Op Woes.co.za onder Kortverhale

Liefdes Speletjies - Hoofstuk 3

Die agterstrate van die stad, is maar donker, vuil en onheilspellend stil. Papiere fladder doelloos rond. Iewers dwaal ‘n brandsiek weggooi hond rond. Snuffel elke papiertjie en asblik, opsoek na kos. Eens op ‘n tyd was dit iemand se hond. Hy het genoeg gehad om te eet. Warm plekkie om te slaap, mense wat hom versorg en liefhet. Nou is die strate sy huis. ‘n Stukkie kos welkom, ter wille van oorlewing eet hy enige iets. Die neonligte dans soos dronk vlieë teen kaal koue baksteenmure. Dit verlig elke donker hoekie vir ‘n paar sekondes. Die klein donker kamertjie aan die onderpunt van ‘n straatjie, sit ‘n frisgeboude man op ‘n grondmatras met ‘n dun kombers om hom bietjie warm te hou deur die nag. Vanaand eet hy weer ‘n bietjie pap en water. Geld vir kos is daar nie. Elke sent wat hy kry betaal hy in die rekening in.
Die kerslig dans teen die muur. Haar laaste woorde hardloop soos ‘n weghol stoomtrein deur sy gedagtes. Elke aand wanneer hy die kers aansteek dink hy aan haar.
“Tog so romanties. Net jammer Gert sal dit tog nie waardeer nie.” Die seer en gekrenktheid in haar stem, sal hom altyd bybly. Hy wou op daardie oomblik omdraai. Haar wys hy slaap nie. Hy wou haar in sy arms neem en liefkoos en liefhê die res van die nag. Hy kon nie, want as hy dit gedoen het, sou hy nooit moed gehad het om weg te gaan nie.
“Anna, my liefste Anna! Ek hoop jy kan my vergewe!” trane vloei oor sy wange. Deesdae begin hy dit hardop doen. Niemand kan hom hoor nie. Sy hartverskeurende snikke, word opgevang deur die kaal muwwe mure. Hy is alleen in hierdie koue stad. Alleen met ‘n hunkering in sy hart na die vrou van sy drome. Die een wat sy lewe vol kleur gesit het. Die een wat sy dag begin en kon eindig met ‘n lied. Die een wat hom soos ‘n man laat voel het. ‘n Man in murg en been. Soos ‘n swaap en lafaard, het hy haar hoog swanger alleen op ‘n plaas gelos. ‘n Plaas wat baie skuld is, ‘n plaas wat vergaan. ‘n Bankkrotskap wat hy van sy pa gekry het. Sy liggaam ruk onbedaarlik van al die seer wat deur sy gedagtes woed.
Niemand gee vir mekaar om in die stad nie. Dis elkeen vir homself. Jy is verantwoordelik vir jou eie oorlewing. Wanneer daar ‘n moord gepleeg word, beter jy jou snatter hou, of jy is volgende. Stap aan en maak asof jy van niks weet nie. Dis hoe ‘n man in die stad oorleef.
‘n Ligte krap aan die deur, ruk hom uit sy gedagtes los. Soos ‘n ou man met geen krag meer oor in sy liggaam, staan hy op met baie moeite. Hy maak eers die deur op ‘n skrefie oop.
“O, dis net jy. Kom in Charlie.” Hy maak die deur nog ‘n entjie oop en staan op sy sodat sy vriend kan inkom. Charlie stap in, en gaan maak hom gemaklik op die matras. Dis ‘n vriendskap wat baie werd is vir albei. Die dag toe Charlie in sy lewe gekom het, onthou hy nog soos gister. Dis die dag toe hy aangeval is, pap geslaan is, en agtergelaat is vir dood. As hy wat Gert is, nog in God geglo het, sou hy gesê het dat dit Hy was wat Charlie oor sy pad gestuur het. Iemand om sy eensame lewe te kom vul met hoop.
