Op Woes.co.za onder Kortverhale

Die groot skrik.

My pa het my dikwels gewaarsku oor die gevare van “meisiekindalleen so op die plaas ronddwaal”. Net verlede week is ‘n vrou op een van die buurplase aangval. As jy alleen in die huis is sluit tog die deure agter jou toe, het hy oor en oor gesê. My broers het gesê ek is tog te onnosel om bang te wees en eendag gaan slim nog sy baas vang.
Vanoggend het ek my marmotte wat in die waenhuis bly, omdat my ma nie “die goed” in haar huis wil hê nie kom versorg. Nadat ek die hokke skoongemaak, nuwe saagsels ingesit en kos gegee het, vat ek die emmer om te gaan water haal. Toe ek uitstap by die waenhuis se deur, toe staan ta daar. ‘n Grote. Sy swart vel blink in die son en hy kyk my dreigend in die oë.
Lot se vrou se maai. Ek is versteend. Die vrees oorval my. Ek voel hoe my bene bewe. Die bloed verlaat my liggaam. My hart klop in my ore, doef-doef, kaboem-kaboem. Vandag is die dag dat ek my moses gaan teëkom.
Ek bid saggies hier in my binneste. Met oop oë natuurlik. Dit sou nou heeltemal simpel wees om my oë vir ‘n oomblik van hom af te hou. Uit die hoek van my oog sien ek die een hoek van die waenhuis en soos ‘n trapsuutjie probeer ek die ander hoek ook sien sonder om my oë te draai. Nee, ek kyk hom stip in die oë. Ongelukkig weet ek daar is nie genoeg plek weerskante van hom om verby hom te spring nie. Kry gaan hy vir my kry.
Sy oë wyk ook nie vir ‘n oomblik van my af nie. Hy kyk my. Ek voel hoe tap die sweet van my voorkop af.
Vrees maak ‘n mens braaf, hoor ek my pa se woorde. Wat soek hy in elk geval hier. Nou is ek kwaad. Nou weet ek wat soek hy hier. Toe ek ‘n tree terug gee trek hy sy kop terug en ek weet hier kom dit nou. Ek keer met die emmer vir my gesig en die twee spoegstrale klap teen die emmer vas. Met een reuse sprong spring ek terug in die waenhuis in en ek gryp die hooivurk en pen hom vas teen die grond. Jou vloeksteen, jy sal nie weer my marmotte vang nie! Skreeu ek terwyl ek die rinkhals se kop verbrysel.

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/die-groot-skrik-1
Piet Magriet

Ek is 'n ouvrou van oor die sestig jaar.  Ek is baie gelukkig om die wonderlikste man op aarde te hê en pragtige kinders wat hulle plek in my hart en in die sameleweing volwaardig volstaan.
Piet Magriet, in teendeel, is nog jonk en vol dinge. Sy skrik vir niks en sal kaalvoet oor die Drakensberge loop vir haar land en haar taal. Sy is baie lief vir die natuur. Sy glo daar is 'n plekkie in die son vir almal. Sy is lief vir mense en maak graag vriende. Dit is Piet Magriet (PM)



Totale stukke publiseer: 44
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 439