die een wat dit uitgedink het was seker 'n non wat per ongeluk in 'n priesterhostel (daar is mos 'n naam daarvoor - wat is dit nou weer?) beland het. Dit is verkeerd; die pad na 'n man se ekskuus van 'n hart loop deur sy dik piel.

Sy stilstuipes. Dae waarin hy skaars met haar praat - voor die rekenaar sit en solitaire speel. 'n Vraag wat fout is word afgemaak met 'n kortaf 'niks'.

In die week is hy nooit tuis nie - hy werk en sy werk neem hom ver weg van die huis. Naweke stilstuipes.

Hulle slaap lankal nie meer in een slaapkamer in een bed nie. Hy ly aan slaapapnee. Hy snork geweldig hard en onreëlmatig as gevolg van sy mediese toestand en dit duur voort vir 'n hele nag. Sy het so taktvol as moontlik vir hom laat verstaan dat die toestand ondraaglik is, sy - kan - nie - slaap - nie. Dit maak hom dikbek. Hy wend nie 'n poging aan om mediese hulp te kry nie. Die onuitgesproke idee is dat sy maar net gewoond moet raak daaraan.

Sy glo aan die filosofie van liefde as 'n werkwoord. Toe sy nog aan 'n god geglo het, het sy geglo aan sy lering en aan sy idee van liefde as 'n wilsbegrip en nie 'n emosie nie. God vra dat ons handel in liefde. Sy lering dat ons nie aan andere moet doen wat ons nie aan onsself gedoen wil hê nie is nie emosie nie, maar handeling. Romantiese liefde is inherent selfsugtig. Dit is 'n vretende smagting vir 'n soort van vervulling. 'n Emosie. Seks en orgasme stel die hormoon oxytocin vry wat 'n paartjie verbind tot voortplanting en die grootmaak van kinders. Dit is alles primitief. Liefde sien die lacuna raak en soek die oplossing.

So - in haar gemoed moes hy die lacuna raakgesien het; die sê-nou-maar-dit-was-ek. “As sy so gesnork het, sou ek nog nag na nag langs haar slaaploos bly lê?” Die antwoord is voor-die-hand-liggend.

Sy het hier na die familieplaas gekom vir ontvlugting nadat sy weer uit die hospitaal ontslaan is. Ontvlugting van - dit weet sy sonder twyfel - 'n liefdelose huwelik. Kan dit werklik liefde genoem word as jou man tydens besoektyd dikbek in die besoekerstoel sit en nie 'n woord opper nie? “Ek word more ontslaan, sal jy my asseblief kom haal?” “Ek kan nie, ek is besig, vra jou suster - jy sit buitendien aan en is nie siek nie.”

Dit was die begin van 'n einde wat eintlik in 'n einde moes begin het.

Sy fantaseer haar eie huisie op haar plaas.

MYMERING

Sy sit in haar eie huisie op haar plasie.

Sy neem 'n slukkie van haar koffie. Die kat-wat-opgedaag-het streel haar enkels met haar sagte pels. Sy soek kos. Sodra die bak vol is, sal die katliefde in 'n abrupte miaau en scrunch-scrunch end.

VYF-EN-TWINTIG JAAR GELEDE

Sy en Roelf sit voor die kaggel. Dit is winter. Sy is besig om te studeer, hy om sy figuurtjies vir sy miniatuur treindorpie te verf - vergrootglas-bril om die kop wat hom in 'n sci-fi figuur verander.

Die gedagte bekruip haar stilweg. Menstruasie is nie haar gunstelingtyd van die maand nie (vir watter vrou is dit?). Sy sien nie uit daarna met blye verwagting nie, dit vererger die simptome wat sy reeds ondervind veelvoudig. So - sy is nie ingestel op haar periodes nie.

Maar die gedagte wel op soos 'n sagte mis oor water in die winter. “Wanneer laas het ek menstrueer?”

Dan swem 'n nuwe gedagte vanuit die diep ontkenning van haar brein - nee - haar wese: “Kan dit wees?”

Haar hart begin vinniger klop. Sy voel skielik lighoofdig, angstig - 'n diep vreugde ontkiem in haar maag, derms, versprei dan liggies maar intens deur haar tot sy dit op oral op haar vel voel saamtrek en tingel. “Ek is swanger.”