“Ja, my ou maat, as dit nie vir jou was nie. Het ek lankal moed opgegee. Wil jy bietjie pap hê?” sonder om te aarsel skep hy ‘n bietjie pap in ‘n ander bak en gee dit vir Charlie. Charlie lê gulsig weg aan die pap. Eet dit asof sy lewe daarvan afhang. So asof dit die lekkerste kos onder die son is. Gert hou hom geamuseerd dop. Soms wens hy dat hy ook ‘n hond was. Geen gevoelens nie. Geen verantwoordelikheid nie. Geen bekommernisse oor more nie.
“Ja, my ou honde. Sonder jou is die lewe maar eensaam.” So asof die hond verstaan, hou hy vir ‘n paar sekondes op met eet en kyk na Gert. Dan lê hy maar weer weg en lek die bak skoon. Gert gaan lê langs hom op die matras en vryf die hond ingedagte. Die oomblik van stilte is vreedsaam en rustig. Die kerslig speel rond op die muur. So nou en dan vlieg ‘n histeriese mot om die vlammetjie. Hoe nader die mot aan die vlam vlieg, hoe meer beheer verloor hy oor sy situasie. Tot ‘n geknetter gehoor word. Die mot het die vlam getref. Met sy vlerke geskroei val hy soos ‘n baksteen vloer toe. Net om in pyn te lê en wag op sy dood. Die kerswas veroorsaak verdere pyn. Soos wat dit besig is om droog en koud te word. Maak dit die hulpelose mot vrek. Niks of niemand kan iets vir hom doen nie. Gert voel soos daardie mot. Die kers simboliseer sy lewe, sy plaas, sy omstandighede. Die vlam was die aantreklikheid van werksgeleenthede in die stad. Die vlam het hom gelok. Soos mal besetene vlieg hy nou om die vlam vir uitkoms, vir hulp. Soos ‘n dwaas het hy nes baie ander, geglo die stad se liggies is betowerend. Die stad sal al jou probleme oplos. Hoe dwaas was hy nie. Hy het té naby aan die vlam gekom. Hy het beheer verloor, hy het die vlam getref. Hy het ook soos daardie mot die grond getref. Hulpeloos en eensaam lê hy en wag in spanning vir sy dood. Dood wat hom sal verlos van sy aardse pyn en lyding. Met hierdie gedagtes raak hy aan die slaap. Slaap wat ‘n tydelike verlossing bied. Soms oorval nagmerries hom van daardie dag toe hy aangeval is. Ander tye is dit soete drome oor sy Anna wat op hom wag.

“Môre Gert. Hoe lyk dinge vandag?” die jongman wat langs hom in die hyser staan irriteer hom grensloos. Dalk omdat hy hom so baie herinner aan hoe hy was toe hy nog jonger was.
“Môre, soos altyd goed, dankie.” Sy houding ongemaklik en gejaagd. Hoe gouer hulle by die seksie kan uitkom, hoe beter. Dan is hy ten minste ontslae van die mannetjie.
“Lyk asof ons elke môre moet staan en wag vir die laat kommers. Solank as wat hulle nie hier is nie, kan ons nie in die skag afsak nie.” Elke oggend het hulle die gesprek. Elke oggend weier Gert om met hom te praat. Piet is nie veel gepla oor Gert nie. Sy houding skrik hom nie af nie. Lyk asof hy doelbewus probeer om vriende te maak met Gert. Vriendskap wil Gert nie hê nie. Vriende stel jou net teleur. Steek jou in die rug en breek jou menswees af. Hy het al te veel seer gekry so. Onttrekking is maar die beste op die ou einde van die dag. Niemand maak mekaar seer nie, niemand weet wat met jou lewe aangaan nie.
