Op Woes.co.za onder Kortverhale

EKSPERIMENTE MET REALITEIT

Hy word stadig, lomerig wakker en lê eers vir ‘n oomblik stil om te probeer fokus. Hy lê doodstil, sy bene effe uitmekaar en sy arms plat langs sy sye. Sy asemhaling word geleidelik vinniger, sy hartklop versnel en hy voel hoe klein sweetdruppeltjies delikaat op sy vel vorm, ‘n oomblik lê en dan smelt, stadig oor sy vel afrol en wegraak onder sy lyf.

Sy lyf voel heerlik warm en dan vryf hy sy vingers stadig, byna eksperimenteel-versigtig heen en weer. Hy voel sand, fyn, warm seesand onder sy handpalms en krul sy vingers diep daarin. Hy glimlag verlig en haal diep asem, ruik die seelug en trek sy longe vol daarvan. Hy spits sy ore en luister na die geluide van die oseaan – hy hoor branders breek, seemeeue kras en dan lek hy met sy tong oor sy klam, vol lippe. Hy proe sagte, souterige seesproei en glimlag onwillekeurig, byna afwagtend. Uiteindelik maak hy sy oë oop en knip-knip sy ooglede vinnig om aan die helder sonskyn gewoond te raak. Hy stoot homself byna ekstaties regop, sit dan kruisbeen en staar tevrede na die droommooi toneel wat hom omring.

Sy blik streel stadig, strelend-versigtig oor die idilliese landskap en hy staar na die horison, waar die son, ‘n waserige wit-geel bal byna surrealisties in die hemel hang. Sy oë drink die sagte, wolkelose blou van die lug in en speel oor die dieper, kobalt-en-akwamarine dans van die oseaan. Hy neem elke nuanse waar en lag gelukkig. Hy voel goed, vry en ontspanne.

‘n Sagte briesie speel oor sy vel en hy staan op. Sy voete sak weg in die sagte seesand en hy stap doelgerig na die watervlak, na die plek waar die branders breek. Die nat sand is meer stewig onder sy voete en hy hou die klein skulpdiertjies wat vinnig wegboor in die sand en klein gaatjies vorm ge-amuseerd dop, dan gaan staan hy en voel die sagte seeskuim strelend om sy enkels vou. Net vir ‘n oomblik, dan trek dit weer terug en ‘n ander, nuwe brander skuim om sy enkels. Hy staan stil en sak al dieper in sy selfgemaakte sandspore weg. Die vyfde brander is sterker en tuimel hom om, sy voete lig vanself uit sy soliede sandskoene en hy rol speels in die brander, sluk seewater en hoes verstikkend. Trane van geluk rol oor sy wange en uiteindelik staan hy sopnat en skoongewas op, draai om en stap stadig op teen die strand, woud-se-kant toe.

Hy stap tree vir tree oor die droë sand en hurk aan die voet van die woud, waar die bergstroom in die see begin loop. Hy drink handevol vars bergwater en voel verfris, dan maak hy die mandjie oop wat onder ‘n palmboom vir hom wag. Hy lig ‘n bottel Merlot, ‘n kristalglas en ‘n botteloopmaker uit die mandjie. Die kurk kom stadig, al draaiend los en hy skink sy wynkelk stadig vol, teug daaraan en sug gelukkig.

‘n Spesiale termo-verhitte bak hou ‘n bord Pasta Alfredo warm en hy eet stadig daaraan met ‘n vurk wat in ‘n afsonderlike kompartement gestoor was. Die slaai van sagte, vars avokado, kraakvars slaaiblare, Rosa-tamaties, feta en swart olywe verdwyn ewe vinnig. Terwyl hy eet, staar hy oor die oseaan en ervaar meer rustigheid as ooit vantevore in sy lewe. Hy skil ‘n mango vir nagereg, hap daaraan en die soet sous speel oor sy tong, drup oor sy wange, vingers en voorarms. Hy hap primitief daaraan en suig die sap van sy palms af. Hy byt aan ‘n geelperske en eet vinnig tot op die pit, dan sny hy die spanspek oop en eet die soet skywe een vir een.

Hy besef in sy wese dat dit slegs ‘n wegkoms van realiteit is, ‘n tydelike vakansie, wegkomkans. Miskien is dit juis die rede hoekom hy alles soveel méér geniet. Juis omdat dit tydelik is.

Hy eet al die kos in sy mandjie op, drink die bottel wyn leeg en steek sy hand een laaste maal in die mandjie. Hy haal ‘n vel handgemaakte papier en ‘n vulpen uit en by die laaste lig van sy idillies-ondergaande son skryf hy ‘n boodskap. Hy skryf vurig, blaas die ink droog en vou die briefie toe. Hy plaas dit binne-in ‘n plastiese sakkie en bêre dit onder ‘n rots by die ingang van sy klein geheime wintergrot. Daar is reeds talle ander briewe. Sy biografie onder ‘n klip, in klip. “Niemand weet daarvan nie,” glimlag hy stil, gelukkig aan homself en klim af teen die rotswand, al af en af , ondertoe, tot by die strand.