Sy is na die plaaslike ginekoloog, siek vir die klomp in die stad wat net nooit 'n oplossing kon bied met 'n simpel iets soos 'n diagnose nie. Die standaard-reaksie: “Jy sal moet kom vir 'n histerektomie.” “Hoekom, wat makeer my?” “Ek weet nie, maar 'n histerektomie sal help.”

Hy het haar wete bevestig. Dit is so. Sy is swanger. Hy gee vir haar die uitdruk van die sonar. 'n Klein blob in haar weefsel. Sy bêre dit versigtig in die laaste bladsy van hulle huweliks-foto-album waar dit nog steeds sy eie ere-plekkie beklee.

Hy is skepties (fokken hond). “Met jou geskiedenis twyfel ek of jy hierdie kind sal kan baar.” Hy noem een of ander veneriese siekte (wat hy 'diagnoseer' sonder om een enkele toets te doen). Sy probeer haar kop hoog hou - haar tred waardig, maar in die privaatheid van haar huis gee sy haar oor aan die smart. Rou snikke stroom vanself oor die oorvol dam van haar stormagtige emosies.

Sy vertel vir Roelf die nuus maar verswyg die dokter se skeptisisme. Dis asof die nuus lewe gee aan sy doodse 'liefde' - so magies en misterieus soos die oomblik wanneer 'n sperm 'n eiersel penetreer. Hy is skielik besorgd, teer. Behandel haar vir die paar weke asof sy van porselein aanmekaar gesit is.

Die dokter was toe reg. Die blob kon nie drie weke hou in haar vervloekte bekken nie. Bloed en dooie weefsel gevolg deur 'n skraap. Blob wat geen kans gehad het nie. Geen naam nie. Sy graf 'n toilet se drein. Begrawe in kak en pis.

En Roelf se 'liefde' saam met blob weggespoel in dieselfde drein.

MYMERING

Wat laat jou besluit op 'n spesifieke persoon as 'lewensmaat'?

... 'Maat' ...

Hoekom juis trou, een bepaalde mens kies om jou 'lewe te deel'?

Die 'vermeerder en vul die aarde' idee in die bybel?

Iets anders? Wat?

'n Eeu-oue vraag.

As 'n mens jonk en jags is dink jy nie rerig diep oor die tipe van ding nie. Dryf salig in die stroom want almal doen dit; en so word jy daarin gedwing.

Jy reken - naiewelik - almal is maar basies soos jyself. Met ander woorde, vol foute en dingetjies wat kan irriteer maar inherent nie te kak nie.

Jy piepie in die bed selfs al gaan jy al skool. Maar niemand weet daarvan nie behalwe jy (of so dink jy) want jy het mos die nat laken netjies verberg toe jy jou bed opgemaak het vroëer in die dag. As jy in die aand weer in jou bed klim en jou lakens is droog en welriekend skryf jy dit toe aan die baie warm weer waarin jy bly - en jou piepie stink mos nie. Jy dink nie dis snaaks om in die bed te piepie nie, want jy weet hoe diep jy slaap en daardie heerlike droom waar jy nie by 'n toilet kan kom nie omdat jy op 'n plek tussen mense is en die vol, seer gevoel in jou blaas tot jy eindelik - na 'n lang soektog - daardie privaat plekkie kry waar jy kan laat los ... saaaalig. Tot jy wakker skrik.

Die enigste ander persoon wat weet is jou ma. Jy weet nie eens sy weet nie, sy noem dit terloops in 'n gesprek toe jy al 'n groot mens is.

Of jy weer in die middel van 'n droom, hierdie keer word jy wakker in die venster waar jy wou uitklim om buite te gaan piepie. “Pappie, ek wil piepie.” Sterk arms wat jou wakker maak en jou uit die venster lig en op die toilet neersit. As jy klaar is lei hy jou terug na die bed en vou die komberse toe oor jou. “Lekker slaap, my kind.”

Lepellê in haar been se waai as die res van die gesin weg is skooltoe en werktoe want jy is die 'jongstetjie' en daardie uurtjie se rus na die oggend-stormloop van aantrek en eet is kosbaar voor die res van die dag begin.

Lê op die gras met jou kop op sy maag en kyk na die sterre. Met sy stem in jou ore leer ken jy Jupiter, Pollux, Castor en Sirius; die Orion en die Suiderkruis. Of jy luister na die tiek-tiek wat net hy met sy tong kan doen as hy hout bymekaarmaak vir die kampvuur.