Sodra die hyser die vloer bereik waar hul seksie is. Storm almal soos ‘n wilde trop beeste na hul hoeke toe. Gert wag maar geduldig tot die klomp uit is, voor hy uitklim. Hy het gou geleer om dit te doen. Hulle storm jou onderste bo. Rustig stap hy na die klokstelsel om sy kaart deur te trek. Bewys dat hy opgedaag het vir werk. Nog ‘n dag van swoeg en sweet. Geen son wat skyn nie. Geen son wat genadeloos op jou neer brand asof jy niks is nie. Nou nie dat die omstandighede ondergrond beter is nie. Gert geniet dit in ‘n mate. Omdat hy geen ambag het nie, moet hy saam die helpers alles wat goor is doen. Gereedskap aan gee vir die wat papiere agter hul naam het. Hy wou al sy hulp aanbied om ‘n delwer reg te maak. Die ambagsman het hom gou stilgemaak en laat verstaan dat hy ‘n nikswerd is wat sy mond moet hou en gereedskap aangee.
Soms werk hy twaalf ure, ander kere stoot hy maar die oortyd tot sestien ure per dag. Elke sent ekstra sal Anna help om deur die maand te kom. Sal haar help om die hoop skuld af te betaal. Dis die minste wat hy vir haar kan doen om haar deur te help.
Piet staan weer nader vir ‘n geselsie. “Gert, ou maat, gaan jy bietjie huistoe vir kersfees?” Gert hou aan met werk. Probeer die mannetjie vermy. Daar is seker fout met die ou, hy hou aan gesels. Kry net nie die boodskap dat Gert nie met hom wil meng nie.
“Sal seker gaan. Moet eers kyk hoeveel geld ek kan bymekaar kry.” Dit sê hy maar in die hoop dat die knaap sy ry sal kry.
“So, die kat het darem nie jou tong gevreet nie. Jy kan praat. Dis nogal vordering. Het al begin wonder of jy my verstaan. Kyk, ek kan nie wag vir daardie kersbonus nie. Gaan vir die nooi van my hart ‘n groot ring koop en vra om met my te trou.” Sy oë blink van vreugde en opgewondenheid. ‘n Oomblik wat hy brand om met iemand te deel. Al is dit met ‘n hardkoppige man soos Gert. “Sy is voorwaar elke sent werd. ‘n Droom van ‘n vroutjie. Ek is gelukkig om haar te kon kry.” vir ‘n oomblik was hy vasgevang in sy eie geluk. Toe hy besef dat Gert hom aangluur vra hy gou, “het jy iemand spesiaal?”
“Dit het niks met jou te doen. Laat staan my, ek wil werk. My persoonlike lewe is my saak! Skoert, soek iemand anders wie jy kan verpes met jou feeverhale!” hy besef nie dat hy die jongman te na kom nie. Hy gee in elkgeval ook nie om nie.
Karel wat eenkant staan en kyk het na die situasie, staan gou nader. “Gert, dit was nie nodig om hom so af te jak nie. Hy probeer net vriende met jou maak. Nes jy, is hy ook maar eensaam hier. Sy geliefdes is ook ver van hom af.”
“Dit traak my min. Ander man se besigheid het niks met my uit te waai nie. My besigheid is myne alleen. Ek het nie ander mense se glaskastele in my lewe nodig nie!”
“Ja, Gert. Dit is seker soos jy sê. Wees net versigtig oor hoe jy ander om jou behandel. Jy weet nooit wanneer jy ‘n ander se hulp gaan nodig hê nie. Ons almal het mekaar nodig. Alleen kan ons nie ons werk doen nie, alleen kan ons nie deur die lewe gaan nie. Jy is ‘n bitter man. Dis jou saak. Al wat ek jou vra is, moenie so met ander om jou wees nie. Veral nie met Piet nie. Die seun kyk op na jou. Nugter alleen weet wat hy in jou sien.” Karel draai om en stap weg. Hy wag nie vir ‘n antwoord van Gert af nie. Hy weet om met hom te praat, is so goed jy praat met die mure. Hierdie laaste woorde slaan hard binne hom. Hy het nooit besef dat iemand na hom kan opkyk nie.
