Op Woes.co.za onder Kortverhale

Een Rand Negentig

Ek kyk met verlange na die troupop op oom Rens se winkelrak. Ek begeer daardie pop. Dit is die mooiste pop wat ek al ooit gesien het.

“Pappie ek wil daardie troupop hê asseblief,” smeek ek met trane in my oë.

“Antjie, daardie pop is hopeloos te duur. Een rand negentig is baie geld my kind, en more oormore lê die pop in elk geval weer die wêreld vol,” antwoord pappa.

“Pappa ek belowe hierdie pop sal nooit rondlê nie, ek belowe ek sal haar nog hê eendag as ek stokoud is,” probeer ek pappa oorreed om die troupop vir my te koop.

Pappa draai beslis om en stap meule toe om die week se voorraad meel te gaan laai.

Oom Rens staan my belangstellend en dophou. Hy kom nader gestap en buk by my.

“Antjie, kom ek gaan jou ‘n ooreenkoms aan,” praat oom Rens met my.

“Ja oom Rens. Wat se ooreenkoms?” vra ek.

“Jou pappa gee jou elke week tien sent vir roomys, is dit reg?” vra hy en kyk my reguit in my oë.

“Dit is so oom Rens,” en ek knik my kop bevestigend.

“As jy nou nie vandag jou roomys koop nie, en jy gee jou tien sent vir my, en elke ander week, dan bêre ek vir jou hierdie troupop tot jy die hele een rand negentig klaar betaal het,” verduidelik oom Rens.

“Dan kan ek nie roomys eet vir negentien weke lank nie oom Rens!” sê ek geskok, want sien, roomys was my gunsteling lekkerny.

“Dit is of die roomys my kind, of die troupop,” antwoord oom Rens met groot oë op my gerig.

Ek staan die tien sent in my hand en aanstaar. My ogies gaan na die roomysyskas en dan na die pop. Ek wil so graag die pop hê, maar ai, roomys is tog ook so lekker.

“Ek sal die pop neem oom Rens,” antwoord ek dan seker en oorhandig die tien sent aan oom Rens.

Oom Rens stap na sy toonbank toe, haal ‘n boek van die rak af en skryf my naam daarin met die troupop se bedrag bo-aan en die tien sent as afbetaling.

“Het jy jou roomys dan al klaar ge-eet?” vra pappa oppad terug plaas toe.

“Ja pappa, dit is warm en die roomys het vinnig gesmelt, ek moes maar vinnig eet,” antwoord ek en kyk by die venster uit.

Agtien weke later stoot ek my laaste tien sent oor die toonbank na oom Rens toe uit. Hy neem dit met ‘n groot glimlag terwyl hy sy boek nader trek.

“Jy het jou eerste les in besigheid gekry hierdie laaste negentien weke, ek is trots op jou. Jy sal eendag ‘n goeie besigheidsvrou wees,” gesels oom Rens trots met my.

Oom Rens draai om en haal die troupop van die rak af, blaas die stof af, plaas dit in ‘n papierkardoes, en oorhandig dit aan my.

“Onthou jou belofte aan jou pappa my kind,” herinner hy my.

Opgewonde hardloop ek na pappa se bakkie toe waar hy besig is om meel te laai en klim vinnig in.

“En daardie pakkie my kind?” vra pappa oppad terug.

“My troupop pappie,” sê ek kortaf.

“Die troupop! Waar het jy so baie geld gekry om die troupop te kan koop?” vra pappa geskok en bring die bakkie dadelik tot stilstand.

“Oom Rens het dit vir my gehou pappa, ek het elke week my roomys geld vir hom gegee en vandag het ek my laaste tien sent vir oom Rens gegee. Hier is my briefie wat die oom vir my gegee het wat sê ek het die pop nou klaar betaal,” rammel ek die hele storie aan pappa af.

Vandag as grootmens onthou ek nog die blik in pappa se oë, die trots en die trane daarin gemeng. En vandag na vier en veertig jaar, besit ek nog daardie pop. Oorspronklik in haar boks waarin ek haar gekoop het.



Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/een-rand-negentig-lank-lank-geledein-ons-dae
Ans Botha

Die jare het gekom en gegaan. Baie het gebeur van die eerste dag wat ek op Woes begin skryf het. 

Ek en my familie woon op 'n plaas naby Zeerust in die mampoer vallei soos ek dit noem. Ek het groot geword op 'n plekkie hier naby. Skuinsdrif. Het daar Laerskool gegaan tot in 1975 is toe Zeerust toe en my Matriek daar klaargemaak. Die lewe het eers vir my 'n paar draaie laat loop tot ek en my familie teruggekom het na die plek wat die naaste aan my hart se punt le. 

Van skool af was ek baie lief vir skryf, maar ek moes eers 'n paar paaie loop voor ek dit tog kon regkry om eindelik te kon doen waarvoor ek baie lief is.

Ek het vyf jaar gelede 'n kursus geloop in kortverhaal skryf, maar toe byt die gedigte gogga my ook. 'n Uitgewer het my terloops raakgesien en ek het saam met 'n groep ander digters 'n koffietafel boek uitgegee. My grootste trots wat ek bereik het in die skrywersbedryf.

Vandag hou ek my nogsteeds besig met kort verhale gedigte rubrieke en artikels. Ek bly nie verniet op 'n klein plasdie nie. Die natuur is in my bloed. Ek leef vir die buitelewe om in die veld te kan sit en te luister na die stilte, na die gebrul van die leeus, 'n jakkels se roep, maar die mooiste om te sien hoe 'n koedoe oor 'n draad spring. Die natuur is in my, ek is die natuur, ek leef die natuur. 

Dit is in kort hoe my lewe is en wie en wat ek is.



Totale stukke publiseer: 107
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 538