Op Woes.co.za onder Kortverhale

Die regte “Coverage “ en “Cell phone package”

Dis uitreik Sondag. Ek het kerk toe gestap om die diens by te woon. Ingedagte is ek teen die trappe op in die rigting van die kerkgebou se deur. Ek het vir ‘n oomblik omgedraai en oor al die aktiwiteite daar buite gestaan en tuur. Dis toe dat hy asof van nêrens na my toe aangestap kom. Oud, gehawend. Ek groet hom en praat vinnig, so asof ek haastig is iewers heen. Samuel is sy naam en hy vra vir geld om na sy vrou en kinders te gaan en om by die dokter te kom. Hy wys my die sere aan sy bene. Nog voordat hy die brief met die hospitaalstempel daarop vir my wys weet ek dat dit is waar God my vandag wil hê.

Ek nooi hom om saam te stap en ons gaan sit by ‘n tafeltjie naby Jire in die voorportaal. Ons begin gesels en so deur my vrae en sy openhartige antwoorde heen, leer ken ek iets van Samuel (en van myself!). Hy woon in ‘n bos iewers in die ooste van Pretoria, sy vrou en kinders in Musina. Drie kinders, 25, 17 en 12. Hy soek werk om vir hulle te sorg, maar kom nie reg nie.

“Is jou kinders nog op skool, Samuel?”

“Ek’s nie seker nie, Morena. Ek sien hulle te min. Ek moet hier bly want daar is nie werk nie”.

Later begin ons praat oor die kerk en die evangelie en dis vinnig duidelik dat ek die een is wat vandag gaan leer, wat vandag moet luister. My ingeoefende gespreksraamwerk kan ek maar eenkant toe skuif, want Samuel het sy eie een. Dalk ‘n beter een… Ek besef dat met my EEIII-kennis en al, verstaan hierdie man veel beter wat God se evangelie regtig beteken. In sy mooi Afrikaans, ingekleur met Engels hier en daar, vertel hy my van 'purpose'.

“Ek like die Here, want Hy like my. Hy like my, want hy’t my gemaak. En ek’s nie sommer net hier nie – Hy’t my die 'purpose' gegee. Ek moet die wêreld se katerakke uithaal sodat hy die Here kan sien!”

Hy vertel my van die lewe wat soos ‘n toolbox is. “Elke tool het die job. As jy die number five spanner is, en Hy’t jou nodig, kan Hy nie die number seven gebruik nie. Dis net jy wat reg is”.

Die besef dat, al my kursussse en boeke en omgeegroepgesprekke ten spyt, Samuel se begrip van God se doel met ons hier op aarde soveel beter as my eie is, vul my met ‘n opregte respek vir hom. Ek voel ineens klein en skuldig, met ‘n ongemaklike knop in my keel wat ek nie weggesluk kry nie. Hoe maklik is dit nie om geestelik hoogmoedig te raak nie!

Ek laat hom toe om te praat ,want vandag het ek veel meer om te leer as om te vertel. “Jy weet Morena, ons mense is soos die taxi – daar is baie mense wat wag vir die transport hemel toe!”. Ek is vir ‘n oomblik stil, amper sprakeloos, terwyl die pragtige, eenvoudige beeldspraak waarmee hierdie ou man die essensie van God se bedoeling verduidelik, by my insink.

Ons praat oor sonde en die skeiding wat dit bring, maar weer is dit hy wat die voortou neem: “Hey Morena, daardie wat jy nou van praat, dit staan mooi by die Bybel. Die Here sê Jy lyk soos die bloed van al jou sondes, maar ek vat jou lat jy lyk soos die wol van die skaap! Ons is soos die cell phone – alles begin by Jesus. Hy’s die starter pack. Maar ons het air time nodig, ons moet baie bid. En as jy nie op die regte plek staan nie, het jy nie reception nie, jy’s te ver van die Here. Jou coverage moet reg wees.

“Ai Samuel, ek leer vandag so baie dinge by jou. Dinge wat ek nooit so goed verstaan het nie. Waar…” “Nee Morena”, onderbreek hy my weer, “dis nie ek wat slim is nie. Die Here praat baie met my. Ok soos met Jeremia. Kyk maar by Jeremia 1. Hy’t vir hom gesê ‘moenie vir my sê jy’s te jonk of jy kan nie praat nie, ek weet dit al voor ek jou in jou moeder gemaak het. Gaan maar, ek sal self die woorde bêre by jou tong’. So ok die Here maak met my”.