Piet sit eenkant teen ‘n muur met sy kop tussen sy knieë. Hy is duidelik seergemaak deur alles wat Gert gesê het. Gert wil oorstap en omverskoning vra, maar trots keer dat hy hierdie belangrike daad doen. ‘n Daad wat alles sou verander het. ‘n Daad wat lewensnoodsaaklik is vir ‘n jongman met mooi toekomsdrome. Gert draai om en gaan aan met sy werk. Min wetende dat hy ‘n jongman se vertroue in mense geskend is. So veel so, dat hy ook die fout sal maak om ander weg te stoot en eensaam oud gaan word. Dat hy ook eendag ‘n verbitterde ou man sal wees. Wat hierdie oomblik in sy lewe sal onthou. Sal wonder of dit nie anders kon wees nie. Drome sal droom oor ‘n besonderse vriendskap met iemand. Iemand met wie hy sy vreugdes kan deel. Sy hartseer kan uitpak, daaroor huil en genees word. Maar binne ‘n oomblik, is ‘n jongman diep seergemaak. Sy hart gesluit vir vriendskap. Ook besluit om nie te naby aan enige een te kom nie, want mense maak jou net seer. Mense breek jou totdat daar niks van jou oorbly nie.

Dis Vrydag, ‘n dag waarna almal in die seksie uitsien. Dis betaaldag. Almal staan soos skape in ‘n ry en wag vir hul betaling. Gert maak nooit sy koevert oop nie. Druk dit in sy sak en gaan bank toe. Daar betaal hy alles in. Nog ‘n week van swaar harde werk vir ‘n bietjie geld.
“Goeie dag mnr. Visagie. Die gewone inbetaling?” die dametjie agter die toonbank het hom al begin herken. ‘n Oulike nooi. Sy lyk baie soos Anna. Dis seker waarom hy altyd in haar ry kom staan. Vir ‘n paar sekondes sien hy ‘n amperse replika van sy geliefde vroutjie. Donkerhare, neutbruin oë waar daar baie sterretjies in dans en ‘n glimlag wat enige hart sal steel. ‘n Paar verdwaalde sproete oor haar fyn neusie.
“Ja, dankie. Die gewone Vrydag roetine.” Hy stoot die koevert sonder ‘n woord verder oor die toonbank. Nes Piet begin sy ook ‘n gesprek met hom probeer voer. Hy hou niks daarvan nie.
“Geniet u dag verder, meneer.” Sonder om vir ‘n antwoord te wag van hom af. “Volgende asseblief.”
“Totsiens, dame.” Hy vat sy strokie en gaan. Terwyl hy na sy kamertjie toe stap, hoor hy ‘n lawaai om ‘n hoek. Klink weer soos een of ander straat geveg. Dalk weer ‘n ryk vent wat ‘n straatwerker wou oplaai. Sy ding gedoen, en nou wil hy seker nie betaal nie. Kan dalk nie betaal nie. Dis maar een van vele bedrywighede wat elke dag in die stad gebeur. Gert het al geleer om hom nie daaraan te steur nie. Hy stap ongesiens verby. Vir ‘n oomblik kyk hy terug. Dis toe dat hy sien dis nie die geval wat hy gedink het nie. Dis ‘n klomp tienerseuns wat ‘n hulpelose ou dame aangeval het. Hulle wou seker net haar handsak hê, maar het besluit om ‘n bietjie pret te hê met haar. Gert se hart skeur in twee. Hy wil haar graag gaan help, maar hy wil sy lewe nie verloor nie. Dis nie die moeite werd om ten koste van ‘n ander ‘n held te probeer wees nie.