Jou ouers ...

En dan, na die kamptafeltjie-kansel gedoente, jou skoonma se stem - Hollands hoogdrawend: “Ek maak seker sy maag is vol en sy boude is skoon en droog - as hy dan nog huil is hy stout, dan sit ek hom in sy kot en maak die kamerdeur toe.”

Fokken teef.

Of later - nadat alles in die drein afgespoel het - en jy hom - desperaat - probeer kry om te kommunikeer - 'n brief skryf en hom konfronteer oor al die seermaak - sy antwoord:
“Jy het nie iets verkeerd gedoen nie, Janet. Ek was lief vir jou maar jy was altyd net te 'hoog' vir my. Weet jy dat ek my bed natgemaak het toe ek al skoolgegaan het? My ma my by verskeie sielkundiges gehad het daaroor?”

Of haar Hollands-hoogdrawende stem: “Ek kon nie my kinders na 'n universiteit stuur nie, want hulle was te dom”, en dit voor haar seun. Haar briljante seun wat 100% presteer het in kreatiwiteit, maar dislekties was.

Ja, 'n mens is naief as jy reken almal is maar inherent soos jy.

Die dobbelsteen val waar hy wil.

TIEN JAAR GELEDE

Sy kon haar graad verwerf. Dit was harde werk en swaar opoffering.

Sy is nie gewild nie. Introversie word - ten spyte van die oppervlakkige gerusstellings tot die teendeel - beskou as 'n siekte, 'n sielkundige afwyking. Daar is baie woorde om 'n introvert te beskryf: 'snobisties', 'skaam', 'bedonnerd', 'nors' - nie een vlyend nie.

Die wereld lê aan die voete van die ekstroverte ... wat regshandig is (het jy al gehoor van massaproduksie van skêre net vir linkshandiges?)

'n Meestersgraad het geen waarde as jy afhanklik is van andere se opinies vir 'n bepaalde posisie in jou werk nie. Jy bly waar jy is ten spyte van jou potensiaal.

Introverte kan nie hulleself adverteer nie. Dit is waarom die wyses onder hulle verkies om hulle brood te verdien in isolasie.

Sy tel nie onder die wyses nie.

Sy bly waar sy is en dit is frustrerend.

Afrika is donker.

Afrika wil donker bly.

'n Liggie het probeer skyn aan die suidpunt van Afrika, maar donker verdring lig (of is dit lig wat die indringer is?)

So was dit met haar ook. Die nuwe bestuurder het haar lewe nag gemaak. Arrogant in sy skynbaar geregverdigde haat vir 'n witmens (apartheid se skuld).

Sy en Roelf het nog steeds een huis gedeel en trou-trou gespeel, maar haar gesondheid het nie verbeter na die operasies nie - inteendeel - saam met die gereelde infeksies het sy nou die newe-effekte van perdepiepie begin ervaar. Die ergste daarvan hoofpyn.

Haar ma het gesterf.

Sy het alles verloor.

Sy het 'n onbeheersde drang ontwikkel om weg te kom - êrens 'n nuwe begin te maak. Roelf het aan 'n projek gewerk op 'n dorp ver weg - iewers in die woestyn. Sy het nog nooit in die woestyn gebly nie.

Hy het altyd gekerm oor sy finansiële toestand - hoe hy sukkel om projekte te kry en hoe arm hy voel, met die witbrood onder die arm gekla.

Dit het haar gehelp om die skuif te motiveer; hy is mos besig met die projek in die bepaalde dorp, waarom nie soontoe trek nie?

Huiwerig het hy ingestem (hy is nie een vir verandering nie).

Vir 'n rukkie was die skuif die moeite werd. Vir die eerste keer in hulle huwelikslewe het hulle in 'n huis gebly waar daar plek was vir al Roelf se besittings, treine, gereedskap.

Sy kon op die stoep staan en uitkyk oor die kameeldoringvlakte uitgestrek vir kilometers voor haar. Haar asem diep intrek en werklik gelukkig wees in haar kortstondige illusie van 'geluk'.

Toe raak hy erg dikbek. Die kliënt was nie tevrede nie, het sy werk hewig gekritiseer en wou hom nie betaal nie.

Dit was natuurlik haar skuld en dit het hom die geleentheid gegee om te doen wat hy seker vir 'n baie lang tyd wou doen, maar nooit die moed voor gehad het nie. “Ek kan nie hier bly nie, ek gaan terug. My liefde vir jou is dood. In Johannesburg het ek 'n prostituut ontmoet en ek wil 'n kind maak by haar. Jy kan nie kinders baar nie.”

