Op Woes.co.za onder Kortverhale

Moord BPK 2

Hoofstuk 1 “Kan ek asseblief julle aandag kry?” vra Stefan vanaf die podium. Almal hou op met gesels en vestig hulle aandag op hom. “Julle ken almal die storie van Daniella de Lange, my sussie, wat verlede jaar vermoor is, maar julle ken egter nie die hele storie nie Me. Camilla Terblanche het die storie van die begin af geskryf. Dit sal haar tweede boek wees wat sy publiseer, kom ons gee vir haar ‘n applous.” Almal klap hande en Camilla verskyn langs Stefan. “Dankie aan almal wat die boekbekendstelling van Die skaduwee bygewoon het. Ek sal na die tyd beskikbaar wees om boeke te teken.” Weer klap die mense ha nde en Camilla verdwyn die skare in. “Jy is duidelik nie een vir toesprake nie.” sê Stefan laggend agter haar en hou vir haar ‘n glasie wyn uit. Sy glimlag en vat die wyn. Stefan het na sy sussie se dood vir hom ‘n teruggetrek na hul tuisdorp toe en die plaaslike boekwinkel Bennie boek by oom Otto Burger oorgekoop wat na Australia wil emigreer. “Kan jy glo dis Vrydag presies ‘n jaar terug...” sy voltooi nie haar sin nie en kyk af na die grond. Stefan knik en antwoord: “Dit voel so onwerklik.” Twintig minute later sit sy en boeke teken. Daar is verbasend baie mense en dit voel vir haar soos ’n ewigheid voordat sy die laaste boek teken. Sy sug verlig toe die lang ry mense uiteindelik verdwyn. Die boek het baie beter verkoop as haar vorige boek, maar sy weet dit is bloot omdat mense nuuskierig is om te weet wat het werklik gebeur. “Ek is bly om te sien die mense gee jou darem ‘n blaaskans.” “Wel dis nou nie asof ek J.K Rowling of Deon Meyer is nie.” “Nog nie.” Camilla help vir Stefan opruim en dis laat toe sy by die huis kom. Sy huiwer ‘n oomblik voordat sy by die tuinhekkie instap. Ten spyte daarvan dat Stefan wag dat sy die huis binne gaan lyk die huis skielik baie onwelkomend. Die groot bome wat ‘n welkome skadu in die dag teen die hitte bied gooi spookagtige skaduwees en die blare ritsel saggies in die kol aandwindjie. Die donker huis wink vir haar soos in ‘n gruwelfliek waar die moordenaars net agter die toe deur wag vir iemand om die huis binne te kom. Sy ril en betig haarseld saggies. Sy is skoon op hol. Miskien oor die herrinering aan Daniella vandag so vars in haar geheue is. Sy sluit die voordeur oop en ten spyte daarvan dat sy haar wysgemaak het sy is net paranoîes verwag sy tog dat iemand haar oor die kop gaan slaan toe sy binne die huis is. Sy sit die lig aan en lag vir haarself omdat sy oomblikke gelede so simpel was. Miskien moet sy ‘n advertensie in die koerant sit vir ‘n huismaat dink sy by haarself, terwyl sy vir haar ‘n lekker warm skuimbad tap. Nadat sy gaan bad het maak sy vir haar ‘n koppie koffie en ‘n toebroodjie. Sy gaan sit in die sitkamer en skakel die tv aan. ‘n Rukkie later skrik sy wakker. Dis pikdonker en al geluid wat sy kan hoor is die gedempte stemme op die tv. Sy kyk op die horlosie net bokant die televisie wat aandui dat dit nou net na drie is. Sy kan nie eers onthou wanneer het sy aan die slaap geraak nie en sy wonder wat het haar wakker gemaak. Sy probeer weer slaap, maar is nou klaar