Hoe verder hy stap, hoe vinniger probeer hy wegkom van haar hulpkrete. Krete wat sy verstand wil laat bars. Hy dwing homself om aan te hou stap, sonder om eenkeer weer om te kyk. Haar krete raak stil. Die seuns maak dat hulle wegkom. Sy lê eensaam en verlate stil. Almal wat verby stap, kyk nie eens in haar rigting nie. Niemand wil weet of sy nog leef nie. Niemand waag dit om die polisie te bel nie. Een of ander tyd sal iemand haar seker verwyder. Dit gebeur maar wanneer die patroliemotor so eenkeer ‘n week, laatnag deur die strate ry. Nog ‘n dossier by die polisiestasie oopmaak, om maar net oor ‘n maand weer in ‘n kas gegooi te word om stof te vergader. Daar is nooit getuies nie. Die polisie doen nie eens meer moeite om navraag te doen nie. Niemand weet niks nie. Niemand het iets gesien nie. Nog ‘n moord, aanranding, verkragting, nog ‘n statistiek, nog ‘n vergete saak.
Gert wens hy was eerder nou op die plaas gewees. Daar is dit stil. Die vlaktes eindeloos. Geen geweld wat jou wil verswelg nie. Daar hoef hy immers nie kort-kort oor sy skouer te loer en wonder of hy vandag, more of volgende week ook ‘n statistiek gaan wees nie. Die plaas, die uitnodiging om terug te gaan is so groot. Die begeerte om sy vrou weer in sy arms te neem so dringend. Sy vingers deur haar sagte hare te trek. Haar sagte vel teen hom te voel. Haar warm soene hom verswelg, sy beheer te verloor en haar eindeloos lief te hê. Vir ‘n oomblik proe hy haar, ruik hy haar skoongewaste liggaam. Sien hy die pitlose liefde in haar pragtige oë. Smagting na haar wel in sy binneste op. ‘n Smagting wat hy nie kan beheer nie, nie kan bevredig nie.
“O, Anna, ek mis jou my vrou. Ek begeer om by jou te wees. Ek sal wat gee om nou daar te wees. Vergewe my, sal al wees wat oor my lippe sal spoel!!!”
Hierdie nag sal dieselfde verloop as die res van die week. Eensaam en alleen, al is Charlie by hom. Die hond is net ‘n troos, ‘n kameraat in hierdie eindeloos see van geweld en korrupsie.
‘n Harde slag ruk Gert uit ‘n diep slaap. Sy asem gejaagd, hart wat klop in sy keel van skrik. Charlie het ook geskrik en staan by die deur. Gert wil nie die deur oopmaak nie. Die geluid was oorverdowend. Het geklink soos ‘n geweerskoot. Hy kan dit nie waag om te kenne te gee dat hy hier is nie, dit sal sy einde beteken. Weer ‘n slag. Gert lag hardop vir homself, en besef dat dit net weerlig is. Die bekende geluid laat hom instinktief verlang na die plaas.
“Charlie, ou maat. Dis die mooiste musiek in ‘n plaasboer se ore. Die geluid van uitkoms in ‘n droë dorre wêreld. Ek hoop net dit reën op die plaas. Daardie wêreld het dit brood nodig.” Die oomblik is so groot vir hom, dat hy die klein seuntjie in hom, hom na buite dwing. Gert en Charlie hardloop in die reën rond. Vir ‘n wyle is sy probleme vergete, sy hartseer op die agtergrond. Hy geniet die oomblik om soos ‘n sorgelose kind in die koue reën te hardloop. Van poeletjie tot poeletjie te spring. Verbygangers nat te spat.
“Is jy van jou kopaf man! Kom uit die reën uit!” Skreeu een van die verbygangers. Sommiges skud net hul kop en dink hy het alle sinne vir die werklikheid verloor. Hy steur hom nie aan hulle nie. Hulle weet nie watse vreugde nou in hom los gebars het nie, hulle sal nooit besef hoe belangrik hierdie reën in hierdie man se lewe is nie.