Hy het toe pad gevat en saam met hom die infeksies.

Sy afwesigheid was nie vir haar 'n finansiële verlies nie. Sy was nooit ekonomies afhanklik van hom nie. Sy het altyd haar eie beroep behou ten spyte van haar mediese probleme.

Skielik is sy vry.

MYMERING

Vry, ja - maar eensaam.

Eensaam op sorgelose manier. Sorgeloos? Dit is die beste woord maar nie werklik 'n goeie beskrywing nie.

Sorgeloos: Sy het haarself leer ken. Sy weet sy kan nie weer probeer nie en het vrede gemaak daarmee. Die dobbelsteen gooi nie sesse vir haar nie.

‘n Mens se lyf doen ook maar sy eie ding. Nadat die infeksies einde gekry het, het sy werklik beter gevoel en ook plan gemaak met die perdepiepie. Sommige dokters is ware geneeshere en luister na hulle pasiënte. Tydens ‘n internet-soek op ‘n ander onderwerp het sy op die webtuiste afgekom. Sy was beïndruk deur die span dokters se uiters professionele manier van doen. Sy het ‘n afspraak gemaak en gevind haar aanvanklike opinie was korrek. Versigtige toetse stel die lyf se behoefte aan hormone vas. Dan word die hormone toegedien na aanleiding van behoefte; niks meer en niks minder. Die hormone word vervaardig uit plantaardige produkte. Perde word gelaat waar hulle hoort: vry in die veld.

Die verfrissende benadering het haar nog beter laat voel. Haar lyf kon dit selfs regkry om haar somtyds te beloon met ‘n bruisende lewensblyheid. Maar die hoofpyne wou nie padgee nie. Sy het gemerk dat haar brein haar lyf los in sekere situasies; veral tydens oefening. Terwyl sy op die maat van polsende musiek êrens in die veld stap kry haar lyf ooswaarts koers terwyl sy nog noordwaarts oppad is. Dan verloor sy net eenvoudig beheer oor haar motoriese funksies sonder dat haar brein haar daarvan vertel. Voor sy weet slaan sy neer soos ‘n dooie os. So het sy eenkeer in ‘n kanaal beland. Gelukkig was dit ‘n vlak een en het sy weggekom met ‘n kanaaldoop, blou kolle en skrape. Ander simptome het ook begin manifesteer. Dit was eindelik die spinsensasie wat haar hospitaal toe gestuur het. Spinale vog en ‘n breinskandering het ‘n breintumor openbaar.

“Ek opereer notte donner” sê die neurochirurg. Die tumor het nesgeskop in haar serebellum naby die breinstam. Deur die jare het hy karakter gekry. Hy is deur haar kreatiewe niggie ‘Barry’gedoop na aanleiding van Barry the Sprout deur Robert Rankin. Barry se tuiste is normaalweg in die brein van sy gasheer waar hy ondersteuning verskaf aan sy gasvrou en baie bitsig kan raak as hy reken hy word nie goed behandel nie. Haar Barry word beslis nie goed behandel nie want hy is grotendeels bitsig, maar gelukkig is hy ‘n kind wat stadig groei.

Daar was weer interaksies, soos die een nag affêre met 'n man dertien jaar haar junior. “Janet, jy is net stunning.” Of die een nag affêre met die veldgids. “As hy nie chemistry voel of haar chemistry respekteer nie, waarom doen hy dit dan? Hy moet daarsonder bly”, aldus die slim veldgids.

Of die internet-eskapade met 'n oud-tronkvoël. “Ek het kwaai aknee gehad as 'n tiener en ek was opstandig. Ek was 'n gemors.” Die ontboeseming het gekom toe hy ‘n lugreëlaar installeer het. Dit het haar netjies teruggeplaas na haar eerste huwelik waar sy op die brose ouderdom van negentien jaar gekonfronteer was met ‘n gesertifiseerde psigopaat. Die etiket is opgeplak deur tronksielkundiges terwyl hy agttien jaar gevangenisstraf moes uitdien op verskeie aanklagte van gewapende roof. Natuurlik het sy nie daarvan geweet nie en natuurlik het hy (en die ‘gemeente’) geswyg oor sy eskapades. Sy het hom in die kerk (die ‘plek van geloof en die strewe na opregte menslikheid’) ontmoet terwyl hy nog op parool was vir sy gebrek aan menslikheid. Sy pa was ‘n ouderling en sy ma ‘n voorlaaier in die ‘sustersaksie’. Janet is wreed ontnugter in ‘n tydperk van agt maande waarin sy op verskeie maniere mishandel was.