heeltemal wakker. Sy staan maar op en gaan bêre haar koppie en bord wat langs haar op die bank gelê het. Sy skakel die sitkamer se lig aan en gaan haal haar skootrekenaar. Buite blaf daar ‘n paar honde verder die straat af. Sy antwoord haar e-posse en begin met een van haar take wat iewers volgende week moet in wees. Toe sy haar weer kom kry sypel die eerste ligstrale van die nuwe dag deur ‘n skrefie in die dig toegetrekte gordyne. Buite kwetter die voëltjies vrolik en Camilla kyk rondom haar. Die sitkamer is karig gemeubileer, maar tog lyk dit mooi. Sy gaan maak vir haar ontbyt en dan skakel sy die plaaslike koerant om ‘n advertensie te plaas vir ‘n huismaat. Hulle vra sy moet later ‘n draai kom maak met ‘n skriftelike advertensie wat hulle in vanmiddag se uitgawe kan publiseer. Sy bedank hulle en lui af. Sy skribbel vinnig op ‘n stukkie papier: Op soek na ‘n jong, vroulike huismaat van ongeveer 20-25. Huur beloop min/meer R350 per maand. Kontaknommer C. Terblanche: 083 456 9713. Sy vou die stukkie papier op en bêre dit in ‘n blikke bo-op die mikrogolf en gaan verklee. Sy is besig om haar hare te borsel toe die voordeurklokkkie lui. Sy maak die voordeur oop, maar daar is niemand nie. Sy sien ‘n koevert op die tuinmuurjie lê en haar hart hammer in haar borskas. Sy onthou die laaste keer wat sy so ‘n koevert gekry het. Met bewende hande skeur sy die koevert oop. Sy haal die enkel vel wit papier uit. Kiep kiep hier kiep kiep daar, die rymmpie raak nou vervelig nie waar? Gedink jy kan vlug, maar dit was alles ‘n klug. Die papier fladder na die grond en Camilla gaan sit plat op die grond. Onbewus van die dou en grond wat aan haar ligte pienk denim kleef. Dis hoe Stefan haar kry tien minute later. Op die grond met kop wat op haar hande rus. Voordat hy haar kan vra wat’s fout gewaar hy die briefie op die grond. Hy word krytwit en gaan sit langs haar. “Hoe? Wanneer? Waar?” “Ek weet nie.” antwoord Camilla











Hoofstuk 2
By die polisiekantoor wemel dit van die mense. Camilla en Stefan sit op een van die afgeleefde rusbanke buite Speurder Sersant De Wet se kantoor. Camilla tik senuweeagtig met haar vingers op haar denim. ‘n Jong vrou met lang blonde hare kom by die kantoor uit. Sy glimlag vlugtig vir hulle en verdwyn dan. Sersant De Wet beduie vir hulle hulle kan maar ingaan. Sersant De Wet bestudeer die stukkie papier aandagtig. “Wanneer het jy dit gekry?” “Vroeg vanoggend.” “U het nie ‘n motor gehoor nie?” “Nee Sersant.” “Nou goed , juffrou Terblanche, ons sal ‘n bietjie ondersoek instel, maar my persoonlike opinie is dat dit net iemand is wat ‘n poets op jou probeer bak siende dat die moord môre presies ‘n jaar terug gebeur het. Buitendien sover ek weet is mej. de Lange nog in die psigiatriese eenheid.” “Dankie vir Sersant se tyd.” Hy knik vir hulle, terwyl sy en Stefan by die deur uitstap. “Kom ons gaan drink ‘n koppie koffie.” stel Stefan voor. “Nou goed, maar ek moet net eers gou hierdie advertensie na Die ewenaar toe vat.” “Die koerant?” Camilla knik en antwoord: “Dis ‘n advertensie vir ‘n huismaat.” “Ek dog jy het daarteen besluit.” “Ja, maar ek het weer daaroor