“Anna! Anna! Ek kom huis toe! Charlie, ons gaan volgende week huis toe. Basta met die stad. My vrou het my nodig!” Gert gaan hurk by ‘n poeletjie. Skep water in sy hande op, vat ‘n sluk en skep weer en gooi dit oor sy gesig. Dis die lewe, dis wat hy mis. Hy staar voor hom uit, kyk na die strome van water wat straataf vloei. Daar is nog iets wat hy nóứ moet doen, dit kan nie wag nie. Die oomblik is reg, die oomblik is nou. Hy het so ‘n dringendheid in sy hart om dit te doen, hy is nie bewus van mense om hom nie.
“Here, Here van die hemele! Vergewe my vir my dwaasheid. Vergewe my, my menslikheid. Vergewe my omdat ek U beskuldig het vir alles wat in my lewe fout gaan! Here, ek is jammer! Here, ek het berou vir dit wat ek gedoen het! Dankie dat U altyd getrou is, dankie dat ek kan weet, U het my vergewe! Van nou af tot aan die einde van my lewe, sal dit U en ek wees Vader! Here, ek het U lief!” hierdie belydenis bring die straat tot stilstand. Sommiges kryt hom uit as ‘n mal prediker. Ander vee ‘n traan van hul wange af. ‘n Oomblik tussen hom en die Here, is al wat vir Gert op daardie oomblik belangrik is. Met uitgestrekte arms, sy gesig verhef na die hemel skreeu hy hierdie belydenis uit. ‘n Oomblik wat moes gebeur, ‘n oomblik waar die hemele trane neerstort op die aarde, oor ‘n kind wat weer tuis is. Helder donderslae dreun deur die lug, ter bevestiging van die fees wat tussen engele plaasvind op hierdie oomblik. Nog ‘n siel weer terug in die Vader se Huis.
Binne in sy kamertjie, lyk alles weer nuut. Sien hy weer kans vir die lewe. Hy sien tot die romanse in die kerslig, die romanse wat sy vrou altyd van praat. Hy krap tussen sy goed, op soek na papier en pen. Hy het hierdie dringende begeerte om ‘n brief aan haar te skryf. ‘n Brief wat hy self aan haar sal gee. Dan sal hy sit en kyk hoe sy dit lees.

“Goeie môre Piet, ou seun! Hoe gaan dit vanoggend met jou?” Gert is baie vriendelik vandag. Hy kan dit nie keer nie. Daar is so baie wat hy wil doen en sê, maar hy weet dat hy geduldig moet wees. Dat almal hom nie sommer sal vergewe nie, is ‘n feit soos ‘n koei. Tyd is al wat nodig is. In sy binneste voel hy dat daar nie regtig so baie tyd oor is nie.
“Môre Gert…..” die ongeloof op Piet se gesig is duidelik te sien. “Ag, moenie so geskok lyk nie! Dis net ek, soos altyd.”
“Maar……. Wat het met jou gebeur? Is jy dronk of iets?” Piet kan nie sy oë of ore glo nie. Gert was nog nooit so vriendelik met hom nie.
“Eerstens….” Gert lyk hartseer, “ek is baie jammer oor wat ek nou die dag gesê en gedoen het. Jou bedoelings was opreg. Ek was verkeerd en verbitterd. Kan jy my vergewe?” hy voel ongemaklik en dis duidelik in sy houding sigbaar.
“Ja, ek vergewe jou Gert. Dit vat baie van iemand om so iets te doen wat jy nou doen. Ek weet jy is opreg. Jy lyk anders, wat het met jou gebeur?” Piet se gesig is verbasing en skok gemeng. Lyk asof hy nie mooi weet wat om te doen nie.