En dan - natuurlik - al die getroudes wat hoop op 'n vars knippie.

Iemand het iewers eenkeer op haar pad gereken elke mens het net een kans op 'n ware romanse en daardie kans is die beste as jy 'n tiener is. Miskien is dit wyse woorde. Jou eerste liefde, dalk die enigste. Hare is dood, het gesterf in 'n bergongeluk toe hy 19 jaar oud was.

Dit bring haar weer by die eintlike probleem: Waarom is dit so belangrik vir die mensdom om in 'n romanse te wees? Waarom die yin en yang? Ja, teorieë daaroor is legio, maar teorie is nie die werklikheid nie.

Wat werklik is, is die hol gevoel - die leegheid.

Maar is dit nie ‘n gevoel wat sy haar lewe lank met haar saamdra nie, selfs wanneer sy binne-in sogenaamde ‘verhoudings’ was?

Toe sy ses jaar oud was: “Wie is ek, wat soek ek hier?”

Altyd die vreemdeling want sy kan nie deel wees van ‘n groep nie. Uitgestoot want sy is ‘weird’ ja, ook maar ook geen begeerte om aan enige kliek te behoort nie.

En nou … kinderloosheid. Diegene wat werklik die waarde van iets waardeer is diegene wat sonder die iets moet klaarkom.

Sy besef wel dat kinders ook nie die gat sal kan toemaak nie. Hulle vorm ‘n intieme deel van jou lewe ja, maar een of ander tyd soek hulle ook vryheid, en dit is verkeerd om hulle nie daardie vryheid te gun nie.

Sy weet wat dit is om afgetrokke (die Engelse woord ‘detached’ is meer beskrywend) te wees.

Sommige ‘kenners’ beskou dit as ‘n goeie karaktertrek – bly in die nou want dit is al wat daar is.

Hoekom verlang sy dan na ‘meer’ terwyl sy nie eens kan definieer wat ‘meer’ is nie?

Jy kom op hierdie aarde deur die geboortekanaal (jammer, daar is nie ‘n ander wyse nie), en dit is jammer dat die proses so uit verband geruk word deur kontemporêre wysgere – dat dit gelykgestel word met liefde, terwyl dit eintlik maar net ‘n chemiese sop is.

Gelukkig duur die verblyf op hierdie plek nie vir altyd nie en gelukkig kan ‘n mens ontsnap. Sy is tans besig om te krap aan die sement om die tralies van haar sel. Of liewer, haar lyf doen daardie werk en sy kyk rustig toe. Sy was – in die stryd om haar bekken en haar lewe te behou – gediagnoseer met ‘n baie skaars niersiekte. Die ginekoloog wat haar destyds so geskok het met sy bewerings van ‘n veneriese siekte was toe reg: In die proses van aansoek om mediese pensioen omdat haar niere haar in die steek laat, het sy ‘n verslag ontvang van die nefroloog wat haar destyds behandel het. In die verslag bevestig hy die bestaan van die veneriese siekte: Roelf se ‘liefde’.

Eienaardig dat die dokter destyds geswyg het oor sy ontdekking …

Liefde …

Seks.

Die dobbelsteen val waar hy wil.




Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/die-dobbelsteen-val-1435137491
Skottelgoed

Of ek van die manlike of vroulike geslag is, is onbelangrik. Waar ek vandaan kom en hoe ek my brood verdien irrelevant.

Ek kan net sê dat ek my in 'n lewensomgewing bevind waar ek baie kos het vir staaltjies wat ek tot dusver meestal nog vir myself gehou het.

Ek dink dit het miskien tyd geword vir deel en hierdie webtuiste lyk na 'n goeie virtuele braaivleisvuur waar mens kan lostrek.

My spens het baie spyse: hartseer soos Janet, humoristies soos Sasha se eskapades en sommer net krimineel soos Poppie. Alles het een ding gemeen: dit het 'n bietjie van die waarheid in want die waarheid maak altyd goeie stories.



Totale stukke publiseer: 14
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 48