gedink, die huis is hopeloos te groot vir my. Buitendien ek is baie onrustig na Daniella se dood. Dit voel die heeltyd of iemand my dophou.” “Miskien moet jy ‘n sielkundige besoek. Dis nie...” “Nee,” onderbreek sy vir hom: “Ek is sommer net laf.” Daar heers ‘n ongemaklike stilte tussen hulle en al geluid is die van die wit bakkie se bande op die teer. Stefan stop by haar huis en maak vir haar die kar se deur oop. “Luister vir my Cam, jy moet versigtig wees.” “Ek sal, dankie Stef.” Camilla stap die huis binne en waai vir Stefan. Die res van die middag hou Camilla haar besig met ‘n taak en toe sy weer op haar polshorlosie kyk is dit al na vier. Sy ruim vinnig op en trek haar swemklere aan. Een van die huis se voordele is sy sprankelende swembad, hy’s nie baie groot nie, maar tog ‘n lafenis teen die uitputtende Somer-son. Sy gaan sit met haar voete in die swembad en dink aan die vorige jaar. ‘n Geroep ruk haar uit haar gedagtegang en sy loop om die huis. Voor haar voordeur staan daar ‘n jong vrou met roesbruin hare, fyn sproete en ligblou oë. “Kan ek help?” “Eh, um ja, ek is Tessa Baker. Ek is hier oor die advertensie vir ‘n huismaat.” “O, ek het nie so gou al reaksie verwag nie, maar ek het tog nie my adres bygesit nie.” “Ek het eintlik van dit gehoor by Stefan?” “Hoe ken jy vir Stefan?” “My niggie, Daline Baker is vriende met hom.” Camilla knik haar kop en beduie vir haar sy kan inkom. Sy gaan trek gou vir haar ‘n denim en ‘n ou hemp oor haar swemklere aan en gaan skink vir haar en Tessa sap. ‘n Halfuur later waai Camilla heel ingenome vir die rugkant van die wit Opel. Tessa is die perfekte huismaat, sy is ‘n tweedejaar student in sielkunde, is baie netjies en baie vriendelik. Camilla het ‘n vermoede sy en Tessa gaan nog goed oor die weg kom, alhoewel sy nie die knaende gevoel kan afskud dat sy Tessa al vantevore gesien het nie.






















Hoofstuk 3
Stefan skakel die televisie aan en gaan sit op die wit rusbank. Hy sit en kyk die nuus en wil net oorsit na ‘n ander kanaal toe ‘n skok deur sy liggaam ruk. Hy sit die volume harder en sy kneukels word krytwit soos hy die kontrolebeheer vasklem. Daar het vandag drie sielsiekes uit die Alice Andrews psigiatriese eenheid ontsnap. Die drie persone is geïdentifiseer as Charien du Toit, Melissa Goldman en Adél de Lange ook bekend as Juan-Mari Fouché...” Stefan hoor nie ‘n woord verder nie en tel dadelik sy selfoon op om vir Camilla te bel. Hy trek sy hand deur sy blonde hare en wag dat Camilla moet antwoord, maar niemand tel op nie. “Ag vervlaks!” sê hy en gryp sy kar se sleutels. Hy hamer aan die deur en Camilla maak verskrik die deur oop. “Is jy van jou sinne beroof Stefan de Lange vir wat...” sy bly stil toe sy Stefan se gesig sien. Sy weet wat kom, maar sy forseer die woorde oor haar lippe: “Is dit Adél?” “Sy en twee vriendinne het ontsnap. Die polisie is op soek na haar. “Wat nou?” “Sluit jou deure, maak toe jou vensters en moet nêrens alleen gaan nie.” Camilla knik en sê: “Tessa trek darem môre in.” Sy sien die verwarring op sy gesig en sê: “My nuwe huismaat, jy het haar niggie Daline daarvan gesê.” “O, ek ken