“Ek het die Here weggegooi, my swanger vrou op ‘n droë plaas agtergelaat. Ek het reg in my eie hande geneem. Ek wou dinge beter maak op my manier. Ek was kwaad vir god omdat alles om my in duie gestort het. Gisteraand toe die reën uitsak, het die Here die geleentheid gebruik om my te herinner aan alles wat ek verkeerd gedoen het.” Terwyl Gert so loop en gesels met Piet. Het ander werkers ook begin nader staan en luister. Nuuskierigheid en verbasing oor hierdie man wat altyd stil is, nooit met iemand meng nie, wat nou so lekker gesels met die mens wat hy van hom af weggejaag het, is ‘n wonderwerk in hul oë.
“Die Here het my gewys wat ek probeer vergeet het. My vrou, al die goeie tye wat ek as kind ervaar het. Die reën het my nog altyd bekoor. Deur die reën het die Here my terug gewen. Ek gaan net hierdie week werk. Dan gaan ek oppak, huistoe gaan na my vroutjie. Ek wil Vrydagmiddag in die pad val. Sy verjaar dan. Ek gaan haar verras.” Sy oë vonkel van opgewondenheid. Daar is soveel vreugde en energie wat deur hom straal. Daar is mense wat net hul koppe in ongeloof skud. Hulle kan nie glo dat een mens in een nag so kan verander nie.
Toe elkeen na hul onderskeie hoeke beweeg om te werk. Is daar ‘n voelbare verandering in die atmosfeer. Gert se opgewondenheid het oorgespoel na elkeen wat met hom te doene kry deur die dag. Daar was baie wat hom fyn dopgehou het. Net om te kyk of hy nie dalk gaan uitbars van woede nie. Karel staan nader vir ‘n geselsie. Hy is maar versigtig vir Gert. ‘n Mens weet nooit of hierdie grootman jou kan gryp en jou nek afdruk as jy hom verkeerd opvryf nie. Karel is ook deel van die groep wat skepties is oor hierdie radikale verandering in Gert.
“Gert, ek wil jou net waarsku. Ek weet nie wat jou plan is nie. Weet nie of jy ‘n agenda het nie, maar as jy enige een hier gaan seermaak soos jy met Piet gedoen het. Kan jy maar weer jy gaan met my te doen kry. Ek val nie vir hierdie gawe ou storie van jou nie. Wat ookal jy beplan, ek is reg vir jou.”
“Karel, ek is jammer oor alles. Ek het Piet se vergifnis gevra. Hy het my vergewe. Dis al wat van belang is. Ek is jammer as ek jou ooit te na gekom het. Ek is jammer oor jy so skepties voel oor my. Maar ek sal vir jou bid. Dis vir my duidelik dat jy sukkel om verandering te aanvaar en sukkel om te vergewe. Maar ek sal bid dat God jou oë oopmaak en jou hart versag.” Vir die eerste keer in jare, kon iemand iets vir Karel sê wat hom sprakeloos laat. Wat maak dat hy omdraai en wegstap. ‘n Frons op sy voorkop verklap sy gevoelens. Hy is oorbluf en uit die veld geslaan.
Die res van die week verloop kalm. Almal is opgewonde en energiek. Die atmosfeer aangenaam. So elke nou en dan sal iemand met Gert gesels. Sy verhale oor Jona en die vis en oor wat God vir hom gedoen het, raak elke hart en siel diep. Almal hang aan sy lippe. Gert en Piet het ‘n wonderlike vriendskap ontdek in mekaar. Karel hou homself op ‘n afstand, kyk net dinge deur. Praat maar min met almal.
Teen Donderdag het die opgewondenheid bietjie begin afneem. Dis die dag wat almal se lewens nog dieper geraak het as ooit te vore. ‘n Verandering vir sommiges. ‘n Uitweg vir ander. ‘n Laaste hoop vir party. Anders as al die ander dae, voel Gert bietjie af. ‘n Ongekende hartseer sak oor hom neer. Waarom weet hy nie. Dalk omdat hy nog net vandag en môre saam die manne is. In sy binneste voel dit asof hy hierdie dag meer gaan bereik as in die vorige dae wat verby is.