Ek weet nie eintlik hoekom nie, miskien net omdat ek self nie altyd mooi verstaan nie, maar tog vra ek versigtig: “As die Here jou so like en as jy Hom so baie like, Samuel, hoekom dink jy laat bly hy jou by die bos?” Met ‘n selfversekerdheid wat nie pas by ‘n man wat so baie fasette van swaarkry ken nie en met oë wat nou vas in myne kyk, kom sy antwoord, reguit en sonder ‘n sweempie wyfeling: “Want die Here wil my patience leer”. Ek probeer nie eens meer sluk aan die knop in my keel nie. Wat ‘n antwoord! Hoe op aarde is dit moontlik dat iemand in sy omstandighede soveel insig in sy eie benarde situasie kan hê? Wat weet ek van patience af? Hoe verskriklik baie het ek nie nog om te leer nie! En om voor dankbaar te wees nie.

Die een ding wat Samuel nog nie mooi verstaan nie, is dat God se groot geskenk van redding vir ons almal is, dat dit gratis is, en dat ons niks kan doen om dit te verdien nie. Ek verduidelik dat hy net hoef te kies om dit vir homself te aanvaar. Ek kan sien hy verstaan en hy sê hy wil dit sommer nou doen. “Jy weet Morena, toe Saulus daar by die pad gestap het, toe slaan die Here hom met die bliksemstraal lat hy kan weet hy’s op die verkeerde pad. Die Here Hy doen goed by sy eie tyd. Hy lat Hom niks vertel nie. Morena, jy staan netnou daar bo by die trap, jy sien my, ek sien jou. Die Here besluit dis Sy lightning vir my”.

En vir my!

Ek wys hom die Romeinse handdruk (beide persone se regterhande om die ander se regterpols) en verduidelik dat God jou nooit laat los as jy vir Hom gekies het nie, al verslap jou eie greep.

Ons bid saam. Hardop dank ek God vir ons gesprek, vir sy liefde vir hierdie kind van Hom en ek vra Hom om Samuel elke tree van sy lewenspad te dra, om hom toe te maak met Sy guns en seën, dag vir dag. Diep in my hart dank ek Hom vir my ontmoeting met hierdie man, vir die woorde wat hy vandag by Samuel se tong gebêre het.

By my motor gee ek die kos wat Karen vroeër die dag “vir iemand” ingepak het, vir hom. Ek steek my hand uit om hom te groet en hy gryp dit met ‘n Romeinse greep, ‘n groot glimlag op sy gesig. “Jy’t my ook geleer, Morena”.

Ek kyk hom agterna toe hy wegstap en my hartseer hart is ook vol blydskap. Want ek weet: Samuel se Coverage is reg.

Dankie Samuel !

*Die skrywer van die bogenoemde is onbekend aan my, maar die les wat dit my geleer het is eenvoudig te veel om net vir myself te hou daarom deel ek dit graag aan julle almal

Mag julle elkeen geseënd wees met die Volmaakte “Coverage”
Anzé Bezuidenhout

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/die-regte-coverage-en-cell-phone-package
Anze Bezuidenhout

Anze Bezuidenhout

Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel....

Ek het vir 3 vol jare niks geplaas nie agv n skrywersblok en daarna het my beker begin oorloop en my pen se ink het gevloei...

Baie lief om my diepste gevoelens oor als in my lewe in digvorm uit te druk.  My liefde vir woorde kom n baie lang pad met die groot en ver droom om eendag my eie bundel op die rakke te kan sien het waar geword met die uitreik van my bundel "Gebroke Harts Gebede". Die Hemelse Vader was goed vir my en op 28 November 2013 is my debuut bundel Gebroke harts gebede ook in e-boek formaat vrygestel.  Hierdie is n lewensdroom wat waar geword het en ek kan nie genoeg dankie se vir almal wat in my geglo en my ook aangemoedig het nie. Ook vir die talent wat ek van Bo ontvang het.

Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring

Ek is getroud met die wonderlikste man (Willem). Ons is geseend met  3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 2 kleindogters en 'n nuwe kleindogter word in Junie 2015 verwag.

My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Vir boek bestelling : anzebez@gmail.com
ISBN NR: 978-1-920527-75-4
ISBN NR: 978-1-311796-77-6 
ISBN NR : 978-1-920673-19-2
ISBN NR :978-1-920673-25-3
ISBN NR: 987-0-620-62201-1
http://www.kameeldoringboeke.co.za/
http://www.amazon.com/Gebroke-Harts-Gebede-Afrikaans-Bezuidenhout-ebook/dp/B00GXMLDVO/ref=sr_1_1?s=digital-text&ie=UTF8&qid=1385546443&sr=1-1
http://www.smashwords.com/books/view/370328



Totale stukke publiseer: 667
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 7,039