haar nie, maar ek’s bly dan is jy darem nie alleen nie.” “Wil jy inkom?” “Eerder nie, Cam, belowe my jy sal versigtig wees en hou jou foon ten alle tye aan.” “Goed, gaan ons na die polisie?” “Daar’s geen nut nie, hulle weet waarskynlik al, maar wees versigtig.” Nadat Stefan weg is maak Camilla seker alles is gesluit en trek die gordyne dig toe. Die honde blaf verder af in die straat en Camilla gaan sit in haar kamer. Dit voel of die mure haar vasdruk, maar sy is te bang om uit te gaan. Uiteindelik, nadat sy ure lank gewroeg het raak sy aan die slaap. Sy skrik wakker van ‘n geklop aan die deur. Dis Tessa met haar eerste trek. “ ’Skuus het ek jou wakker gemaak?” “Eh, nee, kom in.” Sy eet sommer ‘n bietjie muesli en verklee vinnig in ‘n kniebroek en ‘n rooi toppie. Sy is dankbaar dat dit Saterdag is, die week was net een té veel vir haar. Die res van die oggend help sy vir Tessa om goed uit te pak en teen twaalfuur maak sy vir hulle kaas en tamatie teobroodjies. “Camilla, ek gaan net gou ry. My oom vertrek vandag na Australia em ek het belowe ek sal gaan groet.” sê Tessa nadat hulle die laaste boks uitgepak het. “Dis reg. Sien jou nou-nou.” Nadat Tessa weg is dwaal Camilla doelloos deur die huis. Uiteindelik besluit sy om te gaan swem. Die water is koel en verwelkomend teen haar vel. Sy plas in die swembad rond en naderhand raak sy verveeld sy klim uit en gaan sit op die rand sodat die son haar droog kan bak. Skielik voel sy twee, sterk hande oor haar mond sluit. Sy word by die swembad ingestamp en haar kop word onder die water ingedruk. Sy spartel, maar word net dieper ingedruk. Sy kan voel hoe haar suurstof al hoe minder word en sy sluk monde vol water. Die krag vloei uit haar uit en sy hou op veg. Net voordat sy haar bewussyn verloor los die persoon haar. Sy hoor voetstappe en span haar laaste bietjie krag in om weer tot bo die oppervlak te kom. “Cammy!” roep Stefan en sy voel sy sterk arms om haar sluit. Hy lig haar uit die water uit. Vir ’n oomblik is alles uit fokus en dan registreer die gebeure van die afgelope paar minute by haar. Sonder dat sy dit agterkom meng warm trane met die swembad se chloor. Stefan hou haar ‘n oomblik vas en vra dan: “Is jy okay?” Sy knik net en op daardie oomblik kom Tessa daar aan. “En nou?” vra sy toe sy Camilla se verskrikte, traanbesmeerde gesig sien. Stefan beduie vir haar sy moenie en vra en lei Camilla na sy kar toe. “Ek gaan jou gou dokter toe vat en daarna gaan ons polisie toe.” “Dis nie nodig nie, ek is okay.” “Wel, jy was amper nie. Wie’s jy?” vra hy vir Tessa. “Tessa Baker, haar nuwe huismaat. Wat het gebeur?” “Ek sal jou later alles vertel.” Sê Camilla.
******
“Me. Terblanche is jy seker jy het nie bloot net in die swembad ingeval nie?” “Nee, ek het die hande om my nek gevoel.” “Met alle respek, jy is deur ‘n baie traumatiese tyd dis moontlik dat...” “Sersant De Wet hoe kan jy so kalm wees veral noudat ons weet Adél is nog op vrye voet.” onderbreek Stefan hom en dis duidelik dat hy hom vererg het. “Ons sal ondersoek instel, maar ek twyfel of daar enige iets van gaan kom.” ‘n Halfuur later stap hulle by die polisiekantoor uit.










