Op Woes.co.za onder Kortverhale

Galg toe met hom! Deel 2

Die regter stap die hofsaal binne en dit word doodstil.

“Die hof is in sitting.”

se oȅ is op die regter gevestig. Op haar beurt kyk sy na Advokaat Slagter.

“Advokaat, u mag maar begin.”

Advokaat Slagter staan op; druk sy twee hande teenmekaar, asof hy wil bid. Hy stap tydsaam tot voor die beskuldigde. Sy oȅ spoeg vuur en beskuldigde X deins effe terug in die beskuldigde bank.

“Meneer X, ek verstaan u was lief vir die oorledene?”

“J… ja. D…dis so.”

Die regter praat direk met die beskuldigde. “U moet hard praat, sodat almal u kan hoor, Meneer X.”

Meneer X skrik homself yskoud.

“J..Ja, u edele. Ek was lief vir Juffrou Sonskyn.”

Slagter draai effe skuins sodat die gehoor hom en die beskuldigde se reaksie kan waarneem met sy volgende vraag.

“Nou hoekom het u haar geskiet? Daar moes ‘n rede gewees het. ‘n Mens skiet mos nie jou geliefde net dood omdat jy wil nie?”

Meneer X se oȅ rek.

“Dit was ‘n ongeluk.”

“’n Ongeluk? Nou waarom het u dan skuldig gepleit, Meneer X?”

“Ek was aangeraai om skuld te erken, want ek het haar immers geskiet.”

“O so! As ek sȇ, spring in die vuur dan…”

Die regter tree tussenbeide, “Slagter, dis genoeg!”

Slagter beweeg weg van die beskuldigde bank.

“Meneer X, gerugte wil dit hȇ, dat u eintlik baie onverantwoordelik is met vuurwapens. U het ‘n hewige humeur en my teorie is…”

Slagter loop vinnig na die beskuldigde bank en staan skielik doodstil voor Meneer X.

Hy praat sissend, maar hoorbaar”… dat u in ‘n rusie betrokke was oor iemand anders wat haar pad gekruis het. U wou haar net vir uself hȇ en met niemand anders deel nie. Toe Juffrou Sonskyn die vertrek wou verlaat, toe gryp u na die rewolwer.

(Met sy wysvinger en duim maak hy asof hy ‘n rewolwer in sy hand het. Hy wys dit in die rigting van Advokaat Mooipraat, Draai dan skielik om en wys dit direk na die beskuldigde se kop)

"… en skiet haar!”

Die beskuldigde staar verward na Slagter en sy onderlip bewe van angs.

“Dit …dit was ‘n ongeluk.”

Slagter loop terug na sy tafel, “ Ek dink nie so nie, Meneer X.”

Die beskuldigde se oȅ volg elke beweging wat Slagter maak. Hy voel hoe sy hart vinniger klop en dan is dit soos ‘n vloedgolf wat die gehoor tref.

“U is reg! Ek wou haar nie deel nie! As ek …”

Advokaat Mooipraat spring op.

“U edel-agbare, dis genoeg. My kliȅnt het reeds skuldig gepleit. Ek sal nie toelaat dat hy verder ondervra word nie.”

Die twee advokate kyk vir mekaar en gaan sit dan gelyktydig, asof hulle verwag dat die regter iets gaan sȇ. Die doen sy dan ook.

Die regter hou almal met haar blik gevange.

“Ek het reeds met die begin van die hofsaak gemeld dat ek die saak geheel en al anders gaan hanteer, aangesien die doodstraf teruggebring is in ons regstelsel.”

(Jy kan ‘n speld hoor val. Gaan dit die “eerste” galgdood wees, sedert die doodstraf afgeskaf is?)


Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/galg-toe-met-hom-deel-2
Moekie

Ek is passievol oor skryfwerk, gedigte en die kunste. Ek skryf wat vir my sin maak en ek skryf impulsief.

My stories en gedigte is saamgeflanste gedagtes en ek droom groot.



Totale stukke publiseer: 255
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 783