Die somber atmosfeer raak een en elkeen. Dis nie net Gert wat so voel nie. Op ‘n stadium toe hy alleen is, sluip Karel nader.
“Gert, kan ek met jou gesels oor iets belangriks?” die dringendheid in sy stem, laat Gert se kop opruk. Hy los alles waarmee hy besig is.
“Wat is dit, Karel? Wat is fout?”
“Wat laat jou dink iets is fout?” Karel probeer hard om normaal as moontlik te lyk. Hy sukkel so bietjie om Gert te oortuig niks skort nie.
“Wat makeer ou maat? Praat met my. Dalk kan ek help.”
“Gert, dis juis die ding. Jy kan help. Net jy kan help. Ek het die afgelope week na jou geluister. Gekyk hoe jy optree. Dit het my laat dink.” Hy aarsel ‘n oomblik, “Gert, ek wil…. Ek weet nie hoe om dit te sê nie.” Sy emosies wil oorneem. Hulpeloosheid en moedeloosheid oorval hom.
“Karel, praat met my. Sê dit soos jy dink. Kry dit uit. Moenie op krop nie.” Sy oë pleitend op die man voor hom. Karel staan op, hy wil loop, maar kry nie die een voet voor die ander nie. Gert besef, dis nou of nooit, hy móét iets sê.
“Karel, nou is die tyd. Nie later nie. Later is dalk te laat.” Gert is skoon gespanne terwyl hy angstig op ‘n antwoord wag.
“Ek weet dit kan dalk te laat wees. Dat dit nie vir my bedoel is nie. Maar ek wil ook ‘n kind van God wees. Kan jy my help?”
“Karel, my ou maat natuurlik! Gert voel lus om in die lug op te spring. “Almal kan Sy kinders word. Maak nie saak hoe oud of jonk jy is!”
Gert het begin bid en Karel het sy hart vir God gegee. Hy het Jesus Christus as sy Redder en Verlosser aangeneem. Dis toe dat dinge begin gebeur. Alles in seksie 51 kom tot stilstand. Daar is baie wat hul lewens vir God wil gee. Een na die ander staan nader om reg te maak met hul Skepper. Net toe die laaste een verby beweeg en Gert opkyk na almal met ‘n glimlag op sy gesig en trane wat rol oor sy wang. Gebeur iets wat alles verander. Daar is ‘n harde ontploffing. Alarms wat skreeu. ‘n Ongekende chaos bars los in die kontrole kamer bogrond.
“Wat gaan aan? Wat was dit?” gil ‘n voorman. Dis net alarms wat oral oor die plek skreeu.
“Daar was ‘n ontploffing, ‘n gróót ontploffing ondergrond!”
“In watter seksie? Weet jy al? Wat het gebeur?”
“Dit was ‘n metaangas ontploffing! Dit was in seksie 51!!!”

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/liefdes-speletjies-hoofstuk-3
Michelle Wentzel

Ek is getroud met Russell Wentzel. Ons het twee pragtige dogtertjies, Chantel en Charmaine.

Ek het my passie vir skryf ontdek in 2001. Net nadat ek tot bekering gekom het, het ek 'n manier gesoek om uiting te gee aan my emosies. Skryf kon dit vir my doen. Ek dank God elke dag vir so 'n besonderse talent.

Ek het in 2008 my 1ste Diploma in Leadership ontvang en het Cum Laude geslaag. Het in 2009 my 2de Diploma in Ministry gedoen en het Cum Laude geslaag. In 2012 het ek my Bachelor in Divinty Graad voltooi in Teologie. Begin in 2014 met my Meestersgraad.

Ek het in September 2008 my eerste digbundel die lig laat sien en dis voorwaar 'n wonderlike prestasie. Dis 'n samestelling van baie van my gedigte wat ek hier op woes publiseer.
Groete
Michelle Wentzel



Totale stukke publiseer: 102
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 88