Hoofstuk 4
Camilla trek die gordyne dig toe. Sy kan nie verstaan hoekom niemand anders stres oor die feit dat Adél op vrye voet is nie. Sy wonder waar’s Tessa, sy het haar nog glad nie weer vanmiddag gesien nie. Sy wonder of Tessa genoeg beddegoed het. Miskien moet sy tog gou gaan kyk, dink sy by haarself en kies koers na Tessa se kamer. Sy klop twee keer aan die deur, maar niemand maak oop nie en sy stoot die deur saggies oop. Die kamer staan nog vol bokse en Camilla sukkel om nie oor alles te struikel nie. Sy haal nog ‘n kombers uit die ingeboude kas en sit dit op die bed neer. ‘n Paar boeke wat op die bed gelê val af en Camilla buk af om dit op te tel. Haar oë vang iets onder die bed en sy druk haar hand in om dit uit te haal. Haar hand sluit om iets koud en sy trek die voorwerp onder die bed uit. Sy snak na haar asem, dis ‘n mes! Nou maak dit alles vir haar sin. Adél het ontsnap die dag toe Tessa hier opgedaag het, sy het net nadat iemand Camilla probeer verdrink het skielik opgedaag. Tessa moet Adél wees! Dis so maklik om ‘n pruik en kontaklense as vermomming te gebruik. Sy hardloop by die kamer uit en soek vervaard an haar foon. Sy skakel Stefan se nommer, maar hy tel nie op nie. “Ag, vervlaks!” Sy vee ‘n sliert hare uit haar oë en stap op en af. Sy druk Speurder Sersant De Wet se nommer in, maar besluit om hom nie te bel nie. Dit klink net te vergesog. Sy gaan by die agterdeur uit. Miskien kan sy bewyse by die swembad kry. Buite is dit al redelik donker en Camilla gaan eers terug om ‘n flitslig te gaan haal. Die flitslig is besig om pap te raak en gooi net ‘n dowwe lig. Die maan het ook vanaand besluit om wegkruipertjie te speel, wat Camilla se taak vermoeilik. Sy buk af en voel op die grond vir iets. Haar hand sluit om iets koud, iets wat voel soos ‘n mens se arm. Sy skyn die lig op die voorwerp en gil. Sy kyk vas in Tessa se lewelose gesig. Haar mons is wyd oopgesper, haar oë omgedop en haar vel het ‘n blouerige skynsel. Haar hande bewe toe sy haar karsleutels uit haar sak uit haal. Sy hamer aan Stefan se deur en hy maak verbaas vir haar oop. “Wat’s fout, jy luk of jy ‘n spook gesien het.” In ‘n bewerige stem vertel sy hom wat gebeur het. Hy gee vir haar suikerwater en dan vat hy haar na Speurder Sersant Se Wet. In die kar vertel sy vir hom dat sy eers vermoed het Tessa is Adél in vermomming, maar toe kry sy Tessa se lyk. “Ek verstaan nie, Cammy, wat dan van die mes?” “Ag, ek weet tog nie meer nie. Ek wens ek het nooit vir Juan-Mari Fouché ontmoet nie, sy gaan ons nooit met rus laat nie!” Stefan wil iets sê, maar skielik ry ‘n kar voor hulle in. Stefan swets en draai uit, maar die kar kom al hoe nader. Die kar gly skielik en gaan by ‘n afdraand af. Camilla gil en Stefan probeer vervaard die kar stop. Die kar kom tot stilstand voor een van die bome. “Is jy okay?” Camilla knik verskrik. Sy en Stefan klim by die kar uit. Die ander kar het intussen ook by die afdraand afgekom en so entjie weg van hulle af gestop. Stefan beduie vir Camilla sy moet agter hom staan en sy kan sy hortende asemhaling hoor. Die drwyer van die kar maak die deur oop en klim uit. Dis Adél en by die passasierkant klim nog iemand uit. Camilla en Stefan snak gelyk na hulle asems. Dis Speurder Sersant De Wet!