Hy gaan lê uiteindelik, na ‘n lang dag plat op die sand, presies op die eertydse plek waar hy wakker geword het en maak sy oë toe. Donker duisternis omvou sy gedagtes en hy raak weg in slaap. Weg, weg, al verder weg ...

Hy lê doodstil op sy smal bed met die klapperhaarmatras, sy bene effe uitmekaar en sy arms plat langs sy sye. Hy word stadig, lomerig wakker en lê eers vir ‘n oomblik stil om te probeer fokus. Hy lê doodstil, sy bene effe uitmekaar en sy arms plat langs sy sye. Sy asemhaling word geleidelik stadiger en hy voel koud.

Sy lyf voel ysig koud en dan vryf hy sy vingers stadig, byna eksperimenteel-versigtig heen en weer. Hy voel sy gewone klapperhaarmatras onder hom. Realiteit. Sy vingers kloof diep kepe daarin. Hy snik binne homself en haal vlak asem, gespanne en al wat hy ruik is urine en vrees. Hy probeer sy ore sluit teen gille en die aanhoudende kletter van staal op staal en lek dan moedeloos met sy tong oor sy droë lippe. Uiteindelik maak hy sy oë oop en staar verbysterd, stil na die gleuf naglig deur die tralies van die klein venster ver bo sy bed. Hy lê stil, doodstil, starend na die venster. Die tralievenster.

Sy blik streel stadig, strelend-versigtig oor die duister landskap wat hom omring en hy staar na die donker, die eindelose donker wat dreig om hom oor te neem, in sy binneste in te kruip en loodswaar, broeiend daar te bly lê. Hy vrees die donker van die nag en die banaal-geroetineerde bestaan van elke sinnelose dag wat dreig om hom in ‘n nihilistiese dop van menswees te ontvorm.

Hy slaan sy oë terug in sy oogkaste en fokus op ‘n klein ligkol skuins bo sy bed, die kol wat hom laat weggaan, laat verdwyn in die helende dieptes van sy onderbewussyn in ... Hy spiraal tollend af, af, al dieper af na sy plek van vrede, waar die son, ‘n waserige wit-geel bal byna surrealisties in die hemel hang. Sy oë drink die sagte, wolkelose blou van die lug in en speel oor die dieper, kobalt-en-akwamarine dans van van die oseaan. Hy neem elke nuanse waar en lag gelukkig. Hy voel goed, vry en ontspanne.


 


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/eksperimente-met-realiteit
Kreatiewe bestuurder

Die doel van die Woes Kreatiewe Bestuurder (KB) is om te verseker dat alle gebruikers tuis voel, bestaande standaarde gehandhaaf word en ook om te verseker dat Woes voortdurend beter en meer gebruikersvriendelik word as wat dit reeds is.

Ons moet in gedagte hou dat Woes ‘n bymekaarkomplek van kreatiewe siele is.  Dis die plek waar jy jou mees intieme gedagtes, woorde en drome met ander mense deel. Jy skep kuns met woorde en dis opsigself ‘n edel gawe, iets wat jou onderskei van miljoene ander mense. Dis belangrik dat ons mekaar in daardie opsig respekteer, waardeer en kreatiewe kommentaar op mede-skrywers en -digters se werk lewer.

Jy is deel van Woes omdat jy jou werk met ander wil deel, omdat jy tuis voel en jou werk waardig ag om gedeel te word. Akkolade vir jou! Dis soveel beter as om jou  kosbare werk iewers in die donker laai van jou lessenaar onder ‘n laag stof te bêre, is dit nie?  Laat jou werk asem haal en leef, dis waarvoor Woes daar is!

Kom woon gerus ons Woes Woord & Wyn aande by, waar digters hul gedigte self voordra en hul woorde werklik lewe laat kry! Ons hou van nou af ook boekbekendstellings en wag op voorstelle vanaf jou.

Jajaja, nou wonder julle seker wie hierdie persoon is wat soveel te sê het ... My naam is Carol Williams en ek is al jare lank reeds ‘n Woester in my hart, lyf en skryf.

Lank, lank gelede het ek deel van Woes geword, toe ek ses jaar in die verre Ooste gewoon en gewerk het.  Ek moes daagliks in Engels en Sjinees funksioneer, het  my huistaal ongelooflik baie gemis en na Afrikaanse webblaaie op die internet gesoek. Woes het opgeduik en ek het dadelik ‘n lid geword. Destyds was ons ‘n baie kleiner groepie en Woes het nog sy voete probeer vind, maar dit was soos manna uit die hemel vir my.

Met my terugkeer na Suid-Afrika, het Willem, Lana Lowe en ek ‘n Woes-geleentheid gereël, juis omdat ons en talle ander gebruikers nuuskierig was om mekaar te ontmoet. Dit was wonderlik om ‘n gesig by die woorde te plaas en ons almal het die aand in ons harte bly dra. Elke digter het na die mikrofoon gestap en sy of haar woorde persoonlik, met eie nuanses en gevoel aan die res van ons voorgedra ... hoendervleis. Dit was ongelooflik.

Genoeg van my, haha. Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal soveel vir mekaar en indirek vir onsself  kan beteken indien ons mekaar beter leer ken. 

Woes-groete
KB



Totale stukke publiseer: 358
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 1,733