Hoofstuk 5
Hy rig ‘n pistool op hulle en hy en Adél kom nader. “Wel wel, ek kan nou nie sê dis aangenaam om jou weer te sien nie.” “Ai, Stef, en hier dink ek jy gaan bly wees om jou sus te sien.” Hy gee ‘n minagtende snork en sê: “Slim, om ‘n polisielid aan jou sy te kry.” “Ek is jammer Stefan, ek het nog altyd van jou en Camilla gehou, maar jy sien ek en Adél is al ‘n geruime tyd lank vriende, meer as vriende en dit was nooit die plan om julle seer te maak nie, maar as jy en Camilla uit die weg is kan ek Adél ‘n nuwe lewe begin.” Camilla se hart klop tot in haar keel en Stefan is die een om weer te praat: “Wat van Tessa.” “Ja, arme Tessa’tjie. Miskien sal jy haar beter herken as Melissa Goldman, nog ‘n malle wat sam met my ontsnap het. Sien sy was deel van die plan, maar sy het nie by die ooreenkoms gehou nie. Sy was veronderstel om ou dierbare Camilla’tjie dood te maak, maar toe kry sy haar jammer. Wys jou net jy kan niemand meer vertrou nie.” “Sê my net een ding Adél, ek en jy en Daniella was vriende. Hoekom het jy so ‘n háát teen ons ontwikkel.” “Sien jy nie Cammy. Ons is soos diere, survival of the fittest, ek het grootgeword deur my heeltyd te verdedig en julle met julle perfekte lewens het my getart. Julle was altyd beter, slimmer, mooier en jy en Daniella was onafskeidbaar. Ek het probeer, maar jy het altyd in die pad gestaan en toe ek van Daniella ontslae is was dit jy en Stefan. Ek’s jammer, maar dis die lewe.” “Sersant De Wet...” “Noem my Johann, ek’s jammer, maar dis haar besluit.” Hy rig weer die vuurwapen op hulle en sê: “Jy kan kies Stefan, wie moet ek eerste skiet, vir jou of Camilla.” Hy aarsel ‘n oomblik en sê dan: “Skiet my, maar laat Camilla gaan. Sy het niks hiermee te doen nie.” “Ek beïndruk, jy moet rêrig baie vir haar omgee as jy bereid is om vir haar te sterf.” “Stef, moenie!” “Is dit nie dierbaar nie.” sê Adél sarkasties en gryp die pistool uit Johann se hande. “Ons het genoeg tyd gemors.” ‘n Knal weerklink en Stefan val neer. Sonder om te dink skop Camilla die pistool uit Adél se hande. Sy en Adél duik gelyk vir die vuurwapen. Hulle stoei vir die vuurwapen en Johann gryp die pistool weer terug. “Moenie altyd so hardkoppig wees nie!” Dan weerklink daar vir die tweede keer die aand ‘n knal, maar die keer is dit Speurder Sersant De Wet wat neersak op die grond. “Johann!” Adél kniel langs hom neer en daar’s woede op haar gesig toe sy opstaan. Stefan hou die vuurwapen op haar gerig en beveel Camilla om die ambulans en die polsie te bel.
*******
‘n Uur later stap Camilla uit Luitenant Britz se kantoor. Sersant De Wet is in die hospitaal en Adél is terug by die Alice Andrews psigiatriese eenheid onder polisiebewaking. Camilla ry hospitaal toe. Stefan het darem net ‘n skouer wond opgedoen en sy net ‘n paar bloukolle. “Is jy okay?” Stefan glimlag vir haar en sê. “Kom ons gaan eet iewers.” Camilla stem in en leun met haar kop teen syne. “Stef, dankie dat jy bereid was om vir my te sterf.” “Ek sal altyd bereid wees om vir jou te sterf.” “Dankie, Stef, en ek vir jou.” Stefan neem haar hand in syne en hulle stap tot by die helderverligte restaurant. Albei dankbaar dat die drama agter hulle is en verlig dat hulle nog veilig is. As hulle maar net geweet het...

Bron: http://www.woes.co.za/bydrae/kortverhaal/moord-bpk-2
Marthie-Lize Thomas

Lees asseblief my bydraes en lewer gerus kommentaar-positief of negatief-op die ou einde is dit hoe ons leer. Skrywers moet voortdurend daarna streef om hul talent te slyp en hulle skryfstukke te verbeter. NS-Ek behou kopiereg op al my skryfstukke



Totale stukke publiseer: 40
Totaal kere gelees: 0
Totaal